Hy Het Ons Beskerm

♕Belofte van vandag: "Bewaar my soos 'n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels." Psalms 17:8

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

So 3 weke terug het ek my kinders die Donderdagmiddag by die skool gaan haal in die dorp waar hul nou by hul pa-hulle bly en skoolgaan. Die reëlings was ek sou hul Donderdagmiddag gaan haal en kyk en besluit of my seuntjie die Vrydag kon skool toe gaan want hy was siek, maar ek moes in elk geval my dogter skool toe vat, dan gaan vir my hare by my vriendin wat ook in daardie dorp bly en sommer bietjie kuier tot die skool uitkom.

Vrydagoggend het my seuntjie nog bietjie siek gelyk en het besluit om hom maar by my te hou vir die dag terwyl ek my hare laat doen en ons ry toe om my dogter te gaan aflaai. Dit is omtrent so 30km van waar ek bly. Net buite my dorp is daar ‘n spruitjie en met al die reën het die pad en brug oor die spruit baie versleg en was vol “potholes”.

Maar net na die brug was die baan waarin ek gery het so vol “potholes” dat jy basies in die aankomende baan moet in om om hulle te ry, maar die oggend kon ek nie, want daar was baie aankomende verkeer. En alhoewel ek stadig gery het, het ek ‘n “pothole” getref en my band is geskeur. Ek het afgetrek en dadelik het ek met my HM (Hemelse Man) gepraat, want ons het tussen êrens en nêrens gesit. Ek was nie bekommerd nie, HM het my rustigheid gegee, maar Hy het my gelei om my VM (voormalige man, Kevin) te bel en net vir hom te verduidelik wat aangaan indien my dogter dalk sou laat wees en die skool hom bel. Ek het nie gebel om hulp te vra nie, net om hom te laat weet en hy het gesê hy sal die skool bel en hul laat weet dat my dogter laat sou wees.

Kevin het ook gevra of ek sou regkom om die wiel te ruil en ek het gesê ek sal my oom (wat in my dorp bly) bel aangesien dit vir hom naby en vining sou wees om my te help. Kevin het toe gesê hy sal solank met die bande winkel in hulle dorp reëlings tref en sodra ek klaar my dogter afgelaai het, moet ek soontoe gaan sodat hulle vir my ‘n nuwe band kan opsit en die balansering toets, want ek kan nie met die noodwiel ry nie. Ek het hom verseker dit is nie nodig nie en dat ek dit sal uitsorteer, maar hy het aangedring dat ek die kar vat en dat hy sou betaal. Weereens het ek gesê dit is nie nodig nie, maar hy het aangedring en ook geweier dat ek die geld op enige manier terug betaal.

My oom het toe opgedaag en terselfdertyd het ‘n man wat by my gym werk en my herken het, ook afgetrek om my te help. Dit het hulle paar minute gevat om die noodwiel op te sit en kon ons ry. My dogter was ‘n halfuur laat vir skool, maar Kevin het gereël en hul het die hek sonder enige probleme vir ons oopgemaak. Ek het toe vinnig die wiel gaan aflaai sodat hulle die band kon ruil terwyl ek my hare laat doen het.

Nadat ek my dogter later weer by die skool gaan kry het, het ons die wiel laat opsit en die balansering laat toets en huistoe gekom sonder probleme.

Gedurende die hele proses het my HM (Hemelse Man) my kalm gehou en my gelei in wat om te doen en te sê. Hy het ons ook beskerm, dit is ‘n baie gevaarlike stuk pad waar ons gestaan het en Sy hand was die heeltyd oor ons. Hy het ons beskerm en Hy het ook Kevin se hart sag gemaak om te betaal, want ek sou nie vir ‘n nuwe band kon betaal nie (ek het dit nie vir Kevin gesê nie, maar my HM het geweet en Hy het Kevin gebruik om te voorsien). Die man wat afgetrek het, was ook net my HM se voorsiening. Hy was daardie oggend vir ‘n rede op daardie pad en juis daardie tyd…net my HM wat dinge so kan uitwerk, want deesdae kan jy niemand vertrou wat aftrek om jou te "help" nie.

My kinders was baie paniekerig en bang terwyl ons langs die pad gestaan het. Ek het heeltyd vir hulle gesê dat hul HV (Hemelse Vader) by ons is en ons beskerm, en na die tyd, veilig by die huis, kon ek vir hulle sê dat hulle nooit nodig het om bang te wees nie, dat Hy ons beskerm het en alles vir ons uitgewerk het. En nou bid my seuntjie elke keer wat ons daardie pad moet ry dat Liewe Jesus ons teen potholes sal beskerm😊.

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!