1983 Vertaling
Psalm 1
Die Here lei die regverdiges
1 Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3 Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4 So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5 Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6 Waarlik,
die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.
Psalm 31
My tye is in u hand
1 Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2 By U, Here, skuil ek.
Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!
Bevry my, want U is getrou.
3 Luister na my, red my tog gou.
Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,
'n bergvesting om my te red.
4 Ja, U is my rots en my bergvesting,
ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.
5 Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het,
want U is my toevlug.
6 In u hande gee ek my lewe oor,
want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
7 Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode;
my vertroue stel ek in die Here.
8 Ek wil jubel en juig oor u troue liefde:
U was nie onverskillig teenoor my ellende nie;
U het die bedreiging van my lewe raakgesien
9 en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie;
U het my 'n veilige staanplek gegee.
10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11 My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12 Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
'n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos 'n ding wat lê en vergaan.
14 Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15 Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16 My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!
17 Verskyn tog tot my redding,
red my deur u onfeilbare liefde.
18 Here, laat my nie teleurgestel staan in my verwagting as ek U aanroep nie.
Laat die goddelose teleurgestel staan in hulle verwagting,
laat hulle die stilte van die doderyk ingaan.
19 Bring die leuenaars tot swye,
dié wat vol is van hulleself en in hoogmoed en veragting teen die regverdige praat.
20 Hoe groot is u goedheid:
dit is altyd daar vir dié wat U dien,
U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil.
21 Deur u teenwoordigheid beskerm U hulle teen die sameswering van mense.
U steek hulle weg vir dié wat vir hulle beskuldig.
22 Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon toe ek beleër was.
23 Ek het in my angs gedink:
Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp.
Tog, U het geluister na my gesmeek
toe ek na U om hulp geroep het.
24 Betuig julle liefde vir Hom,
julle almal wat die guns van die Here geniet.
Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is,
maar dié wat teen Hom opstandig is,
straf Hy swaar.
25 Wees dus sterk en hou goeie moed,
julle almal wat julle vertroue in die Here stel.
Psalm 61
U is vir my 'n toevlug
1 Vir die koorleier: met snarespel. Van Dawid.
2 Hoor tog my hulpgeroep, o God,
slaan tog ag op my gebed.
3 Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U.
Bring my op 'n rots waar ek veilig sal wees.
4 U is vir my 'n toevlug,
'n sterk vesting buite bereik van die vyand.
5 Laat my by U 'n blywende tuiste vind.
Laat my skuil onder u vleuels.Sela
6 U, o God, hoor my geloftes,
U vervul die wens van hulle wat u Naam eer.
7 Laat die koning lank lewe,
laat sy lewensjare oor geslagte strek.
8 Mag hy sy lewe lank regeer voor God,
mag u liefde en trou hom bewaar!
9 Dan sal ek u Naam altyd besing
en dag na dag my geloftes betaal.
Psalm 91
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
1 Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige geniet,
2 hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3 Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4 Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou 'n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5 Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6 vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
7 Al val daar duisende langs jou,
tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie.
8 Met jou eie oë sal jy sien
hoe die goddelose gestraf word.
9 Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10 sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek kom nie.
11 Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12 Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.
13 Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy doodtrap.
14 “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
15 Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.
16 'n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”
Psalm 121
1 'n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
2 My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
3 Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
4 Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie
en Hy slaap nie.
5 Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare.
6 Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.
7 Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
8 Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd.
Spreuke 1
1 Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel.
2 Dié spreuke is bedoel
om mense wysheid te leer en hulle te onderrig
sodat hulle sal weet
wanneer iemand verstandig praat.
3 So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid.
4 Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word,
jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree.
5 Selfs wyse mense kan na die spreuke luister
en so tot dieper insig kom.
Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer
6 om spreuke en sinspelings,
woorde en raaisels van wyse mense te begryp.
7 Kennis begin met die dien van die Here;
dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.
8 My seun, jy moet luister na die onderrig
wat jou vader jou gee;
moenie wat jou moeder jou leer,
verontagsaam nie:
9 dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop
en 'n kettinkie jou hals.
10 As sondaars jou wil verlei, my seun,
moenie toegee nie.
11 Hulle sal vir jou sê:
“Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom,
ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie;
12 kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen,
ons maak gesonde mense dood!
13 Ons vat al wat waardevol is
en ons maak huise vol met wat ons roof.
14 Jy kan deel in die buit,
dit sal ons almal s'n wees.”
15 Moenie met hulle saamgaan nie, my seun,
bly van hulle pad af;
16 hulle is daarop uit om kwaad te doen,
hulle wil gaan moord pleeg.
17 'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is,
vlieg nie daarin vas nie,
18 maar hierdie mense span vir hulleself 'n net,
hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet.
19 So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie:
rowery kos hom sy lewe.
20 Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep,
sy laat haar stem hoor op die stadspleine,
21 sy roep bo die rumoer uit,
by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het:
22 “Julle onkundiges,
hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde,
gaan die grootpraters hulle pratery geniet
en die swape 'n afkeer hê van kennis?
23 As julle luister na my teregwysing,
gee ek julle my wysheid in oorvloed
en leer ek julle my woorde begryp.
24 “Ek het geroep en julle wou nie luister nie,
ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie.
25 Julle het my raad alles in die wind geslaan,
julle wou julle nie laat teregwys nie.
26 Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref,
ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,
27 wanneer daar nood en kwelling oor julle kom.
Die angs sal soos 'n storm oor julle kom,
die ongeluk sal julle tref soos 'n orkaan.
28 Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie,
julle sal my soek en my nie kry nie.
29 Julle het 'n afkeer van kennis gehad,
julle het geweier om die Here te dien,
30 julle het my raad verontagsaam
en elke teregwysing van my geminag.
31 Julle sal die vrugte van julle optrede pluk,
julle sal van julle eie planne walg.
32 “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood,
die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid,
33 maar wie na my luister, sal veilig wees
en hoef geen ramp te vrees nie.”