Hy kyk so mooi na my

"Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie. Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie." P34:10-11

Ek wil graag hierdie kort lofprysing deel wat vir my baie beteken. Hierdie maand het my finansies nie heeltemal uitgewerk soos ek dit verwag het nie, en ek het 'n bietjie tekort gekom vir sekere dinge wat ek moes doen. Ek moet bieg, ek was ‘n bietjie angstig, maar ek het van Vrydagaand af elke keer wanneer my gedagtes my oorweldig het, na God uitgeroep oor my finansiële situasie. Ek is dankbaar dat God my die krag gegee het om dit by Sy voete te los en elke keer wanneer ek oor alles begin dink, dit net weer aan Hom oor te gee.

My dogtertjie, wat 2 jaar oud is, slaap elke dag een keer in die middag. Vanmiddag het ek besluit om saam met haar te slaap. Toe ons wakker word, en ek my foon opneem, sien ek ‘n sms wat meld dat geld in my rekening oorbetaal is – net genoeg vir dit wat ek nodig gehad het, plus R200 meer.

Vandag wil ek net weer die Here loof en prys vir die wonderlike manier waarop Hy na my kyk en al my behoeftes voorsien. God is so goed, en ek is so dankbaar vir alles wat Hy in my lewe doen.

"En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen." F4:19-20

 

5 thoughts on “Hy kyk so mooi na my”

  1. Mila, dit is so pragtige lofprysing. Hahaha, laat dit jou nie dink aan die vers:
    “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.”
    Kyk hoe mooi gee die Here vir jou terwyl jy slaap. 💖

    1. Wow, Yvonne, baie dankie dat jy hierdie vers gedeel het! Dit het my hart sommer warm laat klop, want WOW – dit is presies wat God belowe het, en ek het dit self ervaar. Ons dien regtig ‘n ongelooflike God! Ek sê so baie “wow” omdat ek net weereens verstom staan oor hoe Hy werk. 🤍

  2. Dankie vir hierdie pragtige getuienis kosbare Mila. Ons kosbare Geliefde Here gee toe sommer meer, is dit nie net Wie Hy is nie!!! Dis so spesiaal! En ja Yvonne, wat ‘n pragtige vers, want Hy gaan toe en wys dat daardie belofte die waarheid is, wow.

  3. Lieve Mila, bedank vir hierdie mooi lofprys. Ek het my die afgelope maand ook besorg oor my finansies, daar was baie kostes. Gisteren het my broer gekom met sy gesin onverwags langs, ek het my gesorg omdat ek nie genoeg geld gehad het om ‘n lekker ete klaar te maak vir hulle nie. Ek het vinnig wat geld van my spaarreking oorgemaak sodat ek seker geweet het dat ek nie tekort gekom het nie en ek ook nie hoef te vertel dat ek nie kan betaal nie. Ek moet weet dat ek nie ten volle op my Hemelse Man vertroude op hierdie manier, maar Hy is so goed Hy sorg daarvoor dat my broer alles betaalde.
    Ek is dankbaar dat ek hierdie maand finansieel kry, ek leer op hierdie manier nog meer om Hom te vertrou!

  4. Liefste Mila, dankie vir jou lofverslag. Dit herinner my so baie aan die begin van my herstel reis toe ek niks gehad het nie. Ek het die begeerte gehad om my tiendes te begin gee, maar ek het geen inkomste gehad nie, toe lei my Geliefde my om uit die bietjie kosgeld wat my voormalige man gegee het my tiendes te begin gee. Dit was vir my so groot geloofstap want ek het net “tekort” gesien. Maar dit was die beste ding wat ek ooit kon doen, want sederdien het ek en my kinders nog altyd kos op die tafel gehad en klere om aan te trek, al was my bankrekening leeg.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui