Dag 11: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 11

Ek skuil by die Here
1Vir die koorleier. Van Dawid.
Ek skuil by die Here.
Hoe durf julle vir my sĂȘ:
“Vlug na die berge toe soos 'n voĂ«l!
2Kyk, die goddeloses span hulle boë,
en hulle lĂȘ aan met die pyl op die snaar;
hulle staan reg om uit die donker
die opregtes van hart te tref.
3As die fondamente ondermyn word,
wat kan die regverdige daaraan doen?”
4Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.
5Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose.
Wie geweld liefhet, haat Hy.
6Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,
'n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink.
7Die Here is regverdig.
Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel,
en Hy sal by hulle wees.

Psalm 41

Here, wees my genadig
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke.
Die Here sal hom red op die dag van nood,
3die Here sal hom beskerm en in die lewe hou;
die hele land sal praat oor hoe goed dit met hom gaan.
U sal hom nie uitlewer aan die wraaksug van sy vyande nie.
4Die Here sal hom bystaan in sy siekte.
As hy siek is, sal U hom genees.
5Ek het gesĂȘ: “Wees my genadig, Here!
Maak my tog gesond; ek het teen U gesondig.”
6My vyande wens my net die ergste toe:
“Wanneer gaan hy dood en verdwyn sy naam?”
7As iemand na my kom kyk, dink hy dis klaar met my.
Hy kom kyk hoe sleg dit gaan
en gaan vertel dit buite rond.
8Almal wat my haat, staan en fluister oor my,
hulle wens my net die ergste toe:
9dis 'n dodelike siekte wat hom getref het,
waar hy nou daar lĂȘ, sal hy nie weer opstaan nie!
10Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het,
wat altyd by my geëet het,
het my in die rug gesteek.
11Wees U my genadig, Here, en laat my hier opstaan,
dat ek aan hulle kan doen wat hulle aan my gedoen het.
12Dit weet ek: U het my lief,
my vyand sal nie oor my triomfeer nie.
13Ek is onskuldig, U hou my vas
en laat my altyd by U bly.
14Aan die Here, die God van Israel,
kom die lof toe tot in die allerverste toekoms.
Amen, ja, amen.

Psalm 71

Nou dat ek oud geword het
 
1By U, Here, skuil ek,
laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
2Red my en bevry my, want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
3Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
4My God, bevry my uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke en verdrukkers,
5want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af vertrou.
6U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wĂȘreld gekom het, het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.
7Ek is vir baie 'n wonder,
want U is my veilige toevlug.
8Ek besing u lof en u roem gedurigdeur.
9Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie,
moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.
10My vyande sweer saam teen my,
dié wat my lewe soek, smee 'n komplot teen my.
11Hulle sĂȘ: “God het hom alleen gelaat!
Agtervolg hom en gryp hom,
want daar is niemand om hom te red nie!”
12Moet tog nie ver van my af bly nie, o God,
kom my tog gou te hulp, my God!
13Laat dié wat my vals beskuldig,
self in die ellende beland en vernietig word.
Laat oor dié wat my ondergang soek,
net skande en mislukking kom.
14Ek, ek sal gedurigdeur bly hoop,
ek sal U altyd weer loof.
15Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk,
van u reddingsdade bly praat,
want hulle is meer as wat ek kan tel.
16Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God,
die verlossingswerk wat net U kan doen.
17U het my van jongs af onderrig, o God,
en ek getuig nou nog van u kragtige dade.
18Nou dat ek oud en grys geword het,
moet U my tog nie alleen laat nie, o God,
dat ek nog aan die geslagte wat kom,
kan vertel van u werk en u mag.
19U verlossingswerk, o God, is oneindig groot;
groot is die dinge wat U gedoen het!
Wie is soos U, o God?
20U het talle benoude ervaringe oor my gebring,
maar elke keer weer my lewe gered,
my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.
21Herstel my tog in my eer, gee tog uitkoms!
22Dan sal ek U met die harp loof vir u getrouheid, my God,
saam met die lier sal ek sing tot u eer, Heilige van Israel.
23Ek sal jubel as ek tot u eer sing,
omdat U my gered het.
24Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk,
want dié wat my ondergang soek,
staan teleurgestel in hulle verwagting;
hulle beland self in die ellende.

Psalm 101

Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe
 
1Van Dawid. 'n Psalm.
Ek wil sing van u troue liefde en u geregtigheid,
ek wil 'n lied sing tot u eer, Here.
2Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe.
Wanneer kom U na my toe?
In my huis wil ek lewe in opregtheid,
3niks wat sleg is, wil ek nastreef nie.
Ek haat wat verkeerd is.
Dit mag geen houvas op my hĂȘ nie.
4Valsheid wil ek van my af weg hou,
van kwaad wil ek niks weet nie.
5Wie sy naaste beskinder, wil ek uitwis.
Hoogmoed en vermetelheid verdra ek nie.
6Ek kies as my amptenare
dié in die land wat op God vertrou;
die man wat opreg lewe,
hy kan in my diens wees.
7Geen bedrieër sal in my paleis diens doen nie,
geen leuenaar kan my dien nie.
8In my daaglikse regspraak sal ek al die goddeloses in die land uitwis,
almal wat onreg doen uit die stad van die Here uitroei.

Psalm 131

Ek het rus gevind
 
1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.
3Wag op die Here, Israel,
nou en vir altyd.

Spreuke 11

Ek skuil by die Here
1Vir die koorleier. Van Dawid.
Ek skuil by die Here.
Hoe durf julle vir my sĂȘ:
“Vlug na die berge toe soos 'n voĂ«l!
2Kyk, die goddeloses span hulle boë,
en hulle lĂȘ aan met die pyl op die snaar;
hulle staan reg om uit die donker
die opregtes van hart te tref.
3As die fondamente ondermyn word,
wat kan die regverdige daaraan doen?”
4Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.
5Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose.
Wie geweld liefhet, haat Hy.
6Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,
'n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink.
7Die Here is regverdig.
Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel,
en Hy sal by hulle wees.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 11

God regeer
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
Ek vertrou op die Here
vir beskerming.
Hoe kan julle vir my sĂȘ:
“Vlug na die berge soos ’n voĂ«l!
2Die goddeloses
span hulle boë.
Hulle sit hulle pyle
op die snaar.
Vanuit die skaduwees
skiet hulle op die opregtes.
3Wanneer die fondamente
van wet en orde
inmekaartuimel,
wat kan die regverdiges
dan doen?”
4Maar die Here
is in sy heilige tempel;
die Here se troon
is in die hemel.
Noukeurig kyk Hy na elke ding.
Hy toets die mensdom.
5Die Here toets die regverdiges,
maar Hy haat die goddeloses
en dié wat geweld liefhet.
6Hy laat vuur en swael
op die goddeloses reën,
en brandende winde is die beker
waaruit hulle sal drink.
7Want die Here is regverdig
en het regverdige dade lief.
Hulle wat doen wat reg is,
sal Hom sien.

Psalm 41

Maak my gesond
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Geseënd is die mens
wat omgee vir die armes.
In tye van nood
sal die Here hom red.
3Die Here sal hom beskerm
en hom die lewe laat behou.
Hy gee aan hom voorspoed
in die land
en lewer hom nie oor
in die mag
van sy vyande nie.
4Die Here sorg vir hom
as hy siek is
en laat hom opstaan
uit sy siekbed.
5Ek het gesĂȘ:
“Here, wees my genadig.
Maak my gesond,
want ek het teen U gesondig.”
6My vyande praat kwaad van my.
Hulle sĂȘ:
“Wanneer sal hy sterf
en vergete wees?”
7As hulle my besoek,
is hulle skynheilig:
In hulle harte versamel hulle
slegte gedagtes;
dan gaan hulle uit
en vertel dit.
8Almal wat my haat,
fluister saam oor my
en beplan net die ergste vir my:
9“’n Dodelike siekte
het hom getref.
Waar hy nou lĂȘ,
sal hy nooit
opstaan nie!”
10My beste vriend
wat ek vertrou het,
wat saam met my geëet het,
selfs hy het sy rug
op my gedraai.
11Here, wees my genadig.
Maak my weer gesond
sodat ek hulle kan vergeld!
12Ek weet dat U my liefhet,
want my vyand seëvier nie
oor my nie.
13U hou my staande
omdat ek onskuldig is.
U laat my
altyd naby U bly.
14Prys die Here,
die God van Israel,
van altyd af
en tot in die oneindigheid.
Amen, ja, amen!

Psalm 71

Moenie my verlaat nie
1Here,
by U soek ek beskerming;
laat my nooit
beskaamd staan nie.
2Red my en verlos my,
want by U is regverdigheid.
Luister na my
en maak my vry.
3Wees vir my ’n rots
en ’n toevlug,
’n plek waarheen ek
altyd kan vlug.
U het reeds my redding bepaal,
want U is my rots
en my vesting.
4My God, red my
uit die mag van goddeloses,
uit die kloue van mense
wat wreed en onregverdig is,
5want U, Here, is my hoop.
Here,
van kleins af het ek op U vertrou.
6U is my hulp vanaf geboorte;
reeds voor geboorte
het U vir my gesorg.
Dis waarom ek U gedurig prys.
7Ek is ’n wonder vir baie,
want U is my sterke toevlug.
8Ek hou aan om U te prys;
die hele dag sing ek
oor u heerlikheid.
9Moenie my eenkant toe stoot
noudat ek oud geword het nie.
Moenie my verlaat
wanneer my kragte
afneem nie.
10Want my vyande beplan
teen my;
dié wat my lewe soek,
span saam teen my.
11Hulle sĂȘ: “God het hom verlaat.
Kom ons agtervolg hom
en vang hom,
want niemand sal hom red nie.”
12O God,
moenie ver wees van my nie.
My God,
maak tog gou en help my.
13Laat my aanklaers
in skande omkom.
Laat vernedering en oneer
hulle tref,
hulle wat my skade wil aandoen.
14Maar ek sal aanhou hoop,
U meer en meer prys.
15Ek sal u regverdigheid
bekendmaak,
en die hele dag
van u redding vertel,
al is dit te veel om op te noem.
16Oppermagtige Here, ek kom
om u magtige dade te prys,
ek sal vir almal vertel
dat U alleen regverdig is.
17O God,
U het my van jongs af geleer,
en nog steeds getuig ek
van u wonderdade.
18O God,
noudat ek oud en grys is,
moenie my verlaat nie,
sodat ek aan die nageslagte
u mag bekend kan maak,
en aan elkeen wat nog sal kom
van u magtige werke
kan vertel.
19U regverdigheid, o God,
reik tot aan
die hoogste hemele.
U het wonderlike dinge gedoen.
Wie is soos U, o God?
20U het diep nood
oor my laat kom,
maar U herstel my weer tot lewe.
Uit die diepwaters van die aarde,
uit die doderyk,
rig U my weer op.
21U sal my in eer herstel
en weereens
my vertrooster wees.
22Dan sal ek U prys met die harp,
want U is getrou, o God.
Met sang en lier sal ek U loof,
o Heilige van Israel.
23Van vreugde sal ek jubel
en u lof besing,
want U het my gered.
24Heeldag vertel ek
van u geregtigheid.
Dié wat my kwaad wou aandoen,
is nou self beskaam en verneder.

Psalm 101

Die gedragskode van ’n
koning
 
1’n Dawidspsalm.
 
Ek wil sing van u trou
en geregtigheid.
Here, ek wil U met liedere prys.
2Ek wil my daaraan toewy
om opreg te lewe,
maar wanneer kom U na my toe?
In my huis wil ek lewe
met ’n opregte hart.
3Ek steur my nie
aan bose dinge nie.
Ek haat alle valsheid;
dit sal nie op my
’n houvas kry nie.
4Ek sal verkeerde gedagtes
verwerp
en wegbly van alles wat boos is.
5Iemand wat sy naaste beskinder,
sal ek tot swye bring.
Iemand met ’n trotse hart,
vol eiewaan,
sal ek nie duld nie.
6Ek let op die getroues
in die land,
en laat hulle by my woon.
Net dié wat opreg lewe,
net hĂșlle sal my dien.
7Bedrieërs sal nie
in my huis woon nie,
en leuenaars sal nie
by my bly nie.
8Soggens sal ek regspreek,
die goddeloses
in die land uitroei,
en al die bewerkers van kwaad
afsny van die stad
van die Here.

Psalm 131

Kalmte en rus
1’n Pelgrimslied. Van Dawid.
My hart is nie hoogmoedig nie,
Here;
en my oë is nie trots nie.
Ek bemoei my nie
met wat vir my te groot
of te moeilik is nie.
2Maar ek het kalmte en rus gekry,
soos ’n kindjie by sy moeder rus,
so is my gemoed.
3Israel, hoop op die Here,
nou en vir altyd.

Spreuke 11

1Die Here haat ’n skaal
wat nie reg weeg nie.
’n Akkurate lesing
dra sy goedkeuring weg.
2Verwaandheid
bring vernedering.
Nederigheid bring wysheid.
3Die opregtheid
van eerlike mense
wys vir hulle die koers.
Die valsheid
van onbetroubare mense
bring hulle ondergang.
4Rykdom gaan niks help
op die dag van oordeel nie.
Om reg te lewe
sal jou red van die dood.
5Die gehoorsaamheid
van die opregte
maak sy pad gelyk.
Die goddelose
sal deur sy goddeloosheid
inmekaarstort.
6Die betroubaarheid
van eerlike mense
sal hulle red.
Onbetroubare mense
se eie gierigheid
sal hulle inhaal.
7’n Slegte mens gaan dood
saam met alles
wat hy begeer het.
Sy verwagtings
was net op sy eie mag gebou.
8God bevry die regverdige
uit sy nood;
Hy laat goddeloses
in daardie nood verval.
9Goddeloses vernietig mense
met hulle woorde.
Dié wat reg lewe, word
deur hulle kennis gered.
10’n Stad juig oor die voorspoed
van die regverdiges.
Dit jubel as goddelose mense
te gronde gaan.
11As opregte mense ’n stad prys,
bring dit voorspoed
vir die stad.
Die woorde van goddeloses
laat dit agteruitgaan.
12Om neerhalend
van ander te praat,
getuig van dwaasheid.
’n Verstandige mens
sal eerder stilbly.
13’n Geskinder lap geheime uit;
betroubare mense
bewaar geheime.
14Sonder goeie leiding
stort ’n volk in duie;
dit is veilig
om baie raadgewers te hĂȘ.
15Dit is gevaarlik
om vir ’n vreemdeling borg te staan;
dit is veiliger om daarvoor nee te sĂȘ.
16’n Deugsame vrou
verdien agting.
Gewelddadiges jaag na rykdom.
17’n Mens wat vrygewig is,
baat self daarby.
’n Wrede mens
vernietig homself.
18Goddeloses word skynbaar
gou ryk,
maar dit hou nie.
Die regverdige
sal ’n beloning kry
wat vir altyd hou.
19Lewe wag vir hulle
wat regverdig is.
Die dood wag vir hulle
wat agter kwaad aan is.
20Die Here het ’n afsku
aan agterbakse mense.
Hy is lief vir mense
wat onberispelik lewe.
21Slegte mense
sal baie beslis nie loskom nie.
Die nageslag
van die regverdiges
sal vrygespreek word.
22’n Mooi vrou
sonder gesonde oordeel
is soos ’n goue ring
in ’n vark se snoet.
23Die regverdiges wens altyd
vir die regte dinge.
Waarvoor die goddeloses wag,
bring net straf.
24Mense wat graag uitdeel,
ontvang altyd meer.
Daar is ander wat suinig is
en hulle word arm.
25Mense wat
’n ander iets gun,
het self altyd oorvloed.
Hulle wat ander se dors les,
is self altyd verkwik.
26Mense vervloek
selfsugtige mense
wat weier om koring te verkoop.
Hulle seën iemand
wat bereid is om te verkoop.
27’n Persoon geniet aanvaarding
as hy die goeie nastreef.
Kwaad haal die een in
wat daarop uit is.
28Iemand wat staatmaak
op rykdom,
kom juis tot ’n val.
Iemand wat reg doen,
floreer
soos groen blare aan ’n boom.
29Die een
wat in sy huis
ongelukkigheid bring,
sal naderhand die wind erf.
’n Onverstandige mens
word die slaaf
van iemand met wysheid.
30Iemand wat reg optree,
is soos ’n vrugbare boom.
’n Mens wat wys is,
red ander se lewens.
31As die regverdige
hier op aarde
kry wat hom toekom,
sal ook die goddelose
en die sondaar beslis
kry wat hy verdien.

Die Boodskap

Psalm 11

Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
1Ek gaan kruip weg by die Here.
Ek verstaan nie hoekom mense vir my sĂȘ om soos ’n voĂ«l weg te vlieg en op ’n ander plek hulp te gaan soek nie.
2Mense wat U nie dien nie, probeer ander tot ’n val bring, Here.
Hulle staan reg om mense wat reg lewe seer te maak.
Hulle val mense wat reg lewe in die donker aan.
3Hulle doen dit wanneer niemand hulle sien nie.
Mense wat reg lewe, is magteloos teen hulle.
4Die Here is in sy woonplek. Hy regeer uit die hemel oor alles.
Hy kyk wat mense doen en toets hulle optrede.
5Die Here kyk of dié wat reg lewe sy toets slaag. Hy het geen tyd vir daardie spul wat alles met hulle vuiste en wapens wil uitsorteer nie.
6Mag die Here almal wat Hom nie dien nie, voor Hom wegvee.
Mag Hy hulle soos ’n orkaan tref.
7Die Here is altyd regverdig.
En Hy hou daarvan as mense die regte dinge doen.
Almal wat opreg lewe, sal voor die Here kan gaan staan.

Psalm 41

1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2Jy is baie gelukkig as jy iemand help wat swak is. As jy die dag self in die nood is, sal die Here jou ook help.
3Die Here sal jou beskerm en keer dat die dood jou oorval.
Hy sal jou gelukkig maak, waar jy ook al is.
Almal sal vertel hoe goed dit met jou gaan.
Die Here sal nie toelaat dat mense wat niks vir jou omgee, jou onder hulle voete vertrap nie.
4As jy siek is, sal die Here jou gesond maak. Hy sal langs jou siekbed bly staan.
5Ek het vir die Here gesĂȘ: “Wees tog goed vir my!
Maak my gesond, al het ek verkeerde dinge teen U gedoen.”
6My vyande sĂȘ lelike dinge oor my.
Hulle sĂȘ: “Ons wens hy gaan dood sodat almal van hom kan vergeet.”
7As iemand by my kom kuier, wil hy net weet hoe sleg dit met my gaan. Hy maak my verder sleg by ander mense.
8Almal wat my haat, praat agter my rug oor my.
Hulle hoop dat die slegste dinge my sal oorkom.
Hulle sĂȘ: 9’n Bose gees bly in hom.
Dit is klaar met hom. Hy sal nie daar opstaan nie!
10Selfs my beste vriend het die rug vir my gedraai. Ek het hom vertrou. Hy het altyd saam met my gekuier.
11Here, help my. Maak my gesond sodat ek kan opstaan.
Dan kan ek aan hulle gaan doen wat hulle aan my gedoen het.
12My vyande kon my nie onderkry nie. Daaraan weet ek dat U my liefhet.
13Ek was onskuldig. U het dit vir almal gewys. En U hou my vas.
U is altyd by my.
14Prys die Here, die God van Israel. Prys Hom vir altyd.
Hy sal altyd sy kinders se God wees.
Dit is die volle waarheid!

Psalm 71

1Here, ek kruip by U weg! Moet my tog nie teleurstel nie! Help my!
Laat my nooit skaam kry omdat ek op U vertrou nie.
2Daarom vra ek: Gryp in! Help my! Pas my asseblief op! Want U doen altyd wat reg is.
3Ek wil altyd by U kom wegkruip.
U het my nog altyd gehelp. U pas my op.
U sorg dat ek veilig is. U red my.
4My God, beskerm my teen hulle wat nie na U wil luister nie.
Hulle wil alles met geweld oplos. Hulle doen heeldag verkeerde dinge.
Help my asseblief, Here, 5want ek bou al my hoop op U.
Van jongs af vertrou ek net op U.
6Van my geboorte af is U ’n steunpilaar vir my.
Van daardie eerste oomblik af dat ek met soveel moeite in die wĂȘreld gekom het, het U my beskerm. Daarvoor sal ek U altyd prys.
7Mense vertel vandag nog dat dit ’n wonderwerk is dat ek leef. Dit alles is u werk. Daarom kom ek nou nog na U toe vir hulp.
8Ek kan U net aanhou loof. Ek sal U altyd bewonder.
9Here, moenie u rug vir my draai noudat ek oud geword het nie!
Moet my nie alleen los noudat ek swak is nie.
10Help my asseblief, want hulle wat my nie liefhet nie, hou my fyn dop. Hulle wil my doodmaak.
11Hulle skinder agter my rug en sĂȘ: “God het hom verlaat.
Ons kan hom maar onderstebo loop. Niemand sal hom tog help nie.”
12God, moet tog nie u rug vir my draai nie.
Moet my nie alleen los nie!
My God, kom help my tog gou!
13Laat hulle wat my haat, tweede kom.
Mag hulle in die aarde wegsink.
Hulle wou my tot ’n val bring.
Sorg asseblief dat hulle self in die skande kom.
14Ek sal altyd op U bly hoop. Ek sal altyd vertel van die goeie dinge wat U doen.
15Ek sal sonder ophou sĂȘ hoe U mense help.
Ek het nie genoeg woorde om al u verlossingsdade mee te beskryf nie. Hulle is meer as wat ek kan tel.
16Ek sal aanhou vertel van al die wonderlike dinge wat die Here gedoen het.
Oor die bevryding wat net U alleen kan gee, sal ek praat.
17God, U was vir my soos ’n onderwyser van kleins af. Nou nog vertel ek van die wonderlike dinge wat U gedoen het.
18Ja, selfs noudat ek oud en grys geword het, sal ek dit aanhou sĂȘ.
God, moenie nou u rug vir my draai nie.
Ek wil eers vir my kleinkinders vertel hoe sterk U is.
19Almal kan u groot werke raaksien.
God, daar is niemand soos U nie; nie hier op aarde nie, en ook nie in die hemel nie.
20U het baie krisisse oor my gebring, maar U het my elke keer gered.
U het my elke keer uit die kloue van die dood kom haal.
21Laat mense weer respek vir my kry.
Help my.
22Dan sal ek U met my musiekinstrumente prys. My God, ek sal U loof.
U is getrou. Met my musiek wil ek U eer.
Niemand is soos U nie. U is die Heilige van Israel.
23Ek sal opgewonde juig wanneer ek vir U lofliedere sing.
Ek sal bly wees, omdat U my gered het.
24Ja, ek sal U elke dag prys, want U het gesorg dat my lewe veilig is.
Hulle wat my kwaad wou aandoen, sal self gespot word. Hulle sal self in ellende beland.

Psalm 101

Van Dawid
1Ek wil sing van u liefdevolle goedheid en u regverdigheid.
Ek wil liedere sing oor hoe groot en belangrik U is.
2Ek wil probeer leef soos U wil hĂȘ.
Wanneer kom U na my toe?
Daar by my huis wil ek so leef dat U daarop trots kan wees.
3Ek wil niks met slegte dinge te doen hĂȘ nie.
Ek hou ook net mooi niks van al die dinge wat slegte mense doen nie.
Daarmee wil ek niks te doen hĂȘ nie.
4Van allerhande slegte gedagtes wil ek wegbly,
en aan dinge waarvan die Here nie hou nie, wil ek nie eens dink nie.
5Ek kan mense wat skinder, nie verdra nie. Ek wil hulle sommer iets aandoen.
’n Windbol wat te veel van homself dink, wil ek sommer net daar bestraf.
6Ek hou baie van mense wat die Here getrou dien en doen wat reg is.
Hulle is meer as welkom by my. Hulle kan vir my werk.
7Iemand wat lieg en bedrieg, moet dit nie eens oorweeg om naby my paleis te kom nie.
8Daar sal nie een dag verbygaan dat ek nie slegte mense die stryd sal aansĂȘ nie.
Ek sal nie ophou tot hulle almal aan die pen gery het nie.

Psalm 131

Dawid het die lied geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1Here, ek dink nie ek is beter as ander mense nie.
Verder doen ek nie dinge net om raakgesien te word nie.
As ek iets nie kan doen nie, los ek dit.
Mense probeer soms dinge doen sodat ander hulle op ’n troontjie kan plaas.
Dit laat hulle soos God lyk.
2Ek is tevrede soos ek is. Ek is soos ’n babatjie wat veilig in sy ma se arms lĂȘ.
Die wĂȘreld kan maar vergaan, maar ek voel veilig en tevrede.
Dit gebeur as jy op die Here vertrou.
3Stel jou hoop en vertroue op Hom. Hy sal jou altyd veilig laat voel.

Spreuke 11

Wysheid verander jou manier van leef
1Dit walg die Here wanneer besigheidsmense oneerlik is, wanneer produkte swak en pryse buitensporig is. Eerlike transaksies maak Hom gelukkig.
2Mense wat dink hulle is beter as ander, word uiteindelik verneder. Mense wat nie so baie van hulleself dink nie, verstaan die kuns van die lewe. 3Vir mense wat die Here baie liefhet, is die lewe makliker. Hulle wat Hom nie ken nie, word deur valshede verwoes.
4Baie geld help maar min wanneer probleme jou oorval. Wie die Here ken, word van die dood gered.
5’n Gelowige vir wie die Here ’n werklikheid is, leef reg. Slegte mense se verkeerde dade verwoes hulle.
6’n Gelowige se verhouding met die Here help hom om krisisse te oorleef. Ongelowiges is die gevangenes van hulle eie begeertes.
7Wanneer ’n ongelowige doodgaan, sterf hy sonder enige hoop; al die drome en verwagtings wat hy lewenslank gekoester het, is dadelik daarmee heen.
8Hulle wat die Here ken, word in moeilike tye gehelp. Ongelowiges raak net meer en meer in hulle probleme verstrik.
9’n Ongelowige verwoes ander met sy woorde. ’n Gelowige wat die lewe ken, se woorde help ander wat in die moeilikheid is.
10As dit met die gelowige goed gaan, is almal baie bly. As ’n slegte mens doodgaan, klink daar oral uitroepe van blydskap op.
11Wanneer die Here ’n gelowige voorspoedig maak, trek baie mense voordeel uit sy rykdom. ’n Slegte mens se woorde en dade kan ’n hele gemeenskap laat ly.
12Iemand wat ’n vriend in die openbaar verneder, is ’n hartelose mens. Iemand met ’n fyn aanvoeling vir ander sal eerder swyg.
13Iemand wat skinderstories loop en versprei, lap ander se geheime uit. ’n Man met integriteit hou ’n geheim vir homself.
14Waar kennis van die lewe ontbreek, gaan ’n volk onder. ’n Goeie regering se krag lĂȘ in sy kundige leiers.
15Iemand wat sommerso vir ’n vreemde borg staan, kan finansieel swaarkry. Hy wat dit haat om borg te staan, se geld is veilig in die bank. 16Vir ’n vrou met integriteit is haar goeie naam belangrik. Vir roekelose mense wat niks vir ander omgee nie, is geld die belangrikste van alles.
17Iemand wat vir ander mense goed is, sal self die vrugte daarvan pluk. Iemand wat niks vir ander omgee nie, vernietig homself.
18’n Skurk se optrede bring min lewensvreugde. Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees.
Die lewe in volheid
19Wie die Here opreg dien, ervaar die lewe in al sy volheid. Wie verkeerde dinge doen, is dood, al haal hy nog asem.
20Mense wat net aan verkeerde dinge dink, maak die Here baie kwaad. Hy is baie gelukkig met hulle wat reg leef.
21Niks staan vaster as ’n slegte mens se straf nie. ’n Gelowige se nageslag sal gelukkig wees.
22Iemand sonder insig en die regte lewenstyl is soos ’n vark met ’n goue ring.
23Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges se drome lei tot frustrasie en ellende.
24Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer.
25Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig. Wie ander se nood raaksien, is ’n gelukkige mens. As jy ander help, sal jy gehelp word as jy dit nodig het. 26Wie nie respek vir die gemeenskap se belange het nie, word verstoot. Wie die nood van die gemeenskap raaksien, word deur almal geĂ«er.
27Wie reg leef, verheerlik God. Wie na slegte dinge smag, word daardeur verwoes.
28Wie dink hy kan op sy geld vertrou, sal wreed ontnugter word. Wie in die Here glo, gaan van krag tot krag.
29Wie sy huisgesin te na kom se lewe sal leeg en sinloos wees. ’n Dom mens wat nie weet hoe om reg te lewe nie, sal nog vir ’n wyse werk. 30Die vrug van die geloof is die lewe in al sy volheid. ’n Wyse verstaan die honger en die nood van ander.
31As selfs ’n gelowige hier op aarde ly, hoeveel te meer nie ’n goddelose en ’n sondaar nie.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!