Dag 3: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 3 

Hulp kom net van die Here af
1'n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.
2Ek het so baie vyande, Here!
Baie kom in opstand teen my.
3Daar is talle wat van my sê:
“Van God kom daar vir hom geen hulp nie!”Sela
4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante,
U herstel my eer en aansien.
5As ek na die Here roep,
antwoord Hy my van sy heilige berg af.Sela
6As ek gaan lê, slaap ek goed;
ek word ook weer wakker,
want die Here sorg vir my.
7Ek is nie bang vir tienduisende mense
wat van alle kante af op my toesak nie.
8Kom tog, Here,
help my, my God!
U het nog altyd my vyande se mag verbreek,
U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.
9Hulp kom net van die Here af.
U laat dit goed gaan met u volk.Sela

Psalm 33

Die Here sorg
1Jubel in die Here, regverdiges,
sing 'n loflied, opregtes!
2Loof die Here met die lier,
speel vir Hom op die harp!
3Sing vir Hom 'n nuwe lied,
speel met volle oorgawe, jubel dit uit!
4Wat die Here sê, gebeur,
alles wat Hy doen, staan vas.
5Hy het geregtigheid en reg lief,
die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde.
6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak,
deur sy bevel al die hemelliggame.
7Hy het die seewater laat saamkom soos in 'n dam,
die groot waters op een plek opgegaar.
8Die hele aarde moet die Here vrees,
al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê,
9want Hy het gepraat en dit was so,
Hy het beveel en dit was daar.
10Die Here verydel die planne van die nasies,
Hy laat hulle besluite op niks uitloop.
11Maar die planne van die Here staan vir altyd vas,
sy besluite van geslag tot geslag.
12Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is,
met die volk wat Hy vir Hom as sy eie gekies het.
13Die Here kyk uit die hemel
en sien al die mense.
14Van die plek waar Hy as koning sit,
sien Hy almal wat onder op die aarde woon.
15Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het,
wat al hulle werk deurgrond.
16Dit is nie deur 'n groot leër dat 'n koning wen nie,
en nie deur groot krag dat 'n held behoue uitkom nie.
17Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee
en dat sy groot krag redding bring nie.
18Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer,
vir dié wat op sy mag vertrou
19om hulle van die dood te red
en hulle in die lewe te hou in hongersnood.
20Ons vertrou op die Here:
Hy is ons hulp en ons beskermer.
21Ja, in Hom is ons hart bly,
op sy heilige Naam vertrou ons.
22Hou u liefde oor ons, Here,
want ons stel ons vertroue in U.

Psalm 63

Ek bly altyd naby U
1'n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Judawoestyn.
2Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U;
ek smag na U
soos in 'n dor en droë land,
'n land sonder water.
3Ek wil by U in die heiligdom wees
om daar u mag en grootheid te ondervind.
4U troue liefde is meer werd as die lewe;
daarom sal ek U prys.
5Ek sal U my lewe lank loof,
my hande ophef om u Naam te prys.
6Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet,
sal ek U altyd roem met jubelende mond.
7As ek aan U dink op my bed,
oor U peins in die nag, dan weet ek:
8U is vir my 'n hulp,
en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.
9Ek bly altyd naby U,
u hand ondersteun my.
10Maar hierdie mense wat my ondergang soek,
mag hulle wegsink in die dieptes van die aarde!
11Mag hulle aan die swaard oorgegee word
en aas vir die jakkalse word!
12Laat die koning hom in God verbly,
laat elkeen wat hom op God verlaat, Hom prys.
Die mond van die vals mens word toegestop.

Psalm 93

U is van altyd af daar
1Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.

Psalm 123

Ek sien na U op
1'n Pelgrimslied.
Ek sien na U op,
U wat uit die hemel heers.
2Soos die oë van 'n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van 'n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
3Ontferm U oor ons, Here, ontferm U oor ons,
want ons het meer as genoeg veragting gehad,
4meer as genoeg spot van oormoedige mense,
veragting van hovaardiges.

Spreuke 3

 

1My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie,
hou vas aan wat ek jou voorskryf,
2want dit sal vir jou 'n lang lewe verseker,
dit sal maak dat jy 'n vol lewe het.
3Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie;
leef daarmee saam,
maak dit 'n deel van jou lewe.
4So sal jy guns verwerf en byval vind
by God en mens.
5Vertrou volkome op die Here
en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.
6Ken Hom in alles wat jy doen
en Hy sal jou die regte pad laat loop.
7Moenie dink jy het die wysheid in pag nie,
dien die Here en vermy wat sleg is:
8dit is die geneesmiddel vir jou,
die verkwikking vir jou liggaam.
9Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit
en met die beste uit jou oes,
10dan sal jou skure oorvol wees
en jou parskuipe oorloop van die wyn.
11My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom
en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,
12want die Here straf die mens wat Hy liefhet
net soos 'n vader doen met sy seun.
13Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het,
wat insig as sy deel ontvang het,
14want dit bring meer winste in as silwer
en lewer 'n groter opbrengs as goud.
15Dit het meer waarde as edelstene;
wat jy ook al as kosbaar beskou,
niks kan daarmee vergelyk word nie.
16Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe
en met die ander rykdom en eer.
17Die wysheid bring 'n ryk en 'n vol lewe.
18Dit is 'n bron van lewe vir wie dit aangryp,
dit gaan goed met dié wat daaraan vashou.
19Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê
en die hemel gebou met insig.
20Deur sy kennis is die groot waters van mekaar geskei
en drup die wolke van vog.
21My seun, behou die takt en oorleg;
moet dit nie uit die oog verloor nie,
22dit sal vir jou 'n mooi lewe verseker
en soos 'n pragtige halssnoer vir jou wees;
23jy sal jou pad veilig loop
en jou voet nie stamp nie;
24jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie;
as jy gaan lê, sal jy rustig slaap.
25Moenie bang wees dat 'n ramp jou skielik sal oorval,
dat die storm wat vir slegte mense bedoel is,
jou sal tref nie,
26want die Here sal jou beskerm,
Hy sal sorg dat jy nie in 'n strik beland nie.
27Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,
terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.
28Moenie vir iemand sê:
“Gaan eers terug en kom môre weer,
dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie.
29Moenie kwaad teen iemand beplan
terwyl hy vol vertroue by jou woon nie.
30Moenie 'n man sommer aankla
as hy jou nie kwaad aangedoen het nie.
31Moenie 'n man wat sy mag misbruik, beny nie
en moenie self soos hy maak nie,
32want die Here het 'n afkeer van 'n slegte mens,
maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue.
33Die vloek van die Here rus op die huis van die goddelose,
maar Hy seën die woning van dié wat aan Hom getrou is.
34Met hooghartige spotters dryf Hy die spot,
maar Hy is goed vir dié wat beskeie is.
35Wyse mense verkry eer,
maar dwase kom al hoe meer in die skande.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 3

God is my redding
1’n Dawidspsalm toe hy voor
sy seun Absalom gevlug het.
2O Here,
ek het so baie vyande;
so baie kom teen my in opstand.
3So baie sê:
“God sal hom nooit red nie!”
Sela
4Maar U, Here,
is ’n skild rondom my.
U herstel my eer,
U lig my kop weer op.
5Ek het tot die Here geroep.
Vanaf sy heilige berg
het Hy my geantwoord.
Sela
6Ek het gaan lê en slaap
en weer wakker geword,
want die Here
het oor my waggehou.
7Ek is nie bang
vir tienduisende mense
wat my van alle kante
bedreig nie.
Sela
8Staan op, Here!
Bevry my tog, my God!
U het al my vyande
op die kakebeen geslaan,
die tande van die goddeloses
het U gebreek!
9Verlossing kom van U, Here.
Mag u seëninge op u volk rus.
Sela
Die grootheid van die Here
1Jubel, regverdiges, oor die Here!
Dit pas opregtes
om Hom te loof.
2Prys die Here met die lier;
met musiek
op die tiensnareharp.
3Sing vir Hom ’n nuwe lied,
speel met vaardigheid
en jubel.
4Want die woord van die Here
is waarheid,
en alles wat Hy doen,
staan vas.
5Hy het regverdigheid en reg lief,
en sy troue liefde
vul die aarde.
6Deur die woord van die Here
is die hemele geskape;
en deur sy woord
al die hemelliggame.
7Hy stel grense vir die see,
in die diepwaters
versamel Hy hulle.
8Laat elkeen op die aarde
die Here dien.
Laat die inwoners van die wêreld
ontsag hê vir Hom.
9Want Hy het gepraat,
en dit was daar;
Hy het beveel, en dit was so.
10Die Here verydel
die beraadslaging
van die nasies
en dwarsboom die planne
van mense.
11Maar die Here se planne
staan vir altyd vas;
sy beplanning geld
vir geslag na geslag.
12Geseënd is die nasie
wie se God die Here is,
die volk wat Hy
vir Homself as sy eiendom
gekies het.
13Die Here kyk vanuit die hemel
en sien die hele mensdom.
14Vanaf sy woning
sien Hy al die bewoners op die aarde.
15Omdat Hy hulle harte
gemaak het,
verstaan Hy alles wat hulle doen.
16’n Koning word nie gered
deur ’n groot leër nie,
ook nie ’n krygsman
deur groot krag nie.
17Dis valse hoop dat
’n oorlogsperd
veiligheid verseker,
en deur groot krag
redding bring.
18Maar die Here waak
oor dié wat Hom dien,
oor hulle wat hoop
op sy troue liefde
19om hulle te red van die dood
en hulle in hongersnood
aan die lewe te hou.
20Ons vertrou op die Here
om ons te red.
Hy is ons hulp en beskerm ons
soos ’n skild.
21In Hom is ons harte verheug,
want ons vertrou
op sy heilige Naam.
22Laat u troue liefde ons oordek,
Here,
want ons hoop op U alleen.

Psalm 63

 

U liefde is beter as die lewe
1’n Psalm van Dawid, met verwysing na
sy verblyf in die Judawoestyn.
2O God, U is my God,
ek soek na U,
ek smag na U;
my hele liggaam verlang na U
soos ’n dor land
sonder water.
3Ek het U inderdaad
in die heiligdom gesien
en u krag en heerlikheid
aanskou.
4U troue liefde
is beter as die lewe;
daarom prys ek U!
5Daarom wil ek U prys
so lank as wat ek lewe,
en in u Naam my hande ophef.
6U versadig my
meer as die rykste kos.
Met vreugdeliedere
sal ek U loof.
7As ek op my bed lê
en aan U dink,
oor U nadink in die nag,
8onthou ek hoe U my gehelp het.
Dan wil ek sing
in die skaduwee van u vleuels.
9Ek is aan U verbind,
u regterhand hou my staande.
10Mag hulle wat my lewe soek,
omkom en in die dieptes
van die aarde wegsink.
11Mag hulle oorgegee word
aan die swaard
en kos word
vir die jakkalse.
12Maar die koning sal bly wees
in God.
Almal wat op God vertrou,
sal Hom prys,
terwyl leuenaars
stilgemaak sal word.

Psalm 93

Die mag van die Here is bo
alles
1Die Here is Koning!
Hy is met majesteit beklee.
Inderdaad,
die Here beklee Homself;
Hy omgord Homself
met krag.
Die wêreld is stewig gevestig;
dit kan nie wankel nie.
2U troon is gevestig
van altyd af.
U bestaan
van ewigheid af.
3Die riviere het hulle verhef,
Here.
Die riviere het hulle stem verhef.
Die riviere verhef hulle
met gedruis.
4Maar bo die gedreun
van baie waters,
bo die geraas van die golwe
van die see,
bo alles is die mag van die Here!
5U bepalings is onveranderlik.
Heiligheid versier u woning,
Here,
tot in lengte van dae.

Psalm 123

Ons oë is op U gerig
1’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na U,
U wat in die hemel woon.
2Soos oë van slawe
gerig is op die hand
van hulle meester,
soos die oë van ’n slawedogter
gerig is op die hand
van haar werkgeefster,
so is ons oë gerig op die Here
ons God totdat Hy genadig is
oor ons.
3Wees genadig oor ons, Here,
wees ons genadig,
want ons het baie veragting
verduur.
4Ons het baie spot
verduur
van hoogmoediges,
en veragting
van die hooghartiges.

Spreuke 3

Vertrou op die Here
1My seun, moenie vergeet
wat ek jou geleer het nie.
Hou vas aan my opdragte.
2Dit sal jou lank laat lewe
en jou ’n voorspoedige lewe gee.
3Moenie dat jy tekort skiet
aan liefde en getrouheid nie.
Koester dit soos iets waardevols
wat jy om jou nek dra.
Skryf dit op die tafel van jou hart.
4Jy sal guns en ’n goeie naam verkry
by God
en by mense.
5Vertrou op die Here
met alles wat jy het.
Moenie staatmaak
op jou eie insigte nie.
6Vra na die wil van God
in alles wat jy doen.
Hy sal die regte pad vir jou wys.
7Moenie jou eie wysheid oorskat nie.
Hou eerder die Here voor oë
en vermy wat sleg is.
8Dit sal jou liggaam gesond hou,
jou lewe verkwik.
9Vereer die Here
met alles wat jy besit.
Gee vir Hom
die beste van jou oes.
10Hy sal jou opgaarplekke
vol maak.
Jou parskuipe sal oorloop
van al die wyn.
11My seun,
moenie dit verontagsaam
wanneer die Here
jou reghelp nie.
Moenie jou verset
wanneer Hy jou teregwys nie.
12Die Here bestraf immers
hulle wat Hy liefhet
net soos ’n pa
sy seun teregwys.
13Die mens wat wysheid kry,
is gelukkig.
Dit gaan goed met die mens
wat insig kry.
14Wysheid het meer voordele
as geld.
Haar beloning
is meer werd as goud.
15Wysheid het meer waarde
as edelstene.
Niks wat jy ooit kan begeer,
vergelyk daarmee nie.
16Met die een hand
gee wysheid ’n lang lewe.
Met die ander hand
rykdom en eer.
17Wysheid
maak ’n mens gelukkig.
Wie dit volg, beleef vrede.
18Vir dié wat daaraan vashou,
is dit ’n boom van die lewe.
Hulle wat daarop steun,
is geseënd.
19Die Here het die aarde
met wysheid
op sy plek neergesit,
met insig die hemel oopgespan.
20Deur sy kennis het
water uit die diep fonteine geborrel
en het daar reën uit die wolke geval.
21My seun,
moenie takt en oorleg
uit die oog verloor nie.
Hou altyd daaraan vas.
22Dit sal jou lewe verryk
en eer en agting vir jou bring.
23Jou pad sal veilig wees.
Jy sal nie struikel nie.
24Jy sal kan gaan slaap
sonder om bang te wees.
Jy sal rustig kan bly slaap.
25Jy hoef nie bang te wees
dat teëspoed
jou skielik sal tref nie.
Die rampe
vir slegte mense bedoel,
sal nie oor jou kom nie.
26Die Here is jou beskermer.
Hy sal sorg dat jy nie
in ’n strik trap nie.
27Moenie wag om
goed te doen
vir iemand wat dit nodig het nie,
veral as dit vir jou moontlik is
om dit te doen.
28Moenie vir jou buurman sê:
“Gaan nou weg
en kom môre weer,
dan sal ek jou help,”
terwyl jy dit nou al
kon gedoen het nie.
29Moenie ’n plan beraam
teen iemand
wat vol vertroue
by jou woon nie.
30Moenie sommer rusie soek
met iemand
wat jou nie kwaad
aangedoen het nie.
31Moenie jaloers wees
op iemand
wat geweld gebruik nie.
Moenie ook maak soos hy nie.
32Die Here het ’n afkeer
aan skelms,
maar neem mense wat reg lewe,
in sy vertroue.
33Die vloek van die Here
rus op die huis
van die goddelose,
maar hulle wat opreg lewe,
seën Hy.
34Hy dryf die spot met mense
wat ander spot.
Hy is goed vir hulle
wat nederig is.
35Wyse mense word vereer.
Dwase mense
kom in die skande.

Die Boodskap

Psalm 3

1’n Dawidspsalm. Toe Dawid vir sy seun Absalom gevlug het
2Here, kyk net hoe baie mense rebelleer teen my. Hulle word net meer en meer.
’n Klomp van hulle wil my aan die keel gryp.
3Hulle lag my uit en sê: “God kan hom tog nie help nie!”
4Maar, Here, U beskerm my van alle kante teen hulle.
Hulle sal my nie in die grond in trap nie.
U help my om nie die handdoek in te gooi nie.
5Ek roep so hard as wat ek kan tot die Here.
Hy hoor my as ek bid. En Hy antwoord my.
6In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en rondrol van bekommernis.
In die môre word ek rustig wakker,
want ek weet die Here sal my krag gee om my probleme op te los.
7Ek is nie bang nie, al staan ’n skare mense reg rondom my, gereed om my aan te vat.
8Staan op, Here! O my God, red my!
U het almal stilgemaak wat my wil seermaak.
U kan mense wat U nie dien nie, se mond maklik stilmaak.
9Dit is net die Here wat ’n mens kan red.
Hou tog u hand oor u kinders, Here!

Psalm 33

1Julle wat reg voor die Here leef, kom prys Hom!
Julle wat Hom liefhet, moet lofliedere vir Hom kom sing.
2Kom prys die Here met julle musiekinstrumente!
Sing lofliedere.
Vereer Hom met julle instrumente!
3Kom sing ’n lied met splinternuwe woorde! Juig oor Hom.
Eer Hom! Sing en maak musiek uit julle hart uit!
4Die Here verdien lof, want Hy doen altyd wat Hy sê.
Jy kan Hom vertrou, want Hy is betroubaar.
5Hy hou van mense wat reg lewe.
Oral kan mense die Here se groot liefde raaksien.
6Deur net ’n woord te sê het die Here die blou hemelkoepel gemaak.
Al die sterre, planete, mane en sonne het deur sy krag ontstaan.
7Toe het Hy al die watermassas van die see bymekaargemaak
en op een plek bymekaargesit.
Hy gaar al die waters op.
8Daarom moet alles en almal vir Hom respek hê.
Elkeen in die wêreld moet eerbied vir God hê.
9As Hy praat, gebeur groot dinge.
Hy gee net ’n bevel, dan verander sy woorde in dade.
10Die Here krap mense wat Hom nie dien nie se planne heeltemal deurmekaar.
Alles wat hulle besluit, laat Hy misluk.
11Maar dit wat die Here vir sy kinders beplan, sal nooit vernietig word nie.
Dit wat Hy vir hulle beplan, geld vir altyd.
12Mense wat die Here as God aanbid, sal baie gelukkig wees.
Hulle is sy kinders. Vir Hom is hulle elkeen baie spesiaal.
13Daar in die hemel is die Here baie besorg oor al die mense wat Hy gemaak het.
Hy sorg vir almal. 14Vanuit sy blyplek waar Hy as koning heers, gee Hy vir elkeen om.
15Hy gee aan mense insig en kennis. Hy weet presies wat hulle doen.
16Dis nie wapens wat die leier van ’n land laat wen nie.
Spierkrag help nie veel nie.
17Dis ook nie militêre krag wat jou bevry nie! 18Net die Here gee die oorwinning. Hy laat dié mense wen wat Hom eer.
Hy sorg vir almal wat op sy liefde vertrou.
Elkeen wat van Hom afhanklik is, het Hy baie lief.
19Hy beskerm jou teen die grootste gevaar, ja, selfs teen die dood.
En Hy dra jou deur die grootste probleme.
20Ons is in alles van die Here afhanklik. Hy help en beskerm ons.
21Omdat ons op Hom vertrou, maak Hy ons lewe vol met blydskap.
Hy is totaal anders as mense.
22Ons vra dat U ons altyd sal liefhê, Here. Ons kyk elke dag op na U.

Psalm 63

1’n Dawidspsalm. Na Dawid se verblyf in die woestyn van Juda
2God, U is my God! Ek soek U!
Ek verlang na U soos iemand wat baie dors is.
Met alles wat ek het, begeer ek om by U te wees.
Soos iemand wat water in die woestyn soek, soek ek na U.
3Ek verlang met my hele wese om U te aanbid. Ek wil u krag en u grootheid beleef.
4Dit is beter om u groot liefde te ervaar as om baie oud te word sonder U.
Ek loof U daarvoor. 5Ek sal U met my hele lewe prys.
Ek sal my hande in die lug steek om U groot te maak.
6Om U te prys maak my lewe vol en ryk. Ek loof U vir die goeie geskenke wat U vir my gee. Ek is bly oor U.
7Ek sal u Naam vrolik besing as ek gaan slaap of as ek in die nag oor U dink.
8U het my gehelp. U beskerm my en ek is baie bly daaroor.
9Met alles binne-in my wil ek aan U vashou. U dra my deur die lewe.
10Almal wat my wil doodmaak, sal in die aarde wegsink.
Hulle soek hulle eie dood.
11Hulle sal in ’n geveg omkom, en niks sal van hulle oorbly nie.
12Die regeerder sal bly wees oor God. Elkeen wat erken dat die Here God is,
sal sy Naam grootmaak.
En almal wat op God vertrou, sal ook bly wees.
Maar Hy sal almal wat loop en lieg se monde stilmaak.

Psalm 93

1Die Here regeer! Sy grootheid en krag is vir Hom soos sy klere.
Kyk hoe vas staan die wêreld, ’n mens kan dit nie sommer rondstoot nie.
2Maar die Here wat oor alles heers, staan nog vaster, want Hy is van altyd af daar.
3Kyk na die see; dit druis en die golwe slaan, o Heer,
maar wat is dit in vergelyking met U?
4Die Here is groter as die grootste golwe en magtigste gedruis.
Sy krag oortref alles, net mooi alles!
5Niemand kan verander wat die Here wil hê nie. Dit staan vas.
Die grootheid en andersheid van die Here oorweldig jou. Jy sien dit in sy woonplek.
Dit is nou so, o Here, en dit sal altyd so wees.

Psalm 123

Die lied is geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1Ek staan soos ’n bedelaar voor die Here wat oor alles regeer.
2Ons kyk op na die Here, ons God, soos werkers na hulle baas.
3Ons sal ons hande in afhanklikheid na die Here toe uitsteek
en Hy sal vir ons goed wees.
Wees goed vir ons, Here, wees baie goed vir ons!
Ons het genoeg daarvan gehad om gespot te word.
4Ons is moeg vir die arrogansie van mense wat dink hulle is beter as ander.
Mense wat te veel van hulleself dink, dink ook dat hulle op ander kan neersien.

Spreuke 3

Vertrou jy maar op die Here
1Jong vriend, luister na my raad. Dink mooi oor die alledaagse lewe na.
Dink wat jy op die regte oomblik moet sê en wat jy moet doen, wie en wat jy eerder moet vermy. ’n Wyse manier van leef het groot waarde. 2Baie gelukkige dae, baie opwindende lewensjare, groot blydskap kom daaruit voort.
3Moet nooit ophou om die Here lief te hê nie. Hou aan om reg te leef! Hierdie spreuke sal jou daarmee help. Bind al die spreuke soos ’n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie. 4Dan sal die Here die goeie dinge van die lewe vir jou gee. En die mense sal ook van jou hou.
5Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge.
6-7Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. 8Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees.
Dien die Here met jou talente. 9Gee aan die Here ook ’n goeie deel van jou geld. 10Dan sal jy meer as genoeg hê om van te leef. Jou lewe sal vol vreugde wees.
11Soms ervaar jy hartseer en teleurstelling. Soms is jy kwaad vir die Here. Moet Hom egter nooit in jou woede vloek of verwyt nie. Soos ’n goeie pa soms met sy geliefde seun raas, so maak die Here ook met ons. 12Hy raas met ons omdat Hy ons so baie liefhet. So help Hy ons om met nog groter wysheid en vreugde te leef.
Hoe wonderlik is spreuke en
die lewenswysheid darem nie
13Iemand wat elke dag reg leef en met insig optree, se lewe is vol geluk. Die blydskap wat uit ’n wyse lewe straal, is baie kosbaar. 14Dit is baie meer werd as al die banke se geld en al die myne se goud, 15baie meer as die allerkosbaarste dinge wat jy graag wil hê.
16Nog ’n voordeel van ’n wyse manier van leef, is ’n lang lewe vol rykdom en eer. 17Dit bring baie aangename dinge. Dit bring vrede binne-in jou. 18Wysheid is soos ’n boom. Wie daaronder skuil, vind vreugde.
Wysheid is die belangrikste in die lewe. Selfs God het alles met wysheid geskep. 19Met wysheid het God die aarde gemaak en die hemele met insig aanmekaargesit. 20Sy kennis het fonteine uit die dieptes laat opspring en het wolke reën gegee.
Wysheid doen iets aan ’n mens
21Jong vriend, daar is twee dinge waarsonder jy in hierdie lewe nie kan klaarkom nie. Een is ’n begeerte om reg te leef. Die ander is om te weet hoe om reg te praat en te doen. 22Dié twee sal jou gelukkig maak. Hulle sal jou lewe versier.
23Dan sal jy ook veilig en beskut voel. 24Wanneer jy gaan slaap, sal jy nie bang wees nie. Jou nagrus sal goed wees.
25Moenie vir ’n skielike krisis of ramp skrik nie. Dikwels is dit net bedoel vir slegte mense wat nie die Here liefhet nie. Jy weet mos die Here is altyd by jou. 26Jy kan altyd op Hom vertrou. Hy sal jou beskerm.
Liefde vir ander
27Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie.
28Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie.
29Bly altyd in ’n goeie verhouding met ander. Moenie kwaad teen jou vriend beplan terwyl hy jou vertrou nie.
30Moenie stry en baklei nie. Moenie rusie maak met iemand wat jou geen kwaad aangedoen het nie.
Vermy ’n goddelose lewenswyse
31Moet nooit iets wil hê wat aan ’n slegte mens behoort nie. Moet nooit soos hy word nie.
32’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel. Met die opregtes is Hy goed bevriend.
33Met ’n goddelose mens se familie gaan dit sleg, terwyl die Here iemand wat wys leef se huis met voorspoed, geluk en kinders oorlaai.
34Met hulle wat baie van hulleself dink, spot die Here. Hy lag lekker vir hulle. Hulle wat egter nederig is en uit sy hand leef, het Hy oneindig lief.
35Wyses ontvang in hierdie lewe eer terwyl dommes verneder word.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!