Ek Wil Beter Wees En Nie Bitter Nie

"Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se genade verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ’n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie." H12:15

Toe ek hierdie gedeelte oorvertaal en aangehaal uit Lewensles Week 77 "Bitter of Beter" lees...

Twee mense kan deur dieselfde ding gaan of dieselfde situasie in die gesig staar, 'n baie ongelukkige situasie, en dikwels iets wat verskriklik onregverdig is. Tog sal die een bitter uit die ervaring kom, terwyl die ander een beter sal word, 'n beter mens.

...Moes ek erken dat baie van die ongelukkige situasies waardeur ek is, my bitter gemaak het en ek het vir lang met daardie bitterheid rondgeloop. Dit was op ons Wyse Vrou Toevlug in 2023 wat die Here my laat besef het dat ek met bitterheid loop oor onvergifnis en glo my dit was 'n taamlike swaar las. Ek het voor die Kaapse water gaan sit en my Liefste Lief gevra om my te help om te vergewe en presies vir Hom vertel hoe ek voel en net daar het Hy my gehelp om te vergewe.

Kosbare vrou ek gaan nie nou vir jou sê dat ek dit perfek regkry nie, maar wanneer ek voel asof ek weer bitter word in plaas van beter, is Hy my hulp en is Hy die Enigste Een wat die bitter beter kan maak. So ek wil jou aanmoedig as jy enige bitterheid voel, om dit vir ons kosbare Here te gee om beter te maak.

Lees hoe pragtig stel Die Boodskap Bybel hierdie vers en kom ons onthou om mekaar in liefde te help:

"Help mekaar sodat nie een van julle dalk al die goeie dinge misloop wat God so vrylik vir ons gee nie. As daar iets onder julle gebeur wat mense ongelukkig en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word. As dit nie gedoen word nie, word dit soos ’n giftige plant wat uiteindelik baie mense seermaak." H12:15J(DB)

4 thoughts on “Ek Wil Beter Wees En Nie Bitter Nie”

  1. In die begin van my reis saam met Hom het ek ook moes ontslae raak van baie dinge wat my bitter laat voel het. Nie net in my huwelik nie, maar ook toe ek grootgeword het. Nou dat ek en Hy so naby aan mekaar is, kan ek nie sê dat ek glad nie meer kwaad of bitter voel nie, ek doen, maar baie vinnig wys Hy dit vir my uit en ek kan dit oorgee vir Hom. Ek is nie seker of ek in die lewe ooit sal kan sê dat nooit weer bitter gaan voel nie, maar ek rus baie sag in Sy genade elke dag.

    1. Ek stem saam met jou kosbare Yvonne, ek kan glad nie sê dat bitter en kwaad voel nie nog opduik nie, maar ja dan oortuig Hy ons dit is verkeerd en is dit nie wonderlik hoe ons dit vir Hom kan gee om beter te maak nie.

  2. Ek het ook baie bitternis in my rondgedra oor so dinge wat van van my kinderjare gebeur het tot die verbrokkeling van my huwelik. Maar net deur my Geliefde Here se genade, en met Sy hulp, kon ek vergewe en ontslae raak van soveel bitterheid. Nee ek is nog nie perfek nie, maar as ‘n wrokkige gedagte by my opkom kan ek dit dadelik vir my Geliefde gee en vra om my te help om weer en weer te vergewe.

    1. Dankie dat jy dit met ons deel kosbare Adina, is dit nie wonderlik dat wanneer ‘n wrokkige gedagte by ons opkom, want ons is nie imuun daarteen nie, kan ons dit dadelik vir ons Liefling Here gee.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui