Lof aan God te midde van my beproewings

"Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk." 2K12:9

Hierdie week beleef ek uitdagende versoekings en beproewings wat my geloof op die proef stel.

Vandag wil ek nie in hierdie lof kla oor my swaarkry nie, maar ek kom om die Here se Naam te verheerlik te midde van my uitdagings, versoekings en beproewinge. Ek loof Sy Naam, want Hy is getrou, selfs wanneer ek swak voel.

Ek roem in my swakhede, want in my swakheid word God se krag volbring (2 Korintiërs 12:9). Al voel dit asof die vyand my aanval, weet ek dat Hy ‘n muur van beskerming om my bou. Geen wapen wat teen my gesmee word, sal voorspoedig wees nie (Jesaja 54:17).

In my situasie, in my gedagtes, in my stryd—op Hom vertrou ek. Ek loof Hom vir Sy genade wat my staande hou. Ek weet dat Hy my deur hierdie seisoen dra en dat Hy alle dinge ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28).

Ek sal nie moed verloor nie, want God is my lig en my heil—wie sou ek vrees? (Psalm 27:1). Ek kies om my oë op Hom te hou en nie op my probleme nie. Ek kies om God te loof, al verstaan ek nie alles nie, want Hy is goed, Hy is getrou, en Hy is waardig om geprys te word!

Ek spreek hierdie lof uit, want ek weet dat lofprysing magtig is. Mag dit ook ‘n bemoediging wees vir ander bruide daar buite, want God is groot, en Hy dra ons deur elke beproewing!

2 thoughts on “Lof aan God te midde van my beproewings”

  1. Liewe Milla,
    Baie dankie vir hierdie mooi lof!
    Jy het my aan Sy Genade, getrouheid, barmhartigheid en liefde herinner.
    En ook om my oë op Hom te hou en nie die storms wat om my woed nie.
    Hý is in beheer!

  2. Dankie vir hierdie pragtige lof kosbare Mila, ten spyte van jou beproewinge. Ek sien uit na die getuienisse wat nog gaan kom, want dis Wie ons Geliefde Kosbare Here is. En dankie vir al hierdie pragtige beloftes wat jy met ons deel.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui