Dag 22: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 22

U het my gebed verhoor
1Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. 'n Psalm van Dawid.
2My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie.
Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13'n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,
soos beeste uit Basan staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos 'n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here – moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien, prys Hom!
Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,
en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Psalm 52

God is goed
1Vir die koorleier. 'n Gedig van Dawid, 2na aanleiding daarvan dat die Edomiet Doëg gekom en aan Saul vertel het: Dawid was in die huis van Agimelek.
3Jy wat jou groot hou,
jy spog verniet oor jou slegte dade!
Onthou, God sorg altyd vir my.
4Jy wil ander se ondergang bewerk,
met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog.
5Jy het die kwaad liewer as die goeie,
en die leuen liewer as die waarheid.Sela
6Jy saai graag verwarring met jou leuens!
7Maar God sal jou vir altyd vernietig.
Hy sal jou uitruk en wegsleep uit jou woonplek,
Hy sal jou wegruk uit die land van die lewendes.Sela
8As die regverdiges dit sien,
sal hulle met ontsag vervul word
en smalend van jou sê:
9“Dis nou die man
wat nie op God se krag wou steun nie,
maar op sy eie rykdom vertrou het
en hom sterk wou maak deur inhaligheid.”
10Maar ek staan sterk soos 'n welige olyfboom;
ek is in die huis van God
en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg.
11Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het.
Voor u dienaars sal ek u Naam prys,
want U is goed.

Psalm 82

God beskik oor al die nasies
 
1'n Psalm van Asaf.
In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens,
staan God op om uitspraak te lewer:
2“Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel,
nog partydig wees vir die goddelose?Sela
3Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind,
'n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer,
4julle moet die mens in nood en die arme bevry,
hulle uit die mag van die goddelose red;
5maar julle weet niks,
julle verstaan niks,
julle gaan eenvoudig in duisternis voort,
en so word die fondamente van die wêreld geskud.
6Ek het wel gesê:
Julle is almal gode, almal met mag beklee.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos 'n mens
en aan julle einde kom soos enige maghebber.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld,
want al die nasies behoort aan U.

Psalm 112

Die regverdige sal nooit wankel nie
 
1Prys die Here!
Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien,
wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.
2Sy nageslag is 'n sterk krag in die land,
die geslag van die opregte word geseën:
3daar is oorvloed en rykdom in sy huis.
Wat hy doen, is reg en blywend:
4hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes,
hy is genadig, barmhartig en regverdig.
5Dit is 'n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen
en in al sy sake reg optree.
6Die regverdige sal nooit wankel nie,
hy sal altyd onthou word.
7Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,
hy is gerus, hy vertrou op die Here.
8Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie:
hy sal die neerlaag van sy vyande aanskou.
9Hy gee mildelik vir die armes.
Wat hy doen, is reg en blywend.
Hy geniet hoë aansien.
10Die goddelose sien dit en raak ontsteld,
hy kners op sy tande van magteloosheid.
Van die begeertes van die goddelose kom daar niks.

Psalm 142

U weet wat ek moes deurmaak
 
1'n Gedig van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die spelonk. 'n Gebed.
2Ek roep na die Here om hulp,
ek smeek die Here om genade,
3ek stort my klag voor Hom uit
en vertel Hom van my nood.
4Ek het alle moed verloor,
U weet wat ek moes deurmaak.
Op die pad waar ek loop,
het hulle vir my 'n strik gestel.
5Ek soek hulp, maar niemand wil help nie,
daar is vir my geen vlugkans nie
en niemand gee vir my om nie.
6Ek roep na U om hulp, Here,
ek sê: “U is my toevlug,
buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie!
7Luister tog na my hulpgeroep,
want ek is magteloos.
Red my van my vervolgers,
want hulle is te sterk vir my.
8Bevry my uit my gevangenskap,
dat ek u Naam kan loof.
Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan
wanneer U aan my goed doen.”

Spreuke 22

1'n Goeie naam is meer werd as groot rykdom,
die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud.
2Voor die Here is ryk en arm gelyk;
Hy het hulle almal gemaak.
3'n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit;
onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.
4Wie nederig is, dien die Here
en ontvang rykdom, eer en lewe.
5Daar is dorings en strikke op die pad van oneerlikheid;
wie sy lewe wil behou, bly daar weg.
6Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef,
en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.
7Die ryke heers oor die arme;
die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.
8'n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes;
daar sal 'n end kom aan sy hardvogtige heerskappy.
9Wie mededeelsaam is, word geseën,
want hy gee van sy kos vir arm mense.
10As jy 'n ligsinnige mens wegjaag, hou die rusies op
en kom die getwis en beledigings tot 'n end.
11Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat,
het selfs die koning tot vriend.
12Die Here sorg dat die regte insig behoue bly;
Hy sorg dat die woorde van 'n onbetroubare mens geen uitwerking het nie.
13Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite!
Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!”
14Die uitnodiging uit die mond van 'n slegte vrou is 'n diep afgrond;
jy val daarin as die Here jou vervloek het.
15Onverstandigheid is eie aan 'n jongmens,
maar 'n pak slae haal dit uit hom uit.
16Wie arm mense uitbuit, verryk homself;
wie aan ryk mense geskenke gee, word self arm.
17Luister goed, luister wat die wyse mense sê;
probeer verstaan wat ek jou wil leer uit wat ek weet,
18want dit is lekker as jy dit ingeneem het
en enige tyd kan weergee.
19Ek onderrig juis vir jóú vandag
sodat jy op die Here kan vertrou.
20Ek skryf vir jou belangrike voorskrifte neer
om jou leiding te gee en die nodige kennis,
21sodat jy die waarheid sal herken, die woorde waarop jy kan vertrou,
en 'n betroubare verslag kan gee as iemand jou stuur.
22Moenie 'n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie;
moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie.
23Die Here sal hulle saak behartig
en dié wat vir hulle beroof, van die lewe beroof.
24Moenie maats maak met 'n opvlieënde mens nie,
moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie:
25dalk leer jy sy maniere aan
en beland jy in lewensgevaar.
26Moenie een van dié wees wat borg staan nie,
moenie instaan vir ander se skulde nie:
27waarom moet hulle selfs jou bed onder jou uit vat
as jy nie kan betaal nie?
28Moenie grense verlê wat lankal daar is nie,
wat jou voorouers al vasgestel het nie.
29Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk,
kom in die diens van konings,
nie in die diens van mense sonder aansien nie.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 22

Vertrou op God in nood
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
Op die wysie van “Die wildsbok
van die daeraad”.
2My God, my God!
Waarom het U my verlaat?
Waarom bly U so ver
wanneer ek roep om hulp,
so ver wanneer ek tot U sug?
3Elke dag roep ek na U, my God,
maar U antwoord nie;
ook elke nag roep ek,
maar daar is geen rus vir my nie.
4Tog is U die Heilige
wat woon waar Israel U prys.
5Ons voorouers
het op U vertrou,
hulle het U vertrou,
en U het hulle gered.
6Tot U het hulle geroep,
en hulle is verlos.
Hulle het op U vertrou,
en was nooit verleë nie.
7Maar ek is net ’n wurm,
en nie ’n man nie;
ek word bespot
deur die mensdom,
verag deur almal om my.
8Elkeen wat my sien,
spot met my.
Hulle trek vir my gesigte,
skud die kop en sê:
9“Vertrou op die Here;
laat Hý hom dan red!
Laat die Here hom verlos
as Hy hom dan so liefhet!”
10Maar U het my die lewenslig
laat sien,
my as suigeling
op U laat vertrou.
11Vanaf geboorte
is ek van U afhanklik.
Vanaf die begin van my lewe
was U my God.
12Moenie ver van my af bly nie,
want ellende kom
en daar is geen helper nie.
13Soos ’n trop bulle
omsingel my vyande my;
wilde beeste van Basan
het my omring!
14Soos brullende leeus
wat uitmekaar wil skeur,
met oopgesperde bekke
storm hulle op my af.
15My lewe is uitgestort
soos water, al my bene val uitmekaar.
My hart is soos was
wat in my wegsmelt.
16My krag het opgedroog
soos ’n potskerf.
My tong kleef
aan my verhemelte.
U laat my vir dood in die stof lê.
17Soos ’n trop honde
sirkel hulle om my;
’n kwaadwillige bende
sak op my toe.
My hande en voete
is vasgemaak.
18Ek kan al my bene in my tel.
Met leedvermaak gluur my vyande
my aan.
19Hulle verdeel my klere
onder mekaar
en deur die lot te werp
deel hulle my kledingstukke.
20Here,
bly nie ver van my af nie!
U is my sterkte;
help my tog gou!
21Red my van die swaard,
red my kosbare lewe
uit die mag van hierdie honde.
22Red my uit die bek
van die leeu,
van die horings
van wilde beeste.
U het my gebed verhoor!
23Aan my broers
maak ek u Naam bekend.
In die vergadering
verkondig ek u lof.
24Prys die Here,
julle almal wat Hom dien!
Verheerlik Hom,
nakomelinge van Jakob!
Betoon eerbied aan Hom,
nageslag van Israel!
25Want die leed
van hulle in nood
ignoreer Hy nie;
vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie.
Hy luister na hulle geroep
om hulp.
26Van U af kom my lofsang
in die groot vergadering;
voor hulle wat U dien,
sal ek my geloftes nakom.
27Dié in nood
sal eet en versadig word.
Almal wat die Here dien,
sal Hom loof.
Mag hulle harte bly wees
vir altyd.
28Die hele aarde
sal die Here erken
en na Hom toe terugkeer.
Mense uit elke nasie
sal Hom weer dien.
29Want die koningskap
behoort aan die Here!
Hy heers oor al die nasies.
30Laat die rykes van die wêreld
feesvier
en Hom aanbid.
Laat al wat sterfling is,
voor Hom buig;
hulle wat sterflik is
en bestem is vir die graf.
31Die nageslag sal Hom dien.
Die komende geslagte
sal van die Here hoor.
32Sy regverdige dade
sal aan hulle vertel word.
Dié wat nou nog ongebore is,
sal van sy dade hoor.

Psalm 52

Ek vertrou op God se
goedheid
1Vir die koorleier: ’n Gedig van Dawid,
2met verwysing na die keer toe Doëg die
Edomiet gekom het en vir Saul vertel
het: Dawid is in die huis van Agimelek.
3Hoekom spog jy
met jou boosheid,
man van mag?
God se troue liefde
is mos sonder einde!
4Jy beplan verwoesting.
Jou tong is skerp
soos ’n skeermes;
jy is ’n bewerker van bedrog.
5Jy verkies boosheid
bo goedheid
en leuens bo die waarheid.
Sela
6Jy geniet woorde wat vernietig,
en met jou tong bedrieg jy!
7Maar God sal jou
vir altyd neergooi.
Hy sal jou gryp,
jou uit jou woning wegsleep
en jou ruk uit die land
van die lewendes.
Sela
8Die regverdiges sal dit sien
en met eerbied vervul word.
Hulle sal lag en sê:
9“Kyk wat gebeur met die man
wat nie by God
geskuil het nie:
Hy het eerder
op sy rykdom vertrou,
en deur verwoesting
sterk geword.”
10Maar ek is soos ’n olyfboom
wat geil groei
in die huis van God.
Ek vertrou op God se goedheid
so lank as wat ek lewe.
11Ek sal U altyd loof, o God,
vir wat U gedoen het.
Ek sal op u Naam hoop,
want hulle wat aan U getrou is,
weet dat U goed is.

Psalm 82

Die gode sal sterf soos
mense
1’n Asafpsalm.
God staan op
in die hemelse vergadering.
Tussen die hemelse wesens
lewer Hy uitspraak:
2“Hoe lank nog sal julle
onregverdige beslissings vel
en die goddeloses bevoordeel?
Sela
3“Laat reg geskied
aan armes en wese.
Verdedig die saak
van die hulpelose
en behoeftige.
4Bevry die armes
en die behoeftiges;
verlos hulle uit die greep
van goddelose mense.
5Maar hulle weet nie
en verstaan nie.
Hulle lewe in duister
terwyl die fondamente
van die aarde skud.
6Ek het wel gesê:
‘Julle is gode,
seuns van die Allerhoogste.’
7Maar nee! Julle sal sterf
soos ’n mens,
soos enige maghebber
sal julle val.”
8Kom, o God,
en oordeel die aarde,
want al die nasies
behoort aan U.

Psalm 112

Lig te midde van
duisternis
 
1Prys die Here!
Geseënd is hy
wat die Here dien,
hy wat met groot vreugde
sy gebooie onderhou.
2Sy kinders sal magtig wees
op aarde;
die nageslag van die opregte
sal geseën wees.
3Oorvloed en rykdom
vul sy huis,
sy regverdigheid duur vir altyd.
4Vir die opregte skyn die lig
te midde van die duisternis.
Hy is genadig, barmhartig
en getrou.
5Dit gaan goed met die mens
wat vrygewig is en uitleen,
wat sy sake in billikheid bedryf.
6Die regverdige
sal nie struikel nie,
en sal altyd onthou word.
7Vir slegte tyding
is hy nie bang nie:
hy is gerus,
hy vertrou op die Here.
8Hy voel veilig
en is sonder vrees
en sien die neerlaag
van sy vyand.
9Hy gee ruim vir hulle in nood.
Sy goeie dade
word altyd onthou.
Hy sal aansien hê en eer ontvang.
10Die bose mens sal dit sien
en woedend wees.
Hy sal op die tande kners
van woede.
Maar die begeerte
van die goddelose
sal op niks uitloop.

Psalm 142

My klagtes lê ek voor
Hom
1’n Dawidspsalm na aanleiding van sy
verblyf in die grot. ’n Gebed.
2Ek roep tot die Here;
ek pleit om die Here
se genade.
3Ek stort my klagtes uit
voor Hom
en vertel Hom
van my kwellinge.
4Wanneer ek moed verloor,
dan ken U my pad.
Op die pad waarop ek loop,
het hulle vir my
’n strik gestel.
5Ek kyk na regs,
maar niemand
sien my raak nie.
Daar is vir my
geen ontvlugting nie,
en niemand gee om
vir my nie.
6Ek het tot U gebid, Here.
Ek het gesê:
“U is my toevlug,
my deel
in die land van die lewendes.
7Luister na my hulpgeroep,
want ek is terneergedruk.
Red my van dié wat my vervolg,
want hulle is te sterk vir my.
8Bevry my uit die gevangenis
sodat ek u Naam kan loof.
Opregtes
sal rondom my kom staan,
want U is goed vir my.”

Spreuke 22

1Soek eerder
na ’n goeie naam
as na groot rykdom.
Hoë aansien
is beter as silwer of goud.
2Vir mense, ryk en arm,
is dit dieselfde:
die Here het hulle almal gemaak.
3Iemand wat verstandig is,
sien wanneer die onheil kom
en kruip weg.
Die onervare mens
loop oopoë daarin vas
en boet daarvoor.
4Iemand wat nederig is
en respek het vir die Here,
kry rykdom, eer en lewe.
5Op ’n oneerlike mens se pad
is daar dorings en lokvalle.
Iemand wat omgee vir homself,
bly ver daarvan weg.
6Leer ’n jongmens
om die regte pad te kies,
en wanneer hy eendag oud is,
sal hy nie daarvan afwyk nie.
7Soos rykes oor armes heers,
so is die man wat geld leen
die slaaf van die man by wie hy leen.
8’n Geweldenaar wat onreg saai,
sal teëspoed oes.
Ook sy verdrukking van ander
sal tot ’n einde kom.
9’n Vrygewige man wat van sy kos
vir armes gee,
sal geseën word.
10Jaag die spotter weg
en saam met hom
sal rusies padgee;
die gestry en beledigings
sal tot ’n einde kom.
11Wie graag opreg wil wees
en mooi praat met ander,
het selfs die koning as vriend.
12Die Here hou kennis in stand.
Hy keer die woorde
van die onbetroubare mens om.
13“Daar is ’n leeu daarbuite!”
sê die luiaard.
“Ek sal gevang word
as ek dit buite waag!”
14’n Vreemde vrou se woorde
is ’n bodemlose put;
as die Here vir jou kwaad is,
sal jy daarin val.
15Dwaasheid is eie
aan ’n seun;
’n pak slae haal dit uit hom uit.
16Wie arm mense verontreg
om homself te verryk,
of vir die rykes geskenke gee,
sal self in armoede verval.
Dertig Reëls
17Gee aandag en luister baie goed
na wat die wyse mense sê.
Probeer verstaan wat ek jou wil leer.
18My onderrig sal goed wees
as jy dit jou eie maak
en dit kan gebruik.
19Vandag onderrig ek spesifiek
vir jou
sodat jy op die Here
kan vertrou.
20Ek skryf 30 voorskrifte
vir jou neer.
Hulle is vol raad en kennis.
21Deur hulle sal jy in staat wees
om die waarheid te herken
en betroubaar verslag te doen
aan die mense wat jou stuur.
22Moenie ’n arm mens uitbuit
net omdat hy arm is nie.
Moenie die hulpelose in hofsake
uitbuit nie.
23Die Here sal hulle saak verdedig.
Hy sal mense wat hulle beroof,
weer van húlle lewe beroof.
24Moenie vriende maak
met ’n humeurige mens nie.
Bly ver weg van een
wat ongeduldig is.
25Jy moenie dalk sy maniere
by hom aanleer nie.
Dit sal die oorsaak word
van jou eie ondergang.
26Moenie borg staan
vir iemand nie.
Moenie instaan
vir ander se skuld nie.
27As jy dit nie kan terugbetaal nie,
sal hulle selfs jou bed
onder jou wegvat.
28Moenie grensdrade verskuif
wat jou voorouers
opgerig het nie.
29Sien jy iemand
wat bedrewe is in sy beroep?
Hy werk vir konings
en nie vir gewone mense nie.

Die Boodskap

Psalm 22

1Vir die musiekleier se aandag:
’n Dawidspsalm met die wysie “Die wildsbok van die dagbreek”
2My God, my God, waarom los U my heeltemal alleen?
U help my nie.
Ek skree totdat ek blou word, maar U is weg.
3My God, ek roep U heeltyd; ek hou nie op met bid nie, heeldag en heelnag lank, maar van U is daar geen teken nie.
U is doodstil.
4U is die Een wat baie belangrik en groot is.
U kinders het groot respek vir U.
U is waar hulle U loof.
5Ons oupas en oumas het op U vertrou.
Hulle het U vertrou en U het hulle nie in die steek gelaat nie. U het hulle gehelp.
6Hulle het tot U gebid. Toe bevry U hulle.
Op U het hulle vertrou en U het hulle nie teleurgestel nie.
7Maar ek voel nie meer soos ’n mens nie.
Ek is soos ’n wurm tussen ’n klomp stinkende dooies.
Mense trek die neus op en sien op my neer. Hulle spot my.
8Elkeen wat my sien, lag my uit;
hulle trek gesigte, steek vir my tong uit en skud die kop.
9Dan sê hulle: “Siestog, die Here moet die arme drommel maar help. Hy sal hom miskien uit sy moeilikheid help, want Hy hou mos van hom.”
10Here, U gee al lankal vir my om, van my geboorte af.
Ek was doodtevrede en gelukkig toe my ma my aan haar bors laat drink het.
11Reeds van die begin van my lewe af behoort ek aan U. U is my God van my geboorte af. U sorg vir my.
12Moet my ook nou nie alleen los nie, Here, want probleme oorstroom my hele lewe.
U voel so ver van my af terwyl ek hier in die nood sit.
Daar is niemand om my te help nie.
13Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere.
Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm.
14Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom.
Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur.
Ek het geen krag meer oor nie.
15Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand.
Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar.
Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks.
16Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is.
17Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak.
Van alle kante het hulle gekom om op my te trap.
Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie.
Hulle het my hande en voete stukkend gesteek.
18Ek is net vel en been, so maer soos ’n kraai.
As my vyande dit sien, voel hulle baie tevrede.
19Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel.
20U moet my tog nie alleen los nie, Here!
U alleen gee my krag.
Kom help my baie gou!
21Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie.
Ek het net een lewe.
Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie.
22Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet.
Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel.
23U het my uit my nood gered!
In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat.
Voor die gemeente sal ek U loof en prys.
Ek sal U voor almal prys.
24Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het!
25Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie.
Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep.
26Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing.
Almal moet dit hoor.
Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom.
Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien.
27Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees.
Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee.
Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys.
Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop.
Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe.
28Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is.
Hulle sal hulle lewe vir Hom gee.
Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien.
Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig.
29Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde.
30Selfs ryk mense wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie, sal kom en die goeie dinge geniet wat Hy gee.
Hulle sal kom om Hom te dien en te eer.
Alle mense sal voor Hom kniel.
31Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel.
So sal die nageslagte van Hom weet.
Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.
32Almal sal bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat.
Dit is net die Here wat mense red.

Psalm 52

1-2’n Gedig van Dawid vir die koor na aanleiding van Doëg die Edomiet, wat vir Saul vertel het dat Dawid by Agimelek was
3Jy dink jy is baie goed, nè! Jy spog oor die slegte dinge wat jy doen.
Maar God sorg nog altyd vir my.
4Jy maak heeldag planne om ander se lewe deurmekaar te krap.
Jy spesialiseer in leuens.
Jy wil ander seermaak met elke woord wat jy sê.
5Jy kies eerder die slegte as die goeie.
Jy lieg eerder as om die waarheid te praat.
6Jy kry lekker as jy ander seermaak met wat jy sê, jou leuenaar.
7Maar God sal jou jou verdiende loon gee.
Hy sal jou uit jou blyplek pluk en jy sal in die dood beland.
8Die mense wat doen wat God vra, sal dit sien en vol ontsag vir God wees.
Hulle sal lekker vir jou lag en spottend sê:
9“Kyk wat gebeur met iemand wat sonder God wil leef.
Hy het gedink geld kan vir hom alles koop.
Hy het sterk geword deur ander te vernietig.”
10Maar ek is by God. Daar is ek soos ’n boom wat welig groei.
Ek weet God sal altyd na my omsien. Hy sal vir my sorg.
11Ek sal altyd vir U met my hele hart dankie sê vir alles wat U vir my doen.
U is so wonderlik goed vir my.
Saam met u kinders sal ek U loof.

Psalm 82

’n Psalm van Asaf
1In die hemelse hof sit God as regter gereed. Hy lewer uitspraak oor alles in die hemel en op die aarde.
2“Hoe lank gaan julle onregverdig wees en maak of die slegte mense nie regtig so sleg is nie? Hoe lank gaan julle nog die reg verdraai?
3Julle moet eerder die mense help wat hulleself nie kan help nie.
Kom op vir die weeskind.
Sorg liewer dat dit beter gaan met mense wat swak is en niks het nie.
4Help die mense wat nood het en wat arm is teen die slegte mense wat geen gewete het nie.
5Hoe dom is julle nie, so sonder verstand. Julle verstaan nog niks.
Julle het die pad skoon byster geraak.
So het julle alles in die wêreld deurmekaargekrap.
6Ek het wel gesê: Julle kan baie spesiale dinge doen, soos gode. Julle is seuns van die Allerhoogste.
God, wat die belangrikste van die belangrikstes is, het julle gemaak.
Julle is vir Hom soos kinders.
7Maar julle pad gaan gou eindig; julle gaan sterf!”
8Kom, o God, heers oor die wêreld.
Wys wat reg en verkeerd is.
Al die mense in die wêreld behoort mos aan U.

Psalm 112

1Prys die Here!
 
Die gelukkigste mense op aarde is hulle wat groot respek vir die Here het, wat met blydskap luister na alles wat die Here sê.
2Hulle nageslag is baie groot.
Die Here se goedheid is by sulke mense oral waar hulle gaan.
3Hulle het meer as genoeg om van te leef.
Hulle doen net goed aan ander mense.
4God se goedheid skyn soos die son oor hulle hele lewe.
Hy is by hulle met sy goedheid, sy ontferming, sy beskerming.
5Iemand wat die Here vrees, deel graag sy besittings met ander.
Hy leen uit, hy doen altyd die regte dinge.
6Almal praat daarvan. Hulle onthou hom, want hy struikel nie.
7Slegte nuus ontstel hom nie, want sy hand is veilig in die Here s’n.
Omdat hy op die Here vertrou, 8is hy glad nie bang nie,
want hy weet sy vyande sal tot ’n val kom.
9Hy strooi sy besittings uit; arm mense dra hy op die hande.
Hy hou nooit op om goed te doen nie. Wat ’n leefstyl! Dit bring baie eer en vreugde.
10Slegte mense is jaloers op hom, maar hulle woorde beteken niks.
Slegte mense se planne kom ook tot niks.
Ja, tot niks!

Psalm 142

1’n Gebed van Dawid toe hy in ’n grot weggekruip het
2Ek bid ernstig tot die Here. Ek pleit dat Hy my jammer moet kry.
Ek kla by Hom. 3Ek sê vir Hom wat my probleme is.
4As ek moed opgee, sal U weet wat vir my die beste is. Mense wil my laat struikel en val.
5Mense het die lewe vir my moeilik probeer maak.
Hulle wou hê ek moes misluk. Hulle help my nie. Niemand gee vir my om nie.
As ek mense vra om my te help, maak hulle of hulle my nie ken nie.
Niemand wil my help nie. Hulle vra nie eens hoe dit met my gaan nie.
6Ek bid tot U, Here. U is die enigste Een wat my beskerm.
U is al wat ek in hierdie lewe het. 7Help my asseblief as ek vra.
Self kan ek niks doen nie, want ek het niks krag nie.
Bevry my van mense wat agter my aanloop om my kwaad aan te doen,
want hulle is sterker as ek.
8Help my asseblief uit my moeilikheid uit, Here, sodat ek U kan prys.
Ek is nou vasgevang soos iemand in ’n tronk.
Maar u kinders sal saam met my u Naam grootmaak, omdat U my gehelp het.

Spreuke 22

Oppas vir rusie
1’n Goeie naam is beter as geld. Ander se liefde is kosbaarder as groot rykdom.
2Ryk en arm kan ook saamwoon. Die Here het hulle immers albei geskep.
3’n Slim mens weet wanneer gevaar dreig. Hy weet hoe om dit te vermy. ’n Dom mens ken nie die lewe nie. Hy sukkel maar net aan.
4Mense wat die Here liefhet en nederig lewe, geniet respek en die goeie dinge van die lewe.
5Verkeerde dinge lyk mooi, maar die uiteinde is bitter. ’n Wyse bly ver weg van sulke dinge af.
6Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef.
7’n Ryke heers oor die armes wat hom geld vra. ’n Lener is die slaaf van die een by wie hy leen.
8’n Regeerder wat heeltyd verkeerde dinge doen, sal nog die aaklige gevolge daarvan dra. Sy regering sal nie lank hou nie.
9Iemand wat mense se nood raaksien, ervaar blydskap. Hy wat vir armes gee, is ’n gelukkige mens.
10As ’n rusiemaker weggaan, is alles sommer rustiger en kalmer. Onderlinge rusie en spanning sal dadelik ophou.
11Die mens wat reg optree en reg praat, sal selfs die regeerder onder sy vriende tel.
12Die Here sien alles wat ’n wyse en ’n domme sê en doen. Hy help ’n mens om reg te leef. Hy vernietig bose planne.
13’n Luiaard oordryf altyd alles. As hy nie lus is vir werk nie, sê hy sommer ’n kwaai leeu wag daar buite. As hy sou uitgaan, sal die leeu hom opvreet.
14Pas op vir die praatjies van ’n los vrou. Dit is soos ’n put. Voordat jy jou kom kry, het jy daarin geval. So straf die Here ’n mens wat aan haar verleidings toegee.
15Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede.
16God help die armes! Veral as mense hulle uitbuit. Wie geld op rykes bestee, moet net gee en gee. Naderhand het hy niks meer oor nie.
Woorde van ’n wysheidsleraar
17Spits jou ore! Luister mooi na die wenke vir ’n wonderlike lewe. Maak alle inligting oor die regte manier van lewe jou eie. Dink daaroor na. 18As jy dit doen, sal jy gelukkig wees. Jy sal ook weet wat om op die regte oomblik te sê.
19Al die spreuke moet jou help om die Here nog beter te ken en te vertrou. Dit is waarom al hierdie woorde van wysheid neergeskryf is. 20Ja, alles is net vir jou geskryf. Goeie raad vir ’n gelukkige lewe! 21’n Groot hulp om tussen waarheid en leuens te onderskei. ’n Wonderlike hulpmiddel om ’n mens met integriteit te wees.
22Moenie ’n arm mens uitbuit omdat hy weerloos is nie. Moenie die behoeftiges wat om hulp roep, in die grond in trap nie. 23Onthou, die Here is aan hulle kant. Hy veg vir hulle. En Hy straf almal wat hulle verneder.
24Pas op vir mense met ’n slegte humeur. Bly uit die pad van ’n wraaksugtige mens. 25Moet tog nooit soos hulle word of in hulle aaklige strikke beland nie.
26Dink mooi voordat jy ’n kontrak sluit. Moenie vir ander se skuld borg staan nie. Jy kan in groot skuld beland. 27As jy nie geld het om te betaal nie, sal jy nog so lekker slaap, dan verkoop hulle jou bed onder jou uit.
28Moenie aan grensdrade torring nie. Plase se grense is deur die voorgeslagte bepaal. Ander se eiendom moet gerespekteer word.
29Ken jy ’n goeie vakman wat hard en getrou werk? Hy is by almal in aanvraag. Belangrike mense soek sy dienste. Hy sal dit nog ver bring in die lewe.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!