Daar Is Nog Baie Werk Aan My

♕Belofte van vandag: "Maar nou, Here , U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand." JESAJA 64:8

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Ek wil graag my HM (Hemelse Man) ook loof en prys vir nog meer seëninge en vir geleenthede wat Hy maak om te kan sien hoe ver ek gekom het en hoe baie ek al verander het.

In my vorige Lofverslag het ek gedeel dat my kinders oor Paasnaweek by my sou bly, nadat ek niks daaroor gevra of gesê het nie, ek het net met my HM daaroor gepraat. Wel ek was nie seker wat ek oor Paasnaweek saam met die kinders sou doen nie en gewonder of hul nie eerder saam met hul pa sou wou kamp nie. Maar toe kry ek ‘n verassing, my eks-skoonsussie het my gebel en gevra wat ons oor Paasnaweek doen, en ek het vir haar gesê ek weet nie en sal dit maar vat soos dit kom.

Toe sê sy dat sy ‘n chalet iewers op ‘n leeuplaas bespreek het en was oppad om nog ‘n chalet te boek vir my en die kinders, sy wou nie nee vat vir ‘n antwoord nie, maar het voorgegaan en nog ‘n chalet geboek. Eers het ek my bedenkinge gehad want dit is Kevin (my voormalige man) se broer se vrou wat my nou saam hulle nooi. Ek het met my HM daaroor gepraat en vir Hom gesê ek wil nie moeilikheid veroorsaak nie en dat as dit nie is wat Hy wou hê ek moes doen nie, dit deur die mat sou val.

Wel dit het nie deur die mat geval nie en ons is Paas Vrydag toe weg. Ek en die kinders het met my kar gery en dit was glad nie baie ver van my huis af nie. Daar was ‘n redelike lang stuk grondpad voor jy die plaas bereik, maar het na al die reën wat die vorige week geval het, geen drama op die pad gehad nie. Ek het my skoonsussie hulle by die hek gekry en ons is na ons chalets toe.

Dit was nogal ‘n belewenis want die spesifieke twee chalets was op die dam se oewer, êrens tussen niks en nêrens, net oop vlaktes en rondom ons. Ons het die aand vleis gebraai en skielik het die wind erg opgesteek en paar minute later het dit begin drup en dit was yskoud. Die vleis was darem klaar gebraai en ons het lekker om die tafel gesit en kuier. Maar die wind het die hele aand aangehou waai en toe begin dit die volgende oggend fyntjies drup.

Daar was ‘n staproete tussen die leeu kampe ingesluit en ons besluit toe om dit te gaan doen voor dit regtig begin reën. Maar ons moes ook ‘n besluit maak, gaan ons na die staproete die res van die naweek bly met die reën wat voorspel word en die risiko loop met die grondpad, of gaan ons maar huistoe terwyl die grondpad nog droog is. Ons het toe besluit om eerder na die staproete huis toe te kom, twee jaar terug sou so iets my nou regtig nie aangestaan het nie en sou ek lekker dikbek gewees het omdat iets nie volgens my planne uitgewerk het nie, maar ek was doodkalm en het ingesien dat ons dalk ‘n risiko loop met die grondpad as ons sou bly.

Ons het die stappie tussen die diere se kampe baie geniet en die wildsbewaarder het vir ons baie interessante goed oor al die diere vertel. Toe hy ons na die 3 leeuwelpies toe vat, wou ek graag ingaan om hulle te vryf, maar my kinders wou niks weet nie en het my styf vasgehou. Die welpies was ook nou nie meer baie klein nie, groot genoeg om jou om te spring en lelik seer te maak. Maar dit was baie lekker al het dit harder begin drup terwyl ons gestap het. Na die tyd was ons redelik klam en yskoud en so is ons huistoe. Nog iets wat my verbaas het, want ek sou voorheen so gekla het oor sulke goed, maar dit het my glad nie eers gepla nie en ek het alles gevat soos dit kom sonder om ‘n woord te sê, ongeduldig of geiriteerd te raak.....en glo my twee jaar terug, sou ek dit nie so hanteer het nie….

Weereens gebeur sulke goed om vir ons te wys hoe baie Hy alreeds in ons verander het, daar is nog BAIE werk aan my, maar elke klein verandering is net HY!!

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!