Die Absolute Skoonheid Van Sy Handewerk

♕Belofte van vandag: "Ek weet wat Ek vir julle beplan, se die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!" Jeremia 29:11

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Ek wil baie graag met julle deel hoe my Hemelse Man my laas naweek, dit was die langnaweek, bederf het.

My kinders sou weer saam met my voormalige man en die ander vrou gaan kamp het en ek het beplan om maar net by die huis te bly, te werk en skoon te maak:). Maar die Donderdagoggend, net voor my voormalige man die kinders kom haal het, het my skoonsus my gebel (hulle almal het saam gaan kamp want dit was my skoonma se verjaarsdag) en gesê dat haar sussie (wie ek al ontmoet het en paar keer gesien het) 'n naweek vir haar en haar vriend geboek het, maar hy het besluit hy gaan nie saam nie. Hulle bly al baie lank saam en dit is nogal 'n baie slegte situasie. Sy het toe aan my gedink en gewonder of ek nie saam met haar wil gaan nie.

Ek was eers huiwerig omdat ons mekaar nie so goed ken nie en was eintlik bang ons gaan niks hê om vir mekaar te sê nie. Maar my skoonsus het my oorreed en als was klaar betaal, ek moes net saamgaan.

Ek het toe ingestem en my HM (Hemelse Man) het toe die idee in my kop gesit dat ek haar kan bemoedig en dalk van die hulpbronne van Uiteindelikhoop met haar deel. So die Vrydagoggend is ons weg en ons het Sabie toe gegaan. Die 4ure rit het soos 2ure gevoel want ons kon nie ophou praat nie...ek was verniet daaroor bekommerd en het my HM gevra dat ons lekker sal saamkuier.

Ons het laatmiddag daar aangekom en by die blyplek se restaurant gaan aandete eet wat heerlik was, weereens 'n groot bederf van my HM (Hemelse Man). Ons het besluit om Saterdag na God's Window toe te gaan en bietjie tyd daar te spandeer, ons altwee was al voorheen daar, maar dit is so ongelooflik mooi dat ons dit graag weer wou beleef.

Ons is toe Saterdagoggend weg maar toe ons by God's Window kom, was daar 'n ongelooflike lang ry van mense wat ook soontoe wou gaan (dit was langnaweek:)). Ons besluit toe om na die "Sabie Lift experience" toe te gaan en met die hysbak af te ry in die kloof. Dit is 'n 51m hoeë hysbak wat jou afvat met glas rondom om die ongelooflike uitsig te kan inneem. Ons het ook redelk lang gewag om in te gaan maar het besluit ons gaan maar wag en danksy my HM kon ek die wag geniet:)

Wat 'n ongelooflike ondervinding was dit!! Om die Here se skepping so te kan sien, die absolute skoonheid van Sy handewerk!! Ek wens ek kon dit met julle almal deel want dit was so ongelooflik!! Onder gekom was daar hout paadjies met hangbrûe waarop jy onder in die kloof kon rondstap, verby die waterval en net al die skoonheid inneem. Ek het so naby aan my Skepper gevoel!!

Toe ons veel later weer met die hysbak opgegaan het, het ons gaan koffie drink in een van die restaurante daar wat uitkyk oor die kloof en die heeltyd het ons gesels:) Hy het dit regtig so wonderlik gereël!! Later is ons terug en my vriendin wou graag gaan vir 'n rugmassering so toe gaan ek maar saam, dit was ook fantasties maar ek het nie geweet ek het soveel knope in my rug nie!!

Toe het ons weer 'n fantastiese aandete gaan eet en Sondag na ontbyt het ons teruggery huis toe. Oppad terug het haar kar se wiel gebars. Dit was nogal vreesaanjaend om langs die snelweg te staan maar ek het geweet Hy is by ons. Ek het dadelik begin om die wiel los te maak maar toe het daar 'n man gestop wat die wiel vir ons binne paar minute geruil het. In daardie situasie het ek my vriendin maar al die praatwerk laat doen, maar was dankbaar dat my HM vir ons iemand gestuur het om ons te help en ons was vinnig weer oppad.

Maar gedurende die naweek het ek agtergekom dat my skoonsus se sussie se hart baie hart was, daar is nog baie verbittering en wêreldse oplossings vir haar situasie in haar hart en gedagtes. Dit was moeilik om iets met haar te deel, maar ek kon met haar deel hoe Hy my vasgegryp en gehelp het, waar my vrede en vreugde vandaan kom. Ek kan net bid dat dit dalk iewers in haar hart 'n saadjie gesaai het....

"Ek weet wat Ek vir julle beplan, se die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! "Jeremia 29:11

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!