Hy Het Vir My ‘n Verrassing Gereël

♕ Belofte van vandag: “Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.” Lukas 1:45 (NLV)

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Liewe Bruide, ons Hemelse Man is nie net onbeskryflik lief vir ons nie, Hy hou daarvan om ons te verras ook!

Hierdie afgelope Desember was die eerste keer wat my kinders 2 weke van my af sou weg wees. Ek was nie bang daarvoor nie, Hy het my vrede gegee, en ek het bietjie uitgesien daarna, bietjie te rus, goed in die huis te doen waarby ek nooit uitkom nie en om alleen saam met my Hemelse Man te wees.

Die eerste paar dae was lekker gewees, maar toe begin die stilte my bietjie vang. Ek is so gewoond aan my kinders by en om my. Die eerste Saterdag het ek toe maar besluit om by my vriendin te gaan kuier, ek moes vir haar babagoed vat vir haar kleinkind.

Ek het net klaar petrol in my kar gegooi en was op pad om te ry toe ek 'n epos van my voormalige man af kry. Hy het vir my gesê dat hy en die kinders op pad was na 'n winkelsentrum en dat ek welkom is om saam te kom. Ek het hom toe laat weet ek is klaar op pad na my vriendin toe om goed af te laai en gaan sommer daar kuier, alles is klaar gereël. Ek het nie verwag om meer as net "okay" van hom te hoor nie maar hy het my toe gevra of ek nie net die goed kan aflaai en dan by hulle aansluit nie want die kinders wil my ook graag sien, anders sien ek hul eers oor 'n week. Ek het nie dadelik geantwoord nie maar terwyl ek gery het, het ek vir Hemelse Man gevra wat moet ek doen?

Toe ek by my vriendin stop het ek aan haar verduidelik dat ek die kinders vir 'n paar uur kan sien en of sy sal omgee as ek dan eerder op 'n ander dag kuier. Sy het gesê sy gee glad nie om nie en ek moet tyd saam met my kinders spandeer. Wel ek het toe my voormalige man gebel en gevra of ek nog kan kom en hy het ja gesê.

Daar gekom het ek agtergekom dat hy baie afsydig teenoor my is, maar het maar gemaak asof ek dit nie agterkom nie en tyd saam met die kinders spandeer.

Toe ons klaar rondgeloop het en ons moes huistoe gaan, het ek hom 'n drukkie gegee en gesê ek dat ek die gebaar regtig waardeer het en dat hy aan my gedink het wat na die kinders verlang.

Dit was vir my baie vreemd dat hy so opgetree het en dit het my bietjie gevang want hy het my uit sy eie uit genooi om saam te gaan. Maar hy het later gesê hy was eenkant sodat ek meer alleen saam met die kinders kan wees.

Maar wat ook al, al wat ek kon doen was om vir Hemelse Man dankie te se dat Hy die verrassing vir my gereël het. Dit was heeltemal onverwags en dit het my weer moed gegee om die laaste week aan te pak.

Gedurende die laaste week wat die kinders weg was, sou dit my 13de huweliksherdenking gewees het, die tweede een sedert die egskeiding. Laas jaar het my Hemelse Man my bederf en ek was die heeldag saam met my voormalige man, alhoewel ons dit nou nie gevier het nie, was ons saam by sy broer gewees.

Maar die jaar het ek geweet ek gaan die dag heeltemal alleen by die huis wees, ek was bietjie skrikkerig maar het my Hemelse Man net gevra om my daardeur te dra. Wel die dag het gekom en ja ek was heeltemal alleen by die huis, maar ek het heeltemal okay gevoel, daar was so klein bietjie seer maar ek het dit ook dadelik vir my Hemelse Man gegee. Dit was eintlik 'n rustige dag en ek het vrede ervaar deur die dag.

Hy is so goed vir ons en dink partykeer aan goed waaraan ons nie eers dink nie om ons te verras. Hy dra ons ook deur alle situasies en moeilikhede wat oor ons pad mag kom, ons moet dit net vir Hom gee!!

"Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.” Lukas 1:45 (NLV)

Hierdie vers het Hy die eerste keer vir my gegee tydens die 2 weke wat die kinders weg was en daarna no 'n paar keer.

Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! MATTEUS 6:8 (NLV)

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!