Hy Word My Seun Se Held

♕Belofte van vandag: "Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe." 3 Johannes 1:4

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Ek wil graag weer vandag ‘n lofverslag deel oor hoe my Hemelse Man in my kinders se lewe werk.

So twee weke terug was ek die Vrydagaand besig in die kombuis, my seuntjie was besig om aanlyn met sy maaitjies op sy xbox te speel. Van waar ek was kon ek hoor wat hulle alles praat.

Die volgende oomblik het ek gehoor hoe hy vir sy een maaitjie vra of hy bid. Ek kon nie mooi hoor wat die seun geantwoord het nie, maar die volgende oomblik het my seun vir hom begin vertel dat ons moet bid en moet glo in die Here. Hy het ook gesê dat ons moet lief wees vir die Here en Hom altyd vra om ons te help

Ek was eers so bietjie geskok, maar toe kon ek net glimlag en my HM (Hemelse Man) loof en bedank vir my seuntjie wat so sonder vrees en op so eenvoudige manier, soos net ‘n kind kan, vir sy maaitjie vertel van hoe ons lief moet wees vir die Here en moet bid en vertrou.

Dit is so wonderlik om te sien hoe my seuntjie altyd op so eenvoudige manier iets kan sê wat my in verwondering laat, soos toe hy vir almal vertel het dat sy Hemelse Vader ons kat Milo teruggebring het huistoe. Of toe ons een keer vir die dag weggegaan het en ek vergeet het om die alarm aan te sit. Terwyl ons gery het, het ek hardop gesê dat ek dink ek het vergeet van die alarm, maar dat my Hemelse Man die huis sal beskerm. Toe ons weer later by die huis aankom het ek eintlik al vergeet dat ek dit gesê het, maar my seuntjie het net gesê: “Sien mamma, die Here het ons huis opgepas,” weereens kon ek net glimlag en vir my HM dankie sê dat Hy besig is om so in my seun se hart te werk.

Hy is tog hul Hemelse Vader en dra hul belange op die hart en wil hul graag wys dat Hy lief is vir hulle en altyd by hulle is, en Hy is defnitief besig om my seuntjie se Held te word😊

"Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe." 3 Johannes 1:4

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!