Dag 4: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 4 

U alleen laat my veilig woon
1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm van Dawid.
2O God wat aan my reg verskaf,
antwoord my as ek roep.
Toe ek in die nood was,
het U my bevry.
Wees my ook nou genadig
en hoor my gebed!
3Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense,
gaan julle valsheid liefhê
en voorkeur gee aan leuens?Sela
4Besef tog dat die Here wonders gedoen het
vir dié wat aan Hom getrou is.
Die Here hoor as ek na Hom roep.
5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;
dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,
en laat dit daarby!Sela
6Julle moet die offers bring
wat aan julle voorgeskryf is,
en julle moet op die Here vertrou.
7Daar is baie wat sê:
“Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?”
Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons!
8U het my reeds groter vreugde laat belewe
as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het.
9Nou sal ek onbesorg gaan lê
en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my veilig woon.

Psalm 34

Die Here is naby
1'n Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en hy het padgegee.
2Ek sal die Here altyd weer prys,
sy lof sal altyd op my lippe wees.
3Ek sal die roem van die Here sing;
dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.
4Sing saam met my oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord,
Hy het my gered uit alle doodsgevare.
6Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap,
hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.
7Ek is een van die ellendiges wat geroep het.
Die Here het gehoor,
uit al my benoudhede het Hy my gered.
8Die Engel van die Here slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien, en red hulle.
9Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!
Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.
10Julle wat aan die Here behoort, dien Hom!
Wie Hom dien, het geen gebrek nie.
11Selfs leeus ly gebrek en kry honger,
maar wie die Here se hulp vra,
kom niks kort van al die goeie dinge nie.
12Kom, kinders, luister na my!
Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.
13As iemand die lewe liefhet
en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet,
14moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat
en sy lippe van leuens.
15Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is,
soek vrede en jaag dit na!
16Die Here sorg vir die regverdiges
en luister na hulle hulpgeroep.
17Maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen
en vee selfs die herinnering aan hulle van die aarde af.
18As die regverdiges om hulp roep,
hoor die Here hulle
en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.
19Die Here is naby die gebrokenes,
Hy help die moedeloses.
20Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref,
die Here red hom uit almal.
21Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige:
geen been word gebreek nie.
22Die kwaad wat die goddelose doen,
bewerk sy eie ondergang:
vir sy vyandskap teen die regverdige sal hy boet.
23Die Here maak sy dienaars vry.
Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige behandel word nie.

Psalm 64

Die regverdige verbly hom in die Here
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Hoor my as ek kla, o God,
beskerm my lewe teen die bedreiging van die vyand!
3Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges,
van die kwaadstokery van mense wat onreg doen,
4wat met skerp tonge vir swaarde
en giftige woorde vir pyle
5uit hinderlae lostrek op 'n onskuldige mens.
Uit die bloute trek hulle selfversekerd op hom los.
6Hulle smee bose planne
en kom ooreen om strikke te stel.
Hulle dink niemand sien hulle nie.
7Hulle beplan skelmstukke en sê:
“Ons het 'n volmaakte komplot gesmee,
want wat binne in 'n mens is,
wat hy uitgedink het, is 'n geheim.”
8Dan tref God hulle met 'n pyl,
en meteens is hulle daarmee heen:
9hulle eie tonge het hulle tot 'n val gebring!
Elkeen wat dit sien, knik met voldoening die kop.
10Met groot ontsag getuig almal dan van die dade van God
omdat hulle insig gekry het in wat Hy doen.
11Laat die regverdige hom in die Here verbly
en sy toevlug by Hom soek,
laat al die opregtes Hom prys.

Psalm 94

Kom, Regter van die aarde!
1Here, God wat onreg straf,
U wat onreg straf, verskyn tog!
2Kom, Regter van die aarde,
reken af met die mense wat hulle teen U verhef.
3Hoe lank, Here,
hoe lank sal die goddeloses hulle nog verlustig
in die leed van ander mense?
4Hulle kook oor van vermetelheid;
almal wat onreg doen, spog daarmee.
5Hulle vertrap u volk, Here,
hulle verdruk die volk wat aan U behoort;
6hulle vermoor weduwees en vreemdelinge,
hulle maak weeskinders dood
7en dink die Here sien dit nie,
die God van Jakob merk dit nie.
8Gebruik tog julle verstand, julle wat so dom optree onder die volk.
Julle dwase, wanneer wil julle dan verstandig word?
9Sou Hy wat vir ons ore gemaak het, self nie kan hoor nie?
Sou Hy wat vir ons oë gemaak het, nie kan sien nie?
10Sou Hy wat die nasies opvoed, nie ook straf nie?
Sou Hy wat die mensdom onderrig, self niks weet nie?
11Die Here ken die gedagtes van die mens,
Hy weet dit beteken niks.
12Dit gaan goed met die mens
wat deur U opgevoed word, Here,
vir wie U onderrig in u woord
13en vir wie U rus gee na tye van teëspoed.
Maar vir die goddelose word die graf reeds gegrawe.
14Die Here verstoot nie sy volk nie,
die volk wat aan Hom behoort, laat Hy nie in die steek nie.
15Die regspraak sal weer regverdig wees,
alle opregtes sal hulle daaraan kan hou.
16Wie staan by my teen dié wat my leed aandoen?
Wie help my teen mense wat my veronreg?
17As die Here my nie gehelp het nie,
was die stilte van die graf seker al my tuiste!
18Toe ek gedink het my voete gly,
het u troue liefde my regop gehou, Here.
19Toe ek met baie onrus in my binneste sit,
het u vertroosting my tot rus gebring.
20U duld geen korrupsie in die regspraak nie,
geen mens wat, teen u gebod in, ellende veroorsaak nie.
21Hulle span saam teen die regverdige,
hulle veroordeel onskuldige mense tot die dood.
22Maar vir my is die Here 'n veilige vesting,
my God is die rots waar ek kan skuil.
23Hy sal hulle laat boet vir hulle dade,
Hy sal hulle verdelg oor hulle boosheid.
Die Here ons God sal hulle verdelg.

Psalm 124

As die Here ons nie gehelp het nie
1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here ons nie gehelp het nie,
dit moet Israel bely,
2as die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
toe hulle woede teen ons ontvlam het;
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
5dan het die skuimende waters ons oorweldig.
6Aan die Here kom die lof toe:
Hy het nie toegelaat dat ons hulle prooi word nie.
7Ons is bevry soos 'n voël uit die wip van 'n voëlvanger;
die wip het gebreek en ons was vry!
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Spreuke 4

1Kinders, neem die opvoeding wat 'n vader julle gee, ter harte;
slaan daarop ag, sodat julle kan leer wat insig is,
2want wat ek julle leer, is goed;
moenie die onderrig wat ek gee, versmaai nie.
3Ek was ook eenkeer 'n kind,
my moeder se oogappel, haar enigste.
4My vader het my toe ook geleer en vir my gesê:
“Wat ek jou sê, moet jy vashou,
my voorskrifte moet jy uitvoer, sodat jy werklik kan lewe.
5Sorg dat jy wysheid bekom, en insig!
Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie;
6maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm;
as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar.
7Die wysheid kom eerste.
Sorg dat jy wysheid bekom,
gee alles wat jy het, om insig te kry!
8Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee.
Dit sal jou 'n man van betekenis maak as jy dit vasgryp.
9Dit sal jou lewe versier,
dit sal vir jou 'n sierlike kroon wees.”
10Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê;
dit sal jou lewensjare baie maak.
11Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is
en jou die regte koers laat loop.
12As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie,
en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.
13Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie;
bly daarby, want dit is jou lewe.
14Moenie agter die goddeloses aanloop nie,
vermy die pad van slegte mense.
15Los dit, moenie daarop loop nie,
draai weg, vermy die slegte mense;
16hulle kan nie slaap
as hulle nie kwaad gedoen het nie;
hulle lê wakker
as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie.
17Misdaad is hulle kos,
geweld hulle drank.
18Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig
wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is;
19die pad van die goddeloses is soos die donker:
hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.
20My seun, hoor wat ek vir jou sê,
luister goed na my woorde!
21Moet dit nie vergeet nie,
hou dit altyd in gedagte,
22want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister,
'n volle lewe vir hom wat dit besit.
23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewe.
24Weerhou jou van leuens,
moenie mense mislei nie.
25Hou jou oë op die pad vorentoe,
kyk reg voor jou uit.
26Baken jou koers af,
dan sal jy seker wees van elke tree.
27Moenie links of regs wegdraai nie,
weerhou jou van die verkeerde koers.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 4

God verskaf reg en bevryding
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm, met
begeleiding van snaarinstrumente.
2Antwoord my wanneer ek roep,
my regverdige God!
U staan my by in my verknorsing.
Wees my genadig
en hoor my gebed.
3O mensdom, hoe lank sal julle
my goeie naam beklad?
Hoe lank sal julle
valse beskuldigings maak?
Hoe lank sal julle leuens najaag?
Sela
4Hiervan kan julle seker wees:
Die Here het besondere genade
aan die getroues bewys.
Die Here sal antwoord
wanneer ek tot Hom roep.
5Moenie sondig
as jy ontsteld is nie.
Oordink dit in die nag
op jou bed
en wees rustig.
Sela
6Bring die voorgeskrewe offers
en vertrou op die Here.
7Baie mense sê:
“Wie sal vir ons
goeie dinge wys?”
Laat u glimlag oor ons skyn,
Here!
8U het vir my
meer vreugde verskaf
as dié met graan en wyn
in oorvloed.
9Ek sal in vrede gaan lê en slaap,
want U alleen, o Here,
laat my veilig woon.
Die Here antwoord
1Van Dawid, toe hy hom voor Abimelek
kranksinnig gehou het sodat Abimelek
hom weggejaag het en hy gevlug het.
2Ek sal te alle tye die Here loof.
Sy lof sal altyd
op my lippe wees.
3Ek sal net in die Here roem.
Die nederiges sal dit hoor
en bly wees.
4Kom verheerlik die Here
saam met my;
laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het tot die Here gebid
en Hy het my geantwoord,
Hy het my bevry van alles
waarvoor ek bang is.
6Hulle wat opsien na Hom,
sal straal van vreugde;
op hulle gesigte
is daar geen skaamte nie.
7Hierdie ellendige mens het geroep,
en die Here het gehoor.
Hy het hom
uit al sy benoudheid gered.
8Want die Engel van die Here
hou wag
oor almal wat Hom dien,
en Hy red hulle.
9Beproef en sien
dat die Here goed is.
Geseënd is die persoon
wat op Hom vertrou!
10Dien die Here,
julle wat aan Hom toegewy is!
Hulle wat Hom eer,
ly geen gebrek nie.
11Selfs jong leeus ly gebrek
en is honger,
maar wie op die Here vertrou,
kort niks wat goed is nie.
12Kom, kinders, luister na my!
Ek sal julle leer
hoe om die Here te dien.
13Wie is die mens
wat ’n lang lewe begeer,
wat baie goeie dae begeer?
14Hy moet sy tong
weerhou van kwaad
en sy lippe om leuens te vertel.
15Vermy die kwaad
en doen wat goed is.
Soek vrede en streef dit na.
16Die Here waak
oor hulle wat reg doen;
Hy luister na die geroep om hulp.
17Maar die Here tree op
teen hulle wat kwaad doen
en verwyder die herinnering
aan hulle op die aarde.
18Wanneer mense roep om hulp,
hoor die Here.
Uit al hulle moeilikhede
red Hy hulle.
19Die Here
is naby dié wat hartseer is.
Hy help hulle
wat geestelik stukkend is.
20Die regverdige
kan baie rampe ervaar,
maar uit elkeen van hulle
red die Here hom.
21Want die Here beskerm
selfs elke been.
Nie een van hulle
sal gebreek word nie.
22Onheil sal sekerlik
die goddeloses inhaal;
hulle wat die regverdiges haat,
sal veroordeel word.
23Maar hulle wat die Here dien,
sal Hy bevry.
Nie een wat by Hom skuil,
sal veroordeel word nie.

Psalm 64

God sien alle
kwaadstokery
1Vir die koorleier: ’n Psalm van Dawid.
2O God,
luister tog na my klag.
Beskerm my teen die dreiging
van my vyande.
3Beskut my teen sameswerings
van kwaadwillige mense,
teen die kwaadstokery
van hulle wat onreg doen.
4Hulle wat hulle tong
skerp maak soos swaarde,
soos pyle
met bitter woorde skiet,
5om uit hinderlae
op die onskuldige te skiet,
om onverwags op hom te skiet
sonder om bang te wees.
6Hulle spoor mekaar aan
tot bose dade;
in die geheim
beplan hulle lokvalle.
Hulle vra:
“Wie sal dit ooit raaksien?”
7Hulle beplan misdaad, en sê:
“Ons het ’n volmaakte plan!”
Die mens se gedagtes
en bedoelings
is inderdaad baie duister.
8Maar God tref hulle met ’n pyl,
en skielik is hulle gewond.
9Hulle eie woorde
laat hulle struikel.
Elkeen wat dit sien,
skud die kop.
10Dan sal almal,
vervul met ontsag,
getuig oor die dade van God
en iets van sy werke verstaan.
11Die regverdiges sal bly wees
in die Here,
en skuiling soek by Hom.
Al die opregtes van hart
sal Hom prys.

Psalm 94

Die Regter van die hele
aarde
1God wat onreg oordeel, Here,
God van oordeel,
vertoon tog Uself!
2Kom, Regter van die aarde!
Vergeld die hoogmoediges
volgens wat hulle verdien.
3Hoe lank, Here,
sal die goddeloses,
hoe lank sal die goddeloses
seëvier?
4Hulle borrel oor
met astrante woorde;
al die boosdoeners
spog daarmee.
5Hulle vertrap u volk,
Here,
en verdruk dié
wat aan U behoort.
6Weduwees en vreemdelinge
bring hulle om die lewe,
en weeskinders maak hulle dood.
7Hulle sê:
“Die Here sien dit nie;
die God van Jakob
bemerk dit nie.”
8Dink weer, julle onnoseles!
Wanneer word julle wys,
dwase?
9Is Hy wat die ore gemaak het,
doof?
Is Hy wat die oë gevorm het,
blind?
10Sou Hy wat die nasies straf,
dan nie straf nie?
Sou Hy wat onderrig,
aan kennis ontbreek?
11Die Here ken mense
se gedagtes,
Hy weet dat dit niks werd is nie.
12Geseënd is hulle
vir wie U vermaan, Here,
vir wie U uit u gebooie onderrig.
13U gee hom verligting
in moeilike tye,
maar vir die goddelose
wag ’n graf.
14Die Here sal sy volk
sekerlik nie verlaat nie,
en sy erfdeel
nie laat vaar nie.
15Regspraak sal kom
vir die regverdiges
en al die opregtes
sal dit soek.
16Wie beskerm my
teen goddeloses?
Wie staan my by
teen boosdoeners?
17As die Here
my nie gehelp het nie,
was die stilte van die graf my lot.
18Toe ek sê: “My voet gly!”
het u trou my ondersteun,
Here.
19Wanneer twyfel my oorweldig,
het u troos my verbly.
20Kan ’n bose regeerder
aan U verbind wees,
iemand wie se wette
ellende bring?
21Hulle span saam
teen regverdiges,
veroordeel onskuldiges
tot die dood.
22Maar die Here is my toevlug;
my God is ’n rots
waar ek kan skuil.
23Hy sal hulle sondes vergeld,
hulle vernietig
oor hulle boosheid.
Die Here ons God
sal hulle uitwis.

Psalm 124

As dit nie vir die Here
was nie
1’n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here
nie aan ons kant was nie,
laat Israel dit nou maar sê,
2as die Here
nie aan ons kant was
toe mense ons aangeval het nie,
3sou hulle ons
lewendig ingesluk het
in die hitte van hulle toorn
teen ons.
4Die waters
sou ons oorspoel het;
strome
sou ons oorweldig het.
5Die woeste waters
sou ons weggesleur het.
6Lof aan die Here
wat ons nie as prooi
aan hulle oorgegee het nie.
7Ons het ontsnap
soos voëls uit ’n voëlvanger
se wip.
Die wip is gebreek,
en ons het ontvlug!
8Ons hulp kom van die Here,
wat hemel en aarde
gemaak het.

Spreuke 4

’n Pa gee raad
1Kinders, luister na my!
Gee aandag
aan julle pa se vermaning.
Slaan ag daarop
sodat julle insig kan kry.
2Die opvoeding wat ek julle gee,
is van hoë gehalte.
Moenie my onderrig
ignoreer nie.
3Ek was self ook ’n kind
van my pa,
die enigste oogappel
van my ma.
4My pa het toe ook vir my gesê:
“Hou vas aan wat ek jou leer.
Hou by my voorskrifte
dat jy kan lewe.
5Soek na wysheid
en goeie oordeel.
Moenie my woorde vergeet nie.
Moenie dit laat los nie.
6Moet nooit afstand doen
van die wysheid nie.
Dit sal jou beskerm.
As jy wysheid liefhet,
sal dit jou beveilig.
7Die verstandigste ding
om te doen,
is om eers wysheid te bekom.
Wy jou daaraan toe
om veral onderskeidingsvermoë
te verkry.
8Stel wysheid voorop,
dan sal dit vir jou aansien gee.
Stel dit hoog op prys
en dit sal aan jou eer gee.
9Dit sal jou kroon met voorspoed.
Dit sal vir jou ’n pragtige kroon
gee.”
10My seun, luister na my!
Neem my woorde ernstig op.
Dit sal jou lank laat lewe.
11Ek sal jou leer
hoe wysheid werk.
Ek sal jou
op die regte pad lei.
12As jy op jou lewenspad loop,
sal daar nie struikelblokke
op jou pad wees nie.
As jy hardloop,
sal jy nie oor iets val nie.
13Hou vas aan die reëls
wat ek jou leer.
Moet dit nie laat los nie.
Bewaar dit,
want dit verryk jou lewe.
Die kwaaddoeners
14Moenie dieselfde pad loop
as goddelose mense nie.
Bly weg van die pad
van boosdoeners.
15Los hulle pad uit,
moenie daarop gaan nie.
Draai daarvan weg
en kies
’n ander koers.
16Hulle kan nie gaan slaap
as hulle nie kwaad
gedoen het nie.
Hulle kan nie
tot ruste kom
as hulle nie iemand anders
ook laat struikel het nie.
17Misdaad is hulle kos.
Geweld is hulle drank.
18Die pad van die regverdiges
is soos die lig met dagbreek.
Dit word al helderder
totdat die volle dag aanbreek.
19Die pad van die goddeloses
is soos stikdonker.
Hulle weet nie eers
waaroor hulle
gestruikel het nie.
Hou vas aan wat ek jou leer
20My seun, luister baie goed
na wat ek vir jou sê.
Spits jou ore vir my woorde!
21Moet dit nooit
uit die oog verloor nie.
Hou dit altyd
in gedagte.
22My woorde beteken lewe
vir dié wat daarna luister;
gesondheid vir die hele liggaam.
23Bo alles, wees versigtig
met wat in jou hart aangaan.
Wat jy dink,
bepaal alles wat jy doen.
24Moenie lelike dinge sê nie.
Bly ver weg
van lawwe praatjies.
25Kyk reguit vorentoe;
bly gefokus
op wat voor jou is.
26Merk jou pad
vir jou duidelik af,
dan sal jy seker wees
waarheen jy gaan.
27Moenie links of regs
van jou koers afwyk nie.
Bly weg van wat verkeerd is.

Die Boodskap

Psalm 4

1Vir die musiekleier se aandag:
’n Dawidspsalm wat met snaarinstrumente begelei word
2God wat my red, help my asseblief wanneer ek by U hulp kom vra!
U sorg altyd vir my. U het in die verlede uitkoms gee.
In ’n krisis het U ’n sagte hart.
Wees asseblief goed vir my. Luister na my gebed.
3Julle slegte spul, hoe lank gaan julle my naam nog deur die modder sleep?
Hoe lank gaan julle oneerlik wees en aanhou lieg? Maak oop julle oë!
4Besef dat die Here baie omgee en wonders doen vir mense wat agter Hom aanloop.
Hy help my wanneer ek by Hom hulp kom vra.
5Wanneer jy kwaad word, moenie dan verkeerde dinge doen nie.
Gaan lê op jou bed en dink wat jy gedoen het. Word rustig! Bly stil.
6Dien die Here met oorgawe! Vertrou op Hom.
7Jy het al baie mense hoor sê: “Wanneer sal dit weer met ons goed gaan?”
Help tog, Here! Kyk na ons kant toe.
8Daar is niks wat my blyer maak as wanneer U my help nie.
Ek is blyer daaroor as wat ander bly word oor
miljoene rande, oorsese reise of blink motors.
9As ek in die aand bed toe gaan, kan ek sonder bekommernis aan die slaap raak.
En ek raak dadelik aan die slaap, want by U voel ek veilig. U alleen beskerm my.

Psalm 34

1’n Dawidspsalm. Toe Dawid vreemd opgetree het voor koning Abimelek. Hy het padgegee toe die koning hom wegjaag
2Ek wil die Here heeltyd prys; ek sal Hom dag en nag met lofliedere loof.
3Ek sal liedere oor die Here sing om Hom te eer.
Almal wat hulp nodig het, sal dit raaksien en saam met my bly wees.
4Kom, julle, kom maak die Here se Naam saam met my groot. Kom laat ons Hom vereer.
5In gebed het ek die Here gevra om my te help en Hy het dit gedoen.
Hy het my gered van al die dinge wat my lewe bedreig.
6Mense wat swak is en hulp nodig het, sien dit raak. Hulle gesigte straal van blydskap.
As hulle die Here se hand styf vashou, sal Hy hulle nooit teleurstel nie.
7Kyk maar na my. Ek was swak en hulpeloos.
Toe het ek gebid en die Here het my gehelp. Hy het my uit al my krisisse gehelp.
8Die Here stuur sy engele om mense te beskerm wat Hom dien.
Hy verlos hulle wat Hom aanbid.
9Julle moet self kom ervaar hoe goed die Here is.
Jy is baie gelukkig as jy van die Here afhanklik is om jou op te pas.
10Julle almal wat aan die Here behoort, kom dien Hom.
Onthou, die Here voorsien in elke behoefte van mense wat Hom dien.
Jy sal niks nodig hê nie.
11Selfs sterk roofdiere soos leeus met hulle groot krag vang partykeer niks nie.
Dan ly hulle honger.
Maar as jy van die Here afhanklik is, sal jy niks nodig hê nie. Die Here sal vir jou sorg.
12Kom, kinders, laat ek julle iets leer! Ek gaan julle wys hoe om die Here te dien.
13Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe?
Wie wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees?
14Jy? Pas dan op om nooit verkeerde dinge te sê nie!
Moenie oneerlik wees en ander mense met leuens verkul nie.
15Vermy slegte dinge. Doen net goeie dinge aan ander. Lewe in vrede met mense.
16Die Here sorg vir almal wat doen wat Hy sê.
Hy help hulle wat Hom om hulp vra.
17Maar die Here ignoreer mense wat kwaad doen. Hy gaan hulle laat verdwyn.
Niemand sal ooit weer aan hulle dink nie.
Die Here help dié wat Hom liefhet.
18As hulle Hom om hulp vra, red Hy hulle uit al hulle probleme.
Hy hoor as hulle na Hom roep.
19Die Here is naby mense wat hartseer is;
Hy gee mense wat moedeloos is, weer nuwe moed.
20Al tref duisende rampe mense wat die Here liefhet, Hy sal hulle nooit alleen los nie.
Uit elke krisis sal Hy hulle red.
21Hy beskerm sy kinders tot in die fynste besonderhede.
Daar sal nie ’n been in jou liggaam gebreek word sonder dat Hy daarvan weet nie.
22Maar mense wat weier om die Here te dien
sal deur hulle slegte dade aan hulle einde kom;
hulle wat die Here se kinders sleg behandel, sal met eie munt daarvoor terugbetaal word.
23Die Here red almal wat Hom dien se lewe.
As jy op die Here vertrou om jou op te pas, sal Hy jou nie veroordeel nie.

Psalm 64

1Vir die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2God, help my asseblief as ek oor my probleme bid.
Beskerm my sodat ek nie bang word vir mense wat my kwaad wil aandoen nie.
3Pas my so goed op dat die planne wat bose mense teen my maak, nie uitwerk nie.
Keer dat daardie kwaaddoeners se gekonkel my ontstel.
4Met hulle skerp tonge vernietig hulle mense se lewens.
Hulle woorde is soos giftige pyle wat mense tref.
5Sonder dat die onskuldige mens dit verwag, loop hulle hom onderstebo. Uit die bloute skiet hulle hom. 6Hulle konkel agteraf om mense tot ’n val te bring. Hulle dink niemand sal hulle raaksien nie.
7Hulle beplan om ewe skelm allerhande dinge te doen. Hulle dink hulle bose planne is fyn uitgewerk.
Hulle hou alles ’n groot geheim.
8God sal vinnig met daardie kwaaddoeners afreken.
Sonder dat hulle dit verwag, sal Hy hulle terugkry vir wat hulle gedoen het.
9Hulle slegte planne bring hulle tot ’n val.
Mense wat hulle sien, sal bly wees.
10Dan sal almal vir God groot respek hê oor wat Hy gedoen het.
Hulle sal raaksien wat Hy doen.
11Almal wat die Here dien, sal bly wees omdat hulle Hom dien.
Laat hulle by Hom wegkruip.
Laat almal wat die Here liefhet, Hom prys.

Psalm 94

1Here, U hou net mooi niks van verkeerde dinge nie.
U straf dinge wat nie reg is in u oë nie. Wys tog Uself!
2God, laat almal tog sien U doen altyd die regte dinge. U is die aarde se Regter. Reken af met mense wat dink hulle is belangriker as U.
Daar is mense wat glad nie hulle plek ken nie.
Hulle dink hulle is belangriker as ander mense.
Sorg dat hulle planne misluk.
3Hoe lank nog gaan mense wat weier om U te dien, daarmee loskom, Here?
Hoe lank gaan hulle die lewe geniet?
4Hulle verkleineer ander en praat lelike dinge.
5Here, daardie slegte mense verneder u kinders.
Hulle skend die regte van u kinders.
Hulle gee niks om vir mense wat swaarkry nie.
6Hulle vermoor arme weduwees en wese en vlugtelinge sonder om twee keer te dink.
7Hulle sê: Die Here sal dit tog nie raaksien nie.
Die God van daardie klomp gelowiges sal dit nie eens agterkom nie.
8Gebruik ’n slag julle kop.
Party van julle het maar min insig. Julle is heeltemal sonder verstand.
Wanneer gaan julle raaksien wat die Here wil hê?
9Die Here maak ore sodat mense daarmee kan hoor. Sal Hy dan self doof wees?
Hy maak oë sodat mense kan sien. Sal Hy dan self blind wees?
10Die vraag is nou: Sal die Here, wat vir mense wys wat reg en verkeerd is, dan nie verkeerde dinge straf nie?
Natuurlik! Hy sal dit beslis doen!
Hy leer hulle dan wat reg en verkeerd is.
11Die Here weet baie goed wat mense dink. Hulle gedagtes beteken niks nie.
12Here, mense wat leer wat u wil is en dit doen, is baie gelukkig.
13U sal vir hulle uitkoms gee as teëspoed hulle getref het.
Maar hulle wat weier om U te dien se dood kruip stadig nader.
14Die Here sal nooit die rug vir sy kinders draai nie.
Mense wat aan Hom behoort, sal Hy nooit in die steek laat nie.
15Hy sorg dat daar ’n tyd kom dat mense weer reg sal optree.
Almal wat eerlik is, sal baie bly wees daaroor.
Hulle sal dan die regte dinge doen.
16Is daar iemand wat vir my kant sal kies teen ’n klomp kwaaddoeners?
Wie sal my help teen mense wat altyd net verkeerde dinge teen my wil aanvang?
17As die Here my nie gehelp het nie, was dit klaarpraat met my. Dan was ek al dood!
18Wanneer my probleme my onderkry, het U my elke keer gehelp, Here.
U sorg vir u kinders met u liefde!
19As ek bekommerd begin word, dan dink ek maar net daaraan dat U vir my sorg.
Dan word ek weer rustig.
20U kan dit nie verdra as mense oneerlik is nie.
U hou niks daarvan dat slegte mense hulle nie steur aan wat U sê en ander in die moeilikheid laat beland nie.
21Daardie spul skelms is lelik met mense wat U dien. Hulle beskuldig onskuldige mense links en regs. Hulle laat hulle doodmaak.
22Maar die Here pas my goed op. Hy is my God.
Hy beskerm my en help my.
23Ja, die Here sorg dat daardie skurke se slegte dade misluk. Hy sal hulle laat boet.
Hy vernietig hulle saam met die kwaad wat hulle doen.
Die Here is ons God. Hy vat slegte mense vas!

Psalm 124

Die lied is geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien. Dit is aan Dawid opgedra
1God se kinders het gesê: Ander mense wou ons vernietig.
2As die Here nie toe vir ons goed was en ons gehelp het nie, was dit verby met ons.
3Hulle was baie kwaad vir ons. Hulle wou oor ons loop.
4Ons sou verdwyn het soos ’n grashalmpie wat in ’n magtige rivier beland.
5Hulle sou baie trots gewees het as hulle ons met die grond gelyk kon vee.
6Maar julle moet vir die Here baie dankie sê.
Hy het gesorg dat ons nie die onderspit delf nie.
Die mense wat ons wou vernietig, het dit nie reggekry nie.
Hy het ons lewe gespaar.
7Ons het soos ’n voëltjie uit ’n voëlwip uitgeglip.
Die wip wat hulle vir ons wou stel, het gebreek. Nou is ons vry.
8Dit is die Here wat ons help, want Hy is die sterkste van almal.
Hy het nie verniet die hemel en die aarde gemaak nie.

Spreuke 4

Woorde van ’n wyse man na ’n goeie lewe
1Jong vriend, luister na ouer gelowiges met baie kennis van die lewe. Doen jou bes om die regte dinge te leer. 2Ek wil jou goeie raad vir die lewe gee, kennis wat jy nooit moet vergeet nie.
3Ek was ook eenmaal jonk en sonder kennis. 4My pa het my van die lewe vertel en gesê: “Bêre my woorde in jou hart. Dink altyd daaroor na. Dan sal jy werklik gelukkig leef.
5“Doen jou bes om elke dag meer wysheid en insig te kry. Moet tog nooit my woorde verwerp nie.
6“Moenie lewenswysheid los soos ’n slegte man partykeer ’n vrou los nie. Wees lief daarvoor soos ’n goeie man sy vrou liefhet. Dan sal jy reg leef.
7“’n Belangrike reël vir die lewe is om meer en meer van die regte soort kennis in die hande te kry. Dan sal jy meer op jou gemak voel. Jy sal weet hoe om in die alledaagse lewe op te tree.
8“Leef die Spreukeboek se wysheid uit. Lees dit elke dag en dit sal met jou goed gaan. Omhels dit soos ’n vrou, en jy sal soveel vreugde ontvang.
9“Spreuke se wysheid sal jou help om jou lewe so mooi soos ’n pragtige kledingstuk te maak, jou lewenstyl soos klere wat almal raaksien en bewonder.”
Weereens: vermy slegte geselskap
10Jong vriend, ek het jou nou die weg na ’n wonderlike lewe gewys, jou vertel hoe ’n gelowige moet leef. Aanvaar dit nou. 11Dan sal jy jare van groot lewensvreugde smaak.
12Omdat ’n mens so maklik kan struikel en die verkeerde kan doen, moet jy tog vashou aan hierdie reëls wat ek jou leer. 13Oordink dit, want dit kan vir jou ’n goeie lewe vol vreugde verseker.
14Moet tog nie soos slegte mense leef of soos hulle raak nie. Bly uit hulle pad uit. 15Draai weg van hulle en loop jou eie pad. Hulle kan mos nie vanaand slaap as hulle nie eers iets verkeerds gedoen het nie. Hulle lê wakker as hulle nie iemand vernietig het nie. 16Hulle is skoon slapeloos as hulle nie vandag iemand te kort gedoen het nie. 17Misdaad is vir hulle soos kos. Geweld is soos wyn waarna hulle smag. 18-19Hulle lewe is een groot donkerte. Hulle kan nie sien waar om te loop nie. Boonop val hulle hulle stukkend oor al hulle booshede.
Totaal anders is die lewe van iemand wat die Here liefhet. Dit is soos ’n skerp lig wat almal kan sien en wat net al hoe helderder word totdat dit uiteindelik heeltemal dag is.
Let op jou hart, mond, oog en voet
20Jong vriend, luister baie mooi na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my lewenswysheid. 21Vergeet dit nie ’n enkele oomblik nie. Hou jou oë altyd op die spreuke se lewensreëls. Dink heeltyd daaroor na.
22Wie dit sy eie maak, sal vreugde ervaar, soveel dat dit selfs sy liggaam beter sal laat voel.
23Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed.
24Vermy dom praatjies en leuens en glibberige woorde.
25Dink mooi na oor alles wat jy sien. Kyk na die goeie dinge van die lewe.
26Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap. 27Jou manier van leef bepaal jou geluk!

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!