Wag en Wees Rustig

♕ Belofte van vandag: “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.” Romeine 8:28

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Vandag het ek soveel om voor dankie te sê maar ek wil spesifiek vandag vir my Hemelse Man dankie sê vir hoe Hy my gehelp het met my rekenaar.

Die laaste ruk gebeur daar nogal snaakse goed met my maar sodra jy nader aan Hom kom en vir Hom wil werk sal die vyand doen wat hy kan om jou te ontmoedig.

So drie weke terug het ek myself die Maandag oggend reg gemaak om te werk, ek het nogal baie eposse gehad waarop ek moes reageer. Maar toe ek by die 2de epos kom, vries my rekenaar heeltemal. Na 'n laaaang gesukkel kon ek die rekenaar veilig laat afskakel. Maar toe wil die rekenaar nie weer "boot" nie. Mismoedig gesukkel het ek in my kar geklim en gery om my kinders by die skool te gaan haal. Die hele pad het ek net gebid dat my Hemelse Man asb sal help en dat my rekenaar okay sal wees.

Terug by die huis het my rekenaar toe "geboot" en als was okay, maar toe sien ek die battery is pap en hy laai nie, alhoewel hy ingeprop is en die skakelaar aan is. Maar toe sien ek my kragbron se kabel is stukkend, dit het gelyk asof iemand hom met 'n mes gesny het. Eerste ding het ek probeer om die kabel reg te maak maar niks het gehelp nie.

My voormalige skoonma bly in dieselfde dorp maar kom nooit meer sommer hiernatoe nie. Maar my Hemelse Man het dit toe so gereël dat sy op daardie dag, presies toe ek moedeloos gesukkel was, hier aankom met vrugte vir die kinders, wat nogal snaaks was. Alhoewel ek niks gesê het nie en probeer okay lyk het, kon sy sien iets is verkeerd, ek moes haar toe maar vertel. Ek het geleer om alles net na Hom toe te vat maar ek dink die dag was so georkestreer. Sy het dadelik gesê ek moet kwotasies kry, sy sal betaal om my rekenaar reg te maak. En sy het my toe die volgende dag gebel om uit te vind hoeveel 'n nuwe kabel kos want sy weet ek was baie trots en sou voorheen nooit dit gedoen het nie, maar Hy is besig om daai trots ook te breek. Sy het toe die geld via my voormalige man in my rekening inbetaal, so het hy toe daarvan te hore gekom want ek deel nie sulke goed met hom nie. Ek het die kabel aanlyn bestel maar moes twee dae wag.

My Hemelse Man het toe vir my gesê ek moet die twee dae net ontspan en rustig wees (iets waarmee ek nog nie heeltemal goed is nie) maar ek het toe ontspan en geweet dit is in Sy hande.

In ons dorpie laai hulle gewoonlik ons pakkies in die middae af maar Hemelse Man het dit so laat saamwerk dat hul die kabel vroeg kom aflaai het, want alhoewel die battery toe gelaai het wou die rekenaar nie boot nie. Maar dit was nog vroeg genoeg dat ek die rekenaar na my broer toe kon vat wat 70km van my af weg bly sodat hy die rekenaar vir my van voor af kon opstel. Blykbaar het die kortsluiting die “operating system” seergemaak. Maar nadat hy my rekenaar binne 'n uur reggemaak het was daar nog genoeg tyd om te kuier en iets by die rivier te gaan eet en nog voor donker by die huis te wees.....alles danksy my Hemelse Man en hoe Hy dinge laat saamwerk het vir my goed!! En ek kon vinnig al die werk inhaal!!

As ons aan Hom vashou, alles vir Hom gee en net rus in Hom sal Hy alles ten goede vir ons laat meewerk. Dit is een van vele kere wat ek 'n krisis beleef het wat Hy my net rustigheid gegee het en gesê het wag en wees rustig, ontspan, alles sal okay wees.

“En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.” Romeine 8:28

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

 

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!