Moenie Bang Wees Om Sy Leiding Te Volg Nie

Belofte van vandag: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Openbaring 12:11

☊ Adina Lofverslag Potgooi

Ek wil net vandag 'n lofverslag deel oor hoe belangrik dit is om ander vroue te bemoedig en om altyd die Here se leiding te volg want jy weet nooit of iemand dit dalk nodig het nie.

Gisteroggend het ek soos gewoonlik gym toe gegaan. Ek en die ontvangsdame gesels altyd so bietjie as ek klaar geoefen het oor ditjies en datjies. Maar gister kon ek sien iets pla haar en kon ook sien toe sy met iemand anders gepraat het dat iets fout was. Ek het na haar toe gestap en gevra of sy okay is en sy het gesê nee want haar pa is positief getoets vir Covid en sy was omtrent in 'n toestand. Op daardie stadium kon ek nie verder met haar praat nie want sy moes iets gaan doen, maar die res van my oefensessie kon ek voel my Hemelse Man wil hê ek moet met haar praat.

Ek was nie seker hoe om met haar te begin praat nie en het net vir HM gevra, wel Hy het gesê gaan net na haar toe en vra vir haar of sy in “My glo”.....wel ek het toe na my oefensessie na haar toe gestap en vir haar gevra: “Glo jy in die Here?” waarop sy geantwoord het: “Natuurlik.” Wel toe is die ys gebreek en ek het vir haar begin vertel van ons Groot Geneesheer en dat Hy in beheer is en dat sy haar pa net aan Hom moet toevertrou en dat ek ook vir hom sal bid. Ek kon sien hoe haar gesig begin verander het van mismoedig en angstig na hoopvol en bly. Sy het gesê dat ek haar soveel beter laat voel het deur wat ek gesê het want sy het net besef dat wat ek gesê het die waarheid was en dat sy nie bekommerd hoef te wees nie want Hy is in beheer.

Vanoggend toe ek by die gym kom het sy eerste ding na my toe gekom en sy het vir my vertel hoeveel dit wat ek gesê het vir haar beteken het en dat sy nog steeds so lig en vredevol voel. Ons het weereens gepraat en ek het gelei gevoel om my getuienis met haar te deel, of altans net 'n oorsig van waar ek was en waar ek nou is. Toe vertel sy my van haar ma wat toe hulle kinders was, op vakansie oorsee gegaan het en net nooit weer teruggekom het nie, haar pa en hulle twee dogters net so gelos het en sy het haar ma nog nooit weer gesien nie. Weereens kon ek met haar deel hoe net die Here sulke wonde kan genees en deur my storie kon ek vir haar vertel hoe wonderlik ons Here en Hemelse Man is en hoe net Hy mens van sulke verwerping kan genees en dat Hy haar nooit sal verwerp nie.

My HM het regtig net woorde in my mond geplaas want ek is nie iemand wat eintlik deel en maklik praat nie, maar dit het net gevloei en ek kon aan haar gesig sien dat dit 'n groot impak gemaak het.....Ons moet nooit bang wees om Sy leiding te volg as Hy iets op ons harte lê nie, Hy sal by ons wees en ons lei in wat Hy wil hê ons moet deel en daar is iemand wat Hom dalk desperaat nodig het.....

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Adina is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!