1983 Vertaling
Psalm 14
God is aan die kant van die regverdiges
(Vgl. Ps. 53)
1Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles;
wat hulle doen, is 'n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie.
2Van die hemel af kyk die Here die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
4Julle almal wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet
en wat weier om die Here te dien –
weet julle dan nie
5dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur nie?
Omdat God aan die kant van die regverdiges is,
6sal daar niks kom van julle planne teen die hulpelose nie:
die Here bly sy toevlug.
7Ag, mag daar tog uit Sion vir Israel redding kom!
Wanneer die Here die lot van sy volk verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.
Psalm 44
Kom ons tog te hulp
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Gedig.
2Met ons eie ore het ons gehoor, o God,
ons vaders het ons dit vertel,
dat U in die ou dae,
in die gryse verlede, 'n groot daad gedoen het.
3U het nasies met u eie hand verdryf,
maar u volk 'n vaste woonplek gegee.
U het nasies se mag verbreek
om aan u volk vryheid te gee.
4Dit is nie met die swaard
dat u volk die land in besit geneem het nie,
nie deur hulle eie mag
dat hulle die oorwinning behaal het nie,
maar deur u krag, u mag en u teenwoordigheid,
omdat U hulle liefgehad het.
5U is my koning, o God;
gee tog aan Jakob se nageslag die oorwinning.
6Met u hulp sal ons ons teëstanders verslaan,
in u Naam sal ons dié oorwin wat teen ons opstaan.
7Op my boog vertrou ek nie
en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie,
8want dit is U wat ons die oorwinning oor ons teëstanders gegee het
en ons vyande die aftog laat blaas het.
9Ons het God die hele dag deur geprys
en sy Naam altyddeur geloof.Sela
10Tog het U ons nou verstoot en ons in die skande laat kom.
U trek nie meer saam met ons leërs uit nie.
11U laat ons vlug voor ons teëstanders;
ons vyande plunder na hartelus;
12U lewer ons uit: ons is soos slagskape.
U verstrooi ons onder die nasies;
13U gee u volk sommerso weg, vir niks;
daar steek geen voordeel vir U in nie.
14U stel ons bloot aan die veragting van ons bure,
aan die spot en beskimping van almal rondom ons.
15U maak ons tot 'n bespotting onder die nasies,
'n minagting onder die mense.
16Ek gaan dag vir dag gebuk onder die skande,
en die smaad is op my gesig te lees,
17want ek hoor net die spottaal van die vyand
en die godslastering van dié wat op wraak uit is.
18Al hierdie dinge het oor ons gekom,
hoewel ons U nie vergeet het nie
en aan u verbond nie ontrou was nie.
19Ons het nie afvallig geword nie
en van u pad nie afgewyk nie.
20Tog het U ons verwoes;
ons land het 'n puinhoop geword;
U het die donker oor ons laat toesak.
21As ons die Naam van ons God nie aangeroep het nie
en 'n vreemde god om hulp gevra het,
22sou God dit dan nie kon vasstel nie?
Hy ken immers die geheime van die hart.
23Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref,
dat ons soos slagskape behandel word.
24Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here?
Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie!
25Waarom draai U u rug vir ons?
Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?
26Ons is tot in die stof verneder,
ons is teen die grond.
27Kom ons tog te hulp
en bevry ons, dat so u troue liefde blyk.
Psalm 74
Dink tog aan u verbond
1'n Gedig van Asaf.
Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot?
Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?
2Dink tog aan u gemeente
wat U lank gelede u eiendom gemaak het,
die volk wat U vir Uself as besitting verkry het,
Sionsberg waarop U gewoon het!
3Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê,
die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het.
4Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink,
en hulle het hulle vaandel daar opgerig.
5Dit het gelyk soos wanneer iemand met 'n byl bosse skoonkap.
6Hulle het al die houtsneewerk
met byl en koevoet stukkend geslaan.
7Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek,
die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek.
8Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.”
En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek.
9U openbaar U nie meer aan ons nie,
daar is geen profeet meer nie,
niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie.
10Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder?
Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster?
11Waarom help U ons nie?
Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie?
12God is van altyd af my koning,
dit is Hy wat op die aarde redding bring.
13Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het,
U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het.
14U wat die koppe van die Leviatan verpletter het
en hom vir die haaie gegee het,
15U wat fontein en stroom laat uitbreek het,
U wat standhoudende riviere laat opdroog het.
16Dit is U aan wie dag en nag behoort,
U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
17U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het;
somer en winter is die werk van u hand.
18Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here,
'n barbaarse volk belaster u Naam.
19Moet tog nie dié wat deur U onderrig is,
aan hierdie ondiere uitlewer nie,
moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie!
20Dink tog aan u verbond,
want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking.
21Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie,
red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys.
22Kom tog, o God! Laat geld tog u reg.
Dink tog daaraan hoe u eer
dag vir dag deur barbare geskend word.
23Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie:
die geskreeu van u teëstanders,
die aanhoudende rumoer van u vyande.
Psalm 104
Ek wil my in die Here verbly
1Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met 'n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan
3en vir U 'n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
6Die groot waters het die aarde soos 'n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug,
voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.
8Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U vir hulle bestem het.
9U het 'n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
10U laat fonteine in die valleie ontspring
en tussen die berge deur stroom.
11Daar kom al die wilde diere drink
en die wildedonkies hulle dors les.
12Die voëls maak hulle neste langs die water
en kwetter tussen die takke.
13Uit die hemel laat U dit op die berge reën,
die aarde word versadig deur die reën wat U gee.
14U laat gras uitspruit vir die diere,
en groen plante vir die mens
sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15wyn om mense se harte bly te maak,
olie om die gesig te versorg,
kos om die mens nuwe krag te gee.
16Die bome van die Here kry volop reën,
die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,
17waar die voëls hulle neste maak,
en die reier sy huis in die boomtoppe bou.
18Die hoë berge is 'n tuiste vir die klipbokke,
die rotse is 'n skuilplek vir die dassies.
19U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,
die son weet wanneer om onder te gaan.
20As U die donker bring en dit nag word,
roer al die diere in die bos.
21Die leeus brul op soek na prooi:
hulle vra hulle kos van God.
22As die son opkom, sluip hulle weg
en gaan lê in hulle skuilplekke.
23Dan gaan die mens na sy werk toe,
en hy werk tot die aand.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35Mag die sondaars van die aarde af verdwyn,
mag die goddeloses ophou om te bestaan!
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!
Psalm 134
Kom, prys die Here!
1'n Pelgrimslied.
Kom, prys die Here,
julle almal wat Hom dien,
julle wat in die nag in die tempel van die Here staan!
2Hef julle hande in gebed op na die heiligdom
en prys die Here!
3Mag die Here jou seën uit Sion,
Hy wat hemel en aarde gemaak het.
Spreuke 14
1'n Wyse vrou sorg vir haar huis;
'n vrou sonder wysheid breek alles af.
2Wie opreg lewe, dien die Here;
wie krom paaie loop, het nie eerbied vir die Here nie.
3Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf;
die woorde van wyse mense beskerm hulle.
4As daar nie osse is nie, is die voerkrip leeg;
met net een goeie os bring jy 'n groot oes in.
5'n Betroubare getuie lieg nie;
'n vals getuie vertel een leuen na die ander.
6Al soek 'n ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie;
'n verstandige mens doen maklik kennis op.
7Vermy 'n dwase mens;
jy sal nie by hom leer om verstandig te praat nie.
8Die wysheid van 'n verstandige mens wys vir hom 'n duidelike koers aan;
die dwaasheid van 'n dwase mens maak alles vals.
9Die skuldoffer wat deur dwase gebring word, maak hulle bespotlik;
mense wat opreg lewe, geniet die guns van God.
10Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed,
en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.
11Die goddelose en sy nageslag sterf uit;
die opregtes het 'n groot nageslag.
12Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,
maar die uiteinde daarvan is die dood.
13'n Mens kan lag terwyl hy treur,
die uiteinde van vreugde kan kommer wees.
14'n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon;
'n goeie mens ontvang meer as sy beloning.
15Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word;
'n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.
16Wie wysheid het, is versigtig en vermy die kwaad;
wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd.
17Wie kort van draad is, begaan dwaashede;
'n agterbakse mens maak hom gehaat.
18Mense wat ervaring kortkom, sit met hulle eie dwaasheid;
verstandige mense word met kennis bekroon.
19Slegte mense moet voor goeies buig,
goddeloses moet buig wanneer 'n regverdige by sy huis uitkom.
20'n Arm mens word selfs deur sy buurman verstoot;
'n ryk man het baie vriende.
21Wie sy naaste verag, doen sonde;
wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed.
22Wie altyd op kwaad uit is, is op die verkeerde pad;
wie goed doen, geniet liefde en trou.
23Harde werk bring beloning;
om net te praat, bring gebrek.
24Wyse mense word bekroon met rykdom;
die dwaasheid van dwase mense lei na meer dwaasheid.
25'n Betroubare getuie red lewens;
die een wat leuens kwytraak, maak alles vals.
26Wie die Here dien, het daarin 'n veilige toevlug,
en ook sy kinders vind daar skuiling.
27Wie die Here dien, vind daarin 'n bron van lewe;
dit laat jou die strikke van die dood ontkom.
28'n Koning met baie onderdane is hoog in aansien;
een met min onderdane gaan te gronde.
29'n Geduldige mens is baie verstandig;
een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon.
30'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond;
hartstog vreet 'n mens op.
31Wie 'n arm mens verdruk, beledig sy Maker;
wie hom oor 'n arm mens ontferm, eer God.
32Die goddelose kom tot 'n val deur sy boosheid;
die regverdige het 'n toevlug, ook in sy dood.
33In 'n verstandige gemoed pas die wysheid goed in;
by dwaasheid is dit nie tuis nie.
34Gehoorsaamheid aan die Here laat 'n volk sterk staan;
sonde bring skande oor 'n volk.
35'n Verstandige amptenaar geniet die guns van die koning;
een wat skande maak, maak hom kwaad.
☊ Nuwe Lewende Vertaling
Almal het afgedwaal
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
Net dwase sê vir hulleself:
“Daar is geen God nie.”
Hulle is korrup
en hulle dade is boos.
Niemand doen die goeie nie!
2Die Here kyk neer
vanuit die hemel
op die hele mensegeslag
om te sien
of daar één verstandige is,
één wat vir God soek.
3Maar nee!
Almal het afgedwaal,
almal het versleg.
Niemand doen
wat goed is nie,
nie eens een nie!
4Sal boosdoeners
dan nooit leer nie?
Hulle eet my volk soos brood;
hulle dink nie daaraan
om die Here te dien nie.
5Angs pak hulle beet,
want God is met hulle
wat Hom gehoorsaam.
6Die planne teen die hulpeloses
sal verydel word,
want die Here
sal sy volk beskerm.
7Mag daar vir Israel
redding kom uit Sion!
Wanneer die Here
sy volk herstel,
sal Jakob juig,
sal Israel bly wees.
Here, moenie ons verstoot
nie
1Vir die koorleier: Van die Koragiete.
’n Gedig.
2Met ons eie ore het ons gehoor,
o God,
ons voorouers het ons vertel
van alles wat U voorheen
gedoen het
in die dae lank gelede.
3U self
het die heidense nasies
uitgedryf deur u mag
en die land
aan ons voorouers gegee.
U het hulle vyande vernietig,
en ons voorouers vrygemaak.
4Hulle het nie die land
met hulle swaarde verower,
of die oorwinning
deur eie krag behaal nie.
Dit was deur u krag,
deur u teenwoordigheid
en u goedheid,
omdat U hulle liefhet.
5U is my Koning en my God.
U bepaal oorwinnings
vir Jakob.
6Ons kan deur u krag
ons vyande verslaan
en ons aanvallers
in u Naam vertrap.
7Ek steun nie op my boog
of op my swaard
om my te red nie.
8Want U gee die oorwinning
oor ons vyande;
U bring vernedering
oor dié wat ons haat.
9O God, ons prys U die hele dag
en loof u Naam voortdurend.
Sela
10Maar nou het U
ons weggestoot in skande.
U trek nie saam met ons leërs
na die geveg toe nie.
11U laat ons vlug
voor ons vyande;
dié wat ons haat,
plunder na hartelus.
12U lewer ons uit
soos slagskape;
U het ons
onder die nasies verstrooi.
13U volk het U verkoop vir niks
en self het U nie
daarby gebaat nie.
14U het ons ’n veragting gemaak
by die bure,
’n bespotting en beskimping
vir almal om ons.
15U het ons ’n spotnaam
onder die nasies gemaak,
almal skud maar net die kop
daaroor.
16My skande is dag na dag
voor my;
oor my gesig
is skaamte geskryf.
17Al wat ek hoor,
is die lasteraar
en die kwaadspreker.
Al wat ek sien,
is die vyand en die wreker.
18Dit het gebeur
hoewel ons U
nie vergeet het nie,
en nie aan u verbond
ontrou was nie.
19Ons het U nie verlaat nie,
en nie van u paaie
afgedwaal nie.
20Maar in die woestyn
het U ons verpletter;
donkerte en dood
het U oor ons gebring.
21As ons opgehou het
om ons God te dien
of by vreemde gode
hulp gaan vra het,
22sou God dit nie weet nie?
Hy ken immers
die geheime van die hart.
23Om u ontwil
word ons elke dag doodgemaak,
word ons behandel
soos skape wat geslag moet word.
24Word wakker!
Waarom slaap U, Here?
Staan op!
Moenie ons
vir altyd verstoot nie!
25Hoekom kyk U anderpad?
Hoekom kyk U verby
ons ellende en verdrukking?
26Ons lê verneder in die stof,
met die gesig in die grond.
27Staan op! Kom en help ons!
Red ons
ter wille van u troue liefde.
Hoe lank sal die vyand
spot?
1’n Gedig van Asaf.
Waarom, o God,
verstoot U ons so lank?
Waarom is U so kwaad
vir hulle wat aan U behoort?
2Dink tog aan u gemeente
wat U lank gelede gekies het,
die volk gekoop as u eie erfenis,
Sionsberg,
waar U gewoon het.
3Kom loop tog gou tussen die puin
van lank gelede,
die puin van u heiligdom
wat die vyand verwoes het.
4Daar het die oorwinningskrete
van u vyand weerklink,
hulle vyand het gevegsbaniere
opgerig.
5Dit was asof mense,
met byle omhoog,
bome afkap in ’n digte bos.
6Al die houtsneewerk het hulle
nou met byle en koevoete
verpletter.
7Hulle het u heiligdom verbrand,
die woonplek van u Naam
tot op die grond ontheilig.
8Hulle sê vir mekaar:
“Laat ons alles vernietig!”
Toe verbrand hulle
elke plek in die land
waar God vereer is.
9Ons sien nie wondertekens nie;
daar is geen profeet meer nie;
en niemand by ons weet
vir hoe lank nie.
10Hoe lank, o God,
sal ons vyande U bespot?
Hoe lank sal hulle u Naam
vir altyd beledig?
11Hoekom hou U
u regterhand terug?
Steek uit u hand
en vernietig hulle!
12U, o God, is van lankal af
my koning,
U bring redding op die aarde.
13Deur u krag
het U die see verdeel,
die koppe van seemonsters
in die water vermorsel.
14Die koppe van die Leviatan
het U verpletter.
U het hom as kos
vir die woestyndiere gegee.
15U laat fonteine en strome vloei,
en standhoudende riviere
opdroog.
16Selfs dag en nag
behoort aan U;
U het die son en maan gemaak.
17U het die grense van die aarde
bepaal,
somer en winter het U gemaak.
18Dink tog, o Here,
hoe die vyand U bespot,
hoe ’n dwase volk
u Naam belaster.
19Moenie die lewe van u duiwe
aan wilde diere gee nie.
Moenie u verdrukte volk
vir altyd vergeet nie.
20Kyk tog na u verbond,
want tot in die donkerste hoekies
is die aarde vol geweld!
21Moenie dat die verdrukte
in skande omdraai nie.
Laat die behoeftiges en armes
u Naam liewer prys.
22Staan op, o God,
en verdedig u saak.
Onthou hoe dwase mense
U die hele dag beskuldig.
23Vergeet nie die geraas
van u vyande,
die lawaai van u teenstanders
wat voortdurend opgaan nie.
Hoe groot is U!
1Ek wil die Here prys!
Here my God,
hoe geweldig groot is U!
U is beklee met majesteit
en eer,
2bedek met ’n mantel van lig.
U span die hemelkoepel
soos ’n tent;
3U bou u woning
in die waters daarbo.
U maak die wolke u strydwa.
U ry op die vlerke
van die wind.
4Die winde is u boodskappers,
die weerligstrale u dienaars.
5U vestig die aarde
op sy fondamente
sodat dit nooit sal bewe nie.
6Diepwaters
het dit soos ’n kleed bedek,
water het bo-oor die berge
gestaan.
7U bevel
het die water laat wegvlug;
u magtige stem
het hulle laat vlug.
8Berge het verrys
en valleie het gedaal
na die plek wat U bepaal het.
9U het vir die waters
’n perk gestel wat
hulle nie mag oortree nie,
sodat hulle
nie die aarde oorspoel nie.
10U laat fonteine water stort
in klowe,
wat stroom tussen die berge deur.
11Daar drink elke dier
van die veld,
selfs wildedonkies
les hulle dors.
12Die voëls van die hemel maak nes
langs die strome
en sing tussen die bome se takke.
13Uit u hemelwoonplek laat U reën
op berge,
U vul die aarde
met die vrugte wat U laat groei.
14U laat gras groei vir die beeste,
en plante vir die mens,
kos wat uit die aarde voortkom,
15wyn om harte bly te maak,
olie om die gesig te versorg,
en brood om krag te voorsien.
16Die bome van die Here
kry volop reën,
hierdie seders van die Libanon
wat Hy geplant het.
17Daar maak die voëls
hulle neste,
en bou die ooievaar sy nes
in die toppe van hoë bome.
18Die hoë berge
is vir die klipbokke,
en die rotse
’n skuilplek vir dassies.
19Die maan het Hy gemaak
om seisoene aan te dui,
en die son weet
wanneer om onder te gaan.
20U stuur duisternis,
en dit word nag,
al die diere van die bos
sluip rond.
21Dan brul die leeus
op soek na prooi;
ook hulle vra kos van God.
22Teen dagbreek sluip hulle weg
om by hulle lêplekke te rus.
23Dan gaan die mens na sy werk
en arbei tot die aand.
24Here, hoe baie is u werke!
U het alles met wysheid
gemaak.
Die aarde is vol van u skepsels.
25Daar is die oseaan,
groot en wyd.
Dit wemel van diere,
lewende wesens,
groot en klein.
26Daar is die skepe
wat oral rondvaar;
en ook die Leviatan,
wat U gemaak het
om mee te speel.
27Elkeen van hulle reken op U
om kos te gee
volgens behoefte.
28U gee vir hulle,
hulle versamel dit.
U maak u hand oop,
met die goeie
word hulle versadig.
29As U U onttrek,
is hulle verskrik.
Neem U hulle asem weg,
dan sterf hulle
en word weer stof.
30U stuur u lewensasem,
en lewe word geskep.
Uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag die heerlikheid
van die Here
vir altyd duur!
Mag die Here Hom verheug
in al sy werke!
32Hy kyk na die aarde,
en dit skud;
Hy raak aan die berge,
en dit brand.
33Lewenslank
sal ek die Here besing,
en God prys met my laaste asem.
34Mag my gedagtes
Hom verheug,
want ek is bly in die Here.
35Mag sondaars
van die aarde af verdwyn;
mag die goddeloses
nie meer bestaan nie.
Wat my betref,
ek wil die Here loof!
Prys die Here!
Seën uit Sion
1’n Pelgrimslied.
Prys die Here,
alle dienaars van die Here.
Julle wat snags diens doen
in die huis van die Here,
2hef op julle hande
in die heiligdom
en prys die Here.
3Mag die Here julle seën uit Sion,
Hy wat hemel en aarde
gemaak het.
1’n Verstandige vrou
bevorder die belange
van haar huis.
’n Dwase vrou
is self verantwoordelik
vir die agteruitgang
van haar huis.
2Die persoon wat opreg lewe,
het respek vir die Here.
Die een wat draaie loop,
het nie eerbied vir Hom nie.
3Die verwaande se woorde
sny ’n lat vir homself.
Die woorde van wyse mense
beskerm hulle.
4As daar nie vee is nie,
is die voerkrip wel skoon;
maar sonder ’n sterk os
is daar ook nie ’n oes nie.
5’n Betroubare getuie lieg nie.
’n Vals getuie
loop oor van leuens.
6Al soek ’n spotter na wysheid,
sal hy dit nooit kry nie.
’n Verstandige mens
versamel maklik kennis.
7Vermy ’n dwase mens.
By hom
sal jy niks kan leer nie.
8Die wysheid
van ’n verstandige mens
leer hom om sy lewe te verstaan.
Die dwaasheid
van ’n dwase mens
mislei hom.
9Dwase spot oor skuldoffers.
Dié wat opreg lewe,
ervaar versoening.
10Net ’n mens self verstaan
die bitterheid in sy hart.
Niemand anders
kan sy vreugde
voluit deel nie.
11Die goddelose se nageslag
sterf almal uit.
Die opregtes
het ’n groot nageslag.
12Dit lyk dalk vir iemand
of hy die regte ding doen;
agterna kom dit uit
dat dit na die dood gelei het.
13Lag kan hartseer wegsteek;
as die vrolikheid verby is,
bly die verdriet nog agter.
14’n Onbetroubare mens
kry sy verdiende loon.
’n Goeie mens
pluk die vrugte
van sy goedheid.
15’n Dwaas
glo alles wat hy hoor.
’n Verstandige mens
oorweeg elke tree wat hy gee.
16’n Wyse persoon is versigtig,
hy vermy die kwaad.
’n Dom mens is oorverseker
en gaan maar net aan
sonder om te dink.
17Iemand wat kort van draad is,
doen dom dinge.
Almal haat ’n agterbakse mens.
18’n Dom mens ly
onder sy eie dwaasheid.
Verstandige mense
word met kennis bekroon.
19Slegte mense
moet buig voor goeie mense,
en goddelose mense
by die deur van regverdiges.
20’n Arm mens word verstoot,
selfs deur sy buurman.
’n Ryk man
het baie mooiweersvriende.
21Dit is sonde
om jou buurman te verag.
Geseënd is hulle
wat die behoeftiges help.
22Iemand wat kwaad wil doen,
verloor sy rigting.
Iemand wat goeddoen,
sal die liefde en lojaliteit
van ander geniet.
23Inspanning bring voorspoed;
’n nuttelose gesit en praat
bring gebrek.
24Wyse mense
word met rykdom bekroon.
Dwaasheid van dwase mense
lei tot nog meer dwaasheid.
25’n Eerbare getuie red lewens,
’n vals getuie
steek ander in die rug.
26Hy wat ontsag het
vir die Here,
geniet sekuriteit;
sy kinders
vind vastigheid by hom.
27Ontsag vir die Here
is ’n bron van lewe;
dit beskerm jou
teen die strikke van die dood.
28’n Koning se aansien groei
volgens die getal
van sy onderdane;
as die bevolking krimp,
gaan hy te gronde.
29’n Geduldige mens het baie insig.
Iemand wat kort van draad is,
stal sy dwaasheid uit.
30Innerlike kalmte
bevorder die gesondheid.
Jaloesie vreet ’n mens op.
31Iemand wat ’n arm mens
verdruk,
beledig die Een
wat hom gemaak het.
Hy wat hom oor ’n arme ontferm,
eer God.
32Die goddelose kom tot ’n val
deur sy eie boosheid.
Die regverdige het ’n toevlug
wanneer hy doodgaan.
33Wysheid vloei voort
uit ’n verstandige hart,
ook as iemand tussen dwase beweeg,
kom dit na vore.
34Regverdigheid
maak ’n volk sterk.
Sonde bring skande oor ’n volk.
35’n Koning het vreugde
in bedrewe amptenare.
Hy word kwaad
vir een wat skande maak.
Die Boodskap
Psalm 14
Dawid het hierdie psalm vir die koor geskryf
1Dit is net ’n baie dom mens wat dink God is nie daar nie.
Jy kan dit sien aan wat sulke mense doen: hulle kul en bedrieg net. Hulle stel nie belang om enigiets goeds te doen nie.
2Die Here soek tussen mense na iemand wat die verstand het om na Hom te soek en te doen wat Hy vra.
3Maar mense het gekies om die verkeerde pad te loop.
Nie een van hulle leef soos God wil hê nie. Hulle het sleg geword.
Sal die slegte mense nooit leer nie? Kyk net wat doen hulle:
4Hulle behandel die kinders van God sleg en buit hulle uit.
Hulle praat nie eens met God nie.
5Maar hulle gaan groot skrik. Want God sien om na sy kinders.
6Die slegte mense probeer die hele tyd om arm mense skade aan te doen.
Maar die Here sal sy mense beskerm.
7Ek bid dat die Here sy kinders uit sy woonplek sal help. Dit sal hulle bly maak as die Here hulle gee wat hulle nodig het, as Hy hulle in hulle eer herstel.
Psalm 44
1Opgedra aan die musiekleier. ’n Gedig van die Koragsanggroep
2Ons oupas en oumas het vir ons gesê
U, o God, het baie groot dinge in hulle tyd gedoen.
Dit was lank, lank gelede, toe U vir die Israeliete ’n land gegee het.
3Met u groot krag het U vreemde volke voor u kinders uit verjaag.
Vir u kinders het U ’n blyplek gegee.
4Dit was nie u kinders se wapens wat so goed was dat hulle die oorlog gewen het nie.
Nee, dit was nie hulle wat so sterk was nie. Dit was U.
U het hulle met u groot krag gehelp.
U wou hulle help omdat U baie lief is vir hulle.
5God, U regeer ook oor ons.
Ons erken dat U die sterkste van almal is.
Help ons net soos U ons oupas en oumas gehelp het.
6Met u hulp sal ons die mense wat met ons baklei onderstebo loop. In u Naam wen ons die mense wat teen ons opstaan.
7Ons maak nie op ons eie krag staat nie. Ons wapens sal ons nie laat wen nie.
8Dis net U wat ons in die verlede laat wen het.
U het ons vyande skaam-skaam huis toe laat gaan.
9Ons het U toe heeldag lank geprys en bewonder. Ons het U geloof.
10Maar, Here, U het ons nou van U af weggestamp!
U het ons verneder!
U het ons nie gehelp toe ons teen ander mense geveg het nie.
11Ons moes vlug.
Ons vyande het al ons goed gevat.
Hulle gee niks vir ons om nie.
12Ons is soos diere wat geslag word.
U het ons uitgelewer aan vreemde mense in die omgewing en ons tussen hulle verstrooi.
13U het u kinders vir wie U lief is, byna verniet weggegee.
In ruil daarvoor het U amper niks gekry nie. U maak geen wins op ons nie.
14U het ons verneder voor almal wat rondom ons bly.
Die mense wat ons sien, lag ons uit. Hulle spot met ons.
15Mense van ander nasies spot met ons. Hulle kyk op ons neer.
16Ons word heeltyd verneder.
Ons kan niemand meer in die oë kyk nie. Ons is te skaam.
17Ons vyande spot met ons. Hulle trap ons in die modder.
Hulle geniet dit om lelik met ons te wees.
18Kyk net wat het alles met ons gebeur, Here!
Ons het U en u ooreenkoms met ons nie vergeet nie.
19Ons het nie ons rug vir U gedraai nie.
Ons het nie van u pad weggegaan nie.
20Tog het U ons vernietig. Ons huise is afgebreek.
Ons leef in die land waar die dood vir ons loer.
21God weet mos as ons Hom skielik nie meer dien nie.
Hy sal vinnig agterkom as ons by vreemde afgode hulp gaan vra.
22Hy weet wat mense in die geheim dink en doen.
Sou Hy nie agterkom wat ons doen nie?
23U het ons ’n lang tyd laat swaarkry, Here.
Dit is oor U dat ons behandel is soos diere wat geslag word.
24Is U nog daar, Here? Slaap U?
Hoekom doen U dan niks nie? Gryp in!
Moenie ons wegstamp nie!
25U maak asof U nie daar is nie.
U speel wegkruipertjie met ons. U steur U nie aan ons nie!
U draai die rug vir ons terwyl ons swaarkry en mense met ons spot.
26Ons word in die grond in getrap. Ons kan nie self regop kom nie.
27Help ons, Here! Red ons omdat U ons liefhet.
Psalm 74
’n Gedig wat gelowiges leer om gelukkig te lewe. Opgedra aan Asaf
1God, hoekom het U u rug vir ons gedraai?
Gaan U ons vir altyd wegstoot?
Hoekom is U so kwaad vir u kinders?
U gee nie meer soos voorheen vir ons om nie. Ons behoort dan aan U.
2Help ons almal wat U dien.
U het ons baie lief. U het ons lank terug gekies om u spesiale kinders te wees. En U bly tussen ons.
3Kom help ons waar ons hier op die rommelhoop sit, Here! Ons vyand het alles wat ons het, verwoes, ook u woonplek.
4Boewe het al ons kosbare goed stukkend geslaan.
Die plek waar ons U aanbid het, is afgebreek.
U vyande het die plek kom vertrap waar U aanbid word.
Alles behoort nou aan hulle. Hulle speel baas.
5Dit lyk of ’n storm ons getref het.
Vroeër was alles baie mooi hier waar ons bly.
Nou lyk dit of ’n hele weermag daaroor geloop het. 6Soldate het alles stukkend geslaan en geplunder. 7Hulle het die gebou afgebrand waar ons U aanbid. Vroeër, as ons hier gekom het, het dit ons altyd aan U laat dink. Hulle het u woonplek ontwy.
8Maar daardie slegte mense het gesê: “Wag maar, ons sal hulle in die grond in trap.”
Al die plekke dwarsdeur die land waar ons U aanbid, het hulle afgebrand.
9Nou is hier niks meer oor wat ons aan U herinner nie. Hier is selfs nie meer iemand wat vir ons vertel wat u wil is nie.
En niemand kan vir ons sê hoe lank dit so gaan aanhou nie.
10God, sê asseblief vir ons hoe lank hulle nog met ons gaan baklei.
Hoe lank gaan hulle aanhou om u Naam te verag?
11Hoekom doen U niks hieraan nie?
Straf hulle, asseblief! Vernietig hulle.
12Die Here is nog altyd my God. Hy is die Een wat oor almal regeer.
Daarom kan Hy mense help waar hulle ook al is.
13Here, U het al die oseane gemaak. U hou dit alles in u hand.
En U maak die seemonsters dood.
14Niks in die see hou vir U enige bedreiging in nie. 15Oor die hele wêreld laat U fonteine en waterstroompies opborrel.
U laat groot en sterk riviere ophou vloei as U wil. 16U beheer lig en donker.
Al die groot ligte in die hemel, die sterre en die son, het U gemaak.
U hou dit in u hande.
Daar is geen einde aan u krag nie.
17Nie eens die seisoene kan verander as U dit nie toelaat nie. U het dit ingestel.
18Here, u vyande spot met U. Sien dit tog raak. Die spul is dom. Hulle sleep u groot Naam deur die modder. 19Moet ons tog nie in hulle hande laat val nie.
Moenie u rug vir ons draai nie. Ons vyande is soos ’n trop wilde diere wat alles verskeur.
Onthou tog dat ons in groot moeilikheid is.
20Onthou, U het lank gelede ’n ooreenkoms met u volk gemaak: U het gesê U sal ons beskerm.
Ons is nou diep in die moeilikheid. Oral in die land breek geweld uit.
21Dit gaan sleg met u kinders; ons word verdruk. Moet ons nie nou teleurstel nie.
Red ons!
Almal wat hulp nodig het, sal U loof vir u goedheid!
22Staan op, God! Doen tog wat reg is. Kyk hoe daardie slegte mense u Naam deur die modder sleep.
Hulle hou heeltyd daarmee aan.
23Moenie dat hulle daarmee loskom nie! Onthou hoe u vyande teen U tekere gegaan het. Hulle hou nie op daarmee nie.
Psalm 104
1Ek sê vir myself: Kom prys die Here!
Here, my God, daar is niemand wat groter is as U nie!
U is so groot, U kan nie met woorde beskryf word nie.
Soos ’n mens sy oë toedruk as hy na helder sonlig kyk, so oorweldig u grootheid ons.
2Oral rondom U is lig; dit is amper soos iemand wat pragtige klere aantrek. Dis mooi om na te kyk.
3U het die blou hemel soos ’n tent bokant die aarde opgeslaan. U bly daar! U ry op die wolke en die wind.
4U beheer die reën en die wind. As die wind waai, sien en hoor ons u krag.
U laat die weerlig slaan waar U wil.
5Die Here het die aarde op ’n vaste baan om die son geplaas.
Op daardie baan sal dit vir altyd bly.
6Aan die begin het U baie water oor die aarde laat spoel.
Alles was onder water, selfs die hoogste berge was toe soos onder ’n kombers.
7Maar toe U praat, het alles bymekaargevloei; u stem was soos harde donderweer wat die water laat beweeg het.
8Soos die water wegloop, het die berge hoër en die klowe dieper geword.
Die water het na die plek geloop waar U dit wou hê.
9Nou het die see ’n grens. U het dit getrek.
Daarom sal die water nooit weer oor die hele aarde loop nie.
10U sorg dat daar genoeg water is.
Water borrel uit fonteine en vloei dan tussen die berge deur.
11Al die wilde diere kan daarvan drink. Ook wildedonkies gaan les hulle dors daar.
12By die water maak die voëls hulle nes; tussen die bome hoor jy hoe hulle sing.
13Uit die wolke laat Hy dit reën op die berge.
Hy gee so baie reën dat die water nie meer kan wegsak nie.
14Hy laat gras groei vir die diere om te eet.
Die groen plante is nuttig vir die mense, dit is hulle kos wat uit die aarde kom.
15So is daar wyn, wat jou vrolik maak as jy genoeg drink.
Daar is olyfolie, waarmee jy jou vel kan versorg.
Die kos bou jou kragte op.
16Die bome wat die Here geplant het, kry meer as genoeg water. Ook die seders op die Libanon wat Hy geplant het.
17Voëls maak nes in hulle takke.
Die reier bly in die hoë toppe van die bome,
18terwyl steenbokkies tussen die klippe van die hoë berge rondspring. Die dassies skuil tussen die rotse.
19Hy het die maan gemaak. Soos ’n horlosie wys dit nuwe maande aan.
Die son gaan elke dag klokslag op die regte tyd onder.
20As U dit laat donker word in die nag, kruip die nagdiere uit hulle gate.
Dan begin die bos lewe.
21Jong leeus brul wanneer hulle op soek is na kos;
hulle herinner God om vir hulle kos te gee.
22Wanneer dit te warm word, verdwyn hulle en gaan lê tussen die gras.
23Mense gaan in die dag uit hulle huis om te werk, maar saans kom hulle terug nadat hulle geld verdien het.
24Daar is baie dinge wat U gemaak het, Here!
U het alles gemaak omdat U weet hoe.
U het die aarde met u hande gemaak.
25Kyk net hoe groot en uitgestrek is die see.
Onder in die water is daar duisende derduisende seediere,
grotes en kleintjies, noem maar op.
26Bo-op die water seil groot skepe rond, terwyl seemonsters onder in die water speel.
27Almal is van U afhanklik. U gee vir almal kos op die regte tyd.
28U sorg dat hulle kan eet. Hulle kom dit net by U haal.
U gee genoeg sodat almal daarvan vol kan word.
29Wanneer U ophou gee, is mens en dier in die moeilikheid.
Hulle lewe is in u hande. U laat hulle ook doodgaan.
30Met u krag het hulle in die wêreld gekom. Dis U wat nuwe lewe uit die grond laat opkom. U laat groenigheid uitspruit.
31Mag mense die Here altyd bewonder!
Mag die Here alles wat Hy gemaak het, geniet!
Die Here is so sterk. 32Hy kyk net na die aarde, dan begin dit bewe.
Hy vat net aan die berge, dan raak dit aan die brand.
33So lank as wat ek lewe, sal ek vir die Here sing. Ek wil Hom eer.
Ek sal lofliedere sing tot eer van my God, terwyl ek lewe.
34Mag ek oor dinge dink wat die Here gelukkig maak.
Ek geniet dit baie om te praat oor alles wat Hy gedoen het.
35Ek wens dat hulle wat die Here nie liefhet nie, gou sal verdwyn.
Hulle wat weier om die Here te dien kan maar doodgaan.
Maar ek sê vir myself: Jy moet vir die Here baie dankie sê vir alles.
Kom, prys die Here!
Psalm 134
’n Lied vir mense wat na die Here se huis toe gaan
1Almal wat die Here dien, kom sê vir Hom baie dankie.
Laat almal wat selfs in die nag die Here dien, dit doen.
2Lig julle hande in gebed op terwyl julle in sy woonplek is, terwyl julle vir die Here baie dankie sê.
3Mag die Here, wat alles gemaak het, vir jou baie goed wees.
Spreuke 14
Domheid wys!
1’n Mooi lewe kan deur dom optrede vernietig word. Dis soos Wysheid wat ’n mooi huis met moeite bou. Dan kom Dwaasheid en breek dit af.
2Wie wys leef, het die Here reg lief. Mense wat heeltyd die verkeerde dinge doen, het Hom verwerp.
3’n Kletskous praat maklik sy mond verby. Sy woorde bring hom tot ’n val. ’n Wyse is versigtig met sy woorde. Dit hou hom uit die moeilikheid.
4Sonder diere is jy arm. Met min diere kan jy al ’n lewe maak.
5’n Betroubare mens se woord kan jy glo. Glibberige mense blaker leuens uit.
6’n Dom mens soek tevergeefs na wysheid. Hy weet nie eens waar om te begin nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Hy weet waar om wysheid te vind.
7Bly uit ’n dwaas se pad. Hy weet nie hoe om reg te leef nie. Luister eerder na iemand wat die lewe ken.
8Iemand is wys wanneer hy die lewe wil verstaan. Dwases het geen wysheid nie. Hulle leefstyl wys hoe dom hulle is.
9’n Ongelowige voel oor niks skuldig nie. ’n Gelowige geniet God se guns.
10Elke mens het sy eie swaarkry. Niemand weet daarvan nie. Vreemdes weet ook nie wat hom bly maak nie.
11-12Op die oog af kan iemand baie suksesvol wees. Maar uiteindelik eindig alles in ellende.
13Selfs in iemand se lag word pyn gehoor. Blydskap kan ook in smart verander.
14’n Slegte mens word aan die gang gehou deur sy slegte woorde en dade. ’n Gelowige pluk die vrug van die regte manier van lewe.
15’n Dom mens weet nie wat reg of verkeerd is nie. Hy glo sommer enige ding. ’n Gelowige toets alles wat hy hoor. Hy let ook fyn op sy manier van lewe.
16’n Gelowige let noukeurig op sy gedrag. Hy bly weg van verkeerde dinge af. ’n Dwaas gooi maklik alles waarin hy glo oorboord.
17’n Humeurige mens doen en sê die verkeerdste dinge. ’n Glibberige mens en sy slinkse plannetjies word gehaat.
18’n Mens wat nie weet hoe om reg te leef nie, se lewe is leeg. Lewenswysheid maak jou gelukkig.
19Slegte mense sal nog eendag die gelowiges se leefwyse bewonder. Hulle sal die gelowige se insig in die lewe begeer.
20’n Arme se bure wil niks met hom te doen hê nie. Baie mense wil graag vriende van die rykes wees.
21’n Sondaar is iemand wat sy naaste sleg behandel. Iemand wat vir die armes goed is, ervaar onbeskryflike geluk.
22Wie net slegte dinge dink, raak naderhand die pad heeltemal byster. Diegene wat net goeie dinge wil doen, ontvang baie liefde en ondersteuning.
Wysheid gee vrede
23Harde werk het sy voordele. Praatjies bring jou nie ver nie.
24Blydskap en voorspoed is die kroon op die regte manier van lewe. Domkoppe se manier van leef bring net droefheid en teëspoed.
25’n Betroubare getuie kan mense uit groot moeilikheid help. ’n Liegmond verwoes lewens.
26Wie die Here liefhet, voel veilig. Selfs sy eie kinders word beskerm.
27Die Here se liefde is soos ’n borrelende fontein. Dit maak van jou ’n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning.
28’n Leier se krag lê in sy ondersteuners. Sonder ondersteuners beteken hy niks nie. 29Iemand wat reg leef, is geduldig. ’n Vinnige humeur rig oneindige skade aan.
30Kalmte en vrede is baie goed vir jou gesondheid. Slegte drange en luste is soos ’n vernietigende siekte.
31Wie die arme se nood miskyk, beledig die Here. Wie lief en goed is vir ander, eer Hom.
32Goddeloses leef en sterf sonder hoop. Gelowiges is tot die dood toe veilig in die Here.
33’n Gelowige koester wysheid. Dommes dink nie eens daaraan hoe om reg te leef nie.
34’n Mooi lewe maak jou gesin, jou familie en jou volk gelukkig. Verkeerde dinge bring hulle in verleentheid.
35’n Werkgewer beloon sy werknemer vir goeie diens. Afskeepwerk en bedrog lei tot afdanking en armoede.