Wonderlik Om Die Here Se Bruid Te Wees

♕ Belofte van vandag: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.” Psalm 37:3 (1983)

Luister na Yvonne se ☊ Lofverslag

Dit is so wonderlik om die Here se bruid te wees!!! Elke dag word ek wakker en ek moet myself knyp om seker te maak ek is wakker en dat hierdie nie net alles 'n droom is nie:)

Vir Hom is absoluut niks onmoontlik nie. Dit is nou twee weke wat ek tuisonderrig. Die week voor ek begin het, kon ek in die aande nie slaap nie. Ek het alles probeer om te kyk wat dit is wat my uit die slaap hou, maar besef toe later dit is die bekommernis van tuisonderrig en al die vrae wat ek het. Gaan ek die mas opkom? Is ek opgewasse vir die taak? Hoe gaan ek alles balanseer wat gedoen moet word?

Ek was ook moeg gewees om te wag vir die herstel van my huwelik. Dit is nou al 'n jaar vandat my vorige man vir my laat weet het hy wil terugkom huistoe en niks gebeur nie. En dan wonder ek ook, doen ek iets verkeerd? Is daar iets wat ek moet doen om die situasie aan te help?

Maar natuurlik was dit omdat ek daaroor bekommerd was en dit nie vir Hom gegee het nie. Ek het met my Hemelse Bruidegom gepraat en vir Hom alles vertel en dadelik het ek Sy vrede gevoel.

Hy het my 'n pragtige vers gegee om aan vas te hou: Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Psalm 37:3 (1983)

Is dit nie 'n wonderlike opdrag van die Here af nie? Vertrou op die Here en woon en werk rustig voort.

Van daai dag af, het ek die vers ter harte geneem en elke keer wat daar iets gebeur wat my vrede wil steel, onthou ek die vers en raak ek rustig in Hom.

Ek geniet elke oomblik van die tuisonderrig en ek maak seker dat al is ek hoe besig, dat ek tyd maak vir Hom. Ek het gevind hoe meer tyd ek met die Here spandeer hoe makliker kom ek deur alles wat gedoen moet word. Ons eerste instink is om te doen en nog te doen en meer te doen om alles klaar te kry, maar ek glo die belofte in die vers het iets daarmee te doen:

Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Lukas 6:38.

Hoe meer tyd ons saam met Hom spandeer, hoe meer help Hy ons om die tyd tot ons beskikking wys te gebruik.

Liefste Bruid, gee vir Hom alles wat jy het en sien hoe Hy in jou lewe werk en jy die vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan!

Die vers lees: En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Fillipense 4:7

Oor julle harte en gedagtes die wag hou? Ek het nog altyd gekyk na die vrede wat alle verstand te bowe gaan, maar haal daai gedeelte vir 'n oomblik uit en kyk hier: Die vrede van God sal oor julle harte en gedagtes WAG hou! Wow, en wanneer sal dit gebeur? Wanneer ons: in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Sjoe, ek het nog nooit so diep hieroor nagedink nie. Mag Sy vrede vandag oor julle harte en gedagtes wag hou.

“Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.” Psalm 37:3 (1983)

“Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Lukas 6:38.

“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”. Fillipense 4:7

~ Yvonne in Suid Afrika
Volg #Yvonne Follow #Yvonne
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!