Dag 23: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 23

Die Here is my herder
1'n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.
5U laat my by 'n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos 'n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Psalm 53

Daar is nie een wat goed doen nie
(Vgl. Ps. 14)
1Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Dawid.
2Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles;
wat hulle doen, is 'n gruwel vir God.
Daar is nie een wat goed doen nie.
3Van die hemel af kyk God die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
4Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard,
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
5Julle wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet,
en wat weier om God te dien –
weet julle dan nie
6dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur,
so vreeslik soos nooit tevore nie?
God sal die bene van dié wat teen sy volk wil veg,
op die slagveld verstrooi.
Sy volk sal hulle op die vlug laat slaan,
want God het hulle verwerp.
7Ag, mag daar tog uit Sion vir Israel redding kom!
Wanneer God die lot van sy volk verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

Psalm 83

Kyk hoe gaan u vyande teen U te kere
 
1'n Lied. 'n Psalm van Asaf.
2Moet tog nie afsydig staan nie, o God,
moet tog nie stilbly en niks doen nie!
3Kyk hoe gaan u vyande teen U te kere,
hoe verset u teëstanders hulle teen U.
4Teen u volk smee hulle komplotte in die geheim,
hulle sweer saam teen dié wat onder u beskerming staan.
5Hulle sê: “Kom ons roei hulle uit
dat hulle nie meer 'n volk is nie,
dat niemand meer die naam Israel sal onthou nie.”
6Hulle het eensgesind saamgespan
en 'n verbond teen U gesluit:
7Edom en die Ismaeliete,
Moab en die Hagareërs,
8Gebal, Ammon en Amalek,
Filistea en die inwoners van Tirus.
9Selfs Assirië het by hulle aangesluit;
hulle help almal die kinders van Lot.Sela
10Maak met hulle soos met die Midianiete,
soos met Sisera,
soos met Jabin by Kisonspruit.
11Hulle is by En-Dor vernietig
en hulle lyke het daar op die grond gelê en vergaan.
12Maak met hulle leiers soos met Oreb en Seëb,
met elkeen van hulle aanvoerders soos met Seba en Salmunna,
13wat gesê het:
“Kom ons vat die weivelde van God vir ons.”
14My God, maak tolbosse van hulle,
stoppels in die wind,
15'n bos wat in vuur verteer word,
berge wat in vlamme afbrand;
16jaag hulle met u stormwind,
slaan hulle uitmekaar met u orkaan.
17Laat hulle met skande daarvan afkom!
Dan sal hulle weet wie U is, Here!
18Bring hulle tot skande,
maak die lewe vir hulle een lang verskrikking,
verneder hulle en wis hulle uit;
19laat hulle besef dat alleen U die Naam “Here” het,
U, die Allerhoogste oor die hele aarde.

Psalm 113

Prys die Here!
 
1Prys die Here!
Prys, dienaars van die Here,
prys die Naam van die Here!
2Die Naam van die Here moet geloof word,
nou en vir altyd.
3Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan,
moet die Naam van die Here geprys word!
4Hoog bo al die nasies heers die Here,
sy mag strek selfs oor die hemele.
5-6Wie in die hemel of op die aarde
is soos die Here ons God,
wat hoog woon en hier onder alles sien?
7Die geringe help Hy op uit die stof,
die arme laat Hy van die ashoop af opstaan
8om hom by vernames te laat sit,
by die vernames van sy volk.
9Aan die kinderlose skenk Hy 'n huisgesin,
sy word 'n gelukkige moeder van kinders.
Prys die Here!

Psalm 143

Wys my die pad wat ek moet loop
 
1'n Psalm van Dawid.
Hoor my gebed, Here,
luister tog na my smeking.
U is getrou en regverdig,
antwoord my tog!
2Moet tog nie 'n regsaak teen my begin nie,
want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie!
3'n Vyand vervolg my,
hy trap my in die grond,
hy hou my gevange in die donker.
Ek is soos iemand wat lankal dood is.
4Ek het alle moed verloor,
ek is verslae.
5Ek dink aan die verre verlede,
ek peins oor alles wat U gedoen het
en oor die werk van u hande dink ek na.
6Ek strek my hande uit in gebed na U toe,
ek is voor U soos 'n uitgedorde land.Sela
7Antwoord my tog gou, Here,
ek is heeltemal gedaan.
Moet tog nie van my af wegkyk
dat ek word soos dié wat sterwe nie.
8Laat my elke môre u liefde ondervind,
want in U stel ek my vertroue.
Wys my die pad wat ek moet loop,
want my hoop is op U gevestig.
9Red my van my vyande, Here,
want by U skuil ek.
10Leer my om u wil te doen, want U is my God!
Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei.
11Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe.
U is regverdig, red my uit die nood.
12Vernietig in u trou my vyande,
laat al my teëstanders omkom,
want ek is u dienaar.

Spreuke 23

1As jy aansit om saam met 'n hoë amptenaar te eet,
wees tevrede met wat jou voorgesit word
2en bedwing jou as jy 'n groot eetlus het.
3Moenie sy lekker kos begeer nie;
dit kan jou duur te staan kom.
4Moet jou nie afsloof om ryk te word nie
en moenie jou sin vir waardes verloor nie.
5Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg;
dit kry vlerke en vlieg die lug in soos 'n arend.
6Moenie by 'n suinige mens gaan eet nie,
moenie sy lekker kos begeer nie,
7want hy bly uitreken hoeveel dit hom kos.
Dit is hoe hy is.
Hy moedig jou aan om te eet en te drink,
maar hy bedoel dit nie.
8Jy sal naar word van wat jy eet
en jou komplimente sal verkwis wees.
9Moenie 'n dwaas probeer reghelp nie;
hy sal jou verstandige raad met minagting behandel.
10Moenie grense verlê wat lankal daar is nie,
moenie weeskinders se grond vat nie,
11want hulle Beskermer is magtig,
Hy sal hulle saak teen jou behartig.
12Gee aandag aan wat ek jou voorskryf,
luister goed na wat ek jou leer.
13Moenie huiwer om 'n kind te straf nie,
want as jy hom slaan, red jy sy lewe.
14Jy moet hom juis slaan
om hom van die dood te red.
15My seun, as jy 'n wyse mens word,
sal dit my baie vreugde verskaf.
16Ek sal juig as wat jy sê, altyd reg is.
17Moenie afgunstig wees op sondaars nie;
wees altyd ywerig om die Here te dien;
18dan sal jy 'n toekoms hê
en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.
19Luister, my seun, soek die regte insig:
bly op die regte pad;
20moet jou nie ophou met suiplappe en vrate nie,
21want die suiplap en die vraat word arm;
dronkenskap laat jou in vodde loop.
22Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind;
en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.
23Hou by die waarheid, moet daar nie van afstand doen nie;
hou by wysheid, by selfbeheersing, by insig.
24'n Vader van 'n kind wat reg doen, voel baie gelukkig;
'n wyse seun verskaf sy vader groot vreugde.
25Mag ook jóú vader dié vreugde hê,
mag ook jóú moeder wat jou in die wêreld gebring het, so gelukkig wees!
26Glo my, my seun, en onthou wat ek jou leer:
27'n slegte vrou is soos 'n gevaarlike afgrond,
'n ander man se vrou is soos 'n put waaruit jy nie kan kom nie;
28sy lê op die loer soos 'n rower,
sy laat die een man na die ander 'n egbreker word.
29Wie is dit wat sug en steun,
wat rusie maak en kla,
onnodig seerkry en bloedbelope oë het?
30Dit is dié wat tot laat sit en drink,
dié wat aanhou proe aan drank.
31Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is,
so vonkel in die beker,
so lekker smaak nie.
32Agterna pik hy soos 'n slang,
spoeg hy gif soos 'n kobra.
33Dan sien jy vreemde dinge
en praat jy verkeerde dinge;
34dit voel of jy op die oop see lê,
of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê,
35en jy dink:
ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie;
ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie!
Wanneer word ek wakker?
Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 23

Die Here is my herder
1’n Dawidspsalm.
Die Here is my herder;
daar is niks
wat my ontbreek nie.
2Hy laat my lê
in groen weivelde;
na water waar rus is, lei Hy my.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my
op die pad van geregtigheid
tot eer van sy Naam.
4Wanneer ek loop
in ’n baie donker kloof,
sal ek nie bang wees nie,
want U is naby my.
U stok en u staf
beskerm en ondersteun my.
5U berei vir my ’n feesmaal
voor die oë van al my vyande.
U verwelkom my as ’n eregas
deur my kop te salf met olie
en my beker oorvol te maak.
6Waarlik, u goedheid en trou
vergesel my
al die dae van my lewe;
en ek sal bly
in die huis van die Here
so lank as wat ek lewe.

Psalm 53

Uit Sion kom redding vir
Israel
1Vir die koorleier: Met fluitspel. ’n Gedig van Dawid.
2Net ’n dwaas sê in sy hart:
“Daar is geen God nie.”
Hulle is bedorwe
en hulle dade is boos.
Niemand doen iets
wat goed is nie!
3God kyk neer vanuit die hemel
oor die hele mensegeslag
om te sien of daar
één is wat verstandig is,
één is wat God dien.
4Maar nee!
Almal het weggedraai;
almal het bedorwe geword.
Niemand doen wat goed is nie,
nie eens één nie!
5Sal die boosdoeners
nooit leer nie?
Hulle verorber my volk
soos brood.
Hulle weier om God te dien.
6Angs sal hulle daar beetpak,
skrik soos nooit tevore nie.
Die beendere
van julle aanvallers
sal God verstrooi.
Julle sal hulle tot skande bring,
want God het hulle verwerp.
7Mag uit Sion
redding kom vir Israel!
Wanneer God sy volk herstel,
sal Jakob jubel,
sal Israel bly wees.

Psalm 83

Komplotte teen u volk
1’n Asafpsalm.
2Moenie onverskillig toekyk nie,
o God.
Moenie stilbly en niks doen nie,
o God!
3Luister na die rumoer
van u vyande!
U haters het hulle teen U verset.
4Hulle smee komplotte
teen u volk,
hulle maak planne
teen hulle vir wie U beskerm.
5“Kom,” sê hulle.
“Laat ons hulle as nasie uitwis
sodat die naam van Israel
nie meer onthou sal word nie.”
6Hulle het eenparig saamgespan,
en ’n verdrag teen U gesluit:
7Dit is
die Edomiete en Ismaeliete,
Moabiete en Hagareërs,
8Gebal, Ammon en Amalek,
Filistea en die inwoners
van Tirus.
9Selfs Assirië het by hulle
aangesluit
as bondgenote van die nasate
van Lot.
Sela
10Maak met hulle
soos met Midian,
soos U met Sisera en Jabin
by Kisonspruit gedoen het.
11By En-Dor is hulle vernietig,
en het bemesting
vir die grond geword.
12Maak hulle leiers
soos Oreb en Seëb,
en al hulle aanvoerders
soos Seba en Salmunna.
13Hulle het gesê:
“Kom ons vat dit vir ons,
hierdie land van God!”
14My God,
maak hulle soos ’n tolbos,
soos kaf voor die wind.
15Soos vuur ’n woud verteer,
soos ’n vlam
berge aan die brand steek,
16agtervolg hulle só
met u orkaan,
verskrik hulle met u stormwind.
17Maak hulle tot skande, Here,
sodat hulle u Naam sal eer.
18Laat hulle altyd beskaamd
en verskrik wees.
Laat hulle verward wees
en vergaan
19sodat hulle kan weet
net u Naam is die Here,
die Allerhoogste,
oor die hele aarde.

Psalm 113

Prys die Naam van die
Here
 
1Prys die Here!
Ja, prys Hom,
dienaars van die Here.
Prys die Naam van die Here!
2Geseënd is die Naam
van die Here,
nou en vir altyd.
3Van waar die son opkom
tot waar dit ondergaan,
moet die Naam van die Here
geprys word.
4Die Here is verhewe
bo al die nasies;
sy heerlikheid
is hoër as die hemele.
5Wie is soos die Here ons God,
Hy wat hoog woon?
6Hy verneder Homself
om te kyk
na die hemele en op die aarde.
7Hy verhef die armes uit die stof
en die behoeftiges
van die ashoop.
8Hy plaas hulle by die vernames,
by vernames van sy eie volk!
9Die kinderlose vrou
in ’n huis maak Hy
’n gelukkige moeder
van kinders.
Prys die Here!

Psalm 143

Ek strek my hande uit
na U
1’n Dawidspsalm.
Luister na my gebed, Here!
Hoor tog my smeekgebede.
Antwoord my, want U is getrou
en regverdig.
2Moenie ’n regsgeding
teen u dienaar begin nie,
want niemand wat lewe,
is voor U onskuldig nie.
3My vyand agtervolg my,
vertrap my teen die grond,
hy laat my in duisternis lewe
soos dié wat lankal dood is.
4Ek het moed verloor;
ek is stomgeslaan.
5Ek dink aan die dae,
lank gelede.
Ek peins oor al u dade,
ek oordink die werke
van u hande.
6Ek strek my hande uit na U.
Ek dors na U
soos ’n verdorde land.
Sela
7Antwoord my tog gou, Here,
want ek het moed verloor.
Moenie U vir my verberg nie,
anders word ek
soos dié wat sterf.
8Laat ek in die oggend hoor
van u onfeilbare liefde,
want ek vertrou op U.
Wys my die pad
waarop ek moet loop,
want tot U rig ek my gebed.
9Bevry my van my vyande,
Here,
want ek skuil by U.
10Leer my om u wil te doen,
want U is my God.
Laat u goeie Gees my lei
op ’n pad wat gelyk is.
11Here, laat my lewe
ter wille van u Naam;
lei my uit my nood,
want U is regverdig.
12Vernietig my vyande
ooreenkomstig u trou;
laat al my teenstanders omkom,
want ek is u dienaar.

Spreuke 23

1Wanneer jy aansit vir ete
saam met ’n regeerder,
kyk dan goed
na wat voor jou neergesit is.
2As jy ’n groot eter is,
sit ’n mes teen jou keel.
3Moenie al die lekker kos
begeer nie.
Jy kan jou met die kos misgis.
4Moenie jou afsloof
om ryk te word nie.
Wees verstandig genoeg
om binne perke te bly.
5As jy nog na jou rykdom kyk,
is dit eensklaps weg.
Dit sal vlerke kry soos ’n arend
en wegvlieg in die lug.
6Moenie eet
by ’n suinige mens nie.
Moenie sy lekker kos begeer nie.
7Hy sê: “Eet en drink gerus!”
Hy bedoel dit nie,
want hy sit en bereken
hoeveel dit hom sal kos.
8Jy sal naar word
van die bietjie wat jy eet,
jou komplimente sal jy moet sluk.
9Moenie ’n dwaas reghelp nie.
Jou goeie raad
behandel hy met minagting.
10Moenie die ou grense
van ’n stuk grond
verskuif nie.
Moenie weeskinders se grond
by hulle probeer afvat nie.
11Die Een wat hulle beskerm,
is magtig.
Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
12Onderwerp jou aan dissipline.
Luister goed
na wat ek jou leer.
13Moenie bang wees om jou kind
te dissiplineer nie.
Hy sal nie doodgaan
van ’n pak slae nie.
14As jy hom wil red van die dood,
moet jy hom juis lyfstraf gee.
15Ek sal baie bly wees, my kind,
as jy ook ’n wyse mens word.
16Ek sal in my hart juig
wanneer jy reg praat.
17Moenie jaloers word
op sondaars nie.
Behou altyd jou ontsag
vir die Here.
18Jy sal altyd ’n toekoms hê.
Jou hoop
sal nooit beskaam word nie.
19My kind, luister na my,
dat jy wys kan word.
Hou jou hart op die regte koers.
20Jy moenie jou tyd verspil
op suiplappe en vrate nie.
21Die dronklap en die vraat
maak hulleself arm.
Die roes van dronkenskap
laat hulle in vodde loop.
22Luister na jou pa
wat jou die lewe gegee het.
Moenie jou ma afskryf
omdat sy oud geword het nie.
23Verkry waarheid.
Moet nooit daarvan
afstand doen nie.
Hou vas aan wysheid,
selfbeheersing en insig.
24’n Pa van ’n kind wat reg doen,
het rede vir blydskap.
’n Wyse kind
verskaf sy ouers groot vreugde.
25Laat daar rede wees
vir jou pa en jou ma
om oor jou bly te wees.
Mag jou ma
wat jou in die lewe gebring het,
rede hê om oor jou te juig.
26My seun,
maak jou hart vir my oop
en volg my voorbeeld na.
27’n Sedelose vrou
is soos ’n diep waterkuil.
’n Verleidster is soos ’n put
waaruit jy nie kan kom nie.
28Sy sit en wag vir haar prooi
soos ’n rower.
Sy soek na iemand
om te oorreed
tot ontrouheid aan sy vrou.
29Wie het kopseer en lyfseer?
Wie maak rusie en kla?
Wie het onnodige kneusplekke?
Wie se oë is bloedbelope?
30Dis dié wat tot laat sit en drink
en allerlei mengsels proe.
31Moenie dat jy verlei word
deur die rooi glans van wyn,
die vonkel in die beker,
die gladde manier
waarop dit in jou keel
afloop nie.
32Nadat jy dit gedrink het,
pik dit soos ’n slang,
spoeg dit gif soos ’n kobra.
33Jy sien dan vreemde dinge
en jou gedagtes is verward.
34Dit voel of jy rondsteier
soos ’n matroos op see,
of op ’n seilboot rondslinger.
35Jy redeneer by jouself:
“Hulle het my geslaan
en ek het nie seergekry nie!
Ek weet nie eers
dat hulle my geslaan het nie.
Wanneer ek wakker word,
sal ek iets gaan soek
wat ek kan drink.”

Die Boodskap

Psalm 23

’n Lied wat aan Dawid opgedra is
1Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas;
ek het niks meer nodig nie.
2Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede.
Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie.
Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien.
3Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe.
Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe.
Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is.
4Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie,
sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie,
want U is altyd by my.
Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel.
5Soos ’n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor;
hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk.
U behandel my soos ’n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed.
6U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe;
ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.

Psalm 53

1Van Dawid, vir die koor, met musiekbegeleiding
2Dis net ’n baie dom mens wat kan dink dat God nie daar is nie.
Sy optrede wys dit. Hy doen dinge waarvan God niks hou nie.
Lieg en bedrieg is sy voorliefde. Alles wat hy doen, is sleg.
3God soek oral na iemand wat die verstand het om Hom te dien en te doen wat Hy vra.
4Alle mense het die verkeerde pad begin loop. Hulle was almal ewe korrup.
Nie een het daarin belanggestel om te doen wat God wil hê nie.
5Sal die slegte mense nooit leer nie?
Hulle behandel die kinders van God sleg.
Hulle buit sy kinders uit.
Hulle praat nie eens met God nie.
6Maar hulle gaan baie groot skrik!
Hulle broeke gaan bewe van vrees,
maar vir iets waarvoor ’n mens nie moet bang wees nie.
Mense wat teen God se kinders baklei, sal deur God vernietig word.
God se kinders sal hulle skrik maak,
en hulle sal weghardloop. Want God het hulle verwerp.
7Ag, mag die Here sy kinders in nood kom help!
Sy kinders sal so bly wees wanneer God hulle situasie heeltemal verander.

Psalm 83

1’n Lied wat met snaarinstrumente begelei word. Opgedra aan Asaf
2God, hou op om my te ignoreer; U wil niks met my te doen hê nie.
Moenie maak of U my nie hoor en dan niks doen nie.
3Kyk net hoe gaan die ongelowiges te kere.
Hulle wat niks van U dink nie, dink baie van hulleself. En hulle verset hulle teen U.
4Hulle praat agteraf oor u kinders.
Hulle maak planne teen mense vir wie U beskerm.
5Hulle sê: “Kom ons gaan maak daardie klomp dood. Dan kan hulle nie meer die Here se kinders wees nie. Niemand sal dan meer oor God se kinders praat of van hulle onthou nie.”
6Hulle het saam besluit om teen U te veg. Hulle het ’n ooreenkoms teen u gemaak.
7-9Hulle kom van oral af: kleintjies en grotes, swakkes en sterkes, onbekendes en mense uit bekende families. Al die volke wat U nie dien nie, span saam teen U.
10Maak met hulle soos met daardie mense wat lank terug u kinders wou doodmaak.
11-12Daar is so baie voorbeelde van mense wat teen U in opstand was:
Sisera, Jabin, Oreb en nog baie ander. U het hulle ’n skandelike dood laat sterf.
13Hulle het gesê: “Kom ons vat hulle kosbare blyplek. Dit behoort mos aan God.”
14My God, laat hulle soos droë gras in die wind wegwaai.
15Maak hulle soos ’n bos of ’n berg wat deur ’n veldbrand verwoes word.
16Laat ’n stormwind, ’n orkaan hulle uitmekaarruk en wegwaai.
17Tref hulle baie hard! Hulle moet baie bang word. Laat hulle in die skande kom. Dan sal hulle agterkom wie U regtig is.
18Maak hulle skaam oor wat hulle aanvang! Laat hulle lewe een groot verskrikking wees. En wis hulle van die aarde af.
19Laat hulle besef hoe groot en sterk U regtig is.
Verander hulle lewe in een groot nagmerrie.
Hulle moet weet dat U alleen God is, niemand anders nie.
U Naam is Here. U regeer oor die hele aarde.

Psalm 113

1Kom loof die Here!
Julle wat die Here dien, sê dankie vir Hom. Prys sy Naam!
2Julle moet sorg dat mense altyd die Here prys, nou en vir altyd.
3Van die môre tot die aand moet julle sy Naam loof.
4Daar is niemand wat soveel mag het soos die Here nie.
Hy is groter as enigeen in die hemel.
5-6Geen mens of volk is so sterk soos Hy nie.
In die hemel of op die aarde is daar niemand soos die Here ons God nie.
Hy is baie belangrik. Tog sien Hy onbelangrike en nederige mensies dadelik raak.
7Iemand wat deur ander mense vertrap is, help Hy om weer op te staan.
Hy tel arm mense van die ashoop af op. 8Dan behandel Hy hulle soos konings. Hy laat hulle tussen belangrike mense sit.
9Hy laat die onmoontlike gebeur: ’n Vrou wat geen kinders kan hê nie, laat Hy swanger word. Hy verander ongeluk in blydskap.
Kom loof die Here!

Psalm 143

’n Dawidspsalm
1Here, help my asseblief as ek bid.
Antwoord my tog as ek by U pleit om my te help.
Luister asseblief na my gebed. U kan ek vertrou. U is goed vir u kinders.
2Moet asseblief nie sê dat ek skuldig is voor U nie.
In elk geval, daar is niemand op aarde wat onskuldig voor U is nie.
Selfs nie eens hulle wat U dien, is sonder sonde nie. Ook ek is skuldig.
3Mense wat my nie liefhet nie, wil my in die grond in trap.
Hulle wil net hê dat dit met my sleg moet gaan. Hulle vat die lig uit my lewe weg.
My lewe het vir my alle betekenis verloor.
4Ek het begin moed verloor. Ek was baie bang en benoud.
5Toe het ek onthou dat U van die begin af gewys het hoe sterk U is.
Ek het nagedink oor hoe U die hele wêreld gemaak het.
6Ek kan nie sonder U klaarkom nie. Ek roep na U.
Soos ’n dor stuk land niks is sonder water nie, so kan ek nie sonder U verder lewe nie.
7Help my asseblief tog gou, Here. Ek is besig om dood te gaan.
Moet my nie ignoreer nie, anders gaan ek nog gouer dood.
8Elke dag wil ek hoor hoe U my liefhet, want ek vertrou U.
Lei my asseblief op die regte lewenspad. Met my hele lewe is ek van U afhanklik.
9Red my van hulle wat my nie liefhet nie, Here. U beskerm my.
10Wees vir my soos ’n onderwyser. Leer my om te doen wat U wil hê, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei sodat ek min probleme op my lewenspad het.
11Here, gee my krag om reg te lewe sodat U die eer daarvoor kry.
Help my asseblief uit my nood uit. U tree mos reg teenoor u kinders op.
12Sit hulle wat my nie liefhet nie, asseblief op hulle plek omdat U my liefhet.
Gee dat hulle wat nie van my hou nie, sal doodgaan omdat ek U dien.

Spreuke 23

1As jy saam met ’n belangrike persoon eet, let op jou tafelmaniere. 2Al is jy baie honger, moet jy nie gulsig wegval en alles vinnig opeet nie. 3Moet ook nie so na die gasheer se kos staar dat almal ongemaklik voel nie. Sy kos is tog nie so lekker as wat jy dink nie.
4Moenie jou vir baie geld afsloof nie. Wees slim genoeg om te weet wanneer jy genoeg het. 5Rykdom hou ook nie vir altyd nie. Dis soos ’n voël wat die een oomblik nog naby jou op ’n tak sit en dan skielik wegvlieg. So vinnig verdwyn geld.
6Moenie jou met ’n baie suinige mens ophou nie. Vra hom niks nie. Hy sal jou uitnooi om by hom te kom eet. 7Moet hom nie vertrou nie, want hy stel nie eintlik in jou belang nie. Sy gasvryheid is skyn. 8Selfs sy kos is so sleg dat dit jou siek maak. Jou opbouende gesprekke beteken vir hom niks nie.
9Moet tog nie ’n dom mens probeer oortuig nie. Jy mors net jou asem. Hy verstaan niks van jou wyse woorde nie.
10Respekteer ander se eiendom. Moenie weerlose mense soos weeskinders uitbuit nie. 11Die Here is hulle helper. Hy sal vir hulle sorg en jou straf.
12Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer.
13’n Kind het dissipline nodig. ’n Pak slae op die regte tyd sal hom goed doen. 14Wie dit nalaat, stuur sy kind die verderf in.
Jong vriend, luister
15Jong vriend, hoor wat die wysheidsleraar vir jou sê: As jy die wysheid jou eie gemaak het, is ek baie bly. 16As jy weet wat om op die regte oomblik te sê, loop ek oor van blydskap.
17Moet niks wil hê van slegte mense nie. Dit kan jou net in die ellende dompel. Wees eerder elke dag baie lief vir die Here. 18As jy dit doen, wag daar wonderlike dinge op jou. Goeie dinge sal met jou in die toekoms gebeur.
19Luister goed na wyse raad. Tree reg op. Dink mooi hoe jy wil leef. 20Moenie jou oorgee aan drank nie. Voor jy weet waar jy is, is jy daaraan verslaaf.
Moenie ’n vraat wees wat alles gulsig opslurp nie. 21’n Suiplap en ’n vraat word gou arm. Stukkende klere is hulle voorland.
22Onthou die goeie waardes wat jy in jou ouerhuis geleer het. Moenie jou ouers se harte op hulle oudag breek nie. Hou vas aan die lewenswaarhede wat hulle jou geleer het. 23Streef na nog meer wysheid. Leer nog meer lewensvaardighede. Probeer nog beter verstaan hoe om reg te lewe.
24-25Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef.
Jong vriend, volg goeie raad
26Vertrou op my goeie raad vir die lewe. Jy sal sien dit help. 27Pas op vir die los vrou. Sy kan jou lewe verwoes. ’n Ander man se vrou is soos ’n diep put waaruit niemand kom nie.
28’n Prostituut is altyd op loer na nog ’n slagoffer. Nes ’n rower. Elke dag loop baie mans hulle met haar vas. Sy maak van hulle egbrekers.
29Kyk mooi na die mense om jou. Wie kerm? Wie het dronkverdriet? Wie stry met almal? Wie kla oor alles? Wie het ’n blouoog? Snyplekke aan sy lyf? En dit alles sonder rede. Wie se oë is rooi en moeg?
30Natuurlik die dronklappe s’n. Hulle wat net nie kan ophou drink nie. Hulle wat hulle drankies meng sodat die skop nog sterker is.
31Pas maar op vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ’n Mens slaan sommer maklik ’n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge.
32Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ’n slang wat jou pik. Soos die gif van ’n adder wat jou doodmaak.
33Dit voel soos ’n ontploffing in jou kop. Jy sien dinge wat nie bestaan nie. Jy praat die grootste klomp onsin.
34Jy sweef soos iemand wat in die middel van die see op ’n bootjie ronddobber. Jy is bang soos iemand wat op die rand van ’n hoë gebou probeer slaap.
35Drank maak jou ongevoelig. Mense sal jou skop, maar jy sal dit nie eens voel nie.
Hulle sal jou slaan, maar jy sal dit nie eens weet nie. Al waaraan jy dink, is drank. Jy kan nie wag dat die drankwinkel oopmaak en jy weer kan begin drink nie.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!