HRR “My Toesig Verlies” Hoofstuk 6

Na die laaste afspraak, en die gesprek wat ek en Kevin gehad het, sou die kinders nog vir 5 maande by my bly om die skooljaar klaar te maak. Diep binne-in het ek geweet dit is finaal, maar ek het bly hoop en bid dat my Hemelse Man sal intree en Kevin se hart sal verander om nie hiermee voort te gaan nie.

Dit was 'n baie moeilike tyd vir my, alhoewel ek vrede gehad het gedurende die hele proses en geweet het ek moet laat gaan en my wil neerlê, het die werklikheid my getref met die wete dat 5 maande so vinnig verby gaan en dan sal ek my kinders moet laat gaan. Daar was baie slapelose nagte gedurende die eerste maand of twee, nagte wat ek net by Sy voete gehuil het en vir Hom gesê het ek kan dit nie doen nie, ek kan nie my kinders laat gaan om by die AV te gaan bly en haar meeste van my verantwoordelikhede as hul ma te gee nie. Wanneer ek hulle kosblikke vir skool ingepak het, het my hart gebreek, want ek het geweet hierdie taak sou nie meer myne wees nie, ek sou nie meer hulle huiswerk saam met hulle kon doen of hulle skool toe kon neem nie. Die eenvoudige dinge wat ons as ma's vir ons kinders doen, sou weggeneem word.

Maar ek het net by Sy voete gehuil, niemand het geweet waardeur ek gegaan het gedurende daardie eerste maande nie, dit was 'n reis waarop ek met net Hom moes gaan, want ek het geweet ek het Hom nodig gehad om my te help om dit te doen. Ek het geweet in my eie krag was ek nie in staat om dit te doen nie. Ek het geweet ek moet Hom vasgryp anders sou ek uitmekaar val. Dit was moeilik, maar dit was nodig om hierdie tyd saam met Hom deur te gaan.

In hierdie tyd het ek voortgegaan om die Staar Egskeiding in die Gesig, Weer-boek in Afrikaans te vertaal. Ek het soveel wysheid en begrip gekry terwyl ek die boek vertaal het en dit het my deur hierdie moeilike tyd gehelp.

Stadig maar seker het Hy my uit my wanhoop geruk en toe is ek eendag net vervul met Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy het vir my die verhaal gegee van Abraham wat Isak moes offer en hoe hy beloon is vir sy gehoorsaamheid, ongeag hoe moeilik dit moes gewees het. Hy het my hierdie storie by verskeie geleenthede gegee en ek het geweet ek is geroep tot 'n hoër gehoorsaamheid in hierdie situasie. Dit het my uiteindelik die vermoë gegee om heeltemal te laat gaan, oor te gee en vreugdevol te wees, ongeag wat sou kom.

Ek het opgehou huil oor wat ek op die punt was om te verloor, en Hy het vir my begin wys wat ek op die punt was om te wen; Ek sou meer tyd hê om saam met my Man deur te bring, meer tyd vir bediening en bedieningswerk. 'n Tyd om volkome te genees en 'n tyd om weer te begin lewe. 'n Tyd om die pret-mamma te wees wat my kinders wou hê ek moes wees toe hulle my met die AV vergelyk het, en om die tyd wat ek saam met hulle sou hê te gebruik om ander dinge as skoolwerk te doen, te studeer en hulle skool toe en terug te ry. Tyd om net by hulle te wees. Ja, daar sou huiswerk wees en eksamens om oor naweke voor te studeer, maar dit was nie die enigste ding wat ek meer met hulle sou kon doen nie.

Toe Kevin weggetrek het, het ek hom toegelaat om die kinders 3 naweke per maand te neem en ek het hulle net gedurende skoolweke en een naweek per maand gehad. Dit het my dus nie met baie tyd gelaat om enigiets anders as skoolwerk met hulle te doen nie, hulle op en af ​​te ry en hulle reg te kry vir skool nie.

My Man het regtig my hart begin draai, Hy het nie die situasie omgedraai nie, maar hoe ek daaroor gevoel het. Hy het my houding oor hierdie moeilike situasie omgedraai. Hy het my uiterste en totale vrede en selfs vreugde gegee. Hy het my die krag gegee om die situasie die hoof te bied. En as gevolg hiervan het die spanning tussen my en Kevin ook verdwyn en kon ons 'n vreedsame mede-ouerskap verhouding hê, en tot vandag kan ons vreedsaam oor die kinders kommunikeer wanneer ons moet.

Gedurende hierdie 5 maande is die onderwerp van die kinders wat by Kevin gaan bly nooit weer ter sprake gebring nie, en diep binne het ek aangehou hoop dit sal weggaan. Maar dit het nie. Einde November het Kevin dit weer ter sprake gebring….

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!

1 thought on “HRR “My Toesig Verlies” Hoofstuk 6”

  1. Dankie Adina, ek geniet hierdie sooo baie. Baie dankie dat jy dit ook vir die vrouens doen wat dit graag in Afrikaans wil lees. Ek dink ek gaan dit van nou af in die Afrikaans begin lees 🙂

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui