Dag 27: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 27

Die Here is my lig en my redder
1Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?
2As misdadigers op my afstorm om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
3Al sou 'n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.
4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op 'n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring,
ek sal 'n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.
10Al sou my vader en my moeder my verlaat,
die Here sal my onder sy sorg neem.
11Leer my u wil, Here,
en lei my op 'n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
12Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie,
want daar staan vals getuies teenoor my
en hulle blaas geweld teen my aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...!
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

Psalm 57

Toon u grootheid, o God
1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hy vir Saul in die grot in gevlug het.
2Wees my genadig, o God! Wees my genadig,
want by U soek ek skuiling.
Onder u vleuels sal ek skuil
tot die bedreiging verby is.
3Ek roep na God, die Allerhoogste,
na God wat my sal help.
4Hy sal uit die hemel antwoord en my red,
Hy sal dié wat my jaag, die stryd laat verloor. Sela
God sal antwoord in sy liefde en trou.
5Ek is hier tussen leeus,
tussen mense wat my wil verskeur.
Hulle tande is spiese en pyle,
hulle tonge is skerp swaarde.
6Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel,
u mag hoog bo die aarde.
7Hulle het 'n strik vir my voete gespan,
hulle wou my breek,
hulle het 'n gat vir my gegrawe,
maar self daarin geval. Sela
8Ek voel weer veilig, o God!
Ek voel weer veilig!
Ek wil 'n lied sing, ja, ek wil sing.
9Ek wil vroeg opstaan,
met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak!
10Onder die volke wil ek U loof, Here,
onder die nasies u lof besing,
11want u liefde reik tot in die hemel,
u trou tot in die wolke!
12Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel,
hoog bo die aarde u mag.

Psalm 87

Die Here het die stad Sion lief
1Van die Koragiete. 'n Psalm. 'n Lied.
Die fondament van Sion is die heilige berg.
2Die Here het vir Sion lief
meer as enige ander plek in Jakob.
3Daar word groot dinge van jou gesê, stad van God: Sela
4“Ek reken onder dié wat my ken ook die mense van Egipte en Babel,
selfs dié van Filistea, Tirus en Kus.
Hulle het almal kinders van Sion geword.”
5Daarom word van Sion gesê:
“Daar is hulle man vir man gebore;
die Allerhoogste hou Sion in stand.”
6As die Here die name van die volke aanteken, sal Hy by elkeen skrywe:
“Hierdie een is ook 'n kind van Sion.” Sela
7Met sang en dans sal almal Sion prys.

Psalm 117

Sy liefde vir ons is sterk
1Prys die Here, alle nasies,
loof Hom, alle volke,
2want sy liefde vir ons is sterk,
aan die trou van die Here is daar geen einde nie!
Prys die Here!

Psalm 147

Ons Here is groot en magtig
1Prys die Here!
Dit is goed om tot lof van ons God te sing,
dit is 'n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.
2Dit is die Here wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
4Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen 'n naam.
5Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.
6Die Here laat die hulpeloses weer opstaan,
maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.
7Sing vir die Here 'n danklied,
sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier.
8Hy oordek die hemel met wolke,
Hy voorsien reën vir die aarde
en laat gras op die bergland uitspruit.
9Hy gee aan die diere hulle weiding
en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu.
10Die Here het niks aan die krag van 'n perd
of die liggaamskrag van 'n soldaat nie,
11maar Hy stel prys op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.
12Loof die Here, Jerusalem,
prys jou God, Sion!
13Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak,
jou inwoners geseën,
14Hy het in jou grondgebied vrede gegee,
jou met die beste graan gevoed.
15As Hy die aarde 'n bevel gee,
word dit vinnig uitgevoer.
16Hy gee sneeu so wit soos wol,
Hy strooi ryp uit soos as,
17Hy laat dit haelstene reën.
Wie is bestand teen die koue wat Hy stuur?
18Maar op sy bevel smelt alles weer;
as Hy die warm wind laat waai, dan loop die waters.
19Hy maak sy woord aan Jakob bekend,
sy voorskrifte en bepalings aan Israel.
20Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie;
hulle ken sy bepalings nie.
Prys die Here!

Spreuke 27

1Moenie roem oor wat jy môre verwag nie;
jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.
2Laat dit aan 'n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie;
laat dit uit 'n ander se mond kom, nie uit joune nie.
3Klip en sand is swaar om te dra,
maar die ergernis wat 'n dwaas veroorsaak, is swaarder as altwee.
4Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is 'n onkeerbare vloed;
teen jaloesie is niemand opgewasse nie.
5'n Openlike bestraffing is beter
as liefde wat onsigbaar bly.
6Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken;
iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.
7As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie;
as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet.
8Soos 'n voël wat sy nes net so los,
so is 'n man wat sy gesin in die steek laat.
9Reukolie en wierook is iets om te geniet,
maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.
10Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan
na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie:
'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is.
11As jy wysheid leer, my seun, sal dit my gelukkig maak
en sal ek kan terugantwoord as ek weer skimpe oor jou hoor.
12'n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie,
onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.
13As 'n vreemde vir iemand borg staan,
vat sy klere van hom af;
hou dit as pand, al staan hy borg vir 'n slegte vrou.
14As iemand sy buurman vroegdag met 'n geskreeu môre-sê,
kan mense dink hy is besig om hom te vervloek.
15Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag,
so is 'n vrou wat aanhou kyf.
16Wie haar probeer keer, kan net so wel die wind probeer keer
of olie met sy hand probeer vashou.
17Yster slyp yster,
vriende vorm mekaar.
18Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet;
wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang.
19Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk,
so sien jy jouself in wat jy dink.
20Die doderyk en die onderaardse diepte kry nie genoeg aan dooies nie;
'n mens se oë kry nie genoeg van begeer nie.
21Die waarde van silwer word in 'n smeltkroes getoets,
dié van goud in 'n oond,
dié van 'n mens aan die lof wat hy ontvang.
22Al stamp jy 'n dwaas in 'n stampblok,
al stamp jy hom saam met sandkorrels in 'n vysel,
jy sal sy dwaasheid nie uit hom uit kry nie.
23Sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het,
gee aandag aan jou veetroppe.
24Rykdom hou nie vir altyd nie;
selfs koninklike mag is nie blywend nie.
25As daar van die gras hooi gemaak is, die veld weer groen word
en die voer uit die berge ingebring is,
26sal die skape jou klere voorsien
en die bokke sorg vir die koopprys van 'n stuk grond.
27Daar sal genoeg bokmelk wees om jou en jou gesin te voed
en ook nog jou slavinne te onderhou.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 27

Die Here gee my moed
1’n Dawidspsalm.
Die Here is my lig
en my redding.
Vir wie moet ek dan vrees?
Die Here is my lewenstoevlug.
Vir wie sal ek dan bang wees?
2Wanneer bose mense kom
om my te verslind,
my vyande en teenstanders
my aanval,
struikel en val húlle.
3Al sou ’n magtige leër
teen my optrek,
ek sal nie bang wees nie.
Al sou hulle my aanval
in ’n geveg,
selfs dán sal ek hoopvol bly.
4Een ding vra ek van die Here,
en dit sal ek bly soek:
om in die huis van die Here
te bly
al die dae van my lewe,
om my te verbly in sy goedheid,
en in sy tempel
daaroor na te dink.
5Want as gevaar dreig,
sal Hy my wegsteek.
Hy sal my in sy woning
verberg.
Hy sal my op ’n hoë rots
laat staan.
6Dan sal ek my kop hoog oplig
bokant my vyande
wat my omring.
In sy woning
sal ek
offers van vreugde bring
terwyl ek sing
en met musiek die Here loof.
7Luister tog na my as ek roep,
Here.
Wees genadig,
verhoor my gebed!
8U het vir my hart gesê:
“Kom en dien My.”
Ek antwoord:
“Here, ek kom U dien.”
9Moenie U vir my
verberg nie,
of u dienaar in toorn
verwerp nie.
U was nog altyd my helper.
Moenie my nou
verlaat nie;
moenie my
in die steek laat nie,
God van my verlossing!
10Selfs al sou my pa en ma
my verlaat,
die Here sal my styf vashou.
11Leer my hoe om te lewe,
Here.
Lei my op ’n gelyke pad,
want my vyande wag my in.
12Moenie my oorgee
in die hande van my vyande nie.
Hulle bring vals getuies
teen my
en hulle blaas geweld aan
teen my.
13Tog is ek daarvan oortuig:
Die Here se goedheid
sal ek sien
hier in die land
van die lewendes.
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en skep moed!
Ja, vertrou op die Here!

Psalm 57

Here, u trou is hemelhoog
1Vir die koorleier: Op die wysie van
“Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n
Gedig, met verwysing na die gebeurtenis
toe hy in die grot van Saul af weggevlug
het.
2Wees my genadig, o God,
wees my genadig!
Ek soek skuiling by U.
In die skaduwee van u vlerke
sal ek skuil
totdat die onheil verby is.
3Ek roep tot God
die Allerhoogste,
tot God wat gereed is om te help.
4Uit die hemel antwoord Hy
en red my;
hulle wat my wil vernietig,
sal Hy verneder.
Sela
God sal sy trou
en waarheid stuur.
5Ek is omring deur leeus,
tussen bloeddorstige mense
wat my wil verskeur.
Hulle tande
is soos spiese en pyle,
hulle tonge
so skerp soos swaarde.
6O God, mag U geprys word
ver bokant die hemele,
en u heerlikheid besing word
oor die hele aarde.
7Hulle het vir my voete
’n lokval gestel.
Ek voel terneergedruk.
Hulle het ’n gat
voor my gegrawe,
maar het self daarin geval.
Sela
8Ek vertrou geheel en al op U.
Op U, o God,
vertrou ek onwrikbaar.
Ek wil lofliedere sing.
9“Word vroeg wakker!” sê ek.
“Harp en lier, word wakker!”
Ek wil die dagbreek
wakker maak!
10Voor die volke wil ek U prys,
Here,
tussen die nasies wil ek
u lof besing.
11Want u trou is hoër
as die hemele,
u waarheid
reik tot in die wolke.
12Mag U verhewe wees
tot bo die hemele, o God,
en u heerlikheid erken word
oor die hele aarde.

Psalm 87

In Sion is die bron van
seën
1Van die Koragiete. ’n Psalm. ’n Lied.
Sy fondament is gevestig
op die heilige berg.
2Die Here
het die poorte van Sion lief,
meer as enige ander woonplek
in Jakob.
3Wonderlike dinge
word van jou gesê,
stad van God!
Sela
4Ek sal Egipte en Babel noem
onder dié wat My ken;
ook Filistea en Tirus en ook Kus –
almal het kinders van Sion
geword!
5Dit sal van Sion gesê word:
“Dié een en dáárdie een
is hier gebore.
Die Allerhoogste
hou dit in stand.”
6Wanneer die Here die volke
opskryf,
sal Hy sê:
“Dié een is hier gebore.”
Sela
7Hulle sing en bespeel die fluite:
“Die bron van my seëninge
is in Sion!”

Psalm 117

Die Here se liefde is
groot
1Loof die Here, al die nasies.
Prys Hom, alle volke.
2Want sy liefde is groot oor ons;
die trou van die Here
bly vir altyd.
Prys die Here!

Psalm 147

Dit is goed om God te
prys
1Prys die Here!
Want dis goed
om ons God te prys.
Dis ’n vreugde
en ’n genot om Hom te prys.
2Die Here herbou Jerusalem
en versamel bannelinge
van Israel.
3Hy genees die gebroke hart,
en verbind hulle wonde.
4Hy tel die sterre
en noem hulle almal
by die naam.
5Groot en magtig is ons Here.
Sy kennis
ken geen grense nie.
6Die Here
ondersteun onderdruktes,
maar goddeloses
gooi Hy neer op die grond.
7Sing ’n danklied aan die Here;
sing lofliedere vir ons God
met begeleiding van die harp.
8Hy oordek die hemel
met wolke,
Hy verskaf reën vir die aarde
en laat gras groei
op die berghellings.
9Hy voed die wilde diere,
en die jong kraaie
wat skree vir kos.
10Die krag van ’n oorlogsperd
beïndruk Hom nie;
met die ratsheid
van ’n krygsman
neem Hy nie genoeë nie.
11Die Here verheug Hom
in hulle wat Hom dien,
in dié wat hulle hoop vestig
op sy troue liefde.
12Prys die Here, Jerusalem!
Prys jou God, Sion!
13Want die sluitbalke
van jou poorte
het Hy versterk,
en jou kinders geseën.
14Hy gee vrede
oor jou grondgebied,
versadig jou
met die beste graan.
15Hy stuur sy bevele
na die aarde,
sy woorde word vinnig versprei.
16Hy stuur die sneeu,
wit soos wol;
Hy strooi ryp uit soos as,
17laat haelstene val
soos broodkrummels.
Wie kan standhou teen sy koue?
18Dan, op sy bevel,
smelt alles weer.
Hy laat sy winde waai,
en die water loop.
19Hy maak sy woord bekend
aan Jakob,
aan Israel sy voorskrifte
en gebooie.
20Vir geen ander nasie
het Hy dit gedoen nie;
sy bepalings ken hulle nie.
Prys die Here!

Spreuke 27

1Moenie te veel praat
oor wat môre kan gebeur nie.
Jy weet glad nie
wat môre gaan oplewer nie.
2Moenie jouself
op die skouer klop nie.
Laat iemand anders jou
liewer prys.
3Dit is swaar
om klip en sand aan te dra,
dit is nog swaarder
om die ergernis te verdra
wat ’n dwaas jou veroorsaak.
4Woede kan wreed wees
en toorn ’n onstuitbare vloed,
maar teen jaloesie
is daar geen verweer nie.
5’n Openlike bestraffing
is beter as liefde
wat onsigbaar bly.
6Die wonde veroorsaak deur iemand
wat lief is vir jou
is baie beter as die baie soene
wat jou vyande jou wil gee.
7As jy genoeg geëet het,
is heuning
nie meer lekker nie.
Wanneer iemand honger is,
is selfs ’n bitter ding lekker.
8Iemand wat wegloop
van sy huis af,
is soos ’n voël
wat sy nes verlaat.
9Eerlike raad van ’n vriend
is so aangenaam soos parfuum
en so heerlik soos wierook.
10Moenie jou rug draai
op jou vriend
of op iemand
wat jou pa se vriend was nie.
Wanneer jy moeilikheid het,
hoef jy nie
na jou broer se huis te gaan nie.
’n Buurman wat naby is,
is baie meer werd
as ’n broer wat ver is.
11As jy wys is, my seun,
sal dit my gelukkig maak.
Dan sal ek kan terugantwoord
wanneer ek bespot word.
12’n Verstandige mens
sien onheil kom
en kruip daarvoor weg.
Onverstandige mense
loop oopoë daarin
en betaal die prys daarvoor.
13Vat iemand se klere
as hy borg staan
vir ’n vreemdeling.
Hou dit as pand
wanneer hy borg staan
vir ’n vreemde vrou.
14As iemand vroegoggend
sy buurman
luidrugtig môre-sê,
kan dit lyk
of hy hom eerder vervloek.
15’n Vrou wat aanhou neul,
is soos ’n aanhoudende gedrup
op ’n reëndag.
16Om haar te probeer stilkry,
is net so goed
as om die wind
te laat ophou waai
of olie te probeer vashou
met jou hande.
17Yster slyp yster
en so vorm vriende mekaar.
18Wie sy vyeboom versorg,
eet van sy vrugte.
Wie omsien na die belange
van sy werkgewer,
sal voordeel daaruit trek.
19Soos jou gesig weerkaats
in water,
so wys iemand se hart
wat in hom aangaan.
20Die doderyk
en die onderaardse diepte
word nooit vol
van dooie mense nie.
So kry ’n mens se begeertes
ook nooit ’n einde nie.
21’n Smeltkroes bepaal
die gehalte van silwer,
die vuuroond bepaal
die suiwerheid
van die goud.
’n Mens se waarde word bepaal
deur wat mense van hom sê.
22Al sit jy ’n dwaas
in ’n stampblok
en al maal jy hom
tussen die graankorrels
in die meule,
jy sal sy dwaasheid
nooit uit hom kry nie.
23Jy moet goed weet
hoe dit met
jou kleinvee gaan,
jy moet omsien
na jou veetroppe.
24Rykdom is nie vir altyd nie;
selfs ’n koning se kroon
hou nie geslagte lank nie.
25As daar van ou gras
hooi gemaak is,
die gras weer begin uitloop,
en die voer uit die berge
ingebring is,
26sal die skape weer wol gee
en die bokke verkoop word
vir die prys van ’n stuk grond.
27Daar sal genoeg bokmelk wees
om jou en jou gesin
en ook nog jou slavinne
te onderhou.

Die Boodskap

Psalm 27

1Die Here help my deur my donkerste krisis.
Sy hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Hy red my.
Omdat Hy my help, is daar niks waarvoor ek bang is nie.
Die Here beskerm my. Waarvoor sal ek dan bang wees?
2As slegte mense my kwaad wil aandoen, ja, as mense wat niks van my hou nie, my wil seermaak, sal hulle sleg daarvan afkom.
Hulle sal self tot ’n val kom.
3Al staan ek alleen teen ’n hele leër soldate, sal ek geen bang haar op my kop hê nie.
Ook al trek ’n hele weermag teen my op en val my aan, sal ek steeds op die Here vertrou.
4Daar is een groot wens in my hart en dit wil ek met my hele lewe najaag: dat ek my hele lewe lank by die Here mag wees.
Sy wonderlike nabyheid wil ek dag en nag beleef. Ek wil ervaar hoe goed Hy vir my is.
Ek wil weer en weer daaroor nadink wanneer ek Hom aanbid.
5Die Here beskerm my die dag as slegte dinge op my afkom; Hy bewaar my teen gevaar;
Hy help my uit die moeilikheid. Hy laat my by Hom wegkruip.
Nou kan ek weer my kop optel.
Die Here maak my ’n wenner.
6Daarom wil ek Hom aanbid en vir Hom dankie sê deur liedere te sing saam met
verskillende musiekinstrumente.
Ek sal liedere sing om die Here te eer. Ek sal vir Hom offers bring.
Mense wat niks van my hou nie, sal kyk hoe ek my kop optel en die Here prys.
7Here, ek bid ernstig tot U. Ek roep na U.
Wees goed vir my. Help my. Hoor my gebed en antwoord my.
8Ek sê elke dag vir myself: Jy moet die Here dien. Soek na sy teenwoordigheid. Daarom aanbid ek U, Here.
9Moet tog nie maak of U my nie hoor nie.
Moenie my wegjaag omdat U vir my kwaad is nie.
U het my in die verlede gehelp.
Stoot my nie weg van U af nie. Los my nie alleen nie. U is die God wat my red.
10Selfs al wil my pa en ma niks met my te doen hê nie,
sal die Here self vir my sorg.
11Here, vat my hand. Lei my op ’n pad waar daar nie slaggate is nie.
Wys my hoe om reg te lewe.
Moenie dat hulle wat niks van my hou oor my seëvier nie.
Pas my op. Lei my.
12Party vertel leuens oor my, terwyl ander my met geweld onderstebo wil loop. Moet my tog nie in hulle hand oorgee nie.
13Dis net my geloof in die Here wat my staande hou.
Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie …
14Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom!
Hou moed! Wees sterk!
Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!

Psalm 57

1Aan die musiekleier. Op die wysie van “Moenie vernietig nie”. Vir Dawid. ’n Gedig wat geskryf is toe Dawid in ’n grot vir Saul gaan wegkruip het
2God, wees asseblief goed vir my.
Wees goed vir my, want ek kruip by U weg.
U moet my beskerm totdat die gevaar verby is.
3In my nood bid ek tot die allerhoogste God.
Dit is Hy wat my altyd sal help.
4Daar uit sy woonplek in die hemel sal Hy my bystaan. Hy sal my uit my nood red.
Slegte mense wat my wil laat ondergaan, probeer skande oor my bring.
Omdat God vir my omgee, sal Hy keer dat dit gebeur.
5Ek bly tussen mense wat net so gevaarlik is soos honger leeus.
Hulle staan reg om ander uitmekaar te skeur.
Hulle wil baie graag kwaad met kwaad vergeld.
Daarvoor gebruik hulle hulle skerp tonge.
Met kwaadpratery en leuens wil hulle ander vernietig.
6God, wys vir ons dat niemand groter is as U nie. Selfs nie eens in die hemel is iemand belangriker as U nie.
U is so groot dat elkeen op aarde dit moet kan raaksien.
7Mense wat oneerlike dinge sê, het hulle bes probeer om my onder te kry.
Hulle het my vertrap.
Maar gelukkig het hulle self in die gat geval wat hulle vir my gegrawe het.
8God, daar is vrede in my hart. Ek voel weer veilig.
Ek is rustig en kalm. Daarom wil ek sing.
Ek wil lofliedere sing om U te eer.
9Ek sal baie vroeg in die môre opstaan.
Laat ek my musiekinstrumente nader trek.
Daarmee wil ek die dag wakker sing.
10Tussen verskillende volke sal ek U prys, Here.
Ek sal lofliedere sing om U tussen vreemde nasies te eer.
11Ek doen dit omdat u liefde vir my baie groot is.
Dit is so groot dat ’n mens dit nie kan meet nie! En U bly getrou.
12God, wys asseblief vir ons dat U die grootste is. Selfs nie eens in die hemel is iemand wat belangriker is as U nie!
U is so groot dat elkeen op aarde dit moet kan raaksien.

Psalm 87

’n Lied en ’n psalm geskryf vir die koor van Korag
1Jerusalem, die stad van God, staan op die heilige berg.
2Die Here het Jerusalem baie lief; liewer as enige ander plek.
3Die mense praat met groot lof van jou, o stad van God.
4Die hele wêreld weet van jou: Egipte, Babel, Filistea, Tirus, tot doer ver in Etiopië.
Hulle sal van Jerusalem sê: “Daar is ons geboorteplek. Ons behoort nou aan die stad.”
5Hulle sê van Sion: “Daar is ons almal gebore.
God, vir wie niks onmoontlik is nie, sorg self vir hierdie stad.
6As die Here deur die lys volke gaan, sal Hy sê: “Hierdie en daardie een is kinders van Jerusalem.”
7As hulle dans en sing, sal hulle bly uitroep:
“My lewe begin en eindig in jou, o Jerusalem.”

Psalm 117

1Kom prys die Here, al julle volke!
Loof Hom, al julle nasies!
Hoekom? 2Want Hy is baie lief vir julle. Hy doen wat Hy belowe het.
Ja, die Here se liefde vir julle sal nooit ophou nie.
Kom prys die Here!

Psalm 147

1Kom prys die Here.
Dit is goed om ons God met liedere groot te maak.
Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê.
2Wat mense afgebreek het, bou die Here weer op.
In die geskiedenis het dit met Jerusalem gebeur.
Van sy kinders wat in die verlede moes vlug, het Hy weer bymekaargebring.
3Hy troos elkeen wat hartseer is.
Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond.
4Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar is.
Hy regeer oor elkeen van hulle. Daarom ken Hy hulle almal.
5Ons Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat Hy nie weet nie.
6Die Here help die mense wat hulp nodig het.
Maar mense wat hulle nie aan Hom steur nie,
moet weet dat daar groot probleme op hulle wag.
7Kom sing ’n lied om vir die Here dankie te sê.
Sing vir ons God ’n lied met musiekinstrumente.
8Dit is Hy wat die wolke in die hemel laat opsteek.
Hy bring die reën en laat die gras op die berge groei.
9Hy gee weiding aan die diere en kos vir die jong kraaie as hulle honger is.
10Die prestasies van ’n mens en die krag van ’n dier maak nie indruk op die Here nie.
Die krag van bomme, die prestasies van geleerdes of die geheue van die slimmes beïndruk die Here nie.
11Wat Hy wil hê, is dat mense Hom moet dien en aanbid.
Dit is dié mense wat weet dat die Here hulle baie liefhet.
12In Israel was daar baie redes waarom God se kinders Hom kon prys.
Lank terug het sy kinders al gesê: Mense van Jerusalem, kom prys die Here.
Gelowiges wat op die Sionsberg bly, kom sê dankie vir julle God.
13Hy het die stad beskerm. Hy het almal versorg wat binne-in die stad was.
14Hy sorg vir vrede onder julle.
Hy gee vir almal meer as genoeg van die beste kos.
15Wanneer Hy iemand vra om iets te doen, word dit vinnig gedoen.
16Die sneeu wat Hy gee, is spierwit. Hy strooi die ryp egalig uit.
17Wanneer dit hael, lyk dit soos stukke ys wat iemand uit die hemel afgooi.
Niemand kan oorleef in die ysige koue wat Hy gee nie.
18Hy hoef net ’n woord te sê, dan smelt al die ys weg.
Wanneer Hy ’n warm wind daaroor laat waai, smelt dit sodat jy net water sien loop.
19Wat Hy wou hê Israel moes doen, het Hy vir hulle gesê.
20Vir Israel het Hy dinge gedoen wat Hy vir geen ander volk gedoen het nie.
Die ander volke het ook nie sy wil geken nie.
Kom prys die Here!

Spreuke 27

Gee om vir ander
1Moenie te seker oor môre en oormôre wees nie, want jy weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie.
2Moenie jou eie beuel blaas nie. Moenie vir almal vertel hoe goed jy is nie. Laat ander mense dit liewer doen.
3Daar is iets wat erger is as ’n swaar klip of ’n vrag sand. Dit is om saam met ’n dom mens te bly.
4Daar is iets wat nog verskrikliker is as ’n vinnige humeur. Dit is ’n jaloesie wat ’n mens verteer.
5Dit is beter dat iemand jou uit liefde berispe as dat iemand jou liefhet, maar dit nooit wys nie.
6Harde woorde van ’n goeie vriend is goed bedoel. Oordrewe vriendelikheid van mense van wie jy nie hou nie, is oneg.
7Iemand wat genoeg geëet het, is vir niks meer lus nie. Vir iemand wat baie honger is, is selfs die slegste kos lekker.
8Soos ’n voëltjie van sy nes verjaag word en verlore rondvlieg, so is ’n mens wat sy familie en vriende verlaat en eensaam rondswerf.
9Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe.
10Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie.
11As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het.
12’n Slim mens sien probleme ver aankom en hy tref die nodige voorsorg. ’n Dom mens karring net aan en beland in groot ellende.
13Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge. Veral as die ander party diep in die skuld is.
14Iemand wat vroeg in die môre, terwyl almal nog slaap, sy buurman wakker maak om hom te groet is baie dom. Hy het geen gevoel vir die regte ding wat op die regte tyd gedoen moet word nie. Niemand wil iets met hom te doen hê nie.
15Soos ’n irriterende gedrup op ’n reëndag, so is ’n moeilike mens wat net rusie maak. 16Wie so ’n mens wil verander, probeer verniet. Dit is soos om die wind met jou hande te vang of olie met jou hande te gryp.
17Yster slyp yster. So vorm mense mekaar.
18Wie ’n vrugteboom versorg, sal later van sy vrugte eet. Wie hard werk, sal eendag ’n goeie pensioen ontvang.
19Soos ’n mens sy gesig in ’n spieël sien, so verstaan hy homself in wat hy dink.
20Mense gaan voortdurend dood. Dit kry geen einde nie. So is ’n mens se begeertes ook. Dit word nooit versadig nie. Alles wat hy sien, wil hy hê.
21Soos silwer in vuur en goud in die smeltoond gelouter word, so word ’n mens se karakter in die harde leerskool van die lewe gevorm.
22Al kan jy ’n dom mens met ’n hamer slaan of hom fynmaal, sy domheid kry jy nooit uit hom uit nie. 23Geld se waarde word minder en dit word ook maklik uitgegee. 24Pas dus die dinge wat jy het, baie goed op. Kyk mooi na jou eiendom. Dan kan jou kinders ook nog eendag daarvan kry.
25-27Werk hard sodat jy in al jou behoeftes kan voorsien. Gebruik elke kans wat jy kry, dan sal jy genoeg vir kos en klere hê. Almal in jou huis sal genoeg hê om van te leef.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!