Nou Dat Ek Weer Net Syne is

♕Belofte van vandag: "Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here. Om by Hom te wees gee vir my hoop. Ek vertrou Hom. Hy beskerm en red my. Hy is soos ’n wegkruipplek waar ek veilig is. Daarom sal niks my onderkry nie. Vir my is dit ’n groot eer om God se hulp te kom vra.Ek kry arms vol krag wanneer ek voor Hom staan met my probleme." Psalm 62:6-8

~Yvonne in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Yvonne

Ek will vir my Hemelse Man baie dankie sê vir hoe Hy my lei. Vir 'n paar jaar nou is ek vriende met my vorige man, maar sy vrou weet nie daarvan nie. Hy sal bel, oorkom vir koffie en so aan. Ek het met my Hemelse Man gepraat daaroor en baie geworstel en gevra vir tekens of dit Sy wil is. Dit was 'n baie lang pad vir my en ek wil my lofverslag gee, want ek wil nie hê dat enige iemand anders in dieselfde strik beland nie.

Elke keer as ek met die Here praat en vra vir 'n teken, gee Hy vir my iets heeltemal anders as wat ek voor gevra het en dit het my laat dink, dat ek maar net moet aangaan met waarmee ek besig is, Hy sal die res doen. Natuurlik is dit waar, maar wat van my spesifieke omstandighede? Was ek in sonde? Ja, die is die man van my jeug, maar onthou, hy is weer getroud EN sy vrou weet nie van ons vriendskap nie.

Ek het bly vra vir antwoorde, want dit het gevoel of ek my vrede verloor het. Skielik het ek weer alles geweet wat aan die ander kant gebeur, want ek was weereens my vorige man se vertroueling. En eendag toe val die skille van my oë af...

My kinders weet hulle pa bel my, want natuurlik is hulle hier as dit gebeur en toe vra my dogter my 'n baie belangrike vraag. Sy vra: "Mamma, wat maak dit wat mamma doen anders as dit wat my stiefma gedoen het?" Die enigste antwoord wat ek my dogter kon gee was: "Niks nie my liefie, ek is niks beter nie"

Dit het my 'n tydjie gevat om die waarheid te sien en te besef dat nou dat hy weer getroud is, ek hom nie anders mag behandel as wat ek enige ander getroude man behandel nie. Dit was 'n baie bitter pil om te sluk en ek het my Hemelse Man gevra dat Hy my die moed moet gee om die regte ding te doen en Hy het! Hy het dit alles baie makliker gemaak as wat ek gedink het dit gaan wees.

Nou dat ek weer net Syne is, is ek besig om Sy stem weer duideliker te hoor. Ek kan Sy leiding baie beter volg en net rus in Sy arms wanneer ek twyfel of ek die regte ding gedoen het, want ek weet dat Hy alles weet en dat ek net op Hom kan vertrou.

Ek is nie heeltemal seker hoekom ek vandag die lofverslag skryf nie, maar ek voel met my hele hart ek moet so ek doen dit eerder en lyk soos 'n dwaas as om nie Sy leiding te volg nie.

Hy is wonderlik en somtyds gee Hy vir ons die antwoorde wat ons nie wil hoor nie, want om die vriendskap met Ian (vorige man) op te breuk, voel vir my asof herstel nou nooit gaan plaasvind nie, maar ek weet dat my Hemelse Man groter is en soveel meer kan doen as wat ek ooit kan dink of droom.

"Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here. Om by Hom te wees gee vir my hoop. Ek vertrou Hom. Hy beskerm en red my. Hy is soos ’n wegkruipplek waar ek veilig is. Daarom sal niks my onderkry nie. Vir my is dit ’n groot eer om God se hulp te kom vra.Ek kry arms vol krag wanneer ek voor Hom staan met my probleme." Psalm 62:6-8

So 'n lieflike verse om te weet dat ek net kan stil word by Hom!

Ons Afrikaanse Bediening Pastoor en RMI se Bedienings Direkteur
Follow #Yvonne‘, Volg #Yvonne
En Yvonne is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!