Hy Het Ons Dubbeld Vergoed

♕ Belofte van vandag: “In plaas van vernedering en minagting sal my volk ’n dubbele deel ontvang van voorspoed en ewige vreugde.” Jesaja 61:7

Luister na Adina  se ☊ Lofverslag

My seuntjie het verlede Saterdag verjaar en het sewe geword. Volgens die skikking moet ek en my voormalige man die kinders altwee op hul verjaardae kan sien. Sy verjaarsdag het op “my” naweek geval. Om my voormalige man tegemoet te kom het ek hom so twee weke vantevore gevra wat hy graag sal wil doen vir ons seuntjie se verjaarsdag maar hy kon my nie antwoord nie want hy werk baie naweke en het nie geweet hoe hy die naweek sou werk nie. Ek het dit toe maar daar gelos en niks verder gevra nie.

Nou moet ek ook bieg ek het my Hemelse Man gevra om, as dit Sy wil is, ons as “gesin” ‘n dag saam te gee, ter wille van my seuntjie. Maar ek het dit ook daar gelos want ek het geweet wat ook al gebeur, sal Sy plan wees.

Die Donderdag voor my seuntjie se verjaarsdag het my voormalige man laat weet dat hy sal deurkom en die dag by die kinders spandeer. Maar intussen kon ek toe nie veel reël nie. Ek het toe maar vinnig ‘n ontbyt vir my familie gereël sodat hulle hom kon sien en sy geskenke vir hom gee.

Na die tyd het my voormalige man by die huis aangekom en bietjie saam met die kinders gesit en geskenke oopmaak en koeldrank gedrink. Na so uur het hy gesê hy sal die kinders vat vir middagete en ‘n melkskommel. Ek weet nie of hy wou gehad het ek moet saamgaan nie (of nie), hy’t nie direk gevra nie en ek het niks gesê nie, maar sy houding het skielik verander en hulle is seker net so uur weg. Toe hy die kinders teruggebring het, het hy gesê hy gaan ry. So dit was 2 ure nadat ek verstaan het hy gaan die dag saam met hulle spandeer. Die kinders was teleurgesteld en dit het my omgekrap en ek was ook teleurgesteld gewees. Ek het eintlik begin huil maar het vinnig gestop en net my Hemelse Man begin loof want dit is alles ook deel van Sy plan.

Omdat ek nie veel kon reël vir die Saterdag nie, het ek met my broer gereël om die kinders die Sondag na hom toe te vat. Hy bly in ‘n natuur ontwikkeling by die rivier so 70km van my af. My kinders is gek oor hulle oom en hy oor hulle omdat hy nie getroud is nie en ook nie kinders het nie.

Ons sou na die privaat oewer toe gaan want daar is ‘n swembad, parkie, braai geriewe en ‘n eetplekkie wat oor die rivier uitkyk. Ek en my boetie het saam met die kinders geswem en gespeel en sommer net langs die rivier gelê. Hy het ons vir middagete na ‘n baie oulike eetplek buite die oord gevat met diere. Na die tyd is ons terug en het verder geswem. Die kinders het dit verskriklik geniet en dit was my broer se geskenk aan my seuntjie gewees.

My Hemelse Man het Saterdag se teleurstelling gevat en ons dubbeld vergoed daarvoor. Omdat ek niks gesê het nie en ook nie na my voormalige man gekyk het om dit “reg” te maak nie, want “hulle het dit nie,” het my Hemelse Man vir my seuntjie ‘n fantastiese dag gegee om te vergoed.

“In plaas van vernedering en minagting sal my volk ’n dubbele deel ontvang van voorspoed en ewige vreugde.” JESAJA 61:7

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!