Ek Het Dit Sonder ‘n Woord Aanvaar

♕Belofte van vandag: "NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word." 1 PETRUS 3:1 AFR83

~Adina in Suid Afrika

☊ Lofverslag van Adina

Ek wil vandag net my HM loof vir die werk wat Hy in my doen en ook die veranderinge wat Hy tot dusver in my gemaak het.

Laas jaar oor paasnaweek sou die kinders by my gewees het, want dit was my naweek. Dit was oor die tydperk toe my VM, Kevin, begin het met die stories dat die kinders by hom moet gaan bly en dat hy toesig oor hul wou hê. Kevin en die AV het beplan om die naweek te gaan kamp en het dit vir die kinders gesê, so hulle wou graag saamgaan, maar ook by my bly, so (en ek is glad nie trots daarop nie) toe sê ek nee. Dit het ‘n bakeiery veroorsaak en ek weet ek het nie opgetree volgens die beginsels wat ons hier by UiteindelikHoop leer nie.

Maar op die ou einde het die kinders by my gebly. Nodeloos om te sê dit het weer ‘n stuk haatmuur opgebou. Maar vinnig vorentoe na hierdie jaar paasfees. Begin April het ek nog niks van Kevin gehoor ivm. Paasnaweek nie, maar het besluit ek gaan stilbly en wat ook al hy besluit sal reg wees, my Hemelse Man het my rustigheid en vrede gegee oor sulke goed. Ek het wel vir my Hemelse Man gevra dat ek graag sal wil weet wat is die reëlings, maar dat Hy vir my moet wys of geleentheid skep om uit te vind.

Ek en Kevin praat glad nie baie nie, slegs e-posse as daar iets oor kinders bespreek moet word. Vandat die kinders gedurende die week by hom bly, sien ek hom ook omtrent glad nie, want ek gaan haal die kinders Vrydae by die skool en laai hul Maandag oggende weer by die skool af. So gedurende die eerste week in April moes ons praat oor iets ivm die kinders en ek het net gevoel my HM (Hemelse Man) lei my om hom te vra oor Paasnaweek. Maar ek het dit so terloops genoem en glad nie ‘n ophef daaroor gemaak nie en ook seker gemaak ek sê vir hom dat wat ook al hy besluit, oukei is met my.

Kevin het gesê hy is jammer dat hy nog nie met my reëlings getref het nie en dat die kinders by my kan bly oor Paasnaweek...ek het amper op my rug geval want hy en die AV (ander vrou) het weer ‘n kampplek bespreek en ek het dit al as vanselfsprekend aanvaar dat die kinders saam hul gaan kamp. Ek het net gesê dis reg en dat dit regtig nie sou saak maak as hy kinders wou saamvat nie, maar hy het weereens gesê die kinders bly Paasnaweek by my.

Ek was nogal regtig verbaas want gedurende die skoolvakansie het hul ook twee weke by my gebly. Ek het niks gevra oor die skoolvakansie nie, Kevin het net vir my ‘n e-pos gestuur om te sê dat die kinders die skoolvakansie by my gaan bly, hy wil hul net graag die een naweek van die skoolvakansie by hom hê. Ek het dit sonder ‘n woord aanvaar en niks verder daaroor gesê nie.

Al hierdie dinge, en daar is ook paar kleiner gebeure, het my weereens gewys hoe kragtig Wen Sonder Woorde is en om entoesiasties in te stem met wat van jou gevra of geeis word! Dit is so teen dit wat die wêreld ons leer en hoe ek ook opgetree het voor ek op my Herstel Reis begin het, maar hierdie beginsels, wat op Sy Woord gebaseer is en dalk absurd mag klink, WERK regtig!!

Volg #Adina Follow #Adina
En Adina is 'n tiende vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!