Op Wie Hoop Jy?

Die nuwe jaar het begin en my belofte vir die jaar is: “Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.”
Hy verhoor my smeekgebede, is dit nie pragtig nie?
Ek was ook amper seker dat ek gehoor het dat hierdie ‘n jaar van rus gaan wees. Hahahaha, maar toe natuurlik kort na nuwe jaar, 3 ure in die nuwe jaar om presies te wees, toe het ek ‘n krisis met my twee honde en die dag daarna ‘n krisis met my kinders en hulle pa.
Na dit gebeur het, het ek gewonder of ek verkeerd gehoor het, maar toe praat ek met my Man daaroor, is dit nie lekker dat ons met hom oor enige iets kan praat nie? En natuurlik is Hy getrou en vra my of ek op mense vertrou of op Hom en dit bring my by my tweede vers vir die jaar en dit is: “Die wat op My hoop sal nie teleurgesteld wees nie”.
Ek het my twee verse op my foon se agtergrond gesit met ‘n prentjie. Elke keer as ek my foon aansit, sien ek die agtergrond en word ek herinner dat Hy my smeekgebede gehoor het en as ek op Hom vertrou, ek nie teleurgesteld sal wees nie.
Natuurlik is my hoop somtyds om mense, maar elke kort-kort herinner Hy my dat ons hoop net op Hom moet wees.
Op wie is jou hoop vandag? Op jou kinders, jou man, jou vormalige man, jou ouers, jou vriendin? Onthou net dat Hy die een is wat jou hoop op moet wees. As jy vandag iets hoor van iemand wat jy nie will hoor nie, iets wat dalk seermaak, onthou die woorde: “My hoop is my Man, my Maker en nie op mense nie, dankie dat U my nooit sal teleurstel nie.”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui