Hy Het Haar Gebed Beantwoord

♕Belofte van vandag: "Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie." Jeremia 33:3

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

My kinders is mal oor troeteldiere, soos die meeste kinders seker maar is:) Ons het nog altyd net Jack Russels gehad en my dogter wou baie graag 'n kat gehad het, maar agv die 2 Jack Russels kon ons nooit een kry nie.

So twee jaar terug is die laaste Jack Russel sussie oorlede aan kanker en toe kry ons 'n miniatuur worshondjie. Toe begin my kinders my smeek vir 'n kat. Uiteindelik het ek ingestem en my niggie se kat het juis toe net kleintjies gekry. Die dag toe ons na hulle gaan kyk, het my kinders die kleinste katjie van die werpsel gekies.

Ons het hom Milo genoem want hy is 'n grys strepies kat met 'n "M" op sy voorkop. Ons het agtergekom iets is nie lekker met die kat nie want hy draai in die rondte as hy loop (hy hardloop wel reguit:)) en sy balans is nie soos ander katte s'n nie. Die veearts het gesê hy het moontlik breinskade en sal ook nie 2jr maak nie.

Wel dis nou al langer as twee jaar en Milo is nog by ons. Hy loop ook nie rond nie omdat hy nie oor die mure kan spring nie. Sedert my kinders van die begin van hierdie jaar gedurende die week by hul pa bly, vra my meisiekind gereeld vir my hoe gaan dit met Milo want sy is baie besorgd oor hom.

So drie weke terug het Milo op een of ander manier uitgekom en was vir paar dae weg, ek was al oortuig hy is dalk dood of iets. Ek het liewers gewag om vir my dogter te sê hy is weg tot hul na my toe gekom het, ek wou nie gehad het sy moet bekommerd wees terwyl sy in 'n ander dorp is nie.

Wel toe ek hul die Vrydag gaan haal en hul vertel dat Milo weg is, het sy die hele dag en aand gehuil, kort kort buite toe gegaan om vir Milo te soek. Later toe ons gaan slaap, het sy in trane vir my gesê sy wil net weet dat as hy nog lewe, hy okay is, of anders sal sy net wil weet of hy dood is. As hy dood is sou sy okay wees daarmee want dan sal hy in die hemel wees.

Ek sê toe vir haar sy moet vir Liewe Jesus vra om haar te wys, en ek en sy het toe dadelik gebid en vir die Here gevra om vir ons te wys of Milo okay is. Sy het rustig geslaap en die Saterdag was sy rustiger, maar het nog steeds kort kort uitgekyk vir enige teken van Milo.

Sondag oggend het ek vroeg wakker geword want ek het 'n kat buite by die hek hoor miaau. Eers het ek gedog dis dalk my bure se kat, maar gaan toe maar uit en daar sit Milo toe voor die hek!! My meisiekind het dadelik uitgestorm en dadelik Milo gegryp en hom omtrent die hele dag vasgehou en seker gemaak dat hy okay is. Sy het ook vir Jesus dankie gesê omdat Hy haar gebed beantwoord het. So het Hy vir haar gewys Hy is betroubaar en ons kan Hom enigiets vra!

"Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie." Jeremia 33:3

'“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word." MATTEUS 7:7-8

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!