Vandag wil ek ongelooflik baie dankie sê vir die Here, vir elke de laaste vrou wat die Here na Uiteindelik Hoop toe stuur. Dankie my Wonderlike Hemelse Man, dat ons saam mekaar se hande omhoog kan hou en nader en nader aan U beweeg.
Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe ‘n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. E17:12
My hart loop oor van dankbaarheid van wat U besig is om te doen. Dankie vir U groot plan met elkeen van ons.
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! J29:11
Dankie dat ons hoop in U kan wees en dat U ‘n waarmaker van U woord is.
Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. 2K1:20