Afgesonder Vir Hom

♕Belofte van vandag: "Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie." Jakobus 1:17

~Yvonne in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Yvonne

My Hemelse Man het vir my en ons kinders die beste vakansie ooit gegee en dit het alles gebeur omdat hulle afgesonder is.

Die Here het my en my kinders geseën met 'n week weg. 'n Paar jaar gelede het ons weggegaan na dieselfde plek en dit was 'n seën op sy eie en ons het baie dieselfde verwag met die wete dat ons na dieselfde plek toe gaan, maar natuurlik het Hy van beter geweet.

Dinge het net nie in plek geval vir die maand wat ek wou bespreek nie, maar toe bespreek ek vir die week van my dogter se verjaarsdag en dit was alles so lig en maklik. Sy was verheug dat ons weg sou wees vir haar verjaarsdag.

Haar verjaarsdag val gewoonlik in die skoolkwartaal, maar omdat hulle tuisonderrig word, hoef ek my glad nie daaroor te bekommer nie en kon maar Sy leiding volg, want Hy het tuisonderrig so maklik en wonderbaarlik laat gebeur dat ek nog steeds wonder of ek dit alles droom.

Daar aangekom, het ons die chalet aan die onderkant gekry wat nogal verder van alles af was en die kinders was eers bietjie teleurgesteld, want laas was hulle reg langs die swembad. Ons was net 'n uur of wat daar toe ons sebras so naby sien verbyloop en hulle het nie van ons af weggehardloop nie, maar hulle het ons net mooi dopgehou terwyl ons hulle dophou. Ons het selfs 'n klein baba sebra gesien wat aan haar ma soog. Dit was so 'n pragtige ervaring en toe besef ons dat Hy ons in hierdie chalet wou gehad het, want dit was naby die watergat en die een pad wat na die watergat lei, het reg langs ons chalet verbygegaan en die ander pad wat ons van ons stoep af kon sien. Maak nie saak van watter kant die diere af gekom het nie, ons het altyd 'n duidelike uitsig oor hulle gehad.

Omdat dit nie 'n skoolvakansie was nie, was ons die eerste 3 dae alleen daar. Dit beteken alles was so stil dat die diere gemaklik gevoel het om net daar te wees waar hulle skrikkerig sou gewees het as daar te veel stemme in die rondte was.

Op my dogter se verjaardag het sy gevra om na hierdie dieretuin te gaan wat ek dink dalk soos 'n reddingsentrum vir die wilde diere in die omgewing kan wees, want dit lyk nie regtig soos 'n dieretuin wat jy sal ken nie. Daar was net een heining wat ons van die Leeus en die Tiere geskei het en ons kon amper aan hulle vat met hoe naby ons was. Wat 'n wonderlike ervaring. Weereens, dit was nie 'n skoolvakansie nie, so ons het die hele dieretuin vir onsself gehad vir die hele dag! Ons het so lekker gekuier, maar hulle Hemelse Pa was natuurlik nie klaar nie.

Toe ons die dag terugkom by ons chalet, het Hy iets baie spesiaal vir Mia beplan. Ek en Owen was binne die chalet en sy het alleen op die stoep gesit en toe hoor ons haar fluister: "kom kyk," en daar reg langs haar was 'n yslike Nyala ('n tipe bok) wat in afwagting na haar kyk. Sy het vir my gesê om vir hom groente en vrugte te bring en eers het sy dit net vir hom op die grond geplaas, maar toe probeer sy dit vir hom uit haar hand gee en hy het dit gevat! Hulle was albei so betower met hierdie dier wat net na haar gestap het, wat nooit sou gebeur het as sy nie rustig alleen gesit het nie. Is Hy nie net so wonderlik nie!

Dit is natuurlik nie al nie, later het hy sy hele gesin gebring om haar te ontmoet en sy kon selfs die kleingoed kos gee. Ek het met die eienaars gepraat voor ons vertrek het en hulle het vir my gesê dat die tipe kos wat die Nyala's eet moeilik is om te vind weens hierdie tyd van die jaar en hulle koop gewoonlik vir hulle voer vir die winter, maar die kos moet nog afgelaai word en daarom het hulle kos by ons geneem. Enige ander tyd sou hulle genoeg gehad het om te eet en hoegenaamd glad nie na ons toe gekom het nie.

As ek dus gegaan het toe ek die eerste keer wou, sou ons nie hierdie wonderlike ervaring gehad het nie. As ons gebly het waar ons wou, sou die diere nie so gewaagd gewees het om na ons toe te stap nie.

Ek is verstom om terug te dink aan ons ervaring oor hoe Hy dit alles perfek uitgewerk het, ons afgesonder het vir Sy eer en wat 'n wonderlike genot om vir Hom afgesonder te word.

"Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie." Jakobus 1:17

"Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig." 1Petrus 2:9

Ons Afrikaanse Bediening Pastoor en RMI se Bedienings Direkteur
Follow #Yvonne‘, Volg #Yvonne
En Yvonne is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!