Hy Help Ons Om Elke Situasie Grasieus Te Hanteer

Belofte van vandag: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan” 2 Korintiërs 3:2

~ Adina in Suid Afrika

☊ Adina Joernaal Potgooi

Liewe Bruide,

Hierdie hoofstuk (Daardie Ongelooflike Genade, Leef Die Oorvloedige Lewe),het weereens my oë oopgemaak vir die nagevolge van reageer en hoe ons reageer op enigiets wat in ons lewens gebeur. Of dit nou ons vroulike probleme is, of enige ander probleme, ons moet dit grasieus kan hanteer. Nie net gaan ons sleg voel nadat ons "ontplof" het nie, maar ons gaan ook met ander mense se reaksies sit teenoor wie ons "ontplof" het.

Wat my die meeste van die les opgeval het, was die vergelyking met 'n drukkoker en hoe ons nie sal ontplof as die stoom nie uitgelaat word nie. Dat die hoeë druk daar is om ons harte sag te maak en meer smaak te ontwikkel. Dit is op die ou einde vir ons eie beswil as ons deur Sy genade elke situasie grasieus hanteer en nie ontplof nie, veral nie voor of teenoor ander mense nie.

Nee ons hoef niks uit te laat soos 'n ketel nie. Ons moet eerder alles wat veroorsaak dat ons wil ontplof na Hom toe vat, by Hom huil, by Hom kla. Ons moet alles vir Hom gee en by Hom sit todat ons beter voel. Hy wil en sal ons laste dra. Ons hoef nie alles te dra en op te krop todat ons ontplof nie.

In my eie lewe het ek baie ontplof teenoor ander mense, veral nadat my huwelikskrisis getref het. Ek het teenoor my eks man, my kinders, almal ontplof. En nie net sit jy na die tyd met die skuldgevoellens nie, jy sit ook met die ander mense se reaksie teenoor jou optrede, hul dunk van jou wat dalk val, hulle verloor dalk respek vir jou. Ons moet deur alles wat ons gaan, alles net vir Hom gee en met Hom deel, in ons gebedshoekie.

By Hom kan ons alles uitlaat, Hy verstaan en Hy is daar om ons te help, Hy wil ons help, maar ons moet Hom toelaat en alles met Hom deel. Hy sal nooit minder van ons dink of respek vir ons verloor nie. Hy verstaan en Sy genade vir ons is onbeskryflik groot. Hy wil nie hȇ ons moet alles dra nie, Hy wil dit vir ons dra. Hy wil net hȇ ons moet by Hom rus en stil wees terwyl Hy vir ons baklei. (Eksodus 14:14)

Liewe Bruide,

Hy wil ons laste dra, Hy wil daar wees vir ons, Hy wil Sy genade oor ons uitstort en ons help om elke situasie grasieus te hanteer. Ons moet net alles vir Hom gee en wanneer iets ons snellers trek, dadelik na Hom toe gaan en in ons gebedshoek alles vir Hom gee tot ons beter voel. Ons hoef nie voor ander mense te ontplof en dan met die nagevolge daarvan saam te leef nie. Sy skouers is breed en Hy kan alles dra wat so swaar op ons druk.

“Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan” 2 Korintiërs 3:2

“Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.” 2 Korintiërs 13:14, Die Boodskap

Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Volg ons #LOL Tag om die Lofpryse uit hierdie lewensveranderende boek te lees.
Leef Die Oorvloedige Lewe is as ‘n Aanlyn Kursus beskikbaar!

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!