Hy Bou Hulle Geloof

♕Belofte van vandag: "Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus." Romeine 10:17

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Voordat ek vandag aangaan met enigiets moet ek eers stop en my Hemelse Man loof oor hoe Hy die kinders se geloof in Hom opbou!

Gedurende die eerste week van die skoolvakansie wat my kinders by my was, het ons kat Milo weer besluit hy gaan bietjie die wêreld verken....vir drie dae lank. Net soos voorheen, was my meisiekind in 'n toestand, sy verstaan nie dat katte dit doen nie en om als te vererger het ons bure se kat onlangs net verdwyn en is nog steeds weg.

Sy het veral na die tweede dag begin huil en wou die heeltyd gaan stap sodat ons Milo kan soek, maar ons kon hom nêrens kry nie. Die derde dag was die dag wat hul na Kevin (my voormalige man) toe sou gaan. Ek het vir haar gevra of sy gebid het en vir haar Hemelse Pa gevra het om Milo op te pas en huis toe te bring, soos die vorige keer, en sy het "Ja" gesê.

Maar die laaste aand wat hul by my was het sy gevra dat ek moet bid. Amper asof sy glo dat as ek bid, sal die gebed beantwoord word. Ons het toe gebid en gaan slaap.

En toe, net soos die vorige keer, het my Hemelse Man Milo deur die aand teruggelei huis toe en toe ek opstaan het ek hom buite gehoor miaau. Ek het hom gaan haal en by my meisiekind in die bed gesit sodat sy kan sien dat "ons" gebede vehoor is.

Ek kon eintlik self nie glo dit het presies weer soos die vorige keer gebeur nie, maar so is my kinders se Hemelse Vader besig om hul geloof op te bou en wys Hy vir hulle dat Hy betroubaar is en ons gebede verhoor.

Ek maak ook 'n punt daarvan om hul te leer dat hulle hul Hemelse Vader enigiets in gebed kan vra. Soos met Milo word sommige van ons gebede dadelik verhoor, maar daar is ander wat op die bepaalde tyd beantwoord sal word, wanneer ons en ons harte reg is om te ontvang waarvoor ons gevra het. Ek verduidelik dit vir hulle met 'n kar. My seuntjie kan dalk nou vir sy Hemelse Pa vra vir 'n kar, maar hy is net 8 jaar oud en defnitief nie gereed vir 'n kar nie. Maar wanneer hy groter is en geleer het om te bestuur en sy lisensie het, dan sal hy reg wees om sy kar te kry:)

Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.
HABAKUK 2:3 (AFR83)

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!