Ek loof en prys my Hemelse Man dat Hy weet wat die beste vir my is.
Jare gelede toe ek my aardse man gesmeek het vir geld en hy nie vir my geld wou gee nie, was ek so verontwaardig en het toe natuurlik my eie plan gehad en besluit dat ek dan gaan vas vir 21 dae en niks sou eet nie, want ek wou die Here se "arm draai" om my aardse man te oortuig om vir my geld te gee (ek erken vandag dit was so baie verkeerd van my om die Here se arm te probeer draai - "Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon"). Alhoewel die Here vir my gesê dat Hy nie my aardse man gaan oortuig om vir my geld te gee nie, het die vas my baie naby aan Hom gebring. Ek glo met my hele hart dat my Hemelse Man my aardse man kon oortuig om vir my geld te gee, maar Hy het gekies om iets veel beter te doen omdat Hy beter weet. My Hemelse Man het gesê Hy wil my Voorsiener wees en dat ek nie my aardse man se geld nodig het nie en tot vandag toe nog sorg my Hemelse Man vir my veel beter as wat my aardse man sou kon. Ek loof en prys my Hemelse Man vir Sy voorsiening met alles wat ek nodig het.