Ek Was So Verkeerd…

"Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. Sela" P32:5 

So paar weke gelede het my seun vir my gesê dat hy beplan om sy meisie te vra om te trou terwyl hulle by die see is. Ek het ongelooflik uitgesluit gevoel omdat haar ouers saam daar sou wees (en ek moet erken ek was so verkeerd en selfsugtig).

Dieselfde aand het ek vir die Here gesê dat ek asseblief nie so wil voel nie (want ek moes erken dat ek jaloers gevoel het dat haar ouers deel van dit sou wees en nie ek nie). Ek wou nie so voel nie en het die Here gevra om asseblief my hart te verander.

"En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra."

En dis presies wat gebeur het, die Here het my hart verander en ek het besef ek was baie selfsugtig. En ewe skielik het ek 'n ongelooflike liefde vir my seun se meisie gevoel en gevoel sy is die perfekte vrou vir my seun (iets waaraan ek getwyfel het, oor my hart nie reg was nie). So dit was al die tyd die antwoord: ek moes bid dat die Here my hart verander!

My seun het my met die reëlings betrek en toe Hy aan haar verloof geraak het, het hy my dadelik daarna gebel om die goeie nuus te deel. Maar die beste van alles is, ek het ongelooflik dankbaar en bly vir hulle gevoel (alles die werk van ons kosbare Liefling Here). Toe hulle terug ry het sy verloofde vir my 'n boodskap gestuur dat sy baie dankbaar is dat sy nou nog 'n ma bykry, hoe kosbaar!

Vandag moet ek ook erken, hoeveel keer het ek net nie gebid dat die Here my eggenoot of ander asseblief moet verander nie, in plaas van om eerder te bid dat die Here my verander...

"In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak." P31:6

2 thoughts on “Ek Was So Verkeerd…”

  1. Liefste Janine, ek moet ook erken dat ek jaloers en ook bitter gevoel het toe my kinders tyd saam met die ander vrou begin spandeer het, saam met hulle op vakansie gegaan het en veral toe ek primere toesig oor my kinders verloor het. Dit het my gepla dat sy vir hulle so kos inpak skool toe, hulle sou rondry, alles goed wat ek altyd gedoen het. Ek moes regtig na my Geliefde to hardloop en belei omdat ek geweet het dit het uit ‘n plek van jaloesie, bitterheid en selfsug gekom het. My Geliefde het regtig my hart begin verander en my vrede gegee oor die situasie, uit my eie sou ek dit nooit kon doen nie, en ek het dit voor Hom belei, en Hy het my hart begin verander.

    1. Dankie dat jy dit met ons deel kosbare Adina, ek stem heeltemal saam met jou, ek kon dit ook nie op my eie doen nie, dis net deur ons kosbare Liefling Here se genade, bystand en liefde dat Hy ons daarmee help.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui