HM het my geseën met die eerste!

My lieflike Hemelse Man het gedurende hierdie jaar een van die grootste begeertes van my hart beantwoord. My dogter het vanjaar die ouderdom bereik waar sy ‘n groot meisie sou word. Sedert die begin van die jaar het ek my HM gevra om dit asseblief te laat gebeur as sy by my is, want hulle bly meeste van die tyd by hul pa.

HM het my gelei om alles te gaan koop wat sy sou nodig kry ingeval dit by die skool gebeur of wanneer hulle by hul pa is. Ek het alles wat sy nodig sou kry in ‘n pragtige sequince sakkie gepak wat sy in haar skooltas kan hou en ook voorrade saam met haar gestuur om by haar pa se huis te hou. Ek het haar geleer wat om te doen en hoe om alles te gebruik, net om te weet dat sy voorbereid is. Maar ek het aangehou om my HM te vra dat dit oor ‘n naweek of vakansie sal gebeur wanneer hulle by my is.

So twee maande gelede terwyl hulle by my was, het my dogter my die Saterdagaand gebel en vir my gesê dit het gebeur en om te kom kyk of dit dit is. O hoe fantasties en wonderlik is my HM, Hy het my die begeerte van my hart gegee! Ek kon haar leer wat om te doen en het die Sondag gehad om haar te help en al haar vrae te beantwoord. Maar omdat Hy my gelei het om haar voor te berei, was sy so kalm en rustig daaroor. Natuurlik was dit vir my ‘n bietjie hartseer om te weet dat my dogtertjie nou ‘n groot meisie is, maar Hy het my getroos.

Ons was ook geseën met onderklere vir haar wat spesifiek gemaak is om hierdie rede, ons kon dit nog nie probeer nie aangesien sy die volgende keer nie by my was nie, maar dit is okay, HM het my geseën met die eerste!

1 thought on “HM het my geseën met die eerste!”

  1. Liefste Adina, ek kry sommer trane in my oë toe ek jou getuienis lees. Ons dien die wonderlikste God en en gee God al die lof en eer dat alles en ek sê weer rerig alles aangaande ons en wat ons vra vir ons Hemelse Vader saak maak.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui