Die Begin Van Groot Dinge

♕Belofte van vandag: "Na die sewende keer het hy kom sê: ''n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.' Elia sê toe: 'Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.'” 1 Konings18:44

~ Yvonne in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Yvonne

Die Here is so wonderlik in hoe Hy gebede beantwoord. 'n Paar jaar terug het ek vir my skoonma die Engelse "Vind die Oorvloedige Lewe" boek gegee, want die Afrikaans was nog nie in druk nie.

Sy is nie goed met tegnologie so sy lees nie op haar foon nie, so dit moet 'n boek wees. Toe ek haar egter 'n paar weke later daaroor uitvra het sy my gesê dat sy nie regtig Engels lees nie, so sy glo nie sy gaan die boek lees nie.

Net so bietjie agtergrond, my pa (skoonpa) is so paar jaar gelede oorlede en begin die jaar is haar jongste seun ook oorlede. Al die dinge is baie moeilik vir my ma en sy het al die gevoelens wat sy nie weet wat om mee te doen nie. Die dokters het nie raad, die sielkundiges het nie raad nie en elkeen van ons weet dat as daar geen raad meer is nie, dan kan ons net na Hom toe draai. Vir een of ander rede, is my ma se hart nog nie reg vir die waarheid nie. So baie mense het al in haar lewe ingesaai, maar dit is asof niks wil groei nie en ek kan so bietjie daarvan verstaan, want ek was so hopeloos hartseer na my eie ma oorlede is dat geen vertroosting gehelp het nie, inteendeel net die woorde: "sy is in 'n beter plek" wou my maak skree!

So paar weke gelede toe kry ek die "Vind die Oorvloedige Lewe" wat nou beskikbaar is in sagteband!!! Prys die Here en Hy lei my toe om die eerste kopie vir my ma te gee met die woorde: "Ma, hierdie is die eerste kopie, daar mag 'n paar foute wees, so as ma die boek lees, merk hulle sommer vir my asseblief." Ek moet ook nou aan julle erken dat toe ek vir haar die boek gegee het, het ek vir 'n paar vriendinne gevra om saam te bid, maar ek het nie baie hoop gehad nie.

Die vorige Sondag gaan kuier ek vir my ma soos ek gewoonlik op 'n Sondag doen en haar eerste woorde aan my was: "Ons het 2 foute in die eerste hoofstuk gekry." Eers kon ek nie verstaan wat sy bedoel nie, toe besef ek dit was die boek! Sy het die eerste hoofstuk gelees!!!

Natuurlik is daar meer en wys die Here ons altyd hoe klein ons geloof is. Nie net het sy die eerste hoofstuk gelees nie, maar 'n ander tannie het dit saam met haar gelees en gesê dit is fantasties!!! Die tannie is egter Engels en sy het gevra of ons nie die Engelse boek het. Wel, natuurlik het my ma nog die engelse boek en toe vra sy of sy hom maar vir die tannie kan gee.

Is die Here nie so wonderlik nie. Kan jy die toekoms sien? Kan jy sien hoe my ma 'n groepie begin by haar aftree oord vir so baie weduwees wat Hom nodig het? Ek weet ek droom nou groot, maar Hy het my klaar gewys hoe klein my geloof is, so ek vertrou Hom nou vir groot dinge!

"Na die sewende keer het hy kom sê: ''n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.' Elia sê toe: 'Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou
vaskeer.'” 1 Konings18:44

“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Mattheus 17:20

Ons Afrikaanse Bediening Pastoor en RMI se Bedienings Direkteur
Follow#Yvonne‘, Volg #Yvonne
En Yvonne is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Volg ons #VOL Tag om die Lofpryse uit hierdie lewensveranderende boek te lees.

Vind Die Oorvloedige Lewe is as e-boek beskikbaar in ons boekwinkel!

 

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!