Dag 10: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 10

Die vromes roep om hulp teen hoogmoedige vyande

1Waarom staan U so ver weg, Here?
Waarom trek U U terug in tye van nood?
2Die goddeloses is vol van hulleself, hulle vervolg 'n hulpelose man.
Laat hulle gevang word deur die sluwe planne
wat hulle self uitgedink het.
3Die goddelose verlustig hom nou al
in wat hy hoop om in die hande te kry.
Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander,
wens homself by voorbaat geluk.
Hy verag die Here.
4Neus in die lug sê hy:
“God vra tog geen rekenskap nie!”
In al sy planne is daar geen plek vir God nie.
5Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak.
U oordele is vir hom te ver weg, buite sy gesigsveld.
Hy snork met veragting oor al sy vyande.
6Hy dink: ek sal nie wankel nie
en die ongeluk sal my nooit tref nie.
7Hy lê 'n vloek op almal,
hy onderdruk en bedrieg,
hy bedink onheil en onreg.
8Hy lê onskuldiges voor agter die heinings
en vermoor hulle in die geheim.
Hy loer rond in die donker.
9Hy lê op die loer in 'n wegkruipplek soos 'n leeu agter 'n bos,
hy lê op die loer om die hulpelose te vang.
Hy vang hom en trek hom vas in sy net,
10hy slaan hom dat hy inmekaar sak.
So kry hy die arme mens in die hande.
11Hy sê vir homself:
“God steur Hom nie daaraan nie,
Hy kyk weg,
Hy sal dit nooit raaksien nie.”
12Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
Moet die hulpeloses tog nie vergeet nie.
13Hoe durf die goddeloses God verag
en reken Hy sal hulle nie uitvind nie?
14En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet.
U let daarop en maak daar 'n einde aan.
Op U verlaat die ongelukkige hom,
ook vir die weeskind is U 'n helper.
15Verbreek tog die magsgreep van die goddelose en van die misdadiger,
straf sy misdade!
Moenie een enkele van sy misdade verskoon nie.
16Die Here bly altyd koning,
die vyande is uit sy land verdryf.
17U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here.
U gee hulle nuwe moed.
U verhoor hulle gebed.
18U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood,
sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.

Psalm 40

Here, red my tog!
1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.
2Ek het gesmag na die hulp van die Here.
Hy het na my toe afgebuig
en my hulpgeroep gehoor.
3Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,
uit die slymerige modder,
my op 'n rots laat staan
en my weer op vaste grond laat loop.
4Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê,
'n loflied vir ons God.
Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring,
hulle sal op die Here vertrou!
5Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel
en hom nie wend tot duister magte
en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie.
6Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen;
U dink altyd aan ons;
daar is niemand soos U nie.
Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat,
maar dit is te veel om op te noem.
7Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie,
nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie;
U wil gehoorsaamheid hê.
8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom
soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is.
9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte,
u woord is my hele lewe.”
10Met blydskap het ek aan die gemeente vertel
U het my verlos.
Ek het nie stilgebly nie,
Here, U weet dit!
11Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie,
ek het gepraat oor u trou en u hulp.
Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.
12Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here,
laat u liefde en trou my voortdurend bewaak,
13want ramp op ramp het my oorval,
my ongeregtighede het my ingehaal;
ek weet nie meer waarheen nie.
Hulle is meer as die hare op my kop;
ek is moedeloos.
14Here, red my tog asseblief!
Here, kom my tog gou te hulp!
15Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland,
teleurgestel in hulle verwagting;
laat dié wat graag my ondergang wil sien,
op die vlug slaan en beskaamd staan.
16Laat dié wat my spot,
verbysterd staan omdat hulle self in die ellende beland het.
17Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U,
laat dié wat op u hulp staatmaak,
altyddeur sê: “Die Here is groot!”
18Ek is hulpeloos en arm,
maar die Here dink aan my.
U is my hulp en my redder;
my God, moet tog nie talm nie!

Psalm 70

U is my hulp en my redder
 
1Vir die koorleier. Van Dawid. Ter herinnering.
2Red my tog, o God,
Here, kom my tog gou te hulp!
3Laat dié wat my lewe wil neem,
self in die ellende beland, teleurgestel in hulle verwagting.
Laat dié wat graag my ondergang wil sien,
op die vlug slaan en beskaamd staan.
4Laat dié wat my spot,
padgee omdat hulle self in die ellende beland het.
5Laat almal wat by U hulp soek,
jubel en bly wees oor U,
laat dié wat op u hulp staatmaak,
altyddeur sê: God is groot!
6Ek is hulpeloos en arm;
kom tog gou na my toe, o God.
U is my hulp en my redder,
Here, moet tog nie talm nie!

Psalm 100

Dien die Here met blydskap
 
1'n Dankpsalm.
Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
2Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
3Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
4Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
5want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.

Psalm 130

Ek wag op die Here
 
1'n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Spreuke 10

1Spreuke van Salomo.
'n Wyse seun maak sy vader en moeder bly;
'n dwase seun maak hulle hartseer.
2Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie;
om te lewe volgens die wil van God,
red 'n mens van die dood.
3Die Here laat die mens wat reg doen, nie honger ly nie,
die Here laat
die begeerte van dié wat verkeerd doen, nie bevredig word nie.
4'n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm;
dit is vlyt wat ryk maak.
5Die verstandige mens samel sy oes in as dit ryp is;
'n mens wat die oestyd deur slaap, verdien veragting.
6Die regverdige word geseën.
Daar steek geweld agter die mooi woorde van die goddeloses.
7Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort;
die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet.
8Die mens met verstand aanvaar bevele.
Wie aanhou onsin praat, kom tot 'n val.
9Wie opreg leef, leef sonder vrees;
wie krom paaie loop, word uitgevind.
10Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart;
en wie aanhou onsin praat, kom self tot 'n val.
11Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk;
agter die mooi woorde van die goddeloses steek daar geweld.
12Haat verwek twis;
liefde bedek alles wat aanstoot gee.
13Daar is wysheid in die woorde van een wat insig het;
slae is vir dié wat nie hulle verstand gebruik nie.
14Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie;
as 'n dwaas sy mond oopmaak, is sy ondergang naby.
15Die rykdom is die ryke se veilige vesting;
die armoede is die arme se ondergang.
16Die regverdige ontvang die lewe as beloning;
die goddelose oes net straf.
17Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe;
wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.
18Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat;
wie skinderstories versprei, is 'n dwaas.
19Met baie praat bly die sonde nie uit nie;
wie sy woorde tel, is verstandig.
20Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd;
die gedagtes van die goddelose is min werd.
21Met wat die regverdige sê, sorg hy vir baie;
'n dwaas gebruik nie sy verstand nie
en bring die dood oor homself.
22Dit is die seën van die Here wat rykdom bring;
jou geswoeg laat dit nie meer word nie.
23Die dwaas geniet dit om hom skandalig te gedra,
maar die mens met insig geniet die wysheid.
24Wat die goddelose vrees, kom hom oor;
wat die regverdige begeer, gee God hom.
25As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen,
maar die regverdige bly altyd staan.
26Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë,
so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee.
27Wie die Here dien, lewe lank;
wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min.
28Vir die regverdiges lê daar vreugde voor;
die goddeloses het geen toekoms nie.
29Om te leef soos die Here dit wil,
is die krag van die opregte;
vir dié wat onreg doen, wag daar ondergang.
30Die regverdige wankel nooit,
die goddeloses sal nie die land bly bewoon nie.
31Daar kom wysheid uit die mond van die regverdige,
'n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word.
32Die regverdige weet om die gepaste ding te sê;
die goddeloses stig kwaad met wat hulle sê.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 10

Oordeel tog die goddeloses!
1Here,
waarom staan U so ver weg?
Hoekom verberg U Uself
in tye van nood?
2Bose mense vol verwaandheid
vervolg die ellendiges.
Laat hulle gevang word
in die planne
wat hulle vir ander bedink.
3Want die goddelose spog
met sy bose begeertes;
hy seën die inhaliges
en vervloek die Here.
4Hierdie bose mens is te trots
om God te soek.
In al sy beplannings
is daar geen plek vir God nie.
5Hy is suksesvol
in alles wat hy doen.
U oordele is vir hom buite sig.
Minagtend lag hy
oor al sy vyande.
6Hy sê vir homself:
“Geen onheil
sal my ooit tref nie!
Geslag na geslag
sal ek vry wees van rampe!”
7Sy mond is vol vervloeking,
leuens en geweld,
onheil en boosheid is op sy tong.
8Hy lê in ’n hinderlaag
by die dorpe
om mense in die geheim
te vermoor,
hy bly op die uitkyk
na onskuldige slagoffers.
9Hy lê doodstil in ’n hinderlaag
soos ’n leeu in sy lêplek,
hy wag in die hinderlaag
om hulpeloses aan te val.
Hy vang die ellendiges
en trek hulle met sy net.
10Die hulpelose is oorrompel
en stort ineen;
hy val onder die aanslag
van die kwaadwilliges.
11Hy wat kwaad doen,
sê vir homself:
“God het vergeet,
Hy kyk tog nie
en sal dit nooit raaksien nie!”
12Staan op, Here!
Tree op teen die goddeloses,
o God!
Moenie die hulpeloses
vergeet nie!
13Hoekom verag die goddelose
vir God
en sê by homself:
“Hy sal tog nie
rekenskap eis nie”?
14Maar U sien die moeilikheid
en leed
wat hulle veroorsaak,
ja, U, U sien dit raak
en tree teen hulle op.
Die hulpeloses vertrou op U,
die beskermer
van die weeskind.
15Breek die greep
van die goddelose,
dié wat kwaad bewerk!
Roep hom tot verantwoording
oor sy bose dade
totdat U hom nie meer vind nie.
16Die Here is koning vir altyd!
Die nasies is uit sy land
verdryf.
17Here, U hoor die smeking
van die hulpeloses.
U sal hulle gerusstel
en hulle gebede verhoor.
18U spreek reg oor wese
en verdruktes
sodat mense
hulle nie meer verskrik nie.

Psalm 40

Die Here is groot
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Ek het met hunkering
op die Here gewag.
Hy het na my afgebuig
en my geroep gehoor,
3en my opgetel
uit die afgrond van die dood,
uit die modder en die slym.
Hy het my voete
op ’n rots laat staan
en my op vaste grond
laat loop.
4Hy het my ’n nuwe lied gegee,
’n lofsang om ons God te prys.
Baie sal met eerbied toekyk.
Hulle sal op die Here vertrou.
5Geseënd is die mens
wat op die Here vertrou,
wat hom nie wend
na hooghartiges,
of vertrou op vals gode nie.
6Here my God,
U het baie wonders gedoen.
U planne vir ons
kan met niks
vergelyk word nie.
As ek van al u wonderdade
wil vertel,
is dit te veel om op te noem.
7Slagoffers of graanoffers
wil U nie hê nie.
U het my in staat gestel
om te luister.
Brandoffers of sonde-offers
het U nie nodig nie.
8Toe sê ek: “Kyk, ek kom!
In die boekrol
is dit oor my geskryf.
9Dis my begeerte
om u wil te doen,
my God,
want u voorskrifte is in my hart.”
10Ek het in die groot vergadering
geregtigheid verkondig.
Ek was nie bang
om reguit te praat nie.
Here, U weet dit tog.
11U geregtigheid
het ek nie vir myself
gehou nie;
ek het vertel van u trou
en van u reddende mag.
In die groot vergadering
het ek nie geswyg
oor u goedheid en getrouheid nie.
12Here, moenie u ontferming
van my weghou nie.
Laat u liefde en trou
my altyd beskerm.
13Want rampe het my oorval.
Daar is moeilikhede rondom my,
dis te veel om te tel!
My sondes het my ingehaal;
ek kan dit nie ontsnap nie.
Hulle is meer
as die hare op my kop.
Ek het alle moed verloor.
14Asseblief, Here, red my tog!
Kom gou, Here,
en help my!
15Laat almal
wat my lewe wil neem,
in skande kom
en verneder word.
Laat hulle
wat my ondergang begeer,
vlug en beskaamd staan.
16Laat hulle verbysterd wees
oor hulle skande,
hulle wat sê:
“Aha! Ons hét hom!”
17Maar mag almal wat U dien,
vol vreugde
en blydskap wees.
Mag hulle wat by U hulp soek,
voortdurend sê:
“Die Here is groot!”
18Ek is arm en behoeftig,
maar die Here dink aan my.
U is my hulp en my redder.
My God,
moet tog nie uitstel nie.

Psalm 70

U is my redder, Here
1Vir die koorleier: Van Dawid.
’n Herinnering.
2Red my tog, o God!
Kom gou, Here, en help my.
3Laat almal wat my lewe soek,
in die skande kom
en verward raak.
Laat hulle wat my ondergang
begeer,
op die vlug slaan
en beskaamd staan.
4Laat hulle vlug
as beloning vir hulle skande,
hulle wat sê: “Aha! Ons het hom!”
5Maar mag almal wat U soek,
vol vreugde
en blydskap wees.
Mag hulle
wat u verlossing liefhet,
gedurig sê: “Die Here is groot!”
6Ek is arm en behoeftig.
Kom gou na my toe, o God.
U is my hulp en my redder.
Here,
moet tog nie
langer wag nie!

Psalm 100

Dien die Here met
blydskap
 
1’n Dankpsalm.
 
Almal op aarde,
juig tot eer van die Here!
2Dien die Here met blydskap.
Kom voor Hom
en sing met vreugde.
3Erken dat die Here God is!
Hy het ons gemaak,
en ons is Syne,
sy volk, die skape
van sy weiveld.
4Gaan sy poorte in
met dankliedere,
sy hofsaal met lofgesange.
Dank Hom
en prys sy Naam.
5Want die Here is goed.
Sy troue liefde hou aan
vir altyd,
sy trou is van geslag tot geslag.

Psalm 130

Ek wag op die Here
1’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U,
Here,
2luister tog na my stem, Here.
Let tog goed op die smeking
van my gebed.
3Here,
as U ons sondes sou opteken,
wie, Here,
sou ooit kon bestaan?
4Maar by U is vergifnis;
daarom word U gevrees.
5Ek wag op die Here,
ek wag, en hoop op sy woord.
6Ek wag op die Here,
meer as wagte wag op die môre,
wag op die môre.
7Israel, hoop op die Here,
want by die Here
is troue liefde,
by Hom is volkome redding.
8Hy sal Israel bevry
van al hulle sondes.

Spreuke 10

Die spreuke van Salomo
1Die spreuke van Salomo.
’n Kind wat verstandig is,
maak sy pa bly.
’n Seun wat dwaas is,
maak sy ma hartseer.
2Goed wat onwettig verkry is,
bring geen blywende
voordeel nie.
Om reg te lewe,
red ’n mens van die dood.
3Die Here laat regverdiges
nie honger ly nie.
Hy vervul nie die begeerte
van die goddelose nie.
4Mense wat lui is, word gou arm.
Hulle wat fluks is, word ryk.
5Die verstandige mens
samel sy oes in
in die somer.
Hy wat in die oestyd slaap,
bring skande oor homself.
6Die regverdige word oorlaai
met seëninge.
Die slegte bedoelings
van goddeloses
steek hulle weg agter woorde.
7Dié wat reg lewe,
sal lank onthou word.
Hulle wat verkeerd gelewe het,
sal gou vergeet word.
8’n Mens met verstand
aanvaar bevele.
Hulle wat onsin babbel,
bereik niks.
9Die een wat opreg lewe,
lewe in veiligheid.
Die een wat kronkelpaaie loop,
kom tot ’n val.
10Hy wat skelmstreke uitdink,
veroorsaak moeilikheid.
Hy wat aanhou onsin praat,
kom self tot ’n val.
11Die woorde van die regverdige
is soos ’n fontein van lewe.
Die woorde van goddeloses
steek geweld weg.
12Haat bring rusie.
Liefde bedek
wat verkeerd gedoen is.
13Iemand wat insig het,
sê dinge wat verstandig is.
Die een wat onverstandig is,
kry slae.
14Wyse mense
versamel kennis.
Dwase se gebabbel
bring spoedig teëspoed.
15Die ryke se eiendom
gee vir hom beskerming.
Armoede is die arm mens
se ondergang.
16Wat die regverdige verdien,
gebruik hy om van te lewe.
Wat die goddelose verdien,
verkwis hy op oortredings.
17Mense wat hulle laat reghelp,
is op die pad na die lewe.
Hulle wat teregwysing verwerp,
laat ander verdwaal.
18Wie sy haat
agter woorde wegsteek,
is ’n leuenaar.
Hy wat skinderstories versprei,
is ’n dwaas.
19Meer woorde
bring nie minder sonde nie.
Hy wat sy woorde tel,
is verstandig.
20Die woorde van die regverdige
is soos gekeurde silwer.
Die gedagtes van die goddelose
is min werd.
21Die regverdiges bring lewe
deur hulle woorde.
Die dwase vernietig hulleself
weens ’n gebrek
aan gesonde verstand.
22Dit is die Here se seën
wat rykdom bring.
Hy gee nie hartseer
daarmee saam nie.
23Dit is vir die dwaas lekker
om verkeerd op te tree.
Mense met insig
geniet die wysheid.
24Goddelose mense
kom die dinge oor
waarvoor hulle bang is.
Die regverdige kry
waarvoor hy gehoop het.
25Wanneer teëspoed kom
soos ’n stormwind,
is goddeloses daarmee heen,
maar die regverdiges
bly stewig staan.
26’n Lui mens is ’n aanstoot
vir dié wat hom werk gee.
Hy is soos asyn tussen die tande,
of soos rook in die oë.
27Hy wat ontsag het
vir die Here,
maak sy lewe langer;
die goddelose
se lewe word kortgeknip.
28Die regverdiges
kan vreugde verwag,
maar goddeloses
het geen hoop nie.
29Wat die Here laat gebeur,
versterk dié wat reg lewe.
Dit vernietig egter hulle
wat kwaad doen.
30Die regverdige
sal nooit wankel nie.
Die goddeloses
sal nie in die land
bly woon nie.
31Uit die mond van regverdiges
kom wysheid.
’n Tong wat kwaad saai,
sal afgesny word.
32Die regverdige weet
wat die gepaste dinge is
om te sê.
Wat die goddeloses sê,
bring moeilikheid.

Die Boodskap

Psalm 10

1Here, waarom maak U asof U my nie ken nie? Hoekom bly U eenkant staan?
Dit voel of U baie ver van my af is.
In krisisse is U weg as ’n mens U regtig nodig het!
2Mense wat arrogant is en nie na U luister nie, dink hulle is beter as dié wat hulpeloos is.
Daarom trap hulle op die swakkes.
Sorg asseblief dat hulle die slagoffers van hulle eie slegte planne word.
3Mense wat God nie dien nie, geniet dit om sonde te doen.
Hulle sê vir mense wat oneerlik wins maak om daarmee aan te hou.
Vir die Here het hulle geen respek nie.
4Mense wat die Here nie dien nie, loop altyd neus in die lug.
Hulle dink te veel van hulleself.
Hulle sê: “God straf tog nie sulke dade nie.”
Party van hulle gaan nog verder en sê:
“Daar is in elk geval geen God nie.”
5Dit gaan goed met alles wat hulle doen. Hulle is suksesvol. Dit lyk of hulle glad nie bang is vir u straf nie. Hulle buit ander uit. En hulle sien U nie raak nie.
6Hulle dink dat geen ramp hulle sal tref nie. Niks slegs kan met hulle gebeur nie.
7Daardie spul slegte mense vloek links en regs.
Hulle is oneerlik.
Hulle trap op mense so ver as wat hulle gaan. As hulle praat, is dit slegte dinge om mense te na te kom.
8Hulle lê mense voor. Hulle maak onskuldige mense dood.
Hulle gebruik elke kans wat hulle kry om mense uit te buit wat hulpeloos is.
9Omdat hulle agteraf konkel, is hulle so gevaarlik soos ’n spul honger leeus.
Hulle wag vir die regte oomblik om dié wat swak is te vang. Hulle pynig die armes wat hulle gevang het.
10Hierdie spul verpletter hulpeloses se lewe.
Hulle beheer almal wat hulle in hulle mag kry.
11Hulle sê vir hulleself: “God het vergeet wat ons doen. Hy sien dit nie raak nie. Hy steur Hom nie daaraan nie!”
12Gryp in, Here! God, wys dat U die sterkste is.
Moenie mense wat sleg behandel word, vergeet nie!
13Die goddeloses het geen respek vir U nie.
Hulle dink: “God gaan ons nie laat rekenskap doen van al ons slegte dade nie!”
14Maar U sien mos wat hulle doen. U sien hoe mense te na gekom word.
Almal wat deur hulle te kort gedoen word, kom vertel dit vir U.
Daardie arme mense wat so swaarkry, gee hulle hartseer in u hande oor.
U help mense wie se regte vertrap word. U help mense wat nie ’n pa het nie.
15Bring ’n einde aan die magspel van die mense wat aanhou om slegte dinge te doen, Here! Moenie dat een verkeerde daad van hulle ongestraf bly nie.
16Die Here regeer oor die hemel en die aarde vir altyd.
Omdat Hy al die mag het, kan die volke nie in hierdie land aanhou bly nie.
17Here, U hoor alles wat hulpelose mense vir U vra.
U gee vir hulle nuwe krag.
U hoor as hulle met U praat.
18U sorg dat mense wat geen regte het nie en onderdruk word, goed behandel word.
Daarom hoef niemand bang te wees vir magsbehepte mense nie. God self sal met al die skuldiges afreken.

Psalm 40

1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2Ek het lank gewag dat die Here my sou help, en dit het toe gebeur. Hy het na my toe afgebuig.
Ek het nie teen die dak vasgebid nie. Hy het my gehoor.
Toe ek ernstig hulp gevra het, het die Here my gehelp. Hy het gekeer dat ek doodgaan.
3Hy het my uit die dood opgetel. Dit was of ek in modder weggesak het.
Nou is my lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk.
Hy het weer nuwe blydskap in my lewe gegee.
4Ek sal ’n nuwe lied tot die Here se eer sing, want Hy is ons God.
Baie mense sal raaksien wat Hy gedoen het. Dit sal maak dat hulle op Hom vertrou. Hulle sal Hom eer.
5Dit gaan goed met elkeen wat op die Here vertrou.
So iemand gaan vra nie hulp by mense wat dink hulle is beter as ander of by mense wat van leuens lewe nie.
6Here, my God, U het wonderlike dinge gedoen.
U gee vir ons om. U is heeltemal anders as mense. Daar is niemand soos U nie.
Ek het nie genoeg woorde om alles op te noem wat U gedoen het nie.
Dit is te veel vir woorde.
7U stel nie daarin belang dat mense geskenke of offers na U toe bring nie.
U vra net gehoorsaamheid aan U.
8Daarom het ek besluit: ek gaan doen wat U wil hê.
Dit is alles tog in u Woord neergeskryf.
9My God, ek wil baie graag doen wat U gelukkig maak.
Daarom is u wil deel van my lewe.
10Wanneer u kinders bymekaar is, vertel ek vir hulle hoe regverdig U optree.
Here, ek kan nie daaroor stilbly nie. U weet dit.
11Ek praat dag en nag oor die goeie dinge wat U doen. Ek steek dit nie weg nie.
Ek vertel dat U getrou is en mense vrymaak. Ek bly nie stil oor wat U doen as die gemeente bymekaarkom nie.
12Here, ek weet U sal nie ophou om my met u liefde toe te vou nie.
Pas my altyd op. Wees lief vir my.
13Duisende probleme het my omring. My sondes het my ingehaal.
Ek is nou nog toegegooi onder probleme. Ek kan dit nie tel nie. Hulle is meer as die hare op my kop. Dit maak my heeltemal moedeloos.
14Here, red my, asseblief. Help my gou, Here!
15Daar is mense wat my wil doodmaak.
Laat hulle skaam kry oor wat hulle doen. Verneder hulle.
Laat almal weghardloop wat bly is oor my swaarkry.
16Hulle moet self voel hoe dit is om in die skande te kom.
Hulle lag my mos uit en maak ’n gek van my. Laat hulle stom staan.
17Almal wat naby U leef, moet opgewonde en bly wees. Laat mense wat weet dat U red, elke dag sê: “Daar is niemand groter as God nie!”
18Ek is in die moeilikheid. Niemand help my nie. Ek het hulp nodig.
Die Here sal my nie vergeet nie. U sal my help. U sal my red.
My God, moet asseblief nie langer wag nie!

Psalm 70

1Vir die musiekleier. ’n Dawidspsalm vir ’n herinneringsdiens
2God, moenie langer wag nie. Red my!
Here, help my tog gou!
3Daar is mense wat my wil doodmaak. Laat hulle self in die moeilikheid beland.
Laat hulle skaam kry oor wat hulle doen.
Laat mense wat dit geniet om my te sien swaarkry, weghardloop.
4Laat mense wat met my spot, voel hoe dit is om in die skande te kom.
Hulle lag my mos uit en maak ’n gek van my.
5Almal wat by U gaan hulp soek, moet bly wees.
Laat mense wat U liefhet, elke dag sê: Daar is niemand groter as God nie!
6Ek is in groot moeilikheid. Daarom het ek u hulp nodig.
God, help my tog gou! Kom haal my uit hierdie krisis uit. U is die Een wat my red.
Here, moenie langer wag nie!

Psalm 100

’n Psalm vir lofprysing
1Die hele wêreld moet die Here loof en aanbid!
2Dien Hom met vreugde. Gaan na Hom toe.
Sing vol blydskap en opgewondenheid.
3Jubel dit uit dat die Here die enigste God is.
Die Here het ons gemaak.
Elkeen van ons behoort aan Hom: ons is Syne.
Ons leef elke dag uit sy hand.
Die Here sorg vir ons net soos ’n skaapwagter sy skape versorg.
Ons kan nie sonder die Here se goedheid klaarkom nie.
4Dien die Here.
Loof Hom veral daar waar die gelowiges bymekaarkom.
Sing lofliedere saam met almal wat die Here liefhet. Loof sy Naam.
Luister mooi, 5die Here is ’n goeie God!
Hy sal ons wat in Hom glo, nooit ophou liefhê nie.
Hy is ’n goeie God, nou en vir altyd!

Psalm 130

Die lied is geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief, Here.
Moet asseblief nie my probleem miskyk nie. 2Wys dat U my hulpgeroep hoor.
3As U die hele tyd mense oor hulle sondes moes verwyt, sou niemand meer kon lewe nie.
4Gelukkig vergewe U ons sondes. Daarom kyk mense op na U en dien hulle U.
5Ek vertrou op die Here. Met my hele lewe vertrou ek op Hom.
Ek hou vas aan alles wat Hy beloof het.
Ek glo Hy sal doen wat Hy belowe het.
6Ek hou vas aan die Here, meer as wat ’n kleintjie aan sy ma vasklou.
Ek sal U nooit los nie.
7Julle wat die Here liefhet, moet in Hom bly glo, want Hy het sy kinders lief.
Hy vergewe hulle weer en weer.
8Hy sal al die dinge vergewe wat sy kinders verkeerd gedoen het.

Spreuke 10

Stap op die reguit pad
1’n Gelowige kind maak sy ouers gelukkig. ’n Kind wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak hulle hartseer. 2Geld wat oneerlik verkry is, bring net verdriet. Eerlike optrede maak ’n mens gelukkig.
3Die Here sorg vir sy kinders. Hy gee kos vir dié wat honger is. Die brandende begeertes van slegte mense word nooit waar nie.
4Wie lui is, word gou arm. 5Wie hard werk, het geld vir kos en klere. 6Wie hard werk, is slim. Wie rondstaan, niks doen en skelm slaap, is ’n verleentheid.
7Van ’n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se hart.
Slegte mense se woorde is vol haat en geweld. Niemand dink daaroor na nie. Hulle word ook gou vergeet.
8’n Gelowige neem die land se wette baie ernstig op. Wie dit verwerp, kom in die moeilikheid.
9Wie ’n reguit pad loop, is ’n gelukkige mens. Kronkelpaadjies bring jou in groot ellende.
10Wie skelmpies vir iemand knipoog om verkeerde dinge te doen kan groot moeilikheid veroorsaak.
’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang.
11’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie. Slegte mense se woorde is vol haat en nyd.
12Haat veroorsaak twis. Liefde vergewe alle oortredings.
13Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe. ’n Dwaas se woorde bring ’n mens net in die moeilikheid.
14’n Wyse neem die lesse van die lewe ernstig op. ’n Dom mens weet niks van die regte manier van lewe nie. Sy geklets veroorsaak net ellende.
15’n Ryke se geld kan hom lekker laat leef. Wie dit nie het nie, se lewe is hel.
16Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf. 17Wie hom deur die spreuke laat leer, is op die regte pad. Hy sal die lewe in al sy volheid geniet. Wie dit verwerp, veroorsaak sy eie ondergang.
18Wie iemand haat, vertel liegstories oor hom. Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas.
19Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim.
20’n Gelowige se woorde is kosbaar. Dit kan baie vir mense beteken. ’n Dwaas se woorde beteken niks. 21Hy het geen begrip vir die regte manier van lewe nie. Sy gepraat lei mense net in nog dieper ellende in.
22As die Here vir ons goed is, ervaar ons arms vol geluk. Dit kom nie uit onsself nie, maar net van Hom. Ander mense sal dit ook in ons lewens kan sien.
23’n Dwaas se lekkerste tydverdryf is om verkeerde dinge te doen, dinge te sê wat seermaak, mense se lewens te vernietig. Maar die gelowige doen wat reg is.
24Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar.
25Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom. 26Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas.
27Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs.
28Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie.
29Die Here is die gelowige se krag. Sonder Hom is die lewe hel.
30’n Gelowige sal altyd sy geloof behou. Ongelowiges sal alles verloor wat hulle het.
31-32’n Gelowige se woorde is vol wysheid. Ander mense word daardeur verryk. Goddeloses se geklets beteken niks.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!