My Gedagtes Is Nie Julle Gedagtes Nie

♕ Belofte van vandag: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” Jesaja 55:8-9

☊ Yvonne Lofverslag Potgooi

Ek het nou gewik en geweeg of ek die lofverslag moet skryf en toe ek vir myself afvra hoekom ek nie die lofverslag wil skryf nie, is heelbo aan my lysie dat dit my in 'n swak lig gaan stel. Die lofverslag wat nou volg is 'n sprekende voorbeeld van wat die Here in Jesaja 55:8-9 sê:

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

So rukkie terug het ek begin voel dat ek nou die ander vrou raak. Ek het so skuldig gevoel en ek was nie seker of die gevoel van my Here af is en of dit net my eie gedagtes is wat my aankla nie.

My Hemelse Man het my deur 'n lieflike vers laat weet, dat ek nie bekommerd moet wees nie, dat ek net rustig verder moet woon en werk en ALLES aan HOM oorlaat.

Natuurlik wil ek somtyds nogsteeds dinge in my mag doen. En dit is hier waar ek jou dinge gaan vertel waaroor ek glad nie trots is nie, maar om julle te laat weet hoe absoluut groot en wonderlik en genadiglik my Hemelse Man is, moet ek julle eers vertel hoe swak en menslik ek is.

Ek het onlangs weer gelees van Gideon en terwyl ek met die Here daaroor praat het ek vir Hom gesê ek weet U woord sê: 'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, maar mag ek vir 'n teken vra asseblief. As my vorige man die kinders huistoe bring is hy soms alleen en soms is sy stiefseun saam. Die was in my gedagtes die perfekte velletjie om uit te sit!

Toe vra ek my dierbare Here dat as my vorige man alleen die kinders terug bring dan weet ek die Here wil hê ek moet aanhou met die verhouding wat ons tans het, maar as sy stiefseun saam is, dan moet ek ons vriendskap stop en weer terug gaan om net besprekings te hê oor die kinders. In my gedagtes het ek gedink as ek dan alle bande met hom breek. Ja, jy het reg gelees, ek was so dom om te dink ek kan my Hemelse Man in 'n boks sit.

Die dag kom toe dat die kinders moet terugkom huistoe en raai wat gebeur? Hulle stiefma bring hulle terug! Kan jy nie net asseblief saam met my lag oor hoe absoluut wonderlik die Here is nie? Ek het na die tyd gaan sit en dink. Sy het nog net een keer my seun huistoe gebring toe hy siek was. Nog nooit het sy die kinders teruggebring huistoe nie, so die gedagte het nie eens by my opgekom nie.

Toe ek gaan sit en dit alles uitwerk, het ek besef dat die kanse dat dit sou gebeur het was MINDER as 0.4%. Beslis het my Hemelse Man 'n sin vir humor om my te wys dat my planne nie Syne is nie, my gedagtes nie Syne nie en dat ek nou net uit die saak moet bly en dit ALLES net so vir Hom oorlaat.

Ek het die boodskap gekry. Is dit nie wonderlik hoe Hy ons dinge leer en ons wys hoe Almagtig Hy is en ook hoe lief Hy vir ons is nie? Dat Hy die moeite doen om dinge te beplan net om my 'n les te leer. Ek dink dit is wat seker vir my die meeste uitgestaan het en waarvoor ek Hom wil loof. Hy is beslis LIEFDE.

~ Yvonne in Suid Afrika
Volg #Yvonne Follow #Yvonne
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!