"Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring." J4319
Na die eerste paar maande wat ek begin tuisskool gee, het die teenkanting natuurlik begin kom. Hoe dan nou anders, reg?
Dadelik het die dieselfde man (die kinders se pa) wie se idee dit was om te tuisskool vir my begin vra of die kinders regtig genoeg sosialiseer, of hulle nie uitmis omdat hulle nie by die skool is.
En natuurlik toe begin ek twyfel of dit die regte ding was om te doen en ek vra toe my Hemelse Man twee dinge. Eerstens om my te wys hoe die kinders bietje meer sosiaal kan verkeer en tweedens, doen ons die regte ding? Sal Hy vir my bevestig.
Vandag gaan ek vir julle vertel van die eerste bevestiging wat ek gekry het oor my seun. Eers moet ek julle so bietjie agtergrond oor hom gee.
My seun is baie stil en teruggetrokke. Hy meng nie met 'n groot groep mense nie, hy is meeste van die tyd op sy eie. Ek het 2 boeties en twee sussies en ons het almal kinders so as ons saam kom, dan is dit 'n groot groep met ons, die kinders en nou ook 'n paar kleinkinders (wat 'n lieflike seën).
Hy was vir 'n tyd lank op aandring van sy pa by 'n psigiater en hy (die psigiater) het vir my gesê dat my seun op die spektrum vir autisme is. Die woord word vandag so maklik rondgegooi dat ek besluit het om my nie daaraan te steur nie. Gestel dit wat hy gesê het is waar, dan weet ek my seun se Hemelse Vader het hom so gemaak vir 'n rede. Hy wil hom gebruik vir iets spesifieks. Is dit nie lekker om te weet jou kind is gemaak vir 'n doel nie? Ek weet my dierbare seun het 'n roeping op sy lewe soos elkeen van ons kinders en vir hom om daai roeping te vervul, is hy geskape presies soos hy is, want die Here will dit gebruik to uitbreiding van die koningkryk.
Nou dat jy dit weet, kom ek vertel toe vir julle wat gebeur met ons volgende byeenkoms van ons groot familie. Gewoonlik onttrek my seun en gaan sit in die sitkamer en kyk televisie, want daar is te veel mense en geraas om hom. Nie die keer nie. Skielik is hy deel van die groep, hy skakel in by die gesprekke. Hy gesels met my sussies, maak selfs met hulle 'n grappie of twee. My mond het oopgehang van verbasing. Nog meer as net dit, my sussies kon dit nie glo nie. Hulle sê dit is soos 'n ander kind, hy het hand omkeer verander. Hulle kon nie uitgepraat raak oor hoe baie hy verander het nie.
Natuurlik het sy pa en stiefma ook die verskil gesien, maar hulle skryf dit toe aan ander dinge, maar ek weet dat dit net my Hemelse Man was my gewys het ons is op die regte pad.
Volgende keer vertel ek julle hoe Hy vir my bevestig het ons doen die regte ding, deur iets wat my dogter gevra het.
Dankie dat jy hierdie pragtige getuienis met ons deel kosbare Yvonne. Ek geniet dit so om jou getuienisse te lees, dis asof jy voor my sit en vertel.
Dankie Janine. Dit is lekker om my getuienis te deel. Ek het heeltemal te lank gewag om dit so mooi in volgorde te skryf.
Dankie Yvonne, my eerste twee tuisskool termyne was vol twyfel en aanvalle. Die meeste daarvan het van my familie gekom, net om te verduidelik, amper almal in my familie is onderwysers, my tannie, altwee my ooms, my niggie en my nefie is almal in onderwys. So natuurlik het hul baie te se gehad, en ek verstaan hulle gee om en is bekommerd oor die kinders. Maar in sulke tye herinner ek myself daaraan dat my HM tuisskool ‘n werklikheid gemaak het vir ‘n rede, en dat Hy ‘n plan het vir ons kinders.
Natuurlik is ek ook bekommerd dat my kinders nie genoeg sosialiseer nie, hul speel wel tennis, maar dis net hulle twee in die lesse, nou en dan speel hul saam die ander kinders, MAAR dis iets wat ek my HM voor vertrou, en ek is weet op die regte tyd, SAL Hy ‘n pad oopmaak. Op die stadium glo ek Hy is eers besig om my dogter te genees van jare se boelie op skool wat haar baie seergemaak het.
Dankie dat jy dit met ons deel kosbare Adina en ja ons kosbare Here het dit beslis ‘n werklikheid vir jou gemaak vir ‘n rede en Hy het die heel beste plan met ons kinders.
En ek vertrou saam met jou dat die Here ‘n weg gaan maak en dat jy met nog ‘n getuienis gaan kom.
Vir my was die sosialiseer ook ‘n probleem. Dit is nie meer nie en ietsie het nou in my gedagtes opgekom wat ek met jou wil deel. Vir die eerste ruk het my kinders nie baie sosiaal gewees nie en dit het ‘n tydjie gevat voor my Man vir hulle die geleentheid gegee het om by groepies aan te sluit en nou is hulle baie betrokke oral. Toe ek nou wonder hoekom dit so tydjie gevat het, toe kom dit by my op, ek en die kinders moes eers ons roetiene vestig en ons moes eers wil ek amper sê daai band bou en toe dit gedoen is, toe kon my kinders na buite begin kyk vir hulle sosialisering. Daai tyd wat ek en die kinders net ons was, was ‘n belangrike tyd wat ons verhouding baie heg geword het.
Dankie dat jy dit met ons deel kosbare Yvonne, is dit nie wonderlik hoe ons kosbare Here die beste weet nie en dit vir Hom belangrik was dat jou en jou kinders se band gebou word en ons kosbare Here het presies geweet in watter tyd dit sou gebeur.