Hy Gee Ook Dit Wat Ons Graag Wil Hê

♕Belofte van vandag: "As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry." Johannes 15:7

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

So twee naweke terug toe my kinders by my was, ek sien hul 3 naweke per maand, het ek beplan om net 'n rustige naweek te he. Gewoonlik is die bure se kinders ook hier en dan is dit 'n oor en weer gespelery, maar die naweek sou hul nie hier wees nie. Ek moes die kinders ook help met take en huiswerk vir die volgende week.

Die Saterdag het ek die kinders vir 'n melkskommel en 'n wafel gevat by 'n plek net buite die dorp wat oor naweke waterglybane en springkastele het vir die kinders. Daar gekom het die kinders elkeen 'n melkskommel bestel en na baie gespeel nog 'n koeldrank en 'n wafel. Toe hul die wafels eet het hul so toevallig gesien daar is Slush Puppies op die spyskaart en wou baie graag elkeen een hê, maar ek kon nie bekostig om vir hul elkeen nog 'n Slush Puppy ook te koop nie. Hul hartjies was seer maar ek het mooi verduidelik ek kan nie en ons sal volgende keer vir hul Slush Puppies koop. Nou ek moet ook bysê ek kan dit nie elke naweek vir my kinders doen nie, maar die naweek het ek paar rand ekstra gehad om hul te vat vir milkshake en roomys.

Op pad terug huistoe het ek maar sleg gevoel daaroor en met my HM (Hemelse Man) daaroor gepraat, maar Hy het my ook verseker dit wat ek wel vir hul kon gee, was meer as genoeg. By die huis gekom moes ons begin met skoolwerk. My skoonsussie het my egter uit die bloute gebel en gevra of sy en haar twee seuntjies kan kom kuier en ek het dadelik ja gesê want ek het haar lanklaas gesien.

Toe hulle daar aankom het ek haar vertel dat ek en die kinders die oggend bietjie na die plek toe gegaan het en dat dit so lekker plek is vir die kinders, maar ek het niks van die Slush Puppies gesê nie. Sy sê toe ons moet die vier kinders dadelik soontoe vat en sy betaal vir alles. Eers wou ek nie maar Hy het my ook al geleer om nie so trots te wees dat ek ander mense wat vir my iets wil gee se seëninge steel nie.

Wel ons is toe terug na die plek toe en daar gekom bestel sy toe, weereens sonder dat ek 'n woord gesê het, vir elke kind 'n Slush Puppy en 'n hamburger en chips!!

Ek het absoluut niks gesê nie, maar later die aand het ek vir haar 'n stemboodskap gestuur om vir haar te vertel van die Slush Puppies, hoe ek met my HM daaroor gepraat het en hoe Hy my gebede, sonder dat ek gevra het, beantwoord het deur haar te stuur!! Sy het gesê sy kan dit nie glo nie, want sy was nie eintlik van plan om te kom kuier nie, maar haar kinders het uit die bloute uit gesmeek om by ons te kom kuier.....

Ek het ook vir die kinders vertel dat ek met my HM daaroor gepraat het en dat ek bietjie sleg gevoel het omdat ek nie vir hul Slush Puppies kon koop nie...en toe stuur Hy hul tannie om hulle te kom bederf!!

Maar dis nie al nie, my broer laat weet my toe hy het vir die Sondag vir ons 'n plekkie langs die rivier gereël waar ons bietjie kon kuier en braai vir die dag. Dit was sy verjaarsdag en ek sou daar 'n draai gaan maak, maar toe bederf my HM ons weer met 'n braai op die rivieroewer!!

Hy het my weereens gewys hoe wonderlik Hy is en dat Hy nie net vir ons gee wat ons nodig het nie, maar ook wat ons graag wil hê. Maar die wonderlikste is hoe Hy met sulke klein gebare aan my kinders wys Hy is hul Hemelse Pappa en wil hul ook bederf!!

"As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry." Johannes 15:7

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!