Hy het dit lig en maklik gemaak!

"Beproef dit en ervaar: Die Here is goed, gelukkig is die mens wat by Hom skuil." Psalms 34:9

Ek wil net graag met julle hierdie lofverslag deel as opvolg oor hoe lig en maklik my Geliefde Here laas week gemaak het.

In my vorige lofverslag het ek gedeel dat my dogter laas week draadjies gekry het en dat my seun twee tande in die teater moes laat uithaal.

Volgens wat die tandarts gese het sou my dogter laas week eers net haar boonste draadjies kry, maar toe ons Woensdag daar was, het die ortodontis besluit hy gaan die onderstes ook insit om te kyk of hul haar tande kan reguit kry sonder om tande uit te haal, wat oorspronklik die plan was. Van wat ek kon onthou van my draadjies was dat dit baie seer is die eerste paar dae, maar ek het vir my Geliefde Here gevra om dit asseblief vir haar so maklik moontlik te maak, en Hy het. Behalwe dat sy net moes gewoond raak aan die draadjies in haar mond en hoe om anders te eet, het sy glad nie pyn gehad tot dusver nie.

Donderdag oggend is my seuntjie vroeg hospitaal toe, as mamma was ek bekommerd dat hy sou bang wees en natuurlik met sy Hemelse Vader daaroor gepraat en my seun verseker dat Hy saam met hom sal wees. My seun was glad nie bang nie en toe hy na 40 min uit die teater kom, het hul nie net twee tande uitgehaal nie, maar 4! Twee was melktande wat alreeds los was, so hy het omtrent nou geen maeltande nie! Toe ons by die huis kom was hy nog bietjie misluk van die narkose en het amper die hele dag geslaap, die aand het hy bietjie seer gehad, maar die volgende dag was hy weer sy ou self sonder pyn. Hy moes ook net gewoond raak om sonder 4 maeltande te eet.

Ek het regtig gedink dit gaan 'n moeilike paar dae wees, veral omdat als nie volgens die oorspronklike "plan" verloop het nie, MAAR weereens het my Geliefde Here my verbaas en Hy het dit so ongelooflik lig en maklik gemaak!

1 thought on “Hy het dit lig en maklik gemaak!”

  1. Dankie dat jy hierdie lofverslag met ons deel kosbare Adina. Is ons kosbare Liefling Here nie net die Beste nie!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui