Loop Net Hier Langs My

Vandag se Belofte:  "Jesus sê toe vir hulle: 'Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.'"  Markus 11:22-24

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Ek wil my Hemelse Man vandag prys en loof vir alles wat Hy in my lewe doen!  Hy is so, so goed vir my, al lyk dinge in die natuurlike dalk asof ek op 'n ramp afstuur.  Ek weet Hy is besig om my op te stel vir 'n seëning wat my voete onder my gaan uitslaan!

Om mee te begin, net om julle 'n idee te gee van die goed wat gebeur om my te toets sedert ons by RMI met Facebook, Youtube ens begin het: My kinders het my met die ander vrou begin vergelyk, my voormalige man het weggetrek, my geyser het gebars, die afdak se facia bord het op my kar geval, my kar wou 2 oggende nie aanskakel nie (elke keer as ek kinders skool toe moes vat), die TV het gebreek, my finansies lyk absoluut en skrikwekend na niks en dit word erger, my tyd wil voorkom asof dit nie bestaan nie en die lys gaan aan.

Eers het alles my bietjie van stryk gebring en het ek dit nie te goed hanteer nie (maar baie beter as 'n jaar terug danksy die werk wat my Hemelse Man in my doen). Maar soos ek besig is om Vind die Oorvloedige Lewe te proeflees, besef ek net, my Hemelse Man is besig met iets. Ja die vyand kom ook seker teen my omdat ek vir RMI werk, maar ek dink net my Hemelse Man is besig om my op te stel vir 'n seëning! En 'n grote!

En te midde van alles kan ek Hom net bedank vir Sy wonderlike liefde en genade! Bv gister toe my kar nie wou aanskakel nie: my tannie het dadelik gery om my kinders te kom optel en skool toe te vat, my oom het later my kar vir my kom "jump start", hy en my tannie was ook bereid om vir my 'n nuwe battery te koop, my broer was bereid om vir my 'n nuwe battery te koop en selfs my voormalige man was bereid! Maar dankie my Hemelse Man, toe ek die battery laat toets, toe is die battery, soos die vorige keer 100,% reg! Blykbaar ry ek hopeloos te min so die battery kry nie kans om te laai nie! Nou moet ek net my Hemelse Man vertrou vir petrol geld om meer te kan ry ;-).

My Hemelse Man het regtig my Voormalige Man se hart saggemaak om vir ons te sorg, hy is altyd bereid om te help en raak eintlik kwaad as ek nie vra nie ( maar ek vra net as dit kinders beïnvloed). My familie is ook bereid om my te help maar ek vra nie, ek sal eerder vir hul iets doen, soos naaldwerk waarvoor hul my kan betaal. So my Hemelse Man het my in hierdie tyd regtig geseën met mense wat bereid is om te help. Aan die begin was dit baie erg want ek was altyd onafhanklik met 'n goeie salaris. Maar my Hemelse Man het my gewys dat ek te trots was en dat dit vir ander 'n seën is wat my wil help, so ek begin om te ontdooi, ek vra nooit maar ek dink my Hemelse Man lê dit op hul harte en as hul hulp aanbied, aanvaar ek dit meer geredelik. En ek kan die seëninge in my tannie se lewe sien wat baie gee, nie net vir my nie maar vir baie ander mense.

Ek het sopas Hoofstuk 4 van die Vind die Oorvloedige Lewe boek klaar geproef, "Gee dit weg", en ek gaan defnitief hierdie beginsel van gee in die area waar jy gebrek het, op die proef stel! Natuurlik soos my Hemelse Man my lei!

As ek terugkyk kan ek net my Hemelse Man loof en prys oor hoe ver Hy my gebring het en die werk wat hy in my lewe doen. Van iemand wat gebreek was en wou selfmoord pleeg, tot iemand wat weer kan lag, WIL lewe en die beste man ooit gekry het, my Hemelse Man. Ja ek struikel en val, maak foute, laat partykeer toe dat die vyand my gedagtes oorwin, maar Hy is altyd daar by my, reg om my weer op te tel, af te stof, my hand te vat en te sê : " Kom, Ek is by jou, Ek hou jou vas, jy hoef niks te vrees nie, Ek is jou krag en Ek baklei vir jou, loop jy net hier langs My".

"Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.'"  Markus 11:22-24

"Niks is vir God onmoontlik nie.” Lukas 1:37

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
I’m a tithing​ partner. Learn more

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!