God is getrou en Hy gee ‘n uitkoms

"Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan." 1K10:13

Vandag wil ek net my hart vol dankbaarheid uitstort oor die goedheid van God. Hierdie week het ek myself in ‘n situasie bevind waar ek nie geweet het watter kant toe nie. Ek moes ‘n besluit neem, en dit het gevoel asof daar druk van elke kant af kom — ongeag watter keuse ek maak, iemand sou dalk seergemaak word. Die las het swaar gevoel, en ek het gewonder of ek sal kan staande bly.

Maar toe bring die Here my weer terug na 1 Korintiërs 10:13. Hy herinner my daaraan dat geen versoeking, geen moeilike keuse, te groot is vir my om te dra nie. God is getrou! Hy weet wat ek kan hanteer en Hy belowe om altyd die uitkoms te gee. Ek besef nou dat selfs toe ek gevoel het ek word aangeval en oorval deur versoekings, Hy my hand vasgehou het. Hy het my krag gegee toe ek swak gevoel het.

Ek loof Hom, want Hy los my nooit alleen nie. Elke keer wanneer ek dink ek het niks oor nie, verras Hy my weer en seën my op maniere wat ek nie verwag nie. Hierdie week het ek vroeër al besef dat Hy my meer gee as wat ek nodig het, en kort daarna kom Hy en voorsien weer — hierdie keer deur my eie pa! Hoe groot is ons God nie?

Ek wil vandag elke vrou aanmoedig wat dalk ook onder druk voel, wat versoek word, of voel asof sy nie weet watter pad om te kies nie: God sien jou. Hy ken jou hart, Hy weet jou grense, en Hy sal nie toelaat dat jy oorval word nie. Hy sal die uitkoms gee. Hou vas aan Hom, Hy is getrou!

Ek is dankbaar vir God se seëninge, vir Sy uitkoms, vir Sy liefde en genade wat nooit ophou nie. Ek kies om Sy Naam groot te maak, selfs in die moeilikheid, want ek weet Hy is altyd in beheer!

Ek hoop hierdie vers kan dalk iemand bemoedig of iemand herinner — net soos God my ook herinner het — dat geen versoeking groter as ons kragte oor ons pad sal kom nie.

2 thoughts on “God is getrou en Hy gee ‘n uitkoms”

  1. Dankie kosbare Mila, ek het nodig gehad om dit te lees en herinner te word dat ons kosbare Geliefde Here vir my uitkoms sal gee en dat Hy my nooit ooit alleen sal los nie. Ons kosbare Geliefde Here is beslis in beheer!

  2. Mila dankie!! om dit te lees, het my vrede gebring net om te weet dat ons op Hom kan staatmaak met die wete dat Hy namens ons sal werk en dat Hy altyd in ons behoeftes voorsien, almal.
    ‘En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in •Christus Jesus. ‘ Filippense 4:19
    https://www.bible.com/af/bible/3499/PHP.4.19

    Mila gracias!! leer esto me trajo paz el solo saber que podemos depender en El sabiendo que EL obrará a nuestro favor y que EL provee siempre para nuestras necesidades, todas ellas.
    “Y este mismo Dios quien me cuida suplirá todo lo que necesiten,” fil 4:19 https://www.biblegateway.com/passage/?search=fil%20%204%3A19&version=NTV

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui