Hy Het My So Verras Met Die Gebaar

♕ Belofte van vandag: “Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!” Matteus 6:8

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Liewe Bruide, vandag wil ek hierdie lofverslag deel om vir Hemelse Man dankie te sê omdat Hy my deur nog ‘n “moeilike” tyd gehelp het. Partykeer is ons bang vir iets wat ons weet voorlê maar as ons dit vir Hom gee, help Hy ons deur alles en kry ons nog ‘n onverwagte seëning!

Hierdie afgelope Desember was die eerste keer wat my kinders vir meer as ‘n week weg sou wees van my, hulle het vir twee weke na hul pa (my voormalige man, VM) toe gegaan. My grootste vrees is altyd of die AV (ander vrou) daar gaan wees. Nou ek vra nooit vrae nie, as my kinders vir ‘n naweek by hul pa was vra ek nie of sy daar was nie, ek vra net of hul lekker gekuier het en los dit daar. Dit was nog altyd vir my erg dat my kinders aan haar blootgestel word maar ek weet ook ons moet ons nie teen kwaad verset nie, daarom los ek my kinders in my HM (Hemelse Man) se hande, Hy kan hul in elk geval baie beter as ek beskerm. Net die wete dat Hy by hulle is, gee my gerustheid.

Ek het eintlik nogal uitgesien na die twee weke, om net te rus en ek het ook uitgesien na tyd alleen saam met my HM (Hemelse Man). Die eerste paar dae was lekker maar na ‘n paar dae het dit my gevang. Ek reël toe om die eerste naweek by my vriendin, wat in ‘n ander dorp bly, te gaan kuier, ek moes ook babagoed vir haar vat. Op daardie stadium het ek en die kinders nog nie regtig met mekaar gepraat nie, net paar boodskappe gestuur.

Die oggend toe ek na haar toe sou ry, ek het nogal uitgesien na die kuier, terwyl ek brandstof in my kar gegooi het, kry ek toe ‘n epos van my VM (voormalige man) af. Hy het my onverwags genooi om saam met hom en die kinders na ‘n winkelsentrum naby sy huis te gaan (ons bly nie in dieselfde dorp nie). Ek was bietjie uit die veld geslaan en stuur toe terug dat ek op pad was na my vriendin en dat als klaar gereël is, ek moes ook die goed by haar aflaai. Hy stuur toe terug dat die kinders my ook graag wil sien en of ek nie net die goed kan aflaai en dan deurkom nie. Ek laat hom toe weet ek sal besluit. In elk geval ek ry toe na my vriendin toe en heelpad vra ek my HM (Hemelse Man) wat moet ek doen, moet ek net die goed aflaai en deurry of nie. Wou ook nie my vriendin teleurstel nie. Daar gekom het ek vir haar gesê van my VM (voormalige man) se uitnodiging en sy sê toe dadelik vir my ek moet gaan en tyd saam met my kinders spandeer want sy weet ek verlang na hulle.

In elk geval toe ek daar kom, het my VM (voormalige man) ons vir ontbyt gevat. Maar ek het dadelik opgemerk hy is baie afsydig teenoor my en het self ook nie geëet nie, natuurlik was my eerste gedagte dat hy nie nodig gehad het om my te nooi nie, en die res van die tyd het hy so opgetree. Dit het my bietjie gepla maar ek het toe gefokus op my kinders en saam hulle geloop. My VM (voormalige man) het my ook so tussen die lyne laat vertaan dat as hul klaar is, moet ek huistoe en kan nie by hulle (hy bly om die blok vd sentrum) gaan koffie drink nie.

Maar toe ek moes huistoe het ek hom ‘n drukkie gegee en gesê ek waardeer die gebaar en dat ek dankbaar is dat ek die kinders vir daardie rukkie kon sien. Maar heelpad huistoe het ek nie lekker gevoel nie en vir my HM(Hemelse Man) gevra waarom het hy so opgetree. Hy het my herinner aan Vind die Oorvloedige Lewe, Hoofstuk 6 ”Hulle Het dit Nie”. Dit is nie dat ek enigiets van my VM (voormalige man) verwag het nie en my HM (Hemelse Man) het my so verras met die gebaar net om die verlange te breek want daar was nog ‘n week oor wat ek hul nie sou sien nie. En Hy het my weer vrede gegee en al wat oorgebly het was dankbaarheid omdat Hy aan my gedink het en my geseën het met die dag, ten spyte van my VM (voormalige man) se optrede. Dit was ook nie iets waaraan ek gedink het of my HM (Hemelse Man) voor gevra het nie, maar Hy het geweet ek het dit nodig gehad!!

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Volg ons #VOL Tag om die LOF uit hierdie lewensveranderende boeke te lees.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!