Hy Het Homself Aan Haar Openbaar

♕ Belofte van vandag: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Fiippense 4:9

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Vandag wil ek 'n lofverslag deel oor iets wat my Hemelse Man gedoen het in my dogter se lewe. Dit mag dalk na nie veel klink nie maar dit het 'n groot impak op haar gehad.

Ek en my kinders het so rukkie terug gaan melk koop by 'n plaaslike plaaswinkel. Ek het net genoeg kontant saamgevat om die melk en brood daar te koop omdat hul nie kaarte aanvaar onder R100 nie. Toe ons klaar die melk en brood gekoop het wou my dogter (10) gehad het ons moet in die vrugte en groente winkel langs die plaaswinkel gaan kyk vir waatlemoen aangesien sy mal is daaroor.

Ek het aan haar verduidelik ek het nie meer kontant aan my nie want die groente winkel aanvaar ook nie kaarte onder R100 nie en ek het niks anders daar nodig nie. Sy het gesmeek dat ons net gaan kyk en ek het gesê okay ons kan gaan kyk en kyk wat kos dit dan sal ek die volgende dag een gaan koop.

In die winkel gekom was daar toe 'n hele rak vol waatlemoene en sy smeek en soebat toe dat ek vir haar een koop maar toe ek weereens verduidelik ek sal die volgende dag een kom koop was sy bietjie hartseer. Die man wie se winkel dit is gee altyd vir my baie goeie pryse vir groente en vrugte en het met tyd seker afgelei dat ek geskei is omdat ek altyd aan hom verduidelik ek kan nie als in groot maat koop nie want anders raak dit sleg omdat dit net ek en die kinders is.

Hy het die gesprek tussen my en my dogter gehoor en gesê hy het kleiner waatlemoene in 'n ander rak maar ek sê toe vir hom ek sal die volgende dag een kom kry. Hy moes ook seker die teleurstelling op my dogter se gesig gesien het want hy sê toe vir haar om vir haar een van die kleineres te kies en sy kan dit verniet kry. Eers wou ek nie maar hy het aangedring (hy het al voorheen vir die kinders perskes verniet gegee). Ek het toe maar toegelaat dat sy vir haar een kies want sy was SOOO opgewonde en bly.

Toe ons buite die winkel kom was sy so verbaas en bly oor die gratis waatlemoen. Ek het toe vir haar gesê dit was nie die oom wat die waatlemoen vir haar gegee het nie maar Jesus wou haar geseën het met 'n waatlemoen en het net die oom gebruik om dit te doen. Eers was sy bietjie verstom maar toe dit insink het sy hardop gesê: "dankie liewe Jesus vir my waatlemoen!!

Ek was net so verbaas en het net weereens besef Hy wil ons nie net gee wat ons nodig het nie maar ook dit wat ons graag wil hê en so het Hy Homself op 'n "klein" manier aan my dogter (en seun) openbaar. Al wat ek ook net vir my Hemelse Man kon sê was dankie, dankie dat Hy haar hartjie so bly gemaak het en vir haar gewys het Hy is lief vir haar!! En daardie waatlemoen is binne drie dae opgeët!!

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!