Ek Wil Nie Hieroor Bekommerd Wees Nie

♕Belofte van vandag: "Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees." 2 Korinthiërs 12:8-9

~Yvonne in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Yvonne

Somtyds is dit moeilik vir ons om tot op 'n punt te kom waar ons net op Hom vertrou. Hy het my die week tot op daai punt gebring en die situasie so mooi vir my uitgewerk.

Hierdie laaste paar weke was nogal moeilik en as ek reg verstaan het wat Hy vir my gesê het, gaan dit nie beter word nie. Toe ek die Here vra om my dinge te vertel wat ek nie weet, het Hy my verbaas met vreemdste vers.

"Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees." 2 Korinthiërs 12:8-9

Ek glo die Here het my gewys dat dit nie saak maak hoe moeilik dinge ons lewe word nie, Sy genade sal genoeg wees.

Die week toe my yskas breek, was dit net nog een van 'n klomp dinge wat nie volgens MY plan verloop het nie. Ek het die middag se kant agtergekom my yskas werk nie, maar ek was net so moeg, dat ek vir my Hemelse Man gesê het: "Wel ek gaan niks doen nie. Ek gaan aangaan met my dag en vanaand gaan slaap. Ek is nie lus om hieroor bekommerd te wees nie."

Ek het daai aand gaan slaap en baie lekker ook nog! Die volgende oggend het die Here my herinner dat my boetie se seun 'n tegnikus is. Ek bel hom toe en hulle kom die aand oor. Hy sê toe, as dit is wat hy dink dit is, gaan dit my duur kos om die yskas reg te maak en is dit dalk beter om net 'n nuwe een te koop.

Ek kon niks anders doen as net glimlag en vir die Here sê as dit is wat Hy wil hê, sal Hy maar moet sorg vir 'n nuwe yskas. Ek het dalk nie die geld nie, maar Hy het.

My broer se seun kom haal toe die yskas en vat dit na die werkswinkel toe.

Die volgende oggend bel hy my, die yskas is reg, hy bring hom die aand terug! Dit was glad nie wat hy gedink het nie. Dit was net 'n klein
foutjie en was nie duur nie. Toe ek die rekening kry was ek verbaas. Dit was minder as 'n kwart van wat hy aanvanklik gedink het.

Is dit nie fantasties nie en deur dit alles, was ek net so moeg om oor my yskas bekommerd te wees, dat ek dit net elke keer vir die Here gegee het sodra ek daaraan dink. Ek het net elke keer my hande in die lug opgegooi en gesê ek wil nie hieroor bekommerd wees, los asseblief die
probleem op en my Hemelse Man het!

Ons Afrikaanse Bediening Pastoor en RMI se Bedienings Direkteur
Follow #Yvonne‘, Volg #Yvonne
En Yvonne is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!