Dag 2: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 2 

Julle moet die Here met ontsag dien

 

1 Waarom is daar onrus onder die volke,
waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs?
2 Die konings van die aarde is in opstand,
die leiers span saam teen die Here
en teen sy gesalfde en sê:
3 “Kom ons maak ons vry
en gooi hulle juk af!”
4 Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit,
die Here spot met hulle.
5 Hy spreek hulle aan in sy toorn,
in sy gramskap jaag Hy hulle op loop:
6 “Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg.”
7 Ek wil vertel wat die Here aangekondig het.
Hy het vir my gesê:
“Jy is my seun,
van vandag af is Ek jou Vader.
8 Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom,
die hele aarde as jou besitting.
9 Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter,
hulle flenters slaan soos 'n kleipot.”
10 Wees dan nou verstandig, konings,
wees gewaarsku, regeerders van die aarde!
11 Julle moet die Here met ontsag dien,
Hom met vrees en bewing toejuig
12 en Hom onderdanig wees,
sodat Hy nie toornig word
en julle op die pad omkom nie,
want sy toorn ontvlam gou.
Dit gaan goed met almal
wat by Hom skuiling soek.

Psalm 32

U het my skuld vergewe

 

1 'n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf word nie,
wie se sonde vergewe word.
2 Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding nie toereken nie
en in wie se gees daar geen valsheid is nie.
3 Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het.
4 U hand het dag en nag swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog soos water in somerhitte.Sela
5 Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.Sela
6 Dit is waarom elke gelowige in 'n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie.
7 U is vir my 'n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.Sela
8 Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.
9 Moenie onverstandig wees nie, soos 'n perd of 'n muil
wat met 'n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei.
10 Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11 Verbly julle in die Here en juig, regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Psalm 62

Net by God vind ek rus

 

1 Vir die koorleier. 'n Belydenis. 'n Psalm van Dawid.
2 Net by God vind ek rus,
van Hom kom my redding.
3 Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.
4 Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger
en my probeer doodmaak,
'n man wat reeds is soos 'n muur wat wil omval,
'n klipmuur wat omgestoot word?
5 Hulle probeer my uitwerk;
hulle skep behae in leuens;
met die mond seën hulle,
in die hart vervloek hulle.Sela
6 Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
7 Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting, sodat ek stewig staan.
8 God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.
9 Vertrou altyd op Hom, my volk,
stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons 'n toevlug.Sela
10 Mense is verganklik,
mense is niks:
op 'n skaal wys hulle geen gewig nie,
saam is hulle minder as niks.
11 Moenie op geweld vertrou nie;
roof sal jou niks in die sak bring nie.
As jou rykdom toeneem,
moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.
12 Een ding het ek God hoor sê,
nee, twee:
dat net God mag het 13en 'n mens net op U, Here, kan vertrou,
en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

Psalm 92

Groots is alles wat U doen, Here

 

1 'n Psalm. 'n Lied vir die sabbatdag.
2 Dit is goed om die Here te loof,
om u Naam te besing, Allerhoogste,
3 om elke môre van u liefde te getuig,
en elke aand van u trou,
4 om dit te doen met snaarinstrumente,
met harp en lier.
5 U groot dade, Here, het my baie bly gemaak,
ek wil juig oor wat U gedoen het.
6 Groots is alles wat U doen, Here,
ondeurgrondelik u gedagtes.
7 Wie dit nie besef nie, is 'n dom mens,
wie dit nie insien nie, is sonder verstand.
8 Al is die goddelose voorspoedig,
al floreer almal wat onreg doen,
hulle sal vir goed uitgewis word.
9 U regeer vir ewig, Here,
10 en dit staan vas:
u vyande sal uitgedelg word, Here,
almal wat onreg doen, sal vernietig word.
11 Maar vir my gee U krag soos dié van 'n buffel,
U laat my 'n oorwinningsfees vier.
12 Ek kyk op my teëstanders neer,
ek luister sonder vrees na die mense
wat niks ontsien nie,
wat in opstand teen my is.
13 Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome,
soos hoë seders op die Libanon.
14 Hulle vind hulle krag in die huis van die Here
en groei op in die tempel van ons God.
15 Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag.
Hulle sal fris en lewenskragtig wees.
16 So sal blyk dat die Here regverdig is,
dat daar by Hom geen onreg is nie.
Hy is my rots.

Psalm 122

Bid dat Jerusalem vrede mag hê

 

1 'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan na die huis van die Here toe.”
2 En nou is ons hier binne-in jou, Jerusalem!
3 Jerusalem is die stad wat stewig gebou is,
4 waarheen die stamme kom,
die stamme van die Here.
Dit is 'n voorskrif vir Israel
om die Naam van die Here hier te loof.
5 Hier word reg gespreek,
hier lewer die koning sy uitsprake,
die koning uit die geslag van Dawid.
6 Bid dat Jerusalem vrede mag hê,
dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon.
7 Mag daar vrede wees binne jou mure,
rus in jou wonings.
8 Ter wille van my broers en my vriende
wens ek jou vrede toe.
9 Ter wille van die huis van die Here ons God
bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

Spreuke 2


1 My seun, neem aan wat ek jou sê,
maak wat ek jou voorskryf jou eie,
2 hou jou ore oop vir die wysheid,
span jou in om te verstaan.

3 Roep insig by,
vra na gesonde begrip.

4 Soek dit soos jy silwer sou soek,
spoor dit op soos 'n verborge skat.
5 Dan sal jy weet hoe om die Here te dien,
sal jy ontdek wat dit is om God te ken.
6 Dit is die Here wat die wysheid gee,
uit sy mond kom die kennis en die insig.
7 Hy laat eerlike mense sukses behaal
en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.
8 Hy sien toe dat reg geskied,
Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars.
9 As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry
in wat regverdig en reg en billik is
en sal jy op die goeie pad bly.
10 Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem,
kennis sal vir jou iets aangenaams word,
11 oordeelkundigheid sal oor jou wag hou
en verstandigheid sal jou bewaak.
12 Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af
en van mense af wat verkeerde dinge verkondig,
13 van dié af wat die regte paaie verlaat
om op donker paaie te loop.
14 Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is
en juig die wandade van die slegte mens toe;
15 hulle paaie is krom
en hulle koers is verkeerd.
16 Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af,
die vrou met die verleidelike praatjies,
17 wat haar eie man verlaat
en die verbond van haar God vergeet het.
18 Haar huis lei 'n mens na die dood toe,
haar spore bring jou by die dooies uit.
19 Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie;
hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie.
20 Loop jy liewer die pad van die goeie mense,
bly op die paaie van die regverdiges,
21 want die opregtes sal die land bly bewoon,
dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word,
22 maar slegte mense sal weggevee word uit die land,
bedrieërs sal uitgeroei word.

Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 2

Dien die Here en sy gesalfde

1 Hoekom gaan die nasies
so tekere,
en bedink die volke
nuttelose planne?
2 Die konings van die aarde
het saamgesweer;
die heersers span saam
teen die Here
en sy gesalfde.
3 Hulle sê:
“Laat ons hulle kettings
stukkend breek,
onsself bevry
van hulle slawebande.”
4 Maar Hy
wat vanuit die hemel heers,
lag oor hulle.
Die Here spot met hulle.
5 In sy toorn
praat Hy met hulle,
en in sy woede verskrik Hy hulle:
6 “Ek het hom op Sion,
my heilige berg,
as my koning aangestel.”
7 Ek wil vertel
van die Here se besluit.
Hy het vir my gesê:
“Jy is my seun.
Vandag het Ek
jou Pa geword.
8 Vra My, en Ek gee vir jou
nasies as erfporsie,
die einde van die aarde
as jou besitting.
9 Met ’n ysterstaf
sal jy hulle stukkend slaan,
soos ’n kleipot hulle verpletter.”
10 Wees nou verstandig,
o konings!
Wees gewaarsku,
regeerders van die aarde!
11 Dien die Here met eerbied
en juig oor Hom met bewing.
12 Onderwerp julle aan God
sodat Hy nie toornig word
en jy op die pad omkom nie.
Want sy toorn ontvlam gou,
maar daar is vreugde
vir almal wat by Hom skuil.

Die geseënde mens

 

1 ’n Dawidslied.
Geseënd is die mens
wie se opstand
vergewe is,
wie se oortredings
afgeskryf is.
2 Geseënd is die mens
wie se sonde
die Here nie toereken nie,
in wie se lewe
daar geen bedrog is nie!
3 Toe ek oor my sonde
stilgebly het,
het my liggaam gekwyn
van ellende,
het ek die hele dag lank
gekreun.
4 Dag en nag was u hand
swaar op my.
My krag het verdwyn
soos water in somerhitte.
Sela
5 Maar ek het my oortredings bely,
my sonde nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Ek bely my opstand
teen die Here.”
En my sonde en oortredings
het U vergewe.
Sela
6 Daarom moet al die vromes
U aanbid
in tye van nood.
Die groot vloedwaters
sal dié mens beslis nie
oorval nie.
7 U is vir my ’n skuilplek.
U beskerm my van teëspoed.
U omring my met liedere
van redding.
Sela
8 Die Here sê:
“Ek sal jou onderrig
en die pad wys waarop jy
moet gaan.
Ek sal vir jou raad gee,
my oog sal op jou wees.
9 Moenie redeloos wees
soos ’n perd of muil
wat met stang en toom
beheer moet word nie.”
10 Baie leed tref die goddeloses,
maar onfeilbare liefde
omring húlle
wat op die Here vertrou.
11 Daarom, wees bly in die Here
en juig, regverdiges!
Roep uit van vreugde,
julle almal wat opreg is!

Psalm 62

God is my hoop en redding

 

1 Vir die koorleier: Op die wysie van
“Jedutun”. ’n Psalm van Dawid.
2 Net by God kan ek rustig wag,
van Hom kom my verlossing.
3 Net Hy is my rots
en my redding,
my vesting
waar ek baie stewig staan.
4 Hoe lank sal julle
’n mens aanval?
Hulle almal probeer
om my dood te maak.
Ek is reeds soos ’n bouvallige muur,
of ’n vervalle heining.
5 Hulle wil my
my ereplek ontneem.
Hulle geniet dit
om leuens te vertel.
Met hulle mond seën hulle my,
maar in hulle harte
vervloek hulle my.
Sela
6 Ek wil rustig op God wag,
want van Hom
kom al my hoop.
7 Net Hy is my rots
en my redding,
my vesting
waar ek stewig staan.
8 God is my redding
en my krag;
God is my sterke rots
en my toevlug.
9 Vertrou op Hom te alle tye,
my volk,
stort jou hart uit voor Hom,
want God is ons toevlug.
Sela
10 Sekerlik is mense
net ’n asempie,
en die mensdom onbetroubaar.
Op die weegskaal
weeg hulle niks.
Saam is hulle ligter
as ’n windjie.
11 Moenie vertrou op afpersing
of valslik trots wees op rowery nie.
En as jou rykdom vermeerder,
moenie dat jou lewe
daarom draai nie.
12 God het duidelik gepraat,
ek het dit telkens gehoor:
die mag behoort aan God,
13 en ook die trou
behoort aan U, Here.
U beloon elkeen
volgens sy dade.

 

Psalm 92

God maak my sterk

 

1 ’n Psalm. ’n Lied vir die Sabbatdag.
2 Dit is goed
om die Here te dank,
om u Naam te loof,
Allerhoogste;
3 om soggens u goedheid
aan te kondig,
en in die aand u getrouheid,
4 met snaarinstrumente,
met die harp en die begeleiding
met die lier.
5 U groot dade maak my bly,
Here!
Ek juig oor u handewerk.
6 Hoe groot is u werke, Here!
Hoe diep is u gedagtes!
7 Net ’n onkundige
sal dit nie weet nie!
Net ’n dwaas
sal dit nie verstaan nie!
8 Die goddeloses floreer
soos onkruid,
en boosdoeners woeker
met sukses;
tog sal hulle vir goed
vernietig word.
9 Maar U is hoog verhewe.
U, Here, bestaan vir ewig.
10 Maar u vyande, Here,
u vyande sal sekerlik vergaan.
Alle boosdoeners
sal verstrooi word.
11 U maak my sterk
soos ’n buffel.
U salf my met vars olie.
12 Ek sal die einde
van my vyande sien.
Ek sal hoor sonder om te vrees
wanneer boosdoeners
teen my opstaan.
13 Maar regverdiges sal blom
soos ’n palmboom,
en welig groei
soos ’n seder van die Libanon.
14 Geplant in die Here se huis,
groei hulle weelderig
in die voorhowe van ons God.
15 Al is hulle oud,
sal hulle steeds vrugte dra;
hulle is vars en lewenskragtig.
16 Hulle sal sê:
“Die Here is regverdig.
Hy is my rots.
By Hom is daar geen onreg nie.”

Psalm 122

Bid vir die vrede van

Jerusalem

 

1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Ek was bly
toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan
na die huis van die Here.”
2 Nou staan ons voete hier,
binne-in jou poorte,
Jerusalem.
3 Jerusalem is ’n stad
wat stewig gebou is,
4 waarheen die stamme opgaan,
die stamme van die Here.
Dis ’n vereiste vir Israel
dat die Naam van die Here
daar geprys moet word.
5 Daar staan die trone
vir regspraak,
die trone van die huis
van Dawid.
6 Bid vir die vrede
van Jerusalem,
vir kalmte by almal
wat jou liefhet.
7 Mag daar vrede wees
binne jou mure,
rus in jou paleise.
8 Ter wille van my broers
en vriende is my wens:
“Mag daar vrede
in jou wees!”
9 Ter wille van die huis
van die Here ons God
bid ek:
“Mag dit goed gaan met jou!”

Spreuke 2

Die wins van wysheid

 

1 My seun,
luister mooi na wat ek vir jou sê.
Bewaar wat ek vir jou leer.
2 Spits jou ore
vir die wysheid.
Span jou in
om dit te verstaan.
3 Roep na insig.
Roep hardop vir begrip.
4 Soek daarna
soos jy na silwer sou soek.
Spoor dit op
soos ’n versteekte skat.
5 Dan sal jy weet wat dit beteken
om respek te hê vir die Here.
Jy sal leer om God te ken.
6 Dit is tog die Here
wat wysheid gee.
Sy woorde gee kennis en insig.
7 Hy laat hulle wat reg leef,
sukses behaal.
Hy is ’n skild vir hulle
wat hulle pad suiwer hou.
8 Hy beskerm hulle
wat ’n reguit pad loop.
Hy bewaak die pad
van sy getroue dienaars.
9 As jy aanvaar wat ek vir jou sê,
sal jy insig hê
in wat regverdig,
reg en billik is.
Jy sal op die goeie pad bly.
10 Wysheid sal jou denke bepaal.
Jy sal lief wees vir kennis.
11 Oordeelkundigheid
sal jou beskerm,
verstandigheid
sal na jou omsien.
12 Dit sal jou weerhou
van ’n verkeerde lewenswyse.
Dit sal jou weghou van mense
wat besig is
met verkeerde dinge.
13 Hulle is die mense wat afdwaal
van die regte paaie
om op donker paaie
te gaan loop.
14 Hulle hou daarvan
om te doen wat sleg is.
Hulle juig
oor verkeerde dinge.
15 Hulle loop kronkelpaaie,
slaan ’n verkeerde koers in.
16 Die wysheid sal jou weghou
uit die kloue van ’n slegte vrou.
Dit sal jou spaar
van die verleidelike woorde van ’n
vreemde vrou.
17 Sy het haar man gelos
en vergeet van haar belofte
aan haar God.
18 Haar huis
is die kortpad na die dood.
Haar weg eindig
tussen die dooies.
19 Mense wat agter haar aangaan,
kom nooit weer terug nie;
hulle kom nooit weer
op die paaie van die lewe nie.
20 Loop jy liewer op die pad
van goeie mense.
Hou by die paaie
van die regverdiges.
21 Die opregtes
sal in die land bly woon.
Hulle wat eerbaar is,
sal ongesteurd daar kan bly.
22 Goddeloses sal verwyder word
uit die land.
Bedrieërs sal uitgeroei word.

Die Boodskap

Psalm 2

1 Waarom maak slegte mense in die geheim planne teen die Here?
Waarom dink hulle allerhande dinge uit wat tog niks help nie?
2 Wêreldleiers probeer belangrik lyk. Hulle probeer saamspan teen die Here en teen die koning wat Hy spesiaal gekies het. Hierdie mense beplan en sê:
3 “Laat ons in opstand teen hulle kom en ons vrymaak van hulle.”
4 Maar God, daar in die hemel, lag lekker vir hulle.
Die Here skeer gek met hulle.
5 Dit maak die Here kwaad en Hy bly nie stil nie.
Sy woorde laat hulle bewe van skrik: 6“Ek self het hom as koning aangestel op die heilige berg in Jerusalem.”
7 Laat ek julle vertel wat die Here vir my gesê het:
“Jy is my seun. Van hierdie dag af is Ek jou Vader.
8 Jy moet net vra, en Ek sal jou die heerser oor baie mense, ja, oor die hele wêreld maak.
9J y sal hulle met ’n ysterhand regeer.
Die een wat nie na jou luister nie, gaan teëspoed kry.”
10 Gebruik nou julle verstand, leiers van hierdie wêreld; wees wakker.
11 Ken julle plek en dien die Here met respek; maak sy Naam groot.
12 Dien Hom nederig. Hou Hom tevrede en moenie Hom kwaad maak nie.
As julle Hom kwaad maak, gaan julle swaarkry, glo my. Moet dit nie eens probeer nie.
As jy aan die kant van die Here gaan staan, sal jy nie jammer wees nie.

Psalm 32

Vir Dawid. ’n Gedig om mense te leer hoe om gelukkig te lewe
1 Jy is baie gelukkig as die Here jou al jou verkeerde dade vergewe.
Jy is gelukkig as Hy nie meer aan jou slegte dade dink nie.
2 Jy is baie gelukkig as die Here jou nie laat betaal vir jou skuld nie.
Jy is ook gelukkig as jy nie skelm is of ander mense probeer te kort doen met geld nie.
3 Toe ek stilgebly het oor my verkeerde dade en dit nie voor die Here bely het nie, het dit baie sleg met my gegaan.
Ek het maer geword soos ek die hele dag hard gebid het.
4 Dag en nag het U my aan my sonde herinner.
My krag het opgedroog soos waterpoele in die gloeiende hitte van die somerson.
5 Toe het ek my verkeerde dade voor U bely.
Ek het nie stilgebly oor die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie.
Ek het besluit om my slegte dade vir die Here te vertel.
U, Here, het dit alles vergewe.
6 Daarom moet almal wat hulle vertroue in U stel, in moeilike tye na U roep.
As groot probleme ’n gelowige tref, sal dit niks aan hom doen nie.
7 U beskerm my. U pas my op in elke krisis.
U laat my uitroep van vreugde wanneer U my red.
8 Hy het gesê: Ek is soos ’n onderwyser vir jou.
Ek vat jou aan die hand om jou op die regte pad te lei.
Ek sal jou elke keer die regte raad gee. Ek sal jou oppas.
9 Moenie so dom soos ’n perd of ’n donkie wees nie. Hulle het maar min verstand.
Hulle moet met ’n toom en ’n teuel gelei word, anders beteken hulle niks nie.
10 Mense wat die Here nie dien nie, ken baie hartseer. Maar elkeen wat op die Here vertrou, kan op sy groot liefde staatmaak.
Die Here sal hom met sy goedheid toevou.
11 Julle almal wat die Here liefhet, wees bly en opgewonde!
Juig oor die Here! Juig, julle almal wat opreg is!
Psalm 62

Opgedra aan die musiekleier. Op die wysie van “Jedutun”. ’n Dawidspsalm
2 Ek is rustig wanneer ek by die Here is.
Dit is Hy wat my elke keer red as ek in die moeilikheid beland.
3 By Hom alleen is ek veilig. Hy verlos en beskerm my.
Al is ek in die moeilikheid, sal niks my ooit onderkry nie.
4 Partykeer vra ek: Hoe lank gaan mense my nog probeer onderkry? Hulle beskuldig my van allerhande dinge.
Hulle wil my onderstebo stamp soos ’n lendelam klipmuur sommer omval.
Hulle wil my doodmaak.
5 Hulle wil my laat neerslaan. Daardie mense praat agteraf van my. Hulle vertel leuens.
Hulle praat mooi woordjies, maar binne-in dink hulle anders.
Hulle lewe is vol slegte dinge.
6 Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here.
Om by Hom te wees gee vir my hoop. Ek vertrou Hom. Hy beskerm en red my.
7 Hy is soos ’n wegkruipplek waar ek veilig is.
Daarom sal niks my onderkry nie.
8 Vir my is dit ’n groot eer om God se hulp te kom vra.
Ek kry arms vol krag wanneer ek voor Hom staan met my probleme.
Ek soek veiligheid by my God.
9 Kinders van die Here, julle moet altyd op Hom vertrou.
Praat julle hart leeg by Hom. God is die Een wat ons sal beskerm, altyd!
10 Hoor nou wat ek sê: mense beteken niks.
Op mense kan jy nooit vertrou nie. Hulle is onbetroubaar. As julle hulle weeg, sien jy hulle is niks.
Selfs al span hulle kragte saam, beteken hulle minder as niks.
11 Moenie op mense se krag vertrou nie. Om mense te besteel gaan jou nie help nie.
Wanneer jy ryk word, oppas dat dit nie jou hart inneem nie.
12 Daar is twee dinge wat vir my baie duidelik geword het:
13 Dis net God wat regtig mag het.
’n Mens kan net op die Here vertrou. Want Hy het ons lief.
Here, U beloon elke mens volgens wat hy doen.


Psalm 92

1 ’n Loflied. ’n Lied vir die rusdag
2 Allerhoogste Here, dit maak my baie bly om vir U ’n danklied te sing.
Ek wil liedere sing om aan U eer te gee.
3 Vroeg in die môre wil ek van u groot liefde vertel.
In die aand wil ek uitjubel dat U altyd op u pos is. U slaap nooit nie.
4 Ek wil dit uitsing met die geklank van viole, kitare, harpe en liere.
5 Here, ek sal sing, want U het my lewe vol blydskap gemaak.
Ek juig oor alles wat U gedoen het.
6 Wat U gedoen het, is te groot vir ons klein verstandjies.
Wat U dink en beplan, is te groot vir mense om te verstaan.
7 As jy nie oor die Here se grootheid nadink nie, is jy dom;
dan het jy geen verstand in jou kop nie.
8 Ook al gaan dit baie goed met mense wat U nie dien nie,
en al het mense wat lelike dinge doen sakke vol geld,
hulle gaan die een of ander tyd onder.
9 Maar Here, U is altyd baie groot.
10 U sal altyd die Here wees, maak nie saak wat mense sê of doen nie.
Al die slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn.
11 U gee vir my krag om op te staan.
U maak my so sterk soos ’n jong buffel.
Ek geniet al die goeie dinge waarmee U my oorlaai.
12 Ek geniet dit as mense wat my probeer onderkry, my nie stukkend kan trap nie. Ek is nie bang vir hulle nie, al ondermyn hulle my omdat hulle teen my in opstand kom.
13 Iemand wat die Here liefhet, staan so sterk soos ’n yslike groot boom.
Soos bome in die Libanon se woud, so sterk staan hy.
14 Mense wat die Here liefhet, kry krag daaruit om die Here te aanbid.
Daarom is hulle gereeld op hulle knieë voor ons God.
15 Selfs as hulle baie oud is, hou hulle aan om goeie dinge te doen.
Hulle is dan nog sterk en vol lewe.
16  Hulle sal vertel dat die Here ’n reguit pad met mense loop. Hy duld nie kwaad nie.
Hy beskerm sy kinders.
Ek kruip by Hom weg.

Psalm 122

Dawid het die lied geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1 Ek was baie bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan na die huis van die Here toe.”
2 Nou staan ons hier binne-in jou, o Jerusalem.
3 Jerusalem is goed gebou.
4 Dit is waarheen al die kinders van God kom om vir Hom baie dankie te sê.
Dit is wat Hy van hulle verwag.
5 Hier word besluit wat reg of verkeerd is.
Hier word die hofsake deur die nageslag van koning Dawid verhoor.
6 Bid vir vrede in Jerusalem:
Mag almal wat Jerusalem liefhet, gelukkig daar woon.
7 Mag vrede die stad omvou sodat mense daar veilig mag voel.
8 Ter wille van almal wat ek daar ken, bid ek: “Vrede!”
9 Omdat die huis van die Here in Jerusalem staan, wens ek julle net die beste toe.

Spreuke 2

Kies ’n gelukkige lewe
1 Jong vriend, indien jy na my wyse woorde oor die alledaagse lewe luister en my voorskrifte soos ’n kosbare skat binne-in jou bewaar,
2 indien jy jou ore vir hierdie lewenswaarhede spits en goed oor alles nadink, 
3 indien jy na insig in die alledaagse lewe smag en meer kennis begeer oor hoe om te leef, 
4 indien jy heeltyd hierna soek soos ’n mens na kosbare silwer of na skatte soek, 
5 sal jy die Here se liefde begin verstaan. Jy sal weet hoe om wys en gelukkig te leef.
6 Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af. Kennis en insig is net by Hom te kry. 
7 Hy gaar arms vol wysheid vir die gelowige op. Dit is net vir ons bedoel vir wie die Here liefhet. Soos ’n skild sal dit ons teen slegte dade beskerm. Dit sal ons aanspoor om gelukkig te leef.
8 Al die spreuke sal jou leer hoe om reg op te tree. Jy sal sommer lus wees om reg te leef. 
9 Dit sal vir jou lekker wees om daaroor na te dink. En jy sal weet hoe om met insig en begrip in elke situasie op te tree.
10 Wysheid sal jou van verkeerde dinge weghou en jou lewe verryk. 
11 Jy sal ook begin let op wat jy sê. Jy sal verstandig raak. 
12 Van sekere tipes mense sal jy wegbly, 
13 veral van diegene wat niks van lewensgeluk wil weet nie, 
14 hulle wat dit geniet om heeltyd verkeerde dinge te doen. 
15 Hulle loop op verkeerde paaie in die verkeerde rigting.
16 ’n Wyse lewenshouding sal ’n jongman teen ’n los vrou beskerm, veral teen haar wat hy van geen kant af ken nie en wat hom met haar woorde wil probeer verlei. 
17 So ’n vrou het haar man en kinders verlaat en die huweliksooreenkoms voor God heeltemal vergeet. 
18 Wie haar besoek, ervaar iets van die dood. 
19 Wie met haar gemeenskap het, sink in ’n donker put weg. Hy sal geestelik sterf. Sy lewenskoers is hy vir altyd kwyt.
20 Meng eerder met mense wat die Here liefhet, met mense wat weet hoe om gelukkig te leef. 
21 Opregte gelowiges sal die goeie van die aarde geniet. Hulle wat reg lewe, sal die lekker dinge van die lewe smaak. 
22 Dommes wat nie weet hoe om reg te leef nie, sal egter niks van hierdie goeie dinge ervaar nie. Hulle is ongelukkige mense.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!