Ek deel 'n voorsmakie van die kosbare Yvonne vd Hoff se Herstel Reis, as jy dit eers begin lees, gaan jy dit in elk geval nie neer kan sit nie:
Hoofstuk 1
“Volslae Verwoesting”
Dis ’n tipiese somersoggend hier in Suid-Afrika. Miskien 'n bietjie warm, maar nie te veel nie. Ek is nog besig om in die huis rond te werk toe ek skielik die bekende getoeter van Ian se kar hoor. Selfs na al die jare laat dit my nog steeds skrik as ek dit hoor en my hart spring tot in my keel.
Vanoggend is so bietjie anders as al die ander kere, want gewoonlik het ek ‘n glimlag op my gesig en ek voel sommer vernuwe, maar die laaste paar dae was ek so emosioneel uitgeput, dat ek nie vernuwe of vriendelik voel nie, inteendeel ek voel nie eens ek kan dit “fake” nie. Ek het nog my skoonmaakklere aangehad, ‘n ou uitgerekte en jik-bevlekte donkerblou bloes met ‘n vreemde wit patroon op. Gewoonlik voor Ian, my eks, ons kinders huistoe bring, maak ek seker dat ek op my beste lyk sodat hy kan sien ek het aanbeweeg met my lewe. Vandag moet hy maar vat wat hy kry. Wat maak dit in elk geval saak?