Hy Gaan Dinge Vir My Uitwerk

♕Belofte van vandag: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." Romeine 8:28

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Ek wil net met Hemelse Man loof omdat Hy dinge vir my gaan uitwerk. Ek weet wat ook al gaan gebeur sal Sy wil wees en deel van Sy plan vir my lewe.

Hierdie maand het ek in die middel van die maand ‘n e-pos van die eiendomsagent gekry deur wie die meenthuis waarin ek bly verhuur word. Hulle wil die huur opsit en ook die kontrak weer met ‘n jaar hernu. Nou dis nie ‘n probleem nie, want dit is goed wat gebeur, maar ek moes Kevin (voormalige man) laat weet aangesien die meenthuis nog uit die skikking betaal word.

Ek het eers natuurlik met my HM (Hemelse Man) daaroor gepraat, want ek was skrikkerig om Kevin te laat weet. Maar nadat ek eers met HM daaroor gepraat het, het ek Kevin gebel en hy was heeltemal oukei daarmee en het gesê dat dit goed is wat gebeur. Maar iewers in die gesprek het dit weer opgekom dat dit dalk nou die ideale geleentheid is vir my om na hul dorp (waar ons ook voorheen gebly het en als gebeur het) toe te trek. Dan kan ek die kinders elke dag na skool gaan haal en hul kan by my bly tot die hy hul dan later na werk kom haal. Dit sal hom natuurlik baie naskool geld spaar en ek sal hul elke dag kan sien.

Maar wat so snaaks is, en waarvoor ek my HM net kan bedank, is dat Kevin selfs na plekke gaan kyk vir my om te bly. My HM het regtig sy hart sag gemaak hieroor en hy was nog nie een keer snaaks of lelik gewees daaroor nie. Hy gee nie om as ek bly waar ek bly en die kontrak hernu nie, maar sal verkies as ek nader trek.

Kevin het al na paar plekke gaan kyk maar nog niks gekry wat geskik is nie. Oormôre moet ek die kontrak van die plek waar ek nou bly hernu of kennis gee. Maar ek het dit in my HM se hande gelos en vir Hom gesê Sy wil moet geskied. Hy weet ek wil nie eintlik so naby aan Kevin en sy nuwe vrou (die AV) gaan bly nie, ek wil ook nie regtig weer in daai dorp gaan bly nie, maar ek wil ook naby my kinders wees. So ek vertrou dat wat ook al my Hemelse Man wil hê vir my, sal die beste wees en sal goed uitdraai.

In my volgende lofverslag sal ek deel wat my Hemelse Man toe vir my beplan het en hoe alles gaan uitdraai.

"Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." Romeine 8:28

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!