Die Here Sal In Julle Plek Veg

♕ Belofte van vandag: “As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie.” Matteus 5:25

☊ Adina Lofverslag Potgooi

Liewe Bruide, my lofverslag wat ek vandag gaan deel gaan oor die beproewing waardeur ek tans gaan en al is dit hoe moeilik kan ek my Hemelse Man net loof en prys want Hy is nog steeds by my en hou my vas.

Na laas jaar se inperkings, soos ons almal weet, het die ekonomie 'n redelike terugslag gekry. My voormalige man se wersdae is van 5 dae na 3 dae gesny en dit beteken hy verdien baie minder as gewoonlik. Gedurende ons egskeiding het ek nie 'n prokureur gehad nie maar my Hemelse Man het my voormalige man se hart sag gemaak en hy het voorgeneem om die huur, kruideniersware en skoolgeld te betaal. Maar noudat sy salaris gesny word, kan hy nie meer twee huishoudings bekostig nie. Hy bly op die stadium nie saam met die ander vrou nie maar hy het n huis, karre en al die ander goed om te betaal.

Hy het toe besluit om die skikking te verander, toesig oor die kinders te vat en ek moet by my broer gaan bly 100km weg van my kinders af omdat ek nie vaste werk het nie en nog nie self finansieël alles kan bybring nie. Hy en die kinders gaan dan saam met die ander vrou en haar kinders in 'n huis intrek. Nou ek het al 'n hele rukkie terug my voormalige man laat gaan en die feit dat hulle gaan saambly pla my nie, maar om my kinders te laat gaan is 'n totaal ander saak.

Nadat ek oor die skok gekom het en met my Hemelse Man gepraat het, het ek rustiger gevoel. Ek het daarna met my peetma gepraat, wat ek seker nie moes doen nie maar ek het. Sy het vir my 'n afspraak by 'n prokureur gemaak en vir op daardie oomblik het my vlees gevoel dat dit is wat ek moet doen, maar diep in my hart het ek geweet dit is nie reg nie, dit is nie hoe ons as Sy Bruide die kwaad moet weerstaan nie.

Die afspraak was vir die Woensdag middag 17h30, en ek het van Maandag af ernstig met my Hemelse Man gepraat want aan die een kant is my peetma oor my aangestel en moet ek aan haar onderwerp, maar my Hemelse Man is bo haar en ek wou nie teen een van hulle rebelleer nie. Dit is iets wat Hy lankal uit my gebreek het.

So al wat ek my Hemelse Man kon vra was om Sy wil te laat geskied. Woensdag deur die dag het ek Hom gevra om asb iets te laat gebeur as Hy nie wil he ek moet die prokureur sien nie. 17h00 het daar nog niks gebeur nie en ek ry toe maar na die prokureur se kantoor toe. Daar gekom was alles gesluit omdat die afspraak vir na ure was. Ek het die nommer gebel maar niemand het geantwoord nie. Ek het toe nog so paar minute gewag maar niemand het geantwoord nie. Ek het uiteindelik maar gery sonder om die prokureur te sien!!. My Hemelse Man het op nommer 99 ingegryp en vir my gewys dit is nie wat Hy wil he nie. En ek was verlig want dit was nie die pad wat ek wou stap nie.....

Die volgende oggend het my voormalige man hier aangekom met 'n gewysigde skikkings dokument waarna ek moes kyk. Omdat die oorspronklike skikking wettig gewysig moet word vir hom om toesig oor die kinders te kry beteken dit dat ons nou amper weer deur 'n skeisaak moet gaan om als te verander, tot dusver het ek nog geen antwoord oor wat gaan gebeur nie maar Eksodus 14:14 is die vers waaraan ek op die stadium vashou en ook Matteus 5:25: “As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie."

As dit Sy wil is dat ek vir 'n tyd nie my kinders by my moet he nie, is daar ook 'n rede daarvoor en deel van Sy uiteindelike plan vir my lewe, maak nie saak hoe swaar dit dalk vir my gaan wees nie, dit is waaraan ek moet vashou en nou moet ek bly wees en Hom loof en dank vir hierdie beproewing waardeur ek moet gaan.

“Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg.” Eksodus 14:14

“As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie.” Matteus 5:25

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!