Dit Was Goed Vir Hom

♕Belofte van vandag: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” Johannes 15:7

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Ek is so opgewonde oor hoe my Hemelse Man ook in die lewe van ons familie en vriende werk terwyl ons op ons Herstel Reis is.

So rukkie terug het ek in ‘n lofverslag gedeel hoe die Here in my broer se lewe werk. Net so vining, my broer het glad nie in die Here geglo nie. Ek kon glad nie met hom oor enigiets oor die Here of die Bybel praat nie. Danksy die beginsel van “Wen Sonder Woorde” het ek opgehou praat en net vir hom begin bid. Gedurende die eerste “lockdown” in 2020 het die Here my broer alleen en afgesonder gehad en met hom begin werk en na die lockdown het hy my vertel van ervarings wat hy met die Here gehad het en hoe hy in die Here glo en selfs glo dat ons almal ‘n verhouding met die Here moet hê, nie godsdiens nie, maar ‘n VERHOUDING.

Sederdien het my broer al baie met my gepraat oor die Here, maar hy net nog nie weer sy Bybel oopgemaak nie. Baie keer as ek met hom gepraat het, het ek oor iets gepraat wat in die Bybel staan of as hy iets noem kon ek vir hom ‘n Bybelvers gee wat dit wat hy gesê het, bevestig.

Ek en my broer is baie na aan mekaar en al sien ons mekaar nie baie nie, praat ons ten minste 3 of 4 keer per week met mekaar en omtrent vir 2 ure lank. So twee weke terug het ons weer oor die Here gepraat en hy het my vertel van iets wat onlangs een oggend met hom gebeur het. Hy het die oggend opgestaan en was bietjie gestres oor sy situasie, toe hoor hy ‘n stem, nie hoorbaar nie maar in sy gedagtes wat vir Hom sê: “Bly in My en ek sal vir jou sorg.” Dadelik het ek vir hom gesê daar is sulke beloftes in die Bybel en die Here het vir hom ‘n belofte gegee. Nadat ons gepraat het, het ek vir hom die vers gestuur en gevra of dit die belofte is wat die Here vir hom gegee het: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” Johannes 15:7. Hy het verstom ja gesê en ek het vir hom gesê dis dalk tyd dat hy die stof van sy Bybel afvee en begin lees….🙂

Of hy het weet ek nie, maar paar dae later het hy vir my gesê hy is gevra om in die kerk naby waar hy bly se orkes te speel, hy speel bas kitaar en neem musiek op as stokperdjie, en hy het besluit hy gaan probeer. Verlede Sondag was die eerste diens waartydens hy kitaar gespeel het en toe ek hom vra of hy dit geniet het, het hy gesê ja en dit was vir hom goed om in so omgewing te wees en lofmusiek te speel.

So ek kan net my HM loof en prys terwyl ek staan en kyk hoe Hy in my broer se lewe werk en hom gevat het van iemand wat glad nie geglo het nie, na iemand wat nou in Hom glo en besig is om die pad te loop om nader aan Hom te kom….en partykeer is hy nou die een wat my aanmoedig en mooi laat verstaan ek moet nooit vergeet WIE in beheer is nie.

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!