Dag 25: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 25

Maak my u weë bekend
1Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.
11Ter wille van u Naam, Here,
vergewe my my sonde,
want dit is groot.
12As iemand die Here dien,
leer Hy hom watter pad hy moet kies,
13sodat hy voorspoed sal geniet
en sy nageslag die land sal bly bewoon.
14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue
en maak sy verbond aan hulle bekend.
15My oë is altyd op die Here gerig,
want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.
16Sien my in genade aan, Here,
want ek is eensaam en verstote.
17Ek verkeer in die allergrootste nood;
bevry my tog uit my ellende.
18Kyk hoe sleg gaan dit met my
en hoe swaar kry ek.
Vergewe tog al my sondes.
19Kyk hoe baie vyande het ek
en hoe fel haat hulle my.
20Beskerm my en red my,
laat my nie beskaamd staan nie,
want by U skuil ek.
21Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou,
want op U vertrou ek.
22O God, red Israel uit al sy nood.

Psalm 55

Laat jou sorge aan die Here oor
1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Gedig van Dawid.
2Hoor my gebed, o God,
moet tog nie onverskillig staan teenoor my smeking nie.
3Luister na my gebed en antwoord my:
my sorge gee my geen rus nie.
Ek is hewig ontsteld 4oor die dreigemente van my vyande
en oor die druk van slegte mense op my.
Hulle wil my met onreg breek;
verwoed stook hulle vyandskap teen my.
5My hart krimp inmekaar in my,
doodsangs oorval my,
6vrees en skrik oorweldig my,
my hele liggaam bewe.
7Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke
soos 'n duif gehad het,
sou ek wegvlieg en 'n woonplek soek;
8ek sou ver wegvlieg
en in die woestyn gaan bly;Sela
9ek sou haastig probeer wegkom
van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af.
10Dryf hulle uitmekaar, Here,
maak hulle taal onverstaanbaar vir mekaar.
Ek sien geweld en oproer in die stad;
11dag en nag maal hulle rond op sy mure;
daarbinne is onreg en onheil.
12Daar heers wanorde in die stad,
op sy pleine is daar net verdrukking en bedrog.
13As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het,
sou ek dit kon verdra;
as dit 'n teëstander was wat my wou verneder,
sou ek hom kon probeer vermy.
14Maar nou is dit jy, 'n man soos ek,
my maat en my goeie vriend.
15Ons was so nou aan mekaar verbonde;
opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan.
16Mag die dood my vyande oorval!
Mag hulle onverwags neerdaal na die doderyk,
want in hulle huise en harte heers daar boosheid.
17Maar ek roep na God,
na die Here wat my sal red.
18In die aand, in die môre en in die middag,
heeldag kla en sug ek,
en Hy hoor my roep.
19Hy sal my lewe red en my die oorwinning gee,
al is daar so baie teen wie ek moet veg.
20God, wat van ewigheid af regeer,
sal hoor en hulle verneder
omdat hulle hulle nie bekeer nie
en Hom nie dien nie.
21My vyand het skaars 'n ooreenkoms gesluit
of hy verbreek sy beloftes van trou.
22Sy tong is gladder as botter,
maar daar is oorlog in sy hart;
sy woorde is so strelend soos olie,
maar hulle is swaarde wat reg is om te steek.
23Laat jou sorge aan die Here oor,
Hy sal vir jou sorg.
Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.
24Maar daardie mense, o God, U sal hulle in die graf in laat neerdaal.
Sulke moordenaars en bedrieërs
sal in die fleur van hulle lewe sterf.
Maar ek, op U vertrou ek.

Psalm 85

U was goed vir u land
 
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.
2U was goed vir u land, Here,
U het aan die nageslag van Jakob 'n nuwe toekoms gegee;
3U het u volk sy sonde nie toegereken nie,
hom al sy skuld kwytgeskeld.Sela
4U het u woede laat bedaar,
u gloeiende toorn laat afkoel.
5Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser,
moet tog nie langer op ons toornig wees nie!
6Sal U dan altyd vir ons kwaad bly?
Sal U dan u toorn van geslag tot geslag laat voortduur?
7Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak
sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?
8Laat ons u troue liefde belewe,
skenk ons u reddende hulp, Here.
9Ek wil luister na wat God die Here sê,
want sy woord bring vrede vir sy volk,
vir dié wat Hom getrou dien.
Hulle moet net nie weer afdwaal nie.
10Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien:
Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.
11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede sal mekaar omhels;
12trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.
13Die Here sal voorspoed skenk
en ons land sal sy oes gee.
14Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan
en 'n pad maak vir sy koms.

Psalm 115

Aan u Naam kom die eer toe
 
1Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie,
maar aan u Naam kom die eer toe,
want dit is U wat liefde en trou bewys.
2Waarom sou die heidene kan sê:
“Waar is hulle God nou?”
3En dit terwyl ons God in die hemel is!
Alles wat Hy wil, doen Hy.
4Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud,
die werk van mensehande.
5'n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie,
oë het hulle, maar sien kan hulle nie;
6ore het hulle, maar hoor kan hulle nie;
'n neus het hulle, maar ruik kan hulle nie.
7Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie,
hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie.
Daar kom geen geluid uit hulle keel nie.
8Wie hulle maak en op hulle vertrou,
sal net soos hulle word.
9Israel, vertrou op die Here!
Hy help en beskerm jou.
10Huis van Aäron, vertrou op die Here!
Hy help en beskerm jou.
11Julle wat die Here dien, vertrou op die Here!
Hy help en beskerm julle.
12Die Here dink aan ons: Hy seën,
Hy seën die huis van Israel,
Hy seën die huis van Aäron,
13Hy seën dié wat Hom dien,
klein en groot.
14Mag die Here julle talryk maak,
julle én julle kinders.
15Mag die Here julle seën,
Hy wat hemel en aarde gemaak het.
16Die hemel is net vir die Here,
maar die aarde het Hy aan die mense gegee.
17Nie die dooies prys die Here nie,
nie dié wat die graf in is nie,
18maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd!
Prys die Here!

Psalm 145

Ek wil getuig van u magtige dade
 
1'n Loflied van Dawid.
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
2Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
3Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
4Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
5van die luister, die heerlikheid van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,
6sodat die mense oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.
7Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig
en oor u reddingsdade jubel.
8Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Die Here is vir almal goed
en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.
10Almal wat deur U geskep is, loof U, Here,
en u troue dienaars prys U!
11Hulle vertel van u koninklike mag
en getuig van u groot krag.
12Die mense moet weet van sy krag,
van sy koninklike mag en majesteit.
13U koningskap is 'n koningskap vir alle tye,
u heerskappy strek oor die geslagte heen.
14Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
15Die oë van almal is op U gerig,
en U gee hulle kos op hulle tyd.
16U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.
17Die Here is regverdig in al sy handelinge,
getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal wat Hom aanroep,
almal wat Hom in opregtheid aanroep.
19Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.
20Die Here beskerm almal wat Hom liefhet,
maar al die goddeloses verdelg Hy.
21Ek sal die lof van die Here verkondig.
Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.

Spreuke 25

1Die volgende is ook spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit opgeteken.
2Die eer van God lê in wat Hy verborge hou;
konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring.
3Soos die hoogte van die hemelruim en die diepte van die aardbodem,
so kan konings se gedagtes ook nie gepeil word nie.
4As jy die slak uit silwer haal,
kan die smid iets van die silwer maak.
5As jy die goddeloses by die koning wegvat,
kan hy regverdig bly regeer.
6Moet jou nie vernaam aanstel by die koning
en op die plek vir hoë mense gaan staan nie.
7Dit is beter dat hy vir jou sê: “Kom op hiernatoe!”
as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense.
As jy iets gesien het,
8moenie te haastig teen jou buurman 'n klag indien nie;
wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak?
9As jy 'n saak teen jou buurman het,
moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie:
10dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot 'n leuenaar maak,
en dan kry jy vir goed 'n slegte naam.
11Goue appels wat in silwer gemonteer is,
so is die regte woord op die regte tyd.
12'n Goue ring, goue juwele,
so is die wyse vermaning vir wie wil luister.
13Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word,
so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het;
hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed.
14Miswolke en wind, maar geen reën nie,
so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.
15Met geduld kan iemand in 'n magsposisie tot ander insigte gebring word;
met 'n versigtige benadering word weerstand afgebreek.
16As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het;
as jy te veel eet, word jy naar.
17Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman;
as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.
18'n Knopkierie, 'n swaard, 'n skerp pyl,
so is 'n man wat vals teen sy naaste getuig.
19'n Seer tand, 'n voet wat meegee,
so is dit om in gevaar staat te maak op 'n onbetroubare mens.
20Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag,
of asyn op bytsoda,
so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.
21As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet;
as hy dors is, gee hom iets om te drink.
22Die Here sal jou daarvoor vergoed,
en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.
23Die noordewind bring reën,
en agteraf-praat maak mense kwaad.
24Liewer bo-op 'n dak woon
as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.
25Koue water vir 'n moeë mens se dors,
so is 'n goeie berig uit 'n ver land.
26'n Fontein, 'n put waarvan die water vuil en stink geword het,
so is 'n regverdige wat hom tot 'n val laat bring deur 'n goddelose.
27Om te veel heuning te eet, is nie goed nie,
ook nie om eer te bly soek nie.
28'n Stad sonder 'n muur om hom te beskerm,
so weerloos is 'n mens as hy nie selfbeheersing het nie.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 25

Ek vertrou op die Here
1’n Dawidspsalm.
Ek rig my tot U, Here.
2 Ek vertrou op U, my God!
Moenie dat ek
in die skande kom,
of my vyande
oor my laat juig nie.
3Niemand wat op U wag,
word ooit beskaam nie,
maar húlle word beskaam
wat bedrieg sonder oorsaak.
4Here, wys my die weg
wat ek moet gaan,
leer my u paaie.
5Lei my deur u waarheid
en leer my,
want U, o God, is my redder.
Die hele dag wag ek vol hoop op U.
6Dink, o Here, aan u liefde
en medelye,
van altyd af deur U bewys.
7Moenie dink aan die opstand
en die sonde van my jeug nie;
Here, dink eerder aan my
met troue liefde,
ter wille van u goedheid.
8Die Here is goed
en doen wat reg is.
Daarom wys Hy vir sondaars
die regte pad.
9Mag Hy die nederiges
op die regte weg lei,
en vir dié wat beskeie is,
sy pad leer.
10Die paaie van die Here
is goedheid en trou
vir dié wat getrou is
aan die bepalings
van sy verbond.
11Ter wille van u Naam, Here,
vergewe tog my sondes,
want dit is baie.
12Wie is die een
wat die Here dien?
Hy sal hom wys
watter pad hy moet kies.
13Hy sal in voorspoed lewe,
en sy nageslag
sal die beloofde land beërwe.
14Die Here se voorneme
is duidelik
vir dié wat Hom dien.
Aan hulle
maak Hy sy verbond bekend.
15Ek kyk altyd op na die Here
vir hulp,
want Hy sal my voete
van die vangnet bevry.
16Draai u gesig na my
en bewys genade aan my,
want ek is alleen
en in diep nood.
17Die kwellinge van my gedagtes
word al meer.
Verlos my tog
uit hierdie ellende!
18Kyk na my pyne en kwellinge,
en vergeef tog al my sondes.
19Kyk hoeveel vyande
is teen my,
hoe hulle my haat met venyn!
20Beskerm my en red my!
Bewaar my van vernedering,
want ek vertrou op U.
21Mag opregtheid en eerlikheid
my beskerm,
want ek wag op U.
22O God, bevry Israel
uit al sy nood.

Psalm 55

Vlerke soos ’n duif
1Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Gedig van Dawid.
2Luister na my gebed,
o God.
Moenie my smeekbede
ignoreer nie!
3Luister, asseblief,
en antwoord my,
want my moeilikhede
gee my nie rus nie.
Ek is ontsteld
4oor die dreiging
van my vyande,
oor die druk
van die goddeloses.
Hulle bring ellende oor my,
en kweek vyandskap
in hulle toorn.
5My hart pyn binne-in my.
Die angs van die dood
kom oor my.
6Vrees en bewing
oorweldig my.
Ek kan nie ophou bewe nie.
7Ek het gesê:
“As ek maar vlerke het
soos ’n duif,
dan sal ek wegvlieg
en rus hê!”
8Ek sou ver weg vlieg,
ek sou in die woestyn
gaan woon.
Sela
9Ek sou my haas om te ontvlug
van hierdie stormwind
en onweer.
10Verslind hulle, Here,
en verwar hulle spraak,
want ek sien geweld en stryd
in die stad.
11Dag en nag
loop hulle rondom
op die mure,
maar die boosheid en onheil
is in die stad!
12Verwoesting
is aan die orde van die dag,
verdrukking en bedrog
heers in die strate.
13Dis nie ’n vyand
wat my spot nie –
dit sou ek kon verdra.
Dis nie my vyand
wat teen my grootpraat nie –
ek sou vir hom
kon wegkruip.
14Maar nou is dit jy,
’n man soos ek,
my goeie vriend en my metgesel.
15Watter goeie kameraadskap
het ons geniet!
Ons het saam gegaan
na die huis van God
te midde van ’n skare mense!
16Laat die dood hulle oorval.
Laat die doderyk
hulle lewendig verslind,
want boosheid heers
in hulle huise en harte.
17Maar ek roep tot God,
en die Here sal my verlos.
18Saans, soggens en smiddae
pleit ek en kla ek,
en Hy hoor my stem.
19Hy red my lewe
en bring my veilig
uit die stryd
wat teen my woed,
want baie is vyandig teenoor my.
20God sal hoor en hulle verneder,
Hy wat van altyd af regeer.
Sela
Want hulle bekeer hulle nie
en dien God nie.
21My metgesel
het teen sy vriende
gedraai;
hy het sy ooreenkoms
verbreek.
22Sy woorde is so glad
soos botter,
maar sy hart vol oorlog.
Sy woorde is strelend soos olie,
maar dis soos
’n ontblote swaard!
23Gee jou kommer
oor aan die Here.
Hy sal vir jou sorg.
Hy sal gelowiges
nie teleurstel nie.
24Maar U, o God,
sal die bose mense
na die graf van verderf
laat afdaal.
Moordenaars en bedrieërs
sal jonk sterf,
maar ek sal op U vertrou.

Psalm 85

Here, U het vergewe
1Vir die koorleier: Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Here, U was goed vir u land.
U het die lot van Jakob
verander.
3U het die skuld van u volk
vergewe.
U het al hulle sondes
kwytgeskeld.
Sela
4U het u woede bedwing.
U het u gloeiende toorn laat afkoel.
5Herstel ons,
God van ons redding.
Laat vaar u woede teen ons.
6Sal U altyd vir ons kwaad bly?
Sal u woede dan voortduur
van geslag tot geslag?
7Sal U nie ons
weer laat herlewe
sodat u volk bly kan wees
in U nie?
8Laat ons u troue liefde ervaar,
Here,
en skenk ons u verlossing.
9Ek sal luister
na wat God die Here sê.
Hy belowe vrede aan sy volk
en aan hulle wat getrou is.
Laat hulle nie weer terugkeer
na hulle dwase weë nie.
10Redding is beslis voor die deur
vir hulle wat Hom dien.
Dan sal sy magtige
teenwoordigheid
in ons land bly woon.
11Liefde en trou
sal mekaar ontmoet.
Regverdigheid en vrede
sal mekaar omhels!
12Waarheid sal uit die aarde
ontspring, en geregtigheid
uit die hemel.
13Die Here sal beslis voorspoed gee,
en ons land sal oeste oplewer.
14Regverdigheid
sal Hom vooruit gaan
en vir sy koms die weg berei.

Psalm 115

Here, seën ons!
 
1Nie aan ons nie, Here,
nie aan ons nie,
maar aan u Naam
kom toe die eer
op grond van u liefde en u trou.
2Waarom sou die nasies dan sê:
“Nou waar is hulle God?”
3Maar ons God is in die hemel
en Hy maak soos Hy wil.
4Húlle afgode
is van silwer en goud,
deur mensehande gemaak.
5Hulle het monde,
maar praat nie,
hulle het oë,
maar kan nie sien nie.
6Hulle het ore,
maar kan nie hoor nie,
ook het hulle neuse,
maar kan nie ruik nie;
7hulle het hande,
maar kan nie voel nie,
hulle het voete,
maar kan nie loop nie.
Hulle kan nie eers geluide maak
met hulle kele nie!
8Hulle makers
sal net soos hulle afgode wees,
so ook almal
wat op hulle vertrou.
9Israel, vertrou op die Here!
Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.
10Huis van Aäron,
vertrou op die Here!
Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.
11Julle almal wat die Here dien,
vertrou op die Here!
Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.
12Die Here dink aan ons
en seën ons.
Hy seën die huis van Israel,
Hy seën die huis van Aäron,
13Hy seën hulle
wat die Here dien,
sowel klein as groot.
14Mag die Here
julle vermeerder,
julle en julle kinders.
15Mag die Here julle seën,
Hy wat hemel en aarde
gemaak het.
16Die hemele
behoort aan die Here,
maar die aarde het Hy
vir die mensdom gegee.
17Dooies kan die Here
nie prys nie,
ook nie hulle wat
die grafstilte binnegaan nie.
18Maar óns kan die Here loof,
nou en vir altyd!
Prys die Here!

Psalm 145

Waardig om geprys te
word
1’n Loflied van Dawid.
Ek wil U prys,
my God en my Koning,
u Naam wil ek altyd loof.
2Ek wil U elke dag loof,
en u Naam vir altyd prys.
3Die Here is groot!
Hy is waardig
om geprys te word.
Sy grootheid is onmeetbaar.
4Geslag na geslag
sal u dade prys
en van u magtige werke vertel.
5Ek sal die glans en heerlikheid
van u majesteit verkondig
en nadink oor u wonderdade.
6Mense sal praat
van u vreeswekkende dade;
hulle sal van u grootheid vertel.
7Hulle sal vertel
van u onvergeetlike goedheid;
en met vreugde sing
van u regverdigheid.
8Genadig en barmhartig
is die Here,
stadig om kwaad te word,
en ryk in liefde.
9Die Here is goed vir almal,
en barmhartig
oor sy hele skepping.
10Alles wat U geskep het,
loof U, Here,
en u getroue dienaars prys U!
11Hulle vertel van die prag
van u koninkryk;
hulle maak u groot mag bekend.
12Hulle sal aan almal vertel
van u magtige dade,
en van die glansryke majesteit
van u koninkryk.
13Want u koninkryk
is ’n koninkryk vir alle tye.
U heers geslag na geslag.
14Die Here help almal
wat geval het
en dié wat swaarkry,
tel Hy op.
15Die oë van almal
is hoopvol op U gerig;
U gee aan almal kos
op die regte tyd.
16U maak u hand oop,
en bevredig die begeertes
van al wat lewe.
17Die Here is regverdig
in al sy dade;
en getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal
wat Hom aanroep,
vir almal wat Hom
in opregtheid aanroep.
19Hy vervul die begeertes
van dié wat Hom dien;
Hy hoor hulle hulpgeroep
en red hulle.
20Die Here beskerm almal
wat Hom liefhet,
maar die goddeloses
vernietig Hy.
21Die lof van die Here
wil ek verkondig.
Alles wat leef,
sal sy heilige Naam
vir altyd prys!

Spreuke 25

1Hier is nog spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit versamel.
2Dit is God se reg
om iets geheim te hou.
Dit is konings se voorreg
om uit te vind
wat iets beteken.
3So min soos iemand
die hoogte van die lug
of die diepte van die aarde
kan bepaal,
net so min kan iemand peil
wat aangaan
in die gedagtes van konings.
4Wanneer jy die onsuiwerheid
uit silwer haal,
kan die smid
iets van die silwer maak.
5As jy die goddeloses
by die koning wegvat,
kan hy regverdig bly regeer.
6Moenie jou vernaam hou
voor die koning,
en moenie gaan staan op die plek
vir belangrike mense nie.
7Dis beter
wanneer vir jou gesê word:
“Kom staan asseblief hier!”
as dat jy plek moet maak
vir iemand belangriker as jy.
As jy iets opgemerk het,
8moet jy nie te haastig wees
om ’n saak teen iemand anders
te maak nie.
Wat sal jy agterna doen
as jou buurman jou belaglik maak?
9Bespreek eers die saak
met die ander persoon.
Moenie te koop loop
met wat iemand vertroulik
vir jou gesê het nie.
10Jy kan dan beskuldig word
dat jy skinder.
Dan het jy vir altyd
’n slegte naam.
11Woorde op die regte tyd gesê,
is soos goue appels
in ’n silwer houer.
12Soos ’n goue ring by goue juwele,
so is die wyse vermaning
by die oor wat bereid is
om daarna te luister.
13Vir die een wat hom stuur,
is ’n betroubare boodskapper
net so verkwikkend soos sneeu
in die somerhitte van die oes.
Hy gee vir sy werkgewer
nuwe moed.
14Iemand wat spog
oor ’n geskenk
wat hy nooit gegee het nie,
is soos wolke en wind
wat geen reën bring nie.
15’n Leier
kan met geduld oorreed word.
Versigtige woorde
breek harde weerstand af.
16Wanneer jy op heuning afkom,
eet net tot jy genoeg gehad het.
As jy te veel eet,
gaan jy naar word.
17Moenie te veel
by jou buurman gaan kuier
sodat hy te veel van jou sien
en ’n weersin in jou kry nie.
18Iemand wat vals getuienisse
oor ’n ander versprei,
is net so gevaarlik
soos ’n knuppel, ’n swaard
en ’n skerp pyl.
19’n Gebreekte tand,
’n voet wat swik,
so is dit om in gevaar
staat te maak
op ’n onbetroubare mens.
20So onvanpas soos dit is
om klere uit te trek
op ’n koue dag,
of asyn op bytsoda te sit,
so min van pas is dit dat iemand
vir jou liedjies sing
wanneer jy treurig voel.
21As jou vyand honger is,
moet jy hom iets gee om te eet.
As hy dors is,
gee hom iets om te drink.
22Die Here
sal jou daarvoor vergoed.
Jy sal buitendien kole ophoop
op jou vyand se kop
en hom vuurrooi maak
van skaamte.
23So seker soos die noordewind
altyd reën bring,
so seker maak hulle
wat agteraf praat
altyd ander mense kwaad.
24Dit is beter om op die hoek
van ’n platdak te bly,
as binne-in ’n huis saam met ’n vrou
wat oor alles stry.
25Goeie nuus van ’n ver land af
is soos koue water
vir ’n moeë mens se dors.
26’n Regverdige mens
wat swig voor die goddelose
is soos ’n fontein vol modder,
soos ’n put
met vuil water.
27Om te veel heuning te eet,
is nie goed nie,
so ook is iemand
wat voortdurend sy eie eer soek.
28Iemand wat homself
nie in bedwang kan hou nie,
is soos ’n stad sonder ’n muur
wat beskerming bied.

Die Boodskap

Psalm 25

Opgedra aan Dawid
1Here, ek is heeltemal van U afhanklik. Ek kyk op na U.
2My God, op U vertrou ek.
Moet my tog nie in die steek laat nie.
Moenie dat hulle wat U verwerp, my spot nie.
3Hulle wat op U hoop, sal nooit teleurgesteld wees nie.
Maar hulle wat U nie dien nie, sal aan die kortste ent trek.
4Wees vir my soos ’n onderwyser.
Gee my insig sodat ek weet wat U wil hê ek moet doen.
Wys my watter pad is die regte pad.
5Leer my hoe U wil hê ek moet lewe. Laat my op die regte pad loop.
U is die God wat my red. Op U vestig ek al my hoop.
6Here, u liefde en u goedheid kom van altyd af. Dink daaraan dat U vir ons goed was.
7Moet my tog nie straf vir die verkeerde dinge wat ek gedoen het toe ek jonk was nie.
Behandel my met liefde en deernis, Here, want U is vol goedheid.
8Die Here is goed.
Hy tree regverdig op.
Hy help selfs sondaars om op die regte pad te kom.
9Mense wat naby Hom leef, leer Hy om reg te leef.
10Alles wat die Here leer, kan in een sin opgesom word:
Hy wil hê dat almal wat in Hom glo, Hom moet liefhê. Hulle moet Hom getrou dien.
Al die mense met wie Hy ’n ooreenkoms gesluit het en wat doen wat Hy vra,
moet dit doen.
11U het so ’n groot Naam, Here.
Ter wille van u Naam, vergewe tog al my slegte dade. Hulle is so baie.
12God sal almal wat Hom dien se hand vat en hulle help om die regte keuses te maak.
13Dan sal hulle die goeie dinge van die lewe in oorvloed geniet.
Selfs hulle kinders sal daarin deel hê. Hulle sal in die land bly woon.
14Die Here maak sy planne net aan hulle bekend wat ontsag vir Hom het.
Hy maak sy hart wyd teenoor hulle oop. Hy wys hulle wat sy ooreenkoms met mense is.
15Ek is elke oomblik van die Here afhanklik. Ek kyk heeltyd na Hom op.
Hy keer dat swaarkry en probleme my onderkry.
Hy red my uit die moeilikheid.
16Ek is alleen. Ek vra u hulp, want ek het groot probleme. Ek draai na U toe.
Ek kry baie swaar.
Help my om nie meer vir my probleme bang te wees nie.
17Red my uit swaarkry. My probleme word al groter. 18Vergewe al my verkeerde dade. Kyk hoe swaar kry ek. Kyk hoe sleg gaan dit met my.
19Beskerm my teen almal wat my haat. Kyk hoe baie vyande het ek. En kyk hoe erg haat hulle my.
20Moet my nie in die steek laat nie. Beskerm my en red my. By U kom kruip ek weg.
21Sien dat ek onskuldig is, en dat ek U voluit wil dien.
Help my om voluit te lewe, want ek vestig al my hoop op U.
22God, red tog u kinders uit al die probleme wat hulle so bang maak.

Psalm 55

1Vir die musiekleier, met snaarbegeleiding. ’n Gedig wat mense wil help om gelukkig te lewe. Opgedra aan Dawid
2God, hoor my tog as ek bid!
Moenie u rug vir my keer as ek by U om hulp kom vra nie!
3Steek u hand uit en help my!
Alles is deurmekaar in my kop.
Ek weet nie wat om te doen nie.
Binne-in my woel dit heeltyd.
4Mense wat niks van my hou nie, los my nie uit nie. Slegte mense maak die wêreld vir my bitter moeilik. Hulle praat aanmekaar kwaad van my.
Hulle behandel my soos ’n vloerlap.
5Ek kan dit nie meer uithou nie.
Alles word net te veel vir my.
6Ek is bang om dood te gaan.
Ek bewe soos ’n riet van vrees.
7Ek het by myself gedink: As ek maar net kan wegvlug van hierdie probleem af. Ek sou op ’n ander plek gaan bly het.
8As ek vlerke soos ’n voël gehad het, het ek ver weggevlieg.
Ek sal so ver wegvlug dat niemand my kan kry nie.
9Op ’n eensame plek sal ek haastig gaan wegkruip.
Daar sal ek veilig wees teen al die mense wat niks van my hou nie.
10Slaan daardie mense wat my wil seermaak heeltemal uitmekaar, Here! Gee dat hulle mekaar nie sal verstaan nie.
Al wat hulle kan doen, is baklei.
11Hulle is ’n spul moeilikheidmakers. Wat hulle doen, is nie reg in u oë nie.
12Hulle lieg en bedrieg sonder ophou. Hulle steel dinge wat aan ander behoort.
13Die slegste van alles is dat dit nie my vyand is wat my so verneder het nie.
Anders kon ek dit nog verdra.
Dit was ook nie iemand wat niks van my hou nie. Anders kon ek uit sy pad probeer bly.
14Nee, dit is jy, my beste vriend! Ons ken mekaar baie goed.
Ek het jou met my lewe vertrou. 15Saam het ons groot geheime met mekaar gedeel.
Ons het saam kerk toe gegaan om saam met ander gelowiges die Here te dien.
16Maak hierdie slegte mense dood, Here!
Ek wens dat hulle sommer in ’n oogwink sal verdwyn. Hulle leef net om kwaad te doen.
Hulle is deur en deur sleg.
17Ek leef net uit God se hand. Tot Hom bid ek.
Die Here sal my uit hierdie probleem red.
18Enige tyd van die dag of nag kan ek met Hom praat. Ek kla en sug.
Ek sal vir die Here sê wat my pla. Ja, ek sal heeldag my hart vir Hom oopmaak.
Hy weet wat my ongelukkig maak.
Hy help my as ek sy hulp vra.
19Hy sal my red. Ek sal weer in vrede met alle mense kan lewe.
Daar is so baie mense wat die wêreld vir my moeilik maak.
20God sal help as ek Hom vra.
Hy sal daardie skurke straf vir alles wat hulle aan my gedoen het.
Hy regeer nog altyd.
Hy sal hulle straf omdat hulle nie omdraai en agter Hom aanloop en Hom dien nie.
21Daardie oneerlike mense is baie glad met die mond. Hulle praat mooi woordjies, maar hou nie by hulle beloftes nie.
22Hulle woorde klink so goed, maar maak baie seer. Hulle is op die oorlog uit. Hulle maak mense dood.
23Los jou bekommernisse in die Here se hand! Hy sal vir jou sorg!
Hy sal niemand wat Hom dien, ooit in die steek laat nie.
24Maar, God, U sal daardie skelms straf. U sal hulle vernietig.
Hulle is oneerlik. Hulle wil ander mense se lewe vernietig.
U sal hulle laat sterf terwyl hulle nog baie jonk is.
Ek sal net op U vertrou, Here!

Psalm 85

1Opgedra aan die musiekleier. ’n Begeleide lied van die Koraggroep
2U het u kinders baie lief, Here. U seën hulle land.
Daarom het U hulle slegte omstandighede weggevat.
Hulle lewe het weer nuut begin.
3Al die dinge wat hulle in die verlede verkeerd gedoen het, tel glad nie by U nie.
U het al hulle sondes vergewe asof hulle dit nooit gedoen het nie.
4U is nie meer kwaad nie. U gaan hulle nie straf nie.
5God, verander tog ons omstandighede. Kry ons weer jammer.
U is die Een wat ons vrymaak.
Moenie meer vir ons kwaad wees nie.
6U kan mos nie altyd vir ons kwaad bly en oor geslagte heen woedend wees nie.
7Help ons om weer nuut te begin lewe sodat u kinders vrolik en bly kan wees.
8Laat ons u groot liefde beleef. Bevry ons tog.
9Dit is ’n baie ernstige saak as God, die Here, praat.
Wat Hy sê, bring vrede vir die mense wat dit doen.
Maar daar is ’n voorwaarde:
hulle moet net nie weer verkeerde dinge aanvang nie.
10Die Here maak mense vry wat Hom dien.
Hy help hulle wat Hom aanbid, en gou ook. Hy red hulle.
Almal hier rondom ons sal dit sien.
11’n Paar dinge hoort bymekaar: troue liefde en gehoorsaamheid aan God kan nooit van mekaar losgemaak word nie.
Om dinge te doen soos die Here wil hê, en om sy vrede te ken hoort ook saam.
12Mense moet getrou wees.
Dan sorg die Here van sy kant af uit die hemel dat dinge reg loop.
13Dit is net soos met ’n goeie oes: die Here gee goeie reën op die vrugbare grond wat goed bewerk is.
Dan lewer die land ’n groot oes.
14Die goeie dinge wat die Here doen, loop voor Hom uit. Die reg wat Hy doen, is sy voetstappe.

Psalm 115

1Dit is nie ons mense wat eer moet kry nie, Here!
Ek wil dit herhaal: Nie ons nie, maar U alleen verdien eer.
U het u kinders baie lief. U laat hulle nooit in die steek nie.
2Ek kan dit nie verstaan nie.
Waarom spot mense wat ander gode dien met ons wanneer hulle sê:
“Waar is hulle God dan?”
3Ons God bly bo in die hemel. Hy doen alles wat Hy wil.
4Daardie mense dien dooie gode. Dit kan geld wees of ander goed wat kosbaar lyk.
Dit is alles dinge wat mense fabriseer.
Dit beteken net mooi niks.
5Dit lyk of hulle kan praat, maar hulle maak geen geluid nie.
Verder lyk dit of hulle kan sien, maar hulle is stokblind.
6Ook lyk dit of hulle kan hoor, maar hulle reageer op geen geluid nie.
Daar is ’n nagemaakte neus wat nie kan ruik nie.
7Hulle hande kan niks raak vat nie.
Met hulle voete kan hulle nie ’n tree loop nie.
Hulle is stom soos ’n klomp dooie klippe.
8Mense wat sulke dooie gode maak om te aanbid, is net so hopeloos soos hulle handewerk. Hulle glo eintlik aan niks en het niks om op te vertrou nie.
9Kinders van die Here, julle moet op Hom vertrou!
Hy help en beskerm sy kinders.
10Julle wat in die huis van God die Here dien en aanbid, vertrou op Hom!
Hy help en beskerm sy kinders.
11Julle wat die Here dien, vertrou op Hom! Hy help julle en Hy beskerm julle.
12Die Here dink aan ons: Hy gee vir ons goeie dinge.
13Hy laat dit goed gaan met sy kinders wat Hom dien.
Hy gee goeie dinge aan almal wat Hom dien en aanbid, klein en groot.
14Die Here sal vir julle ’n baie groot nageslag gee en julle baie maak.
15Hy wat alles in die wêreld gemaak het, sal julle baie gelukkig maak.
16Onthou net: Die Here bly in die hemelse wêreld.
Die mens se blyplek is op die aarde!
Daar is ’n groot verskil tussen Hom en mense.
17As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie.
Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie.
18Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou.
Kom prys die Here!

Psalm 145

’n Loflied wat aan Dawid opgedra is
1My God, ek sal U prys en u Naam altyd grootmaak. U regeer oor alles.
2Ek wil U elke dag prys. Ek wil nooit ophou om U vir alles dankie te sê nie.
3Die Here is groot. Hy verdien om baie geprys te word.
’n Mens kan nie regtig in woorde beskryf hoe groot Hy is nie.
4Ouers vertel vir hulle kinders wat U gedoen het. Hulle prys U daaroor.
5Hulle prys U wanneer hulle vir mekaar vertel van die groot dinge wat U alles gedoen het. U regeer.
6Ek wil vertel hoe belangrik U is. U heiligheid straal uit U uit.
7Ek sal nadink oor al die wonderlike dinge wat U gedoen het.
As hulle met verbasing praat oor hoe sterk U is, sal ek oor u grootheid praat.
8Mense sal dag en nag kan vertel van u goedheid.
U het in die verlede gewys hoe lief U mense het.
Mense sal van blydskap sing omdat U goeie dinge vir hulle doen.
9Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag.
Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed.
10Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het.
Alles wat U gemaak het, sal u lof besing, Here.
Hulle wat U dien, sal U prys.
11Hulle vertel hoe ’n magtige koning U is.
Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe sterk U is nie.
12Hulle wil hê mense moet weet hoe belangrik U is, hoe sterk en hoe groot.
13Alles waaroor U regeer, is vol glans en glorie.
U regeer van altyd af. U sal ook vir altyd regeer.
U heers oor almal op aarde.
14Die Here sorg vir almal wat seerkry. Hy tel elkeen op wat swaarkry.
15Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd.
16Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons.
U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde.
17Die Here tree altyd reg op. In alles wat Hy doen, kan jy op Hom staatmaak.
18Die Here is by elkeen wat Hom dien en aanbid.
Hy los niemand alleen wat Hom dien nie.
Hy doen alles wat sy getroue kinders van Hom vra.
19As hulle om hulp vra, doen Hy iets daaraan. Hy verlos hulle uit hulle nood.
20Die Here beskerm elkeen wat Hom liefhet,
maar almal wat Hom nie dien nie, sal Hy vernietig.
21Ek sal die Here prys. Mag alles wat lewe, Hom altyd loof, want Hy is die Here.
Daar is niemand soos Hy nie.

Spreuke 25

Hiskia praat
1Hiskia, ’n koning van Juda, het ook die volgende spreuke bymekaargemaak. Hy het dit spesiaal vir ons laat neerskryf.
2Die Here is baie groot. ’n Mens verstaan nie alles wat Hy doen nie. ’n Mens kan alles ondersoek en bestudeer. Baie dinge bly vir hom ’n geslote boek.
3Net so min as wat ons weet wat hoog bo in die hemelruim gebeur of wat in die dieptes van die aarde aangaan, net so min kan ons die gedagtes van regeerders peil.
4Voordat ’n ambagsman ’n mooi silwervoorwerp kan maak, moet alle onsuiwerheid eers weggebrand word. 5Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word.
6Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie. 7Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi.
8Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder.
9As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie. 10Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland.
11Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word.
12Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister.
13Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe.
14Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ’n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie.
15Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ’n saak oortuig. Met mooipraat kan jy baie teëstand afbreek.
16Eet net genoeg. Soetgoed is lekker, maar jy moet weet wanneer om op te hou. As jy jou ooreet, voel jy gou-gou naar.
17Moenie te veel by mense kuier nie. Hulle sal moeg word vir jou en later niks meer van jou hou nie.
18Liegstories en skinderpraatjies is soos ’n hamer, ’n mes en ’n skerp pyl wat iemand se lewe verwoes.
19Iemand wat onbetroubaar is, is soos ’n vrot tand en ’n seer voet. Wanneer jy hom die nodigste het, laat hy jou in die steek.
20’n Wyse het mensekennis. Hy sal nie vrolik wees by mense wat hartseer is nie. Dit pas tog nie. Dit is soos om jou warm klere op ’n bitter koue dag uit te trek, of soos om die verkeerde salf op ’n wond te smeer.
21As jou vyand honger is, gee hom kos. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Dit sal hom sagmaak. 22Hy sal jammer wees oor alles wat hy aan jou gedoen het. En die Here sal ook lief wees vir jou.
23Soos die wind reën bring, so maak skinderpraatjies ’n mens woedend.
24Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis saam met ’n rusiemaker wat heeltyd neul en kerm.
25Soos koue water vir ’n groot dors, so is goeie nuus van ’n geliefde wat ver bly.
26As drinkwater vuil word en damme besoedel word, is dit sleg. So is dit ook as ’n gelowige die pad byster raak en verkeerde dinge begin doen.
27Te veel soetigheid is sleg. So ook oordadige eerbetoon.
28Iemand sonder enige selfbeheersing is net so weerloos soos ’n groot stad sonder polisie of veiligheidswagte. Totale wanorde kan uitbreek.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!