Die Saad Sal Wortel Skiet In Vroue Se Harte

♕ Belofte van vandag: “Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.” Matteus 13:8

☊ Adina Lofverslag Potgooi

Liewe Bruide,

My hart wil vandag bars van dankbaarheid en liefde vir my Hemelse Man!! Ons het so rukkie terug ‘n Afrikaanse Facebook Blad (Huwelikshulp vir Vroue) geskep vir dames om die hoop en hulp wat die Here, deur RMI, aanbied, met Afrikaanse dames te deel.

Eers was ek skepties want as ek iets op die internet soek, slaan ek outomaties oor Engels toe. So ek het getwyfel of ander Afrikaanse dames in Afrikaans sal soek.

Ek het ‘n privaat groep gestig om beheer te hê oor wie aan die groep behoort omdat dit slegs vir dames is. Maar ek moes al twee mans afkeer, maar ek het hul eers na die mans webwerf (encouragingmen.org) toe verwys voordat ek hul afgekeer het, want ek wil hul nie sonder hoop wegstuur nie.

Maar wat my die meeste verbaas het, is dat ek omtrent elke dag ‘n dame kry wat aansoek doen om aan die groep te behoort en alhoewel die groep nog klein is, groei die groep wel.

Ek is nou vol vertroue dat Hemelse Man die groep sal gebruik om meer Afrikaanse dames te bereik en dan wil ek ook vir Hom dankie se vir een spesifieke dame (Keziah) wat baie doen om vroue in Suid Afrika na hul Hemelse Man en RMI toe te lei!

En alhoewel hierdie groep gestig is om ander vroue te lei, help dit my ook baie op my Reis, want ek raak al hoe meer vasberade om met ander vroue die hoop, vrede, genesing en liefde te deel wat ek ontvang het van my Hemelse Man en dit vat my fokus weg van my situasie en die beproewing waardeur ek gaan.

En al sien ek dalk nie eendag die oes nie, weet ek dat ek besig is om die saad te saai en dat dit sal wortel skiet in die vroue se harte wat Hy gelei het na die groep toe.

Dankie my Hemelse Man dat U my op hierdie reis gesit het, dankie vir alles wat U elke dag vir my doen en dat U altyd by my is, my hand vashou en my dra. Ek is vol foute en wankel elke dag, maar ten spyte daarvan is U lief vir my met ‘n oorweldige liefde wat geen mens kan verstaan nie. My lewe is in U hande, gebruik my om nou alles wat U vir my gegee het, te saai in ander stukkende vroue se lewens.

“Later daardie dag het Jesus uit die huis gegaan en langs die see gaan sit. ’n Groot klomp mense het rondom Hom saamgedrom. Gevolglik was Hy verplig om in ’n skuit te klim en daarin te gaan sit om die mense te onderrig. Hulle het almal op die strand bly staan om na Hom te luister. Hy het vir hulle baie gelykenisse vertel, soos die volgende een: “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.” Matteus 13:1-8

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Adina is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!